Klimaatberade—Net praatjies?
“Die wêreld moet saamspan om ’n oplossing vir klimaatsverandering te vind. As ons niks doen nie, is nog droogtes, hongersnode en grootskaalse bevolkingsverskuiwings volgens die meeste wetenskaplikes ons voorland, en dit sal dekades lank net meer konflik veroorsaak.”—Barack Obama, president van die Verenigde State.
PARTY wetenskaplikes is van mening dat die planeet Aarde siek is. Dit het ’n koors. Volgens hulle bereik die wêreldtemperatuur moontlik nou ’n keerpunt—die kritieke stadium waar ’n klein styging in die temperatuur “’n dramatiese verandering in die omgewing tot gevolg kan hê, wat weer ’n baie groter styging in die wêreldtemperatuur sal veroorsaak”, sê die Britse koerant The Guardian.
Hoe het ons in hierdie situasie beland? Kan dit omgekeer word? Trouens, is dit hoegenaamd vir die mensdom moontlik om die probleem van aardverwarming op te los—wat nog te sê al die ander groot probleme wat die mensdom in die gesig staar?
Baie wetenskaplikes glo dat ’n groot faktor menslike bedrywighede is, veral sedert die Industriële Revolusie en die daaropvolgende toename in die gebruik van fossielbrandstowwe, soos steenkool en olie. Nog ’n faktor is grootskaalse ontbossing. Woude dien as longe vir die omgewing. Bome absorbeer party van die kweekhuisgasse wat vir aardverwarming verantwoordelik is. Maar grootskaalse ontbossing veroorsaak dat toenemende hoeveelhede van hierdie gasse in ons atmosfeer bly. Om ’n oplossing vir hierdie probleme te probeer vind, het wêreldleiers klimaatberade belê.
Die Kioto-protokol
In 1997 het die Kioto-protokol, of -ooreenkoms, nuwe doelwitte gestel in verband met koolstofdioksiedvrystellings. Deur die protokol te onderteken, het die lande van die Europese Unie en 37 ander nywerheidslande hulle daartoe verbind om hulle vrystellings met gemiddeld 5 persent te verminder in vergelyking met die vlakke van 1990, en dit oor die vyfjaarperiode van 2008 tot 2012.
Die Kioto-protokol het egter ernstige tekortkominge gehad. Byvoorbeeld, die Verenigde State het dit nooit onderteken nie. Ook het groot ontwikkelende lande, soos China en Indië, hulle nie tot spesifieke beperkings op hulle vrystellings verbind nie. En dit terwyl die Verenigde State en China alleen vir ongeveer 40 persent van die koolstofdioksiedvrystellings in die wêreld verantwoordelik is.
Die Kopenhagen-beraad
Die doel van die Kopenhagen-beraad, wat COP15 genoem word, was om die Kioto-protokol te vervang en nuwe, bindende doelwitte vir 2012 en daarna te stel.a Om ’n oplossing vir klimaatsverandering te probeer vind, het verteenwoordigers van 192 lande, insluitende 119 staatshoofde, in Desember 2009 in Kopenhagen, Denemarke, bymekaargekom. Die drie grootste uitdagings waarvoor COP15 te staan gekom het, was:
1. Om wetlik bindende ooreenkomste te bereik. Sou ontwikkelde lande die nodige beperkings op gasvrystellings aanvaar, en sou die groot ontwikkelende lande die toename in hulle gasvrystellings beperk?
2. Om ’n permanente oplossing te finansier. Die ontwikkelende lande sal jare lank miljarde rande nodig hê om die versnellende gevolge van aardverwarming die hoof te bied en om omgewingsvriendelike tegnologie te ontwikkel.
3. Om konsensus te bereik oor ’n stelsel om gasvrystellings te monitor. So ’n stelsel sou individuele lande help om by die beperkings op hulle gasvrystellings te bly. Dit sou ook help verseker dat ontwikkelende lande geldskenkings reg gebruik.
Wat was die uitkoms? Die onderhandelinge het so sleg verloop dat dit nie gelyk het of ’n selfs minder optimistiese konsensus bereik kon word nie. Tydens die laaste ure van die konferensie het die leiers van 28 lande ’n dokument gefinaliseer wat die Kopenhagen-ooreenkoms genoem is. Dié ooreenkoms is volgens die Reuters-nuusdiens amptelik aanvaar met hierdie redelik niksseggende woorde: “Die konferensie . . . neem kennis van die Kopenhagen-ooreenkoms.” Met ander woorde, elke land kon besluit wat hulle daaromtrent sou doen.
Wat lê voor?
Nog konferensies is gehou en nog word beplan, maar baie mense is skepties hieroor. “Die planeet sal aanhou kook”, het die rubriekskrywer Paul Krugman van die New York Times gesê. Alte dikwels weeg korttermyn- politieke en ekonomiese voordele swaarder as langtermynomgewingsfaktore, wat lande aanspoor om maar net op dieselfde trant voort te gaan. “As jy wil verstaan waarom daar teenkanting is teen klimaatsbeskerming, moet jy net kyk waarheen die geld gaan”, sê Krugman. Hy het ook geskryf dat optrede in verband met klimaatsverandering in sy land belemmer is deur die faktore “wat gewoonlik daarvoor verantwoordelik is: gierigheid en [politieke] lafhartigheid”.
Aardverwarming is baie soos ’n orkaan. Weerkundiges kan die krag van ’n orkaan meet en sy koers met redelike akkuraatheid voorspel—tot groot voordeel van die mense wat hulle in sy pad bevind. Maar al die wetenskaplikes, politici en sakeleiers in die wêreld kan niks doen om ’n orkaan te keer nie. Dit lyk of dieselfde moontlik geld vir aardverwarming. Hierdie feit laat ’n mens dink aan die woorde wat in die Bybel in Jeremia 10:23 opgeteken is en wat sê “dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”
Aardverwarming sal tot ’n einde kom—op God se manier
Die Bybel sê vir ons dat “die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan . . . dit nie verniet geskep het nie” (Jesaja 45:18). Die Bybel sê ook: “Die aarde bly vir ewig staan.”—Prediker 1:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
Ja, God sal nie toelaat dat die aarde onbewoonbaar word nie. Hy sal eerder in menseaangeleenthede ingryp en ’n einde maak aan mislukte menseheerskappy en diegene wat geen respek vir die aarde het nie. Terselfdertyd sal hy dié wat sedelik regskape lewens lei en hom opreg wil behaag, behoue laat bly. Spreuke 2:21, 22 sê: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”
[Voetnoot]
a Die Konferensie van die Partye, COP, word op ’n gereelde basis georganiseer deur die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering.
[Venster op bladsy 13]
’n Kweekhuisgas is ’n komponent van die atmosfeer wat warmtestraling absorbeer wat van die aarde se oppervlak af weerkaats word. Baie van die gasse wat deur moderne industriële prosesse in die atmosfeer vrygestel word, is kweekhuisgasse. Dit sluit koolstofdioksied, chloorfluoorkoolstof, metaan en distikstofmonoksied in. Wat koolstofdioksied betref, word daar tans meer as 25 miljard ton elke jaar in ons atmosfeer vrygestel. Volgens verslae het koolstofdioksiedvlakke in die atmosfeer sedert die begin van die industriële tydperk met 40 persent gestyg.
[Foto-erkennings op bladsy 12]
Aarde: NASA/The Visible Earth (http://visibleearth.nasa.gov/); Barack Obama: ATTILA KISBENEDEK/AFP/Getty Images