Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 6/8 bl. 24-27
  • Nairobi- Nasionale Park—Waar diere vryelik rondswerf

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nairobi- Nasionale Park—Waar diere vryelik rondswerf
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Moeilike begin
  • ’n Besoekersparadys
  • Die park is in gevaar
  • Nairobi—’n “Plek van koel water”
    Ontwaak!—2004
  • ’n Paradys met ’n verskil
    Ontwaak!—1998
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Die skoonheid van die Alpynse Nasionale Parke
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 6/8 bl. 24-27

Nairobi- Nasionale Park—Waar diere vryelik rondswerf

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

DIT is halfsewe in die oggend. Die son verskyn bo die oosterkim en lyk soos ’n groot, buitengewoon pragtige, skarlakenrooi juweel. Dit skyn deur die glasvensters van die hoë kantoorgeboue terwyl dit die begin van nog ’n dag aankondig en alles in ’n skitterende goue kleur hul. Binne loopafstand van hierdie kantoorgeboue speel ’n skouspelagtige drama hom af.

’n Leeu wat in die lang gras skuil, bekruip nou al ’n ruk lank ’n rooibok wat besig is om te wei. Die jong wildsbok voel die gevaar aan en spring vinnig weg, met die leeu kort op sy hakke. ’n Spanningsvolle, wilde jagtog begin. As die leeu die bok vang, is dit klaarpraat met hom.

Sulke onvergeetlike jagtogte vind elke dag plaas in die Nairobi- Nasionale Park, wat net buite Kenia se hoofstad, Nairobi, geleë is. Die diere daar het mense as hulle naaste bure. Trouens, in 1962 is ’n leeu buite ’n eksklusiewe hotel gesien, miskien om sy vorige uitgestrekte gebied terug te kry. Hoe het dit gekom dat die wilde diere en die stadsbewoners hierdie gebied deel?

’n Moeilike begin

Dit was nie maklik om die park tot stand te bring nie. Verskeie struikelblokke moes oorkom word voordat die diere ’n blyplek kon kry waar hulle veilig sou wees. Voor die begin van die 20ste eeu het hulle ongehinderd oor groot gebiede van Oos-Afrika rondgeswerf. Hier het mense nog altyd na aan wilde diere gelewe en hulle kuddes naby hulle laat wei. Party het sekere diere selfs as deel van hulle kuddes beskou!

Maar grootwildjagters, gewapen met gewere, het die land binnegestroom en baie van hulle wou soveel jagtrofeë as moontlik versamel. Een van hulle was die voormalige Amerikaanse president Theodore Roosevelt, wat in 1909 na Kenia gekom het om natuurgeskiedeniseksemplare vir museums te versamel. Met 600 draers en beroepsjagters het hy meer as 500 diere doodgemaak en hulle velle huis toe gestuur. Omstreeks dieselfde tyd was daar nog ’n bekende jagter, Edward, prins van Wallis. Hulle ekspedisies het grootwildjagtogte gewild gemaak. ’n Koeël was natuurlik vinniger en sekuurder as die tradisionele pyl en boog.

Ná die voltooiing van die beroemde Gekkespoorlyn, soos die Kenia-Uganda-treinspoor destyds bekend gestaan het, was die gebied om Nairobi toeganklik sodat mense hulle daar kon vestig, wat die vrye beweging van die diere verder beperk het. Dit het gelyk of hulle heeltemal verdryf sou word.

Toe, gedurende die 1930’s, het ’n paar mense hulle stem ten behoewe van die diere laat hoor. Archie Ritchie, destyds ’n wildbewaarder, en Mervyn Cowie, ’n rekenmeester, was onder hierdie aktiviste. Deur samesprekings en persberigte het hulle die koloniale owerheid versoek om ’n nasionale park tot stand te bring wat sou help om die sinlose vernietiging van diere te verminder—of selfs stop te sit. Die regering wou nie die versoek toestaan nie. Hulle was nie bereid om grond net vir natuurbewaring opsy te sit in ’n gebied wat besig was om die grootste stedelike nedersetting in Oos-Afrika te word nie.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die bewaringspogings nog ’n terugslag gekry toe troepe die gebied waar die park nou is tydens hulle oefensessies beskadig het. Diere het ook slagoffers van die oorlog geword. Omdat soldate voortdurend in die gebied teenwoordig was, het die diere hulle vrees vir die mens verloor, en daarom was die kanse groter dat hulle mensvreters sou word. Om dit te voorkom, is party diere doodgemaak, onder andere ’n beroemde leeuwyfie met die naam Lulu en haar lieftallige trop.

Maar weens die veranderde gesindheid van die owerheid is baie van die struikelblokke oorkom, en die bewaringsgesindes het hulle sin gekry. Uiteindelik, ná ’n lang en stormagtige ontwikkelingstydperk, het die Nairobi- Nasionale Park—die eerste park van sy soort in Oos-Afrika—op 16 Desember 1946 tot stand gekom toe sir Philip Mitchell, die destydse koloniale goewerneur van Kenia, die stigtingsakte daarvan onderteken het.

’n Besoekersparadys

Die Nairobi- Nasionale Park is betreklik klein in vergelyking met die ander wildtuine in Oos-Afrika. Volgens skatting beslaan dit 117 vierkante kilometer, met die hoofingang minder as 10 kilometer van Nairobi se middestad af. Maar dit is juis sy grootte wat bygedra het tot sy roem. Min plekke op aarde bied ’n besoeker die besigtigingsmoontlikhede wat hierdie wildreservaat bied—’n buitengewone teenstelling tussen die vinnig ontwikkelende stad Nairobi en die Afrikabosveld.

Aangesien die park so klein is, sien die besoeker die meeste van die groter diere, behalwe die olifant, in hoër konsentrasies as in groot parke en reservate. Daar kom 100 soogdiersoorte en meer as 400 voëlsoorte in die park voor. Die park is naby die aanvlugroete van die internasionale lughawe in Nairobi.

Iemand wat Nairobi besoek, kan die geriewe van ’n moderne hotel in die stad agterlaat, verby indrukwekkende kantoorgeboue ry en binne minute by eeue oue vlaktes, bosveldgebiede en woude uitkom. Hier kan ’n mens leeus en ander roofdiere sien jag. Om te sien hoe hierdie roofdiere hulle prooi agternasit met glinsterende wolkekrabbers van die stad op die agtergrond, is iets wat nie maklik vergeet word nie.

Die park wemel van wilde diere soos buffels, luiperds, jagluiperds, gewone kameelperde, ape, honderde wildsbokke en die skaars en bedreigde swartrenoster. Die meeste van hulle is permanente inwoners. Gedurende die droë seisoen in Februarie/Maart en Augustus/September kan groot troppe trekdiere, soos wildebeeste, om al die watergate in die park gesien word.

In party watergate, wat gepas die seekoeigate genoem word, bly groepe van hierdie vaatjievormige reuse heeldag in die water, en snags kom hulle uit om te wei. Rondom hierdie waterbronne is daar gemerkte voetslaanpaaie waar jy uit jou voertuig kan klim en kan gaan stap. Maar wees gewaarsku: Hierdie wandelings kan baie gevaarlik wees, aangesien krokodille moontlik by party watergate op die oewer lê waar ’n niksvermoedende besoeker hulle nie sal sien nie! As jy nie opgeëet wil word nie, moet jy liewer saam met die park se opgeleide veldwagters stap.

Op die voëllys sal ’n mens talle bekende lede van die voëlfamilie vind. Die volstruis, die wêreld se grootste lewendige voël, wat meer as twee meter hoog word, het hom hier gevestig. Hoog in die lug bo die stad vlieg die onbeminde aasvoël op soek na kos. Hierdie onaansienlike voël is ’n aanwins vir die park, aangesien hy ontslae raak van enige aas wat bakterieë kan bevat en skadelik is vir ander diere.

Soms sal jy die sekretarisvoël sien. Agter sy ore het hy kuifvere wat lyk soos die veerpenne waarmee sekretarisse vroeër geskryf het. Hy is altyd haastig, asof hy van die een afspraak na die ander jaag. Ander voëls sluit hamerkoppe, mahems, saalbekooievaars en bosluisvoëls in.

Al is die park betreklik klein, is dit ’n ekologiese meesterstuk. In die westelike deel beslaan ’n woud byna 6 persent van die land, waar die jaarlikse reënval tussen 700 en 1 100 millimeter is. ’n Magdom bome kom hier voor, wat die wildekastaiing en die pragtige kroton insluit. In die suidelike en oostelike dele, waar die reënval tussen 500 en 700 millimeter is, is daar uitgestrekte vlaktes, valleie en bergrûens. Met die rooigras, groendoringbome, rondeblaargifbome en verskillende akasiasoorte lyk die gebied soos ’n regte grasvlakte.

Nog ’n besienswaardigheid is die indrukwekkende loodregte rotswande wat sowat 100 meter bo die valleivloer uittroon. Hierdie rotswande kan ’n regte uitdaging vir rotsklimgeesdriftiges wees—ten minste vir dié wat dit wil aandurf!

Die park is in gevaar

Baie natuurbewaringsprobleme het een ding in gemeen—die mens. As gevolg van die mens se ‘ontwikkelingspogings’ sal die Nairobi- Nasionale Park dalk binnekort verdwyn. Die stad Nairobi, die mensenedersetting wat daartoe gelei het dat die park wêreldberoemd geword het, brei aanhoudend uit en neem al hoe meer van die diere se gebied in beslag. Namate meer mense in die stadsgebied gaan woon, is meer grond nodig, en die diere kan geen weerstand bied nie. Afvalwater van nabygeleë fabrieke hou ook vir alle lewensvorme in die park gevaar in.

Die park kan ook nie voortbestaan as daar nie ’n trekroete vir party diere is nie. ’n Groot deel van die park is omhein om die diere uit die stad te hou. Die oorblywende klein deurgang aan die suidekant van die park word al nouer as gevolg van intensiewe boerdery en die feit dat mense troppe vee daar laat wei. As dit heeltemal afgesluit word, kan dit tragiese gevolge hê. Diere wat die park verlaat op soek na weiding, sal dalk nooit weer kan terugkeer nie! In ’n poging om die trekroete te bewaar, het Kenia se Natuurbewaringsdiens, die land se vernaamste natuurbewaringsliggaam, grond gehuur wat aan die park grens. Ondanks die probleme lok die Nairobi- Nasionale Park nog steeds elke jaar duisende besoekers om na hierdie fassinerende reservaat met sy kontrasterende fasette te kom kyk.

[Prent op bladsy 24]

Kameelperd

[Prent op bladsy 25]

Luiperd

[Prent op bladsy 26]

’n Groep maraboes

[Prent op bladsy 26]

Krokodil

[Prent op bladsy 26]

Leeu

[Prent op bladsy 26]

Mahem

[Prent op bladsy 26]

Swartrenoster

[Prent op bladsy 26]

Volstruis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel