Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 8/8 bl. 22-25
  • Ondol—’n Unieke huisverhittingstelsel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ondol—’n Unieke huisverhittingstelsel
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die geskiedenis van vloerverhitting
  • Hoe die tradisionele ondol gewerk het
  • Hedendaagse ondol
  • Ondol en lewenswyse
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Ek het die groei in Korea gesien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • My lewe in Korea deur dramatiese veranderinge heen
    Ontwaak!—2008
  • Familiereünies in Korea—’n Nuwe begin?
    Ontwaak!—2001
Ontwaak!—2003
g03 8/8 bl. 22-25

Ondol—’n Unieke huisverhittingstelsel

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE REPUBLIEK KOREA

’N VRIENDELIKE vroutjie nooi ons in op ’n bibberende wintersdag in Korea. Binne die huis is dit lekker warm, hoewel daar geen verwarmer in sig is nie. Nadat ons ons skoene by die ingang uitgetrek het, loop ons met ’n trap op na die volgende vertrek en vind ons dat die vloer warm is! Ons gaan sit op die vloer en sit ons hande daarop, en ons voel hoe ons yskoue hande begin warm word.

In Korea het amper elke huis hierdie soort vloerverhitting. Dit word ondol genoem. Hoe werk hierdie unieke huisverhittingstelsel? En watter uitwerking het dit op die Koreaanse lewenswyse gehad? Kom ons kyk na die geskiedenis van die tradisionele ondol voordat ons daardie vrae beantwoord.

Die geskiedenis van vloerverhitting

Die geskiedenis van vloerverhitting kan teruggevoer word tot die tyd voor Jesus Christus aarde toe gekom het. Volgens argeologiese ontdekkings en geskiedkundige verslae was die eertydse Romeine moontlik die eerste om ’n vloerverhittingstelsel te gebruik.a Teen die vierde of vyfde eeu G.J. was ’n vloerverhittingstelsel dwarsdeur die Koreaanse Skiereiland gewild, en dit is later ondol genoem. Die naam is afgelei van die Chinese karakters wat “warm holtes” beteken. Die Chinese geskiedkundige verslag Books of Old Tang verwys na ondol en sê: “In die winter het [Koreane] hulleself warm gehou deur lang holtes te maak en dit met ’n vuur te verhit.”

Hoe die tradisionele ondol gewerk het

Die ondol se hittebron was tradisioneel ’n vuurherd. Dit kon in die kombuis of teen die buitemuur van die sitkamer geleë wees. ’n Kombuis met twee of drie vuurherde kon ’n ooreenstemmende aantal aangrensende ondol-verhitte vertrekke hê. In ’n ou Koreaanse kombuis kon daar een of twee groot ysterkookpotte op die vuurherd wees. Die vuur wat gebruik is om rys of sop te kook, is dus ook gebruik om die vertrek langsaan te verhit! Doeltreffend, nè?

Oor die algemeen is die kombuis ongeveer ’n meter laer gebou as die kamer wat verhit moes word. Die verskil in hoogte het dit vir die rook en warm lug maklik gemaak om onder die vloer van die hoër vertrek te beweeg. Rook wat onder die vloer beweeg? Ja, dit is die geheim van ondol.

Horisontale kanale vir rook en hitte het onder die vloer van die vertrek geloop en die vuurherd en skoorsteen verbind. Warm lug van die vuur het deur die kanale beweeg en die klip- en moddervloer verhit. Dit was egter makliker gesê as gedaan. Twee teenstrydige vereistes moes nagekom word. Ten einde die vuur goed te laat brand, moes die rook vinnig deur die kanale beweeg en onbelemmerd by die skoorsteen uitgaan. Kort en reguit kanale het die beste gewerk. Maar om die vloer te verhit, moes die warm lug en rook so lank as moontlik in die kanale bly. Om dit reg te kry, is die kanale so gebou dat hulle onder die hele vloeroppervlakte versprei is, wat verhinder het dat die warm lug te vinnig by die skoorsteen uitgaan. Wanneer die balans tussen die twee vereistes bereik is, kon ’n vertrek heelnag warm gehou word met ’n vuur wat slegs ’n paar ure gebrand het.

Daar was glo eens ’n ondol-vertrek—honderde jare oud—met ongelooflike termiese doeltreffendheid. Weens die ontwerp van die vertrek se rookkanale het die vloer 45 dae lank warm gebly nadat dit net een keer verhit is! Warmte kon blykbaar 100 dae lank gevoel word. Ongelukkig is hierdie vertrek in die Koreaanse Oorlog van die vroeë 1950’s vernietig. In 1982 het ingenieurs die gebou herstel en toeriste kan die ondol-vertrek besoek. Hierdie vertrek se termiese doeltreffendheid is nie naastenby so goed soos die oorspronklike s’n nie. Nadat dit slegs een keer verhit is, bly die vloer nogtans tien dae lank warm in die lente en herfs en drie dae lank in die winter, selfs wanneer die temperatuur tot onder minus tien grade Celsius daal.

Nog ’n geheim van die ondol-verhittingstelsel is in die ontwerp van die vloer self. Voordat die vloer gelê is, is kanale vir warm lug gemaak. Die kanale is dan met plat, dun klippe bedek wat tussen vyf en sewe sentimeter dik was. Aangesien die vloer naby die vuurherd natuurlik warmer was, is dikker klippe daar gebruik om hitteverlies te voorkom. Daarna is geel klei bo-op die klippe geplaas, en die vloer is gelyk gemaak. Laastens is verskeie lae geel papier op die vloer geplak.

In ’n vertrek wat deur die tradisionele ondol-stelsel verhit is, was die vloer aan die anderkant van die vertrek gewoonlik koel. Daarom is bejaardes, soos grootouers of ouers, asook gaste genooi om in die warmer deel van die vertrek te sit. Dit was ’n teken van respek.

Die tradisionele ondol-vertrekke wat in die noordelike deel van die Koreaanse Skiereiland gevind is, het ietwat verskil van dié in die suide. In die noorde is die ondol-verhitte vertrek en die kombuis nie met ’n muur geskei nie. Hitte van die vuurherd sowel as die ondol-vloer het die vertrek warm gehou. In die suide het ’n muur die kombuis en die woonkamer geskei, wat gekeer het dat die rook enigiemand pla wat daar sit.

Koreane het tradisioneel hout gebruik vir hierdie soort vuurherd. Voordat hulle die ondol aan die gang gesit het, het hulle droë vuurmaakhout langs die vuurherd gepak. Daarna het hulle papier en strooi gebruik om die vuur aan te steek. Houtskool is ook [as vuurmaakgoed] gebruik. In die 20ste eeu het Koreane egter houtskoolbrikette begin gebruik. Dit is natuurlik noodsaaklik dat ’n ondol-vertrek goed in stand gehou word. As krake in ’n rookkanaal ontwikkel, kan koolstofmonoksied deur die vloer in die woonkamer inkom, wat noodlottig kan wees.

Hedendaagse ondol

Deesdae word die tradisionele ondol-stelsel selde in Koreaanse huise gesien. In plaas daarvan word ’n gemoderniseerde weergawe van ondol—hidroniese straalverhitte vloere—deesdae in huise, insluitende hoë ondol-woonstelgeboue, gebruik. Dit gebruik warm water eerder as warm lug om die vloer te verhit. Interessant genoeg, die Koreane het nie hierdie stelsel ontwikkel nie.

In die vroeë 1900’s, terwyl die beroemde Amerikaanse argitek Frank Lloyd Wright ’n hotel in Japan gebou het, is hy na die huis van ’n Japannese edelman genooi. Wright het ’n vertrek daar gesien wat heeltemal anders as die tipiese Japannese vertrekke was. Die vloer is met geel papier bedek en was warm. Dit was ’n Koreaanse ondol-vertrek! Die Japannese edelman was in Korea en kon nie van ondol vergeet nie. Toe hy na Japan teruggekeer het, het hy ’n ondol-vertrek in sy huis laat bou. “Die wonderlike gevoel van ’n warm vloer” het Wright beïndruk. Hy het daar en dan besluit dat ondol die ideale verhittingstelsel is en het dit in sy geboue begin gebruik. Wright het straalverhitting van vloere uitgevind, wat gebruik maak van warm water wat deur pype loop in plaas van warm lug wat deur rookkanale beweeg.

Die hidroniese straalverhittingstelsel het goed gepas by die destydse lewenswyse van Koreane. Toe hulle dit eers begin gebruik het, het die eenvoudiger stelsel vinnig gewild geword. Vandag word dit in feitlik alle Koreaanse huise gebruik.

Ondol en lewenswyse

Ondol het ’n groot impak op die Koreaanse lewenswyse gehad. Om maar een ding te noem, omdat die vloer baie warmer as die lug in die vertrek is, sit mense natuurlik eerder op die warm vloer as op kouer stoele. Koreane sit, eet, kuier en slaap dus op die vloer. Om die vloer selfs warmer te hou, bedek hulle dit soms met ’n dik verekombers wat ibul genoem word. Wanneer familielede van buite af inkom, sit hulle hulle koue bene onder die kombers om die aangename warmte saam te geniet—’n ondervinding wat mense werklik nader aan mekaar laat voel!

Namate die Koreaanse lewenswyse meer verwesters raak, verkies die jonger geslag dikwels om op ’n stoel by ’n tafel te sit en in ’n bed te slaap. Nogtans verkies die meeste Koreane die snoesige warmte van ’n ondol-vloer wat met warm water verhit word. As jy Korea besoek, sal jy sekerlik hierdie unieke huisverhittingstelsel—ondol—geniet.

[Voetnoot]

a Die sentrale verhittingstelsel wat deur die Romeine ontwikkel is, is ’n hipokoust genoem. Dit het uit ’n ondergrondse vuuroond en geteëlde rookkanale bestaan wat die hitte versprei het.

[Diagram/Prente op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Bo-aansig van ’n rookkanaaluitleg

1 Vuurherd

2 Horisontale rookkanale

3 Skoorsteen

→ → 2 → →

→ → 2 → →

→ → 2 → →

● 1 → → 2 → → ● 3

→ → 2 → →

→ → 2 → →

→ → 2 → →

[Prente]

’n Vuurherd is gebruik om kos te kook sowel as die aangrensende kamer te verhit

’n Goeie skoorsteen-en-rookkanaalstelsel was noodsaaklik vir ’n doeltreffende “ondol”

[Erkenning]

Location: Korean Folk Village

[Prent op bladsy 24, 25]

In ’n “ondol”-vertrek word die warmste deel vir ouer mense gehou

[Erkenning]

Location: Korean Folk Village

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel