Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 8/8 bl. 5-7
  • Wat gebeur met die weer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat gebeur met die weer?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moontlike gevolge van aardverwarming
  • ’n Wêreldwye oplossing nodig
  • Kan omgewingskade gestuit word?
  • Chaotiese weer
    Ontwaak!—1998
  • Word die planeet Aarde bedreig?
    Ontwaak!—2008
  • Klimaatberade—Net praatjies?
    Ontwaak!—2011
  • Klimaatsverandering en ons toekoms – Wat die Bybel sê
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 8/8 bl. 5-7

Wat gebeur met die weer?

“Die rampspoedige vloede en hewige storms wat ons nou ondervind, sal al hoe meer voorkom.”—THOMAS LOSTER, ’N WEERRISIKOSPESIALIS.

IS IETS werklik fout met die weer? Baie vrees dat daar is. Die weerkundige dr. Peter Werner van die Potsdam-instituut vir Klimaatimpaknavorsing sê: “Wanneer ons weerstoestande regoor die aarde waarneem—die uiterstes in neerslag, vloede, droogtes, storms—en na die ontwikkeling daarvan kyk, kan ons tereg sê dat hierdie uiterstes oor die laaste 50 jaar viervoudig toegeneem het.”

Baie meen dat die ongewone weerpatrone ’n bewys van aardverwarming is—die sogenaamde kweekhuiseffek wat handuit geruk het. Die Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap verduidelik: “Die kweekhuiseffek is die styging in die aarde se temperatuur omdat sekere gasse in die atmosfeer (byvoorbeeld waterdamp, koolstofdioksied, distikstofmonoksied en metaan) sonenergie vaskeer. Sonder hierdie gasse sal hitte in die ruimte in ontsnap en sal die aarde se gemiddelde temperatuur ongeveer 60 °F (33 °C) kouer wees.”

Maar baie voer aan dat die mens onwetend met hierdie natuurlike proses gepeuter het. ’n Artikel in Earth Observatory, ’n internetpublikasie van die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, sê: “Die mens se fabrieke en motors stort al dekades lank miljarde tonne kweekhuisgasse in die atmosfeer . . . Baie wetenskaplikes vrees dat die groter konsentrasie kweekhuisgasse verhinder het dat ekstra termiese straling die aarde verlaat. In wese keer hierdie gasse oortollige hitte in die aarde se atmosfeer vas, min of meer soos ’n windskerm sonenergie in ’n motor vaskeer.”

Skeptici wys daarop dat mense net verantwoordelik is vir ’n klein persentasie van die kweekhuisgasse wat vrygestel word. Maar die Inter-regeringspaneel oor Klimaatverandering (IPCC), ’n navorsingsgroep wat deur die Wêreld- Meteorologiese Organisasie en die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram geborg word, sê: “Daar is nuwe en oortuigender bewyse dat die meeste van die verwarming wat oor die laaste 50 jaar waargeneem is, aan menslike aktiwiteite toegeskryf kan word.”

Die klimatoloog Pieter Tans van die Nasionale Oseaan- en Atmosfeeradministrasie sê: “As ek moes skat, sou ek sê dat dit 60 persent ons skuld is . . . Die oorblywende 40 persent is weens natuurlike oorsake.”

Moontlike gevolge van aardverwarming

Waartoe het die toename in mensgemaakte kweekhuisgasse blykbaar gelei? Die meeste wetenskaplikes stem nou saam dat die aarde inderdaad warmer geword het. Presies hoe drasties was hierdie temperatuurstyging? Die IPCC-verslag vir 2001 sê: “Die aarde se oppervlaktemperatuur het sedert die laat 19de eeu wêreldwyd met tussen 0,4 en 0,8 °C gestyg.” Baie navorsers glo dat hierdie klein styging die dramatiese veranderinge in ons weer kan verklaar.

Die aarde se weerstelsel is weliswaar verbasend ingewikkeld, en wetenskaplikes kan nie met sekerheid sê watter—indien enige—uitwerking aardverwarming het nie. Maar baie glo dat aardverwarming gelei het tot meer reënval in die Noordelike Halfrond, droogte in Asië en Afrika en groter El Niño-aktiwiteit in die Stille Oseaan.

’n Wêreldwye oplossing nodig

Aangesien mense vir hierdie probleem verantwoordelik is, kan die mens dit dan nie oplos nie? Verskeie gemeenskappe het reeds wette uitgevaardig om besoedeling deur uitlaatgasse van motors en fabrieke te verminder. Maar sulke pogings—hoewel dit prysenswaardig is—het min of geen impak gehad nie. Besoedeling is ’n wêreldwye probleem en dus moet ’n wêreldwye oplossing gevind word! In 1992 is die Aardeberaad in Rio de Janeiro belê. Tien jaar later is die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in Johannesburg gehou. Sowat 40 000 afgevaardigdes het hierdie vergadering in 2002 bygewoon, insluitende ongeveer 100 staatshoofde.

Sulke konferensies het baie gedoen om ’n algemene konsensus onder wetenskaplikes te bewerkstellig. Die Duitse koerant Der Tagesspiegel verduidelik: “Terwyl die meeste wetenskaplikes destyds [in 1992] bedenkinge oor die kweekhuiseffek gehad het, betwyfel feitlik niemand dit vandag nie.” Nietemin herinner die Duitse minister van omgewingsake, Jürgen Trittin, ons dat die ware oplossing vir die probleem nog nie gevind is nie. “Johannesburg moet dus nie net ’n beraad van woorde wees nie”, het hy beklemtoon, “maar ook ’n beraad van dade.”

Kan omgewingskade gestuit word?

Aardverwarming is net een van baie omgewingskwessies waarmee die mensdom te kampe het. Doeltreffende optrede is nie altyd so maklik nie. “Noudat ons uiteindelik erken het watter verskriklike skade ons ons omgewing aangedoen het”, skryf die Britse etoloog Jane Goodall, “werk ons baie hard om tegnologiese oplossings te vind.” Maar sy waarsku: “Tegnologie alleen is nie genoeg nie. Ons harte moet ook daarby betrokke wees.”

Dink weer eens aan die probleem van aardverwarming. Maatreëls om besoedeling te verminder, is duur; dikwels kan armer lande dit eenvoudig nie bekostig nie. Party kenners vrees dus dat energiebeperkings nywerhede sal noodsaak om hulle werksaamhede na armer lande te verskuif waar hulle winsgewender bedryf kan word. Selfs die leiers met die beste bedoelinge bevind hulle gevolglik in ’n dilemma. As hulle hulle land se ekonomiese belange beskerm, ly die omgewing. As hulle hulle vir die beskerming van die omgewing beywer, stel hulle die ekonomie in gevaar.

Severn Cullis-Suzuki, van die Wêreldberaad-adviespaneel, voer dus aan dat veranderinge op ’n individuele vlak gemaak moet word en sê: “Ware omgewingsverandering hang van ons af. Ons kan nie op ons leiers wag nie. Ons moet ons toespits op wat ons individuele verantwoordelikheid is en hoe ons die veranderinge kan laat plaasvind.”

Dit is net redelik om te verwag dat mense die omgewing met respek moet behandel. Maar om mense te kry om die nodige veranderinge in hulle lewenswyse aan te bring, is nie so maklik nie. Ter toeligting: Die meeste mense stem saam dat motors tot aardverwarming bydra. Gevolglik wil iemand sy motor dalk minder gebruik of heeltemal sonder ’n motor oor die weg kom. Maar dit is moontlik nie so maklik nie. Soos Wolfgang Sachs van die Wuppertal-instituut vir Klimaat-, Omgewing- en Energiesake onlangs gesê het, “lê al die plekke wat ’n rol in die daaglikse lewe speel (die werksplek, kleuterskool, skool of winkelsentrum) so ver uitmekaar dat ’n mens nie sonder ’n motor kan klaarkom nie. . . . Of ek nou ’n motor wil hê of nie, het niks daarmee te doen nie. Die meeste mense het eenvoudig nie ’n keuse nie.”

Party wetenskaplikes, soos professor Robert Dickinson van Georgia-instituut vir Tegnologie se Fakulteit van Aard- en Atmosfeerwetenskappe, vrees dat dit dalk alreeds te laat is om die aarde teen die gevolge van aardverwarming te beskerm. Selfs al hou besoedeling vandag op, glo Dickinson dat ons die gevolge van die misbruike van die verlede nog ten minste 100 jaar lank sal ondervind!

Wie kan dan omgewingsprobleme oplos aangesien regerings en individue dit nie kan doen nie? Van antieke tye af kyk mense op na die hemele vir hulp om die weer te beheer. Hoewel hierdie pogings naïef was, weerspieël dit nietemin ’n grondwaarheid: Die mensdom het God se hulp nodig om hierdie probleme op te los.

[Lokteks op bladsy 7]

“Daar is nuwe en oortuigender bewyse dat die meeste van die verwarming wat oor die laaste 50 jaar waargeneem is, aan menslike aktiwiteite toegeskryf kan word”

[Venster op bladsy 6]

“Is aardverwarming nadelig vir die gesondheid?”

’n Artikel in Scientific American het hierdie interessante vraag gevra. Dit het voorspel dat aardverwarming “die voorkomssyfer en verspreiding van talle ernstige siektes sal vergroot”. Daar word byvoorbeeld “geskat dat die aantal hittegolfverwante sterftes teen 2020 [in sommige plekke] sal verdubbel”.

Die rol wat aardverwarming in besmetlike siektes kan speel, is minder opvallend. “Muskietverspreide siektes sal volgens skattings al hoe algemener word” omdat muskiete “vinniger voortplant en meer byt namate die lug warmer word. . . . Namate hele gebiede warmer word, kan muskiete na gebiede versprei wat voorheen muskietvry was, en siektes saam met hulle neem.”

Laastens is daar die uitwerking van vloede en droogtes—wat albei tot ’n besoedelde watervoorraad kan lei. Dit is duidelik dat die bedreiging van aardverwarming ernstig opgeneem moet word.

[Prent op bladsy 7]

Die kweekhuiseffek veroorsaak dat hitte in die atmosfeer opbou pleks van in die ruimte in te ontsnap

[Erkenning]

NASA-foto

[Prente op bladsy 7]

Die mens het miljarde tonne besoedelstowwe in die lug vrygestel, wat die kweekhuiseffek versnel het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel