Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 7/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wêreldwye epidemie van vet kinders
  • Bye skrik olifante af
  • Ou nuus, onmiddellike reaksie
  • Meisies wat afknou
  • Druk by die werk
  • Lees saam met ouers kalmeer kinders
  • Gelukkige vrywilligers
  • Met ’n seilboot deur die Noordoostelike Deurvaart
  • Olifante—Vriende of vyande?
    Ontwaak!—1994
  • Die Masai—’n unieke en kleurvolle volk
    Ontwaak!—2002
  • Ivoor—Hoeveel is dit werd?
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 7/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Wêreldwye epidemie van vet kinders

“Vetsug onder kinders word ’n wêreldwye epidemie, en die probleem moet aangepak word by sy oorsprong, naamlik gemorskos”, berig The New York Times. “Volgens die Internasionale Taakgroep oor Vetsug is meer as 25 persent van die 10-jariges in verskeie lande oor die hele wêreld oorgewig of vet.” Malta (33 persent), Italië (29 persent) en die Verenigde State (27 persent) is boaan die lys. ’n Kwart van die kinders tussen vier en tien jaar in Chili, Mexiko en Peru is oorgewig of vet. Op party plekke in Afrika is meer kinders oorgewig as ondergewig. Waarom is soveel kinders vet? “Die gemiddelde [Amerikaanse] kind sien elke jaar 10 000 kosadvertensies, en 95 persent daarvan is vir kitskos, koeldrank, lekkers en versuikerde ontbytkos—alles winsgewende produkte met min voedingswaarde”, antwoord The Washington Post. “Bemarkingsveldtogte verbind kitskos en koeldrank met speelgoed, speletjies, versamelgoed, rolprente en gewilde persoonlikhede. . . . Is dit dan enigsins verbasend dat kinders nou ongeveer 15 persent van al hulle kalorieë kry uit kitskos en 10 persent uit koeldrank wat met suiker versoet is en dat hulle net die helfte van die aanbevole hoeveelheid vrugte en groente eet?”

Bye skrik olifante af

Die olifantbevolking in Kenia neem toe, maar dit het probleme veroorsaak. Vernielsugtige olifante rig groot skade aan bome en gewasse aan, en olifante trap gemiddeld een mens elke twee weke dood. Maar ’n bioloog van Oxford-universiteit, Fritz Vollrath, het ’n moontlike afskrikmiddel ontdek. Wanneer olifante ’n byekorf versteur, sê hy, “probeer hulle nie dapper wees nie. Hulle kies die hasepad, en die bye volg hulle kilometers ver.” Die bye steek die olifante op kwesbare plekke om die oë, agter die ore, onder die slurp en op die maag. Vollrath het korwe met Afrikaanse heuningbye en leë korwe in party van die bome in ’n bosveldgebied gesit wat gereeld deur olifante besoek word. New Scientist berig dat die diere al die bome waarin daar korwe met bye was en ’n derde van dié met leë korwe vermy het. Maar hulle het 9 uit 10 van die bome sonder korwe beskadig. Vollrath het ook gevind dat olifante die geluid van kwaai bye vermy selfs wanneer dit oor luidsprekers gespeel word.

Ou nuus, onmiddellike reaksie

“Wolkekrabbers is ’n vreemde begrip vir die Masai wat in hierdie uithoek [Enoosaen] van Kenia woon, waar die akasiabome en die kameelperde wat daaraan vreet, die hoogste voorwerpe op die uitgestrekte horison is”, sê The New York Times. “Toe Kimeli Naiyomah dus onlangs ná sy studies in die Verenigde State na hierdie klein dorpie teruggekeer het, het hy gevind dat die ander Masai net ’n vae begrip het van wat op 11 Sept. gebeur het in daardie verafgeleë plek wat New York genoem word. Party in hierdie nomadiese beesboergemeenskap het glad nie eers daarvan geweet nie.” Toe Naiyomah, wat Manhattan op 11 September besoek het, die dorpenaars vertel wat hy sowat agt maande vroeër met sy eie oë gesien het, het hulle hartseer geword en wou hulle iets doen om te help. Die gevolg was dat 14 koeie, een van die kosbaarste besittings wat ’n Masai kan aanbied, geskenk is om die rampslagoffers te help. Maar aangesien vervoer ’n probleem was, het die amptenaar by die Amerikaanse ambassade wat dit ontvang het, gesê dat hy “waarskynlik die koeie sal verkoop en Masai-juwele sal koop om vir Amerika te gee”, het die Times berig.

Meisies wat afknou

“Afknouery onder seuns is gewoonlik in die vorm van fisiese aggressie”, berig die koerant Toronto Star, terwyl “die taktiek onder meisies baie meer sielkundig en emosioneel is”. Wanneer meisies tieners word, ervaar hulle glo al hoe meer vrees en angs, en dit sluit angs in oor hoe die teenoorgestelde geslag hulle beskou. Gedragsdeskundiges meen dat “meisies moontlik wedywer oor wie die mooiste is en die meeste seuns kan aantrek, wat deur wulpse uitbeeldings in die media bevorder word”. Denise Andrea Campbell, voormalige hoof van die Nasionale Aksiekomitee oor die Status van Vroue, sê: “Baie meisies weet nie hoe om hulle woede en jaloesie te verwerk nie.” Gevolglik gee hulle “op indirekte, skadelike maniere uiting aan” hierdie gevoelens. Meisies sal ander meisies dalk afknou deur nie met hulle te praat nie, hulle skeef aan te kyk, oor hulle te skinder en gerugte oor hulle te versprei.

Druk by die werk

“Byna een uit vyf Kanadese sê dat hulle onder soveel druk verkeer dat hulle al selfmoord oorweeg het om die spanning te verlig”, berig The Globe and Mail. Wat is die oorsaak van hierdie druk? In ’n opname onder 1 002 mense het 43 persent gesê dat dit hulle werk is. “In die hedendaagse werksplek dryf ons mense tot hulle fisiese en sielkundige uiterstes”, sê Shimon Dolan, ’n organisasiesielkundige en professor by die Universiteit van Montreal. “Daar is geweldige druk om te presteer, maar terselfdertyd is daar groot onsekerheid—jy weet nie of jy môre ’n werk sal hê nie.” Hoe verwerk Kanadese die druk? Oefening is die gewildste manier, sê die Globe, “en daarna om ’n boek te lees, stokperdjies en sport te beoefen, sosiaal te verkeer en tyd saam met die gesin deur te bring”.

Lees saam met ouers kalmeer kinders

“As ’n ouer en kind gereeld saam lees, kan dit antisosiale gedrag aansienlik laat afneem onder ontwrigtende kinders wat baklei, steel en lieg”, berig Londen se koerant The Times. In ’n tien week lange studie deur die Instituut vir Psigiatrie waarby meer as 100 vyf- en sesjariges in die binnestad van Londen betrokke was, is ouers gevra om “hulle selfoon af te skakel voordat hulle saam met hulle kinders gaan sit en lees, die verhaal op te som voordat hulle begin en sonder haas om te blaai en na die prente te kyk”. Die resultate “het duidelik bewys dat eenvoudige, doelgerigte ouerskapprogramme baie doeltreffend kan wees om gedrag van ’n baie jong ouderdom af te verbeter”, sê die koerant. “Kinders wil eintlik aandag hê”, het die navorsingsleier, dr. Stephen Scott, gesê. “Hulle kan dit kry deur saam met hulle ouers te lees.”

Gelukkige vrywilligers

“Mense wat hulle tyd aan onbetaalde werk wy, sê dat hulle aansienlik gelukkiger is met hulle werk, werksure, gemeenskapsverhoudings en geestelikheid as enige ander groep”, berig The Sydney Morning Herald. Volgens ’n opname wat deur ’n span navorsers in Australië gedoen is, was vrywillige werkers “baie tevrede met hulle gesondheid, hoeveelheid vrye tyd en hoe hulle dit deurbring”, sê die berig. Professor Bob Cummins van die Universiteit van Deakin het gesê dat daar baie vrywillige werkers in Australië is—32 persent van Australiërs doen die een of ander soort onbetaalde werk. Die Herald het ook berig dat diegene wat meer as 60 uur per week gewerk het—hoofsaaklik vroue wat versorgers was—“meer tevrede was met hulle gesondheid en hulle werk as mense wat minder ure gewerk het”.

Met ’n seilboot deur die Noordoostelike Deurvaart

’n Span Duitse ontdekkingsreisigers het met hulle vierde probeerslag daarin geslaag om met ’n 18 meter lange seilboot deur die Noordoostelike Deurvaart te vaar, berig The Independent van Londen. Hierdie seeroete loop naby die noordelike kuslyn van Rusland wat gewoonlik toegeys is. In 1879 het die Sweedse ontdekkingsreisiger Adolf Nordenskjöld eerste daardeur gevaar, met ’n stoom- en seilgedrewe skip. “Ek het die deurvaart nog nooit so ysvry gesien soos dit hierdie somer was nie”, het die spanleier Arved Fuchs gesê. “Ons dink dit was as gevolg van aardverwarming sowel as buitengewone windtoestande, wat die pakys van die kus af weggehou het sodat ons kon deurkom.” Met behulp van ’n mikroligte seevliegtuig en satellietbeelde van pakysbeweging, maar sonder die hulp van ’n ysbreker, het hulle binne 127 dae die seereis van 15 000 kilometer van Hamburg, Duitsland, tot by Prowidenija, Rusland, op die Beringsee voltooi. Aan boord het die manne van ruimtevaart-rantsoene geleef. Maar een het gesê: “Die enigste ongerief was om vier maande lank saam met 11 ander mense in ’n beknopte ruimte te woon.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel