Waarom is pornografie so algemeen?
EROTIESE materiaal wat bedoel is om die seksdrang op te wek, bestaan al duisende jare lank. Maar gedurende ’n groot deel van hierdie tyd, was dit moeilik om pornografie te produseer, en gevolglik was dit hoofsaaklik die rykes en die heersende klasse wat toegang daartoe gehad het. Grootskaalse drukkery en die uitvinding van fotografie en rolprente het dit alles verander. Pornografie het bekostigbaar en toeganklik geword vir die man op die straat.
Die koms van die videokassetopnemer het pornografie geweldig laat toeneem. Anders as bioskoopspoele en ou foto’s kon videokassette maklik geberg, gedupliseer en versprei word. Dit kon ook in die privaatheid van ’n mens se huis gebruik word. In onlangse tye het kabeltelevisie en die Internet pornografie selfs toegankliker gemaak. As iemand bang is dat sy buurman sal sien dat hy ’n pornografiese video by ’n videowinkel uitneem, kan hy nou “tuisbly en dit met die druk van ’n knoppie oor sy kabel- of satelliettelevisie bestel”, sê die media-ontleder Dennis McAlpine. Maklike toegang tot hierdie soort materiaal het volgens McAlpine daartoe bygedra dat dit “baie meer aanvaarbaar geword het”.
Pornografie word deel van die hoofstroom
Baie mense het gemengde gevoelens oor pornografie omdat dit nou deel is van die hoofstroom. “Dit het reeds ’n baie groter kulturele invloed as al ons opera, ballet, teater, musiek en die skone kunste saam”, sê die skrywer Germaine Greer. Hedendaagse gesindhede teenoor pornografie word moontlik weerspieël in die ‘prostituut’-modes wat talle beroemdes dra, die musiekvideo’s wat al hoe meer seksuele beelde vertoon en die feit dat die reklamemedia ’n “pornografie-estetika” aangeneem het. McAlpine kom tot hierdie slotsom: “Die samelewing aanvaar eenvoudig wat dit voorgesit word. . . . Dit help om die indruk te skep dat dit alles aanvaarbaar is.” Gevolglik “lyk dit of niks mense meer skok nie”, sê die skrywer Andrea Dworkin. “Hulle gee blykbaar nie om nie.”
Die rasionalisering van pornografie
Die afgetrede FBI-agent Roger Young maak ’n soortgelyke kommentaar as die skrywer Dworkin en sê dat baie mense “eenvoudig nie die geheelbeeld van onwelvoeglikheid sien of besef watter probleme dit veroorsaak nie”. Party word beïnvloed deur die voorstanders van pornografie en beweer dat daar geen bewyse bestaan dat pornografiese beelde ’n negatiewe uitwerking op mense het nie. “Pornografie is immers net fantasie”, sê die skrywer F. M. Christensen, “’n feit wat beswaarmakers blykbaar moeilik vind om in gedagte te hou.” Maar waarop maak die reklamebedryf dan staat as fantasie kragteloos is? Waarom sou korporasies miljoene rande bestee om handelsflitse, video’s en gedrukte advertensies te vervaardig as dit geen blywende uitwerking op mense het nie?
Feit is dat pornografie, soos met alle suksesvolle reklame, hoofsaaklik gebruik word om begeertes te wek wat voorheen nie bestaan het nie. “Pornografie is niks anders as ’n geldmaakbesigheid nie”, skryf die navorsers Steven Hill en Nina Silver. “En in hierdie mark waar dinge handuit geruk het, word alles as ’n hulpbron beskou wat gebruik en selfs opgebruik kan word, veral vroue se liggame en seks.” Greer vergelyk pornografie met uiters verslawende kitskos wat geen voedingswaarde het nie en vol bymiddels en chemiese stowwe is wat dit lekker laat proe. “Kommersiële kitsseks”, sê sy, “is kunsmatige seks . . . Kosadvertensies verkoop fantasiekos en seksadvertensies verkoop fantasieseks.”
Party dokters sê dat pornografie aanleiding kan gee tot ’n verslawing wat baie moeiliker is om te bowe te kom as dwelmverslawing. Wanneer dwelmslawe behandel word, word hulle gewoonlik eers gedetoksifiseer om die middel uit die liggaam te verwyder. Maar pornografieverslawing, verduidelik dr. Mary Anne Layden van die Universiteit van Pennsilvanië, “skep beelde wat permanent in die verstand van die persoon ingeprent en deur die chemiese werking van die brein ingeëts word”. Dit is waarom mense pornografiese beelde jare later duidelik kan herroep. Sy kom tot hierdie gevolgtrekking: “Dit is die eerste verslawende middel waarvoor detoksifikasie glad nie werk nie.” Maar beteken dit dat dit onmoontlik is om los te breek van die invloed van pornografie? En spesifiek watter skade veroorsaak pornografie?
[Venster op bladsy 5]
Feite oor Internetpornografie
◼ Sowat 75 persent van Internetpornografie is uit die Verenigde State afkomstig. Byna 15 persent is uit Europa afkomstig.
◼ Volgens skatting besoek ongeveer 70 miljoen mense pornografiese webwerwe elke week. Sowat 20 miljoen van hulle is in Kanada en die Verenigde State.
◼ ’n Studie het getoon dat Duitsland gedurende ’n onlangse tydperk van een maand die grootste aantal gebruikers van Internetpornografie in Europa gehad het, gevolg deur Groot-Brittanje, Frankryk, Italië en Spanje.
◼ In Duitsland bring gebruikers van Internetpornografie elke maand gemiddeld 70 minute op pornografiese webwerwe deur.
◼ Onder Europeërs wat na Internetpornografie kyk, bring mense bo 50 die meeste tyd op pornografiese webwerwe deur.
◼ Volgens een bron vind 70 persent van pornografiese webwerfgebruik gedurende die dag plaas.
◼ Party skat dat daar 100 000 Internetwebwerwe is wat kinderpornografie bevat.
◼ Ongeveer 80 persent van die Internet se kommersiële kinderpornografie is uit Japan afkomstig.
[Prente op bladsy 4]
Pornografie het meer toeganklik geword