Die skoonheid van die Alpynse Nasionale Parke
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK
KRISTALHELDER water wat in ’n stroom vloei, die sagte geritsel van blare in die wind, ’n wolklose hemel bo ons, die sonlig wat deur die bome skyn. Dít is die genotvolle tonele en klanke wat ons begroet, en ons is seker dat dit net die voorspel tot ’n wonderlike dag is. Waar is ons? In die Écrins- Nasionale Park, in die Dauphiné-Alpe, Frankryk.
By een van die park se ingange by Ailefroide, aan die rand van die woud, dui inligtingsborde aan dat sekere bedrywighede in die park verbied word, soos kampering of die maak van vure. Ons word gevra om enige rommel saam met ons huis toe te vat, en ons merk op dat honde nie toegelaat word nie, aangesien hulle dikwels die inheemse diere skrikmaak of steur.
Die doel daarvan
Maar wat is ’n nasionale park presies, en watter doel dien dit? Die eerste een, Yellowstone- Nasionale Park, in die staat Wyoming, is in 1872 in die Verenigde State tot stand gebring. Sedertdien is baie op elke vasteland geopen. In Frankryk is daar sewe nasionale parke, waarvan drie in die Alpynse halfmaan is, wat van Frankryk tot Oostenryk strek. Die eerste nasionale park in Europa is in 1914 in die kanton Graubünden (Grisons), Switserland, tot stand gebring. Toe, in 1922, is die Gran Paradiso- Nasionale Park, in Italië, geopen. Ander nasionale parke in die Alpynse halfmaan sluit in Berchtesgaden, in Duitsland; Hohe Tauern, in Oostenryk; Stelvio, in Italië, en Triglav, in Slowenië. Die eerste nasionale park in Frankryk was Vanoise, wat in 1963 tot stand gebring is.
Die hoofdoel van nasionale parke is om die natuurlike flora en fauna te beskerm. Daar moet ook gemeld word dat daar baie ander parke is wat nie nasionale status het nie wat presies dieselfde doel het. Van hulle is die Vercors-streekpark, in Frankryk, en die Karwendel-reservaat, in Oostenryk. Nasionale parke het egter ’n spesiale status wat ’n sekere gesag aan hulle bewaarders verleen. Hulle is gemagtig om mense te beboet wat nie die parkreëls gehoorsaam nie. As ’n hond byvoorbeeld in ’n park in Switserland ingebring word, kan dit lei tot ’n boete van tot 500 Switserse frank (R1500).
Dalk dink party dat dit buitensporig is. Maar daar is redes vir sekere verbooie en boetes. Dink hieraan. Op een geleentheid toe ons in die Mercantour- Nasionale Park, in die See-Alpe in suidoostelike Frankryk, was, het ons ’n baie klein, jong gems teëgekom. Hy het alleen en heeltemal hulpeloos gelyk. Maar ons het nie aan hom geraak nie, aangesien ons gedink het dat ons reuk dalk sal keer dat sy moeder hom terugneem. Maar stel jou net voor as ons ’n hond by ons gehad het! Die arme gems sou verskrik gewees het, veral as die hond begin blaf het.
Beteken dit dat die bewaarders niks meer as parkpolisiemanne is nie? Nee, natuurlik nie. Een bewaarder wat ons in die Mercantour-park ontmoet het, het ons gewys waar ’n trop gemse kort tevore verbygeloop en hulle spore in die vars sneeu gelaat het. Hy het na die manier gewys waarop die hoewe hulle afdruk gelaat het. Dit het ons help besef dat die bewaarders nie net die natuurlike balans in die park bewaar nie, maar dat hulle mense inlig en onderrig.
Die natuur se ryk diereversameling
Verder met ons paadjie langs sien ons hoe gemse, teen ’n heuwelhang in die verte, kaperjolle maak op die velde korrelsneeu. Ons kry ook twee marmotte te sien wat vrolik op die klippieshellings rondspring. Party van hierdie marmotte is buitengewoon mak en nader voetslaners in die hoop dat hulle ’n stukkie kos sal kry.
Troppe ibekse bly in party Alpynse parke. Hulle is die talrykste in Gran Paradiso-park, in Italië. Dit was vir ons baie opwindend om ’n paar in Mercantour te sien. Hierdie suidelike Alpynse park is ryk aan dierelewe. Moeflons, ’n soort wildeskaap, trek vryelik rond, en wolwe het in onlangse jare weer verskyn. Maar besoekers hoef nie bekommerd te wees nie, aangesien die wolwe dit selde naby die voetpaadjies waag en sku is vir mense. In die verlede het bere ook in die Switserse Alpe voorgekom, maar die laaste een wat daar gesien is, is in 1904 doodgemaak. In Wes-Europa kan bruinbere nou in die Pireneë, op die grens van Frankryk en Spanje; in die Kantabriese Gebergte, in noordelike Spanje, en in Abruzzi- Nasionale Park, in sentraal-Italië, gevind word. Aan die ander kant kan jy partykeer ’n hert hoor bulk in die Switserse Nasionale Park, waar hulle talryk is.
Buiten die groter diere is daar egter baie kleiner diere wat die besoeker genot kan verskaf, soos hermelyne en alpesneeuhase, wat wit word in die winter, sowel as jakkalse, marmotte en eekhorinkies. Daarbenewens bewoon tallose insekte, waaronder pragtige skoenlappers en hardwerkende miere, hierdie landstreke. Voëlliefhebbers sal beslis nie teleurgesteld wees nie. Jy sal dalk ’n arend hoog bo jou kop sien sweef of, in die Switserse Nasionale Park en in Vanoise- en Mercantour-park, selfs ’n lammergier, oftewel baardaasvoël, te sien kry. Dit is ook taamlik algemeen om die kenmerkende klank te hoor van ’n houtkapper se snawel wat die stam van ’n boom kap op soek na insekte. Baie vra hoe hierdie bergbewoners die winter in die Alpe oorleef. Hierdie diere is goed aangepas by dié omgewing, hoewel die siekes en oues as gevolg van die strawwe toestande doodgaan.
Alpynse plantegroei
Selfs die plante word in die parke beskerm. Gevolglik is dit verbode om die blomme te pluk, onder andere die oranjelelies, wat al langs die paadjie groei. Jy wonder miskien waarom. Party plante—soos die bekende edelweiss, die alpe-anemoon, die alperoos, die bergcentaurea en party soorte gentiane—is skaars, en dit is noodsaaklik om hulle te beskerm om te verseker dat hulle behoue bly. Die verskeidenheid blomme is waarlik indrukwekkend.
Die natuur se skoonheid kan ook gesien word in die bome wat die parke verfraai. In die herfs versier die goue skakerings van die lorkebome die woud. Daarenteen lyk dit of die arweboom, of Switserse steenden, die strawwe winter trotseer en ’n bestendige voorraad kos voorsien aan die voël wat algemeen bekend staan as die neutkraker. Hierdie voël vervoer die dennesade wat hy versamel in sy krop en begrawe dit dan vir toekomstige gebruik. Sodoende dra hy by tot die verspreiding van die denneboom na plekke waarheen dit andersins nie sou versprei het nie. Ons sou ongetwyfeld heeldag die skoonheid om ons kon besigtig. Maar as ons die berghut wil bereik, moet ons verder stap.
Ons sit ons staptoer voort en bereik weldra ’n moeiliker paadjie. Dit lyk of die gemse in die woud vir ons wag, en ons kan ’n paar foto’s neem. Wanneer ons nader beweeg, vlug hierdie pragtige diere, wat klaarblyklik geskrik het toe ons nader kom. Ons dink na oor die wonderlike belofte van God wat in Jesaja 11:6-9 opgeteken is: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; . . . Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie.” Ons verbly ons oor die vooruitsig dat die hele aarde binnekort ’n uitgestrekte parkagtige paradys gaan word, waar mense en diere sonder vrees sal saamlewe.
[Prent op bladsy 13]
Die gems is tuis in die Franse Alpe
[Prent op bladsy 14]
’n Versigtige marmot in Vanoise- Nasionale Park, Frankryk
[Prent op bladsy 14]
’n Arend in Mercantour- Nasionale Park, Frankryk
[Prent op bladsy 15]
Gemse wat in die Franse Alpe klim
[Prent op bladsy 15]
’n Jong gems
[Prent op bladsy 16]
Alperoos
[Prent op bladsy 16]
Silwerdistel
[Prent op bladsy 16]
Ancolie des Alpes
[Prent op bladsy 16]
Ibeks
[Prent op bladsy 17]
Oranjelelie
[Prent op bladsy 17]
Turkse kappie
[Prent op bladsy 17]
Panicaut des Alpes
[Prent op bladsy 17]
Marmot