Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 12/1 bl. 4-10
  • Natuurrampe—Is God daarvoor verantwoordelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Natuurrampe—Is God daarvoor verantwoordelik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n “natuurramp”?
  • Wie is daarvoor verantwoordelik?
  • Wat is die oplossing?
  • Toekomstige dade van God
  • Wat sê die Bybel oor natuurrampe?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Natuurrampe—Waarom so algemeen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Gebruik God vandag natuurrampe om die mensdom te straf?
    Ontwaak!—2012
  • Wanneer natuurrampe tref
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 12/1 bl. 4-10

Natuurrampe—Is God daarvoor verantwoordelik?

“GOD, wat het u aan ons gedoen?”

Dit was volgens berig die reaksie van ’n oorlewende wat die verwoesting aanskou het wat deur die uitbarsting van die sneeubedekte Nevado del Ruiz in Colombia op 13 November 1985 aangerig is. Die hele stad Armero is begrawe deur die moddervloed wat daarop gevolg het, en meer as 20 000 mense het in een nag omgekom.

’n Mens kan verstaan waarom die oorlewende só gereageer het. Omdat die mens so magteloos teen die ontsagwekkende natuurkragte is, het mense van die vroegste tye af sulke rampspoedige gebeure aan God toegeskryf. Primitiewe volke het offers gebring, selfs menseoffers, om hulle gode van die see, lug, aarde, berge, vulkane en ander bronne van gevaar te paai. Selfs vandag aanvaar party eenvoudig die gevolge van katastrofiese natuurrampe as die noodlot of as ’n daad van God.

Is God werklik verantwoordelik vir die rampe wat reg rondom die wêreld soveel menselyding en verliese veroorsaak? Dra hý die skuld? Om uit te vind wat die antwoorde is, moet ons die saak van naderby beskou om te sien wat by sulke rampe betrokke is. Trouens, ons moet ’n paar bekende feite weer in oënskou neem.

Wat is ’n “natuurramp”?

Toe Tangsjan, China, deur ’n aardbewing getref is en 242 000 mense volgens amptelike Chinese verslae omgekom het, en toe Suid-Florida en Louisiana in die Verenigde State deur orkaan Andrew getref en skade van miljarde rande aangerig is, het sulke natuurrampe wêreldwyd groot nuusdekking ontvang. Maar wat sou gebeur het as daardie aardbewing in die onbewoonde Gobiwoestyn, 1 100 kilometer noordwes van Tangsjan, plaasgevind het of as orkaan Andrew in ’n ander rigting, heeltemal verby die land, beweeg het en hom oor die see uitgewoed het? Mense sou hierdie gebeure nou nie eers meer onthou het nie.

Wanneer ons van natuurrampe praat, is dit dus duidelik dat ons nie net van dramatiese verskynsels praat wat deur natuurkragte veroorsaak word nie. Daar vind elke jaar duisende aardbewings, groot en klein, en tientalle storms, siklone, orkane, tifone, vulkaniese uitbarstings en ander kragtige verskynsels plaas wat maar net statistieke in die een of ander verslagboek word. Maar wanneer sulke gebeure swaar verliese ten opsigte van lewe en eiendom veroorsaak en die normale lewenswyse ontwrig, word hulle as rampe beskou.

Daar moet onthou word dat die skade en die verliese wat daardeur meegebring word nie altyd in verhouding is tot die natuurkragte wat daarby betrokke is nie. Die grootste ramp word nie noodwendig deur die natuurkrag veroorsaak wat die meeste energie vrystel nie. In 1971, byvoorbeeld, het ’n aardbewing wat 6,6 op die Richterskaal geregistreer het San Fernando, Kalifornië, in die Verenigde State, getref en 65 lewens geëis. ’n Jaar later het ’n aardbewing in Managua, Nicaragua, wat 6,2 geregistreer het, 5 000 lewens geëis!

Aangesien natuurrampe al hoe meer verwoesting saai, moet ons dus vra: Het die natuurkragte meer verwoestend geword? Of het menslike faktore tot die probleem bygedra?

Wie is daarvoor verantwoordelik?

Die Bybel identifiseer Jehovah God as die Grootse Skepper van alle dinge, met inbegrip van hierdie aarde se natuurkragte (Genesis 1:1; Nehemia 9:6; Hebreërs 3:4; Openbaring 4:11). Dit beteken nie dat hy elke beweging van die wind of elke reënbui veroorsaak nie. Nee, hy het sekere wette in werking gestel wat die aarde en sy omgewing beheer. In Prediker 1:5-7 lees ons byvoorbeeld van drie van die basiese natuurverskynsels wat die lewe op aarde moontlik maak—die son wat daagliks opkom en ondergaan, die onveranderlike windpatrone en die waterkringloop. Of die mens nou van hulle bewus is of nie, hierdie stelsels in die natuur, en ander soortgelyke stelsels, wat met die klimaat, die geologie en die ekologie van die aarde verband hou, is al duisende jare in werking. Trouens, die skrywer van Prediker het die aandag gevestig op die groot kontras tussen die onveranderlikheid en eindeloosheid van die skepping en die verganklikheid en kortstondigheid van die mens se lewe.

Jehovah is nie alleen die Skepper van die natuurkragte nie, maar hy het ook die mag om hulle te beheer. Regdeur die Bybel tref ons verslae aan van hoe Jehovah sulke kragte beheer of gebruik het om sy voorneme uit te voer. Dit sluit gebeurtenisse in soos toe Hy in Moses se dag die Rooi See gekloof het en toe Hy in die tyd van Josua die son en maan in hulle bane in die hemel laat stilstaan het (Exodus 14:21-28; Josua 10:12, 13). Jesus Christus, die Seun van God en die beloofde Messias, het ook sy mag oor die natuurkragte gedemonstreer, soos toe hy die storm oor die See van Galilea laat bedaar het (Markus 4:37-39). Gevalle soos dié toon sonder twyfel dat Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, volle beheer kan uitoefen oor alles wat die lewe hier op aarde raak.—2 Kronieke 20:6; Jeremia 32:17; Mattheüs 19:26.

Kan ons, in die lig hiervan, vir God verantwoordelik hou vir die toenemende chaos en verwoesting wat in onlangse tye deur natuurrampe veroorsaak is? Om hierdie vraag te kan beantwoord, moet ons eers kyk of daar bewyse is dat die natuurkragte in die afgelope tyd aansienlik meer verwoestend, selfs buite beheer, geraak het.

Let op wat die boek Natural Disasters—Acts of God or Acts of Man? in hierdie verband sê: “Daar is geen bewyse dat die klimatologiese meganismes wat met droogtes, vloede en siklone verband hou, besig is om te verander nie. En geoloë sê nie dat die bewegings onder die aarde se oppervlak wat met aardbewings, vulkane en tsunami’s (aardbewingskokgolwe) te doen het kragtiger word nie.” Die boek Earthshock sê eweneens: “Die rotse van elke kontinent bevat ’n verslag van ontelbare groot en klein geologiese gebeure, wat elkeen ’n katastrofiese ramp vir die mens sou wees as hulle vandag sou plaasvind—en dit is ’n wetenskaplike feit dat sulke gebeure nog herhaaldelik in die toekoms sal plaasvind.” Met ander woorde, die aarde en sy dinamiese kragte het deur die eeue heen basies dieselfde gebly. Of sommige statistieke dus toon dat daar ’n toename in party vorme van geologiese of ander aktiwiteit is of nie, die aarde se natuurkragte het nie in onlangse tye onbeheerbaar verwoestend geword nie.

Waaraan kan die toename in die voorkoms van natuurrampe en die gepaardgaande verwoesting waarvan ons lees dan toegeskryf word? As die natuurkragte dan nie daarvoor verantwoordelik is nie, lyk dit of die skuld by die mens lê. En gesaghebbendes erken wel dat menslike bedrywighede veroorsaak het dat ons omgewing meer dikwels deur natuurrampe getref word en dat groter skade aangerig word. In die ontwikkelende lande het boere as gevolg van ’n groter behoefte aan voedsel geen keuse nie as om enige grond wat hulle het, te oorbewerk of grond te herwin deur noodsaaklike bosbedekking te verwyder. Dit lei tot ernstige gronderosie. Die bevolkingsaanwas bespoedig ook die uitbreiding van krotbuurte en plakkersdorpe wat sonder oorleg in onveilige gebiede opgerig word. Selfs in die ontwikkelde lande stel mense, soos die miljoene wat in die omgewing van die San Andreas-breuk in Kalifornië woon, hulle ten spyte van duidelike waarskuwings aan gevaar bloot. Kan dit werklik ’n “natuurramp” genoem word as ’n ongewone gebeurtenis—’n storm, ’n vloed of ’n aardbewing—onder sulke omstandighede rampspoedige gevolge het?

’n Tipiese voorbeeld is die droogte in die Sahelgebied in Afrika. Ons dink gewoonlik aan droogte as ’n gebrek aan reën of water, wat tot hongersnood, verhongering en die dood lei. Maar is die grootskaalse hongersnood en verhongering in daardie gebied eenvoudig te wyte aan ’n watertekort? Die boek Nature on the Rampage sê: “Gegewens wat deur wetenskaplike en noodlenigingsorganisasies versamel is, toon dat vandag se hongersnood nie soseer weens die lang droogte voortduur nie, maar weens die langdurige misbruik van die grond en die waterbronne. . . . Die woestynuitbreiding in die Sahelgebied is ’n verskynsel wat hoofsaaklik aan die mens toegeskryf kan word.” Die koerant The Natal Witness sê: “Hongersnood word nie veroorsaak deur ’n gebrek aan voedsel nie; dit word veroorsaak deur ’n gebrek aan toegang tot voedsel. Met ander woorde, dit word deur armoede veroorsaak.”

Dieselfde kan gesê word van baie van die verwoesting wat deur ander katastrofiese gebeure veroorsaak word. Studies toon dat die armer lande se sterftesyfers weens natuurrampe buite verhouding hoër as dié van die ryker lande van die wêreld is. Volgens een studie was daar byvoorbeeld van 1960 tot 1981 in Japan 43 aardbewings en ander rampe waartydens 2 700 omgekom het, wat beteken dat daar gemiddeld 63 sterfgevalle vir elke ramp was. Gedurende dieselfde tydperk was daar 31 rampe in Peru met 91 000 sterfgevalle, of 2 900 sterfgevalle vir elke ramp. Waarom is daar so ’n groot verskil? Die natuurkragte was nou wel die oorsaak, maar die groot verskil in die lewensverlies en vernietiging van eiendom wat daarmee gepaardgegaan het, kan net aan menslike bedrywighede—maatskaplik, ekonomies en polities—toegeskryf word.

Wat is die oplossing?

Wetenskaplikes en deskundiges probeer al jare lank maniere vind om beter op natuurrampe voorbereid te wees. Hulle delf diep in die aarde in om alles omtrent aardbewings en vulkaniese uitbarstings te probeer verstaan. Met behulp van satelliete in die ruimte bestudeer hulle die weerpatrone om die beweging van siklone en orkane dop te hou of vloede en droogtes te voorspel. Hulle hoop dat al die inligting wat hulle uit hierdie navorsing versamel het hulle sal help om die verwoesting wat hierdie natuurkragte saai te beperk.

Het sulke pogings vrugte afgewerp? Een navorsingsorganisasie sê aangaande hierdie duur, hipertegnologiese metodes: “Hulle is nuttig. Maar wanneer hulle ’n buitensporige hoeveelheid geld en moeite kos—wanneer hulle daartoe lei dat die gevare geïgnoreer word wat in die slagoffers se gemeenskappe ingebou is en wat die rampe vererger—kan hulle meer kwaad as goed doen.” Hoewel dit byvoorbeeld nuttig is om te weet dat die kusdelta van Bangladesj voortdurend deur vloede en vloedgolwe bedreig word, verander daardie kennis nie die feit dat miljoene Bangladesji’s noodgedwonge daar moet woon nie. Die gevolg is die een ramp ná die ander met honderdduisende wat hulle lewe verloor.

Dit is duidelik dat tegniese inligting net beperkte waarde het. Nog iets wat nodig is, is die vermoë om dié dinge uit die weg te ruim wat mense dwing om in gevaarsones te woon of om ’n lewenswyse te volg wat die omgewing vernietig. Met ander woorde, as ’n mens die skade wil verminder wat die natuurkragte aanrig, moet die maatskaplike, ekonomiese en politieke stelsel waaronder ons lewe heeltemal verander word. Wie kan so iets tot stand bring? Slegs die Een wat selfs die kragte kan beheer waardeur natuurrampe veroorsaak word.

Toekomstige dade van God

Jehovah God sal nie net aan die simptome aandag skenk nie, maar hy sal tot die kern van menselyding deurdring. Hy sal ’n einde maak aan die hebsugtige en verdrukkende politieke, kommersiële en godsdiensstelsels wat ‘oor die mens geheers het tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Enigiemand wat die Bybel ken, sal weet dat dit talle profesieë bevat wat wys op die tyd wanneer God sal ingryp om die aarde van goddeloosheid en lyding te bevry en ’n paradys van vrede en regverdigheid op aarde te herstel.—Psalm 37:9-11, 29; Jesaja 13:9; 65:17, 20-25; Jeremia 25:31-33; 2 Petrus 3:7; Openbaring 11:18.

Dit is in werklikheid waarvoor Jesus Christus al sy volgelinge leer bid het, naamlik: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Die Messiaanse Koninkryk sal alle onvolmaakte menseregerings uit die weg ruim en vervang, soos die profeet Daniël voorspel het: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Wat gaan God se Koninkryk doen wat die hedendaagse nasies nie kan doen nie? Die Bybel bied ’n fassinerende voorskou van wat voorlê. Pleks van die toestande wat ons op hierdie bladsye sien, soos hongersnood en armoede, sal daar “volheid van koring wees in die land, op die top van die berge”, en “die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land” (Psalm 72:16; Esegiël 34:27). Met betrekking tot die natuurlike omgewing sê die Bybel vir ons: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; . . . want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water” (Jesaja 35:1, 6, 7). En daar sal geen oorloë meer wees nie.—Psalm 46:10.

Die Bybel sê nie hoe Jehovah God al hierdie dinge teweeg gaan bring nie en wat hy gaan doen sodat die natuurkragte nie langer skade sal aanrig nie. Maar een ding is seker, almal wat onder daardie regverdige regering gaan lewe, “sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle”.—Jesaja 65:23.

Deur middel van hierdie tydskrif, sowel as ander publikasies van die Wagtoringgenootskap, het Jehovah se Getuies al herhaaldelik daarop gewys dat God se Koninkryk in die jaar 1914 in die hemel opgerig is. Onder leiding van daardie Koninkryk word ’n wêreldwye getuienis al byna 80 jaar lank gegee, en ons staan vandag op die drumpel van ’n beloofde “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”. Die mens sal nie alleen van die verwoestende gevolge van natuurrampe bevry word nie, maar ook van al die pyn en lyding wat die mensdom al die afgelope sesduisend jaar teister. Aangaande daardie tyd kan daar inderdaad gesê word: “Die dinge van vroeër het verbygegaan.”—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:4, NAV.

Maar wat van die hede? Het God in hierdie tyd al ten behoewe van diegene opgetree wat weens natuurrampe of ander omstandighede in die nood verkeer het? Hy het beslis, maar nie noodwendig soos die meeste mense sou verwag nie.

[Prente op bladsy 8, 9]

Menslike bedrywighede het veroorsaak dat ons omgewing meer dikwels deur natuurrampe getref word

[Erkennings]

Laif/Sipa Press

Chamussy/Sipa Press

Wesley Bocxe/Sipa Press

Jose Nicolas/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel