Die einde van vernietigende weerstoestande!
“IN SY selfsugtige najaging van gerief, spoed en kommersiële gewin het die moderne mens respek vir die aarde verloor.” So lui die omslag van die boek 5000 Days to Save the Planet. Ons lewe met die gevolge van die mens se selfsug. En hetsy teorieë oor aardverwarming waar is of nie, een ding is seker—die mens verniel ons pragtige planeet. Ons enigste hoop is die vervulling van die Bybel se belofte dat God “die verderwers van die aarde [sal] verderf”.—Openbaring 11:18.
God sal die verdorwe stelsel van menseheerskappy met ’n heeltemal nuwe stelsel vervang. Voordat jy daardie idee as godsdienstige onsin verwerp, dink aan die volgende: Wie weet meer oor die behoeftes van die aarde en die omgewing as die Skepper daarvan? Is wat met hierdie planeet gebeur nie vir hom van spesiale belang nie? Die Bybel toon duidelik dat dit is en sê in Jesaja 45:18 dat Jehovah “die ware God, die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan [is], Hy, wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word”. God kan en sal ingryp om daardie voorneme te vervul.
God sal dit doen deur ’n nuwe regering, of koninkryk, tot stand te bring om na die aarde om te sien. Wanneer Christene die sogenoemde Onse Vader bid en sê: “Laat u koninkryk kom”, vra hulle dat hierdie koninkryk oorneem (Matteus 6:9, 10). God se Koninkryk, of regering, sal toon dat dit begrip het van die aarde se komplekse natuurlike kringlope. Dit sal dus gebiede van die aarde kan herstel wat deur besoedeling en misbruik van die omgewing verderf is. Jesaja 35:1, 6 sê: “Die woestynvlakte sal . . . bloei soos die saffraan. . . . Want in die wildernis sal waters uitbreek, en strome in die woestynvlakte.”
Tot God ingryp
Ná die vloede van 2002 het Helmut Schmidt, voormalige kanselier van Wes-Duitsland, geskryf: “Geen mens kan die damme teen die natuurkragte beveilig nie. Daar sal altyd rampe wees.” Dit is waar. En wanneer vernietigende weer ’n gebied tref, kan mense nie veel meer doen as om dit na die beste van hulle vermoë te verduur nie. Maar ten spyte van al die benoudheid wat sulke rampspoedige gebeure meebring, kan dit ’n positiewe uitwerking hê. Dit kan mense beweeg om liefde en besorgdheid teenoor hulle naaste te betoon (Markus 12:31). Byvoorbeeld, die vloede in Europa het blykbaar hierdie uitwerking op party gehad. Een koerant het geskryf: “Ywerige vrywilligers het uit alle dele van Duitsland gekom om [noodlenigingswerk] te doen. Dit is die grootste vrywilligerspoging sedert die Tweede Wêreldoorlog.”
Onder hierdie vrywilligers was daar baie Getuies van Jehovah. Die volgende artikel bespreek die noodlenigingswerk van die Getuies in vier lande wat deur die hewige storms getref is. Die gedrag van hierdie Christene is ’n voorskou van hoe die lewe onder die heerskappy van God se inkomende regering gaan wees, waarin liefde en broederlike besorgdheid—en nie gierigheid en selfsug nie—sal heers.—Jesaja 11:9.a
Christene kan vertroosting put uit God se belofte aan die eertydse Israeliete: “Ek [sal] beslis vir julle land reën gee op die vasgestelde tyd daarvoor, herfsreën en lentereën” (Deuteronomium 11:14). Hierdie belofte sal ook ’n werklikheid word vir diegene wat die voorreg het om in God se nuwe wêreld te lewe—’n wêreld sonder weerverwante rampe.
[Voetnoot]
a Kom gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif as jy graag meer oor die Bybel se belofte van ’n Koninkryksregering wil leer.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Volmaakte beheer oor die weer
In God se nuwe wêreld sal mense nie bang hoef te wees dat ’n fratsstorm hulle huis of oes sal vernietig nie (2 Petrus 3:13). Die Bybel sê duidelik dat God en sy Seun, Jesus Christus, ten volle in staat is om die weer te beheer. Kyk na die volgende tekste.
◼ Genesis 7:4: “Oor nog net sewe dae laat ek dit veertig dae en veertig nagte op die aarde reën.”
◼ Eksodus 14:21: “Jehovah het die see deur ’n sterk oostewind laat wegvloei, die hele nag deur, en die seebodem in droë grond verander, en die waters is gekloof.”
◼ 1 Samuel 12:18: “Samuel [het] Jehovah aangeroep, en Jehovah het op dié dag donderslae en reën gegee, sodat die hele volk Jehovah en Samuel baie gevrees het.”
◼ Jona 1:4: “Jehovah het ’n sterk wind op die see gewerp, en daar het ’n groot storm op die see ontstaan; en die skip was op die punt om te vergaan.”
◼ Markus 4:39: “Daarop het hy [Jesus, wat krag van God ontvang het] opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: ‘Bedaar! Wees stil!’ En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot kalmte gekom.”
[Prente op bladsy 8, 9]
In God se nuwe wêreld sal ons nie gevaarlike weerstoestande hoef te vrees nie