’n Interessante ontmoeting met gryswalvisse
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
Wanneer ’n mens nader aan ’n slapende walvis kom, word jy veral deur sy ontsaglike grootte beïndruk. Die walvis se fisiese teenwoordigheid is oorweldigend. Elke nou en dan hoor jy hom asemhaal en word jy dalk deur sy spuitfontein besprinkel. Op daardie oomblik besef die mens dat hy nader kom aan ’n lewensvorm wat sy verstand te bowe gaan; ’n raaiselagtige verskynsel wat in ’n ongelooflike swart silinder ingesluit is.—Jacques-Yves Cousteau, oseanograaf.
DIT is hoe ons gevoel het toe ons motorbootjie nader gekom het aan die gryswalvisse in die skitterende water van Magdalenabaai in Benede-Kalifornië, Mexiko. Ons wou lankal kom kyk na hierdie indrukwekkende diere, wat elke jaar na die strandmere van Benede-Kalifornië migreer om te paar en geboorte te gee.
Ons gids het die enjin afgeskakel en stil nader geroei. Dit het gelyk of die walvisse salig onbewus is van ons. Ons het na hulle paringsritueel gekyk terwyl hulle gerol, gespuit en skielik afgeduik het om met hulle stert te spog. Party van hulle het “spyhopping” gedoen—dit wil sê hulle kop uit die water gesteek en hulle omgewing verken.
Ons gids het vir ons gesê dat ons volgens regulasies nie nader as 30 meter aan die walvisse mag kom nie, maar dat nuuskierige moederwalvisse en hulle kalfies dikwels nader aan bootjies kom en toelaat dat ’n mens aan hulle raak!
’n Stryd om oorlewing
Hierdie ontmoeting het ons beweeg om ’n bietjie navorsing te doen. Ons het uitgevind dat oorywerige jagters gedurende die 19de eeu die walvisbevolking in die oostelike deel van die Stille Oseaan byna uitgewis het. Ná ’n ruk het die vraag na walvisolie en -been afgeneem, en die walvisbevolking het herstel. Later, in die vroeë 1900’s, toe bote ‘drywende fabrieke’ geword het wat dit vir jagters moontlik gemaak het om walviskarkasse aan boord te verwerk, het die jag van walvisse weer begin. Die gryswalvis van die oostelike deel van die Stille Oseaan is weer byna uitgewis.
In 1947 het die Internasionale Walviskommissie volle beskerming aan die gryswalvis verleen. In onlangse jare het die Mexikaanse regering selfs walvisreservate en die Vizcaíno-biosfeerreservaat gestig.a Met ’n bevolking van ongeveer 26 000 is die gryswalvis nou nie meer ’n bedreigde spesie nie.
Hulle merkwaardige migrasie
Die somervoedingsgebiede van die gryswalvis is in die verre noorde, in die Bering-see en die Tsjoektsji-see. Daar eet die walvisse groot hoeveelhede skaaldiertjies om spek op te gaar vir hulle tog van 16 000 kilometer suidwaarts na die strandmere van Benede-Kalifornië en terug. Die walvisse swem teen ’n spoed van tussen vyf en tien kilometer per uur en neem twee tot drie maande om hulle bestemming te bereik. Gedurende die migrasie en die maande in Benede-Kalifornië verloor die gryswalvisse baie van hulle liggaamsgewig, aangesien hulle feitlik net van hulle opgegaarde vet lewe.
Dragtige wyfies kom eerste by die strandmere aan, waar hulle in die kalm water geboorte gee. Die kalfies word stert eerste gebore en moet so gou moontlik na die oppervlak gebring word sodat hulle kan asemhaal. Twee ander wyfies, wat tannies genoem word en as vroedvroue optree, help met die geboorte. Die draagtyd is 12 tot 13 maande, en daarom word net een kalfie elke twee of drie jaar gebore. Dink net hoe dit moet voel om geboorte te gee aan ’n baba wat 680 kilogram weeg en sowat vyf meter lank is!
Die kalfies word ongeveer agt maande lank gesoog met melk wat uit 53 persent vet bestaan—tien keer ryker as beesmelk. Die walvisse bly twee tot drie maande in die strandmere, van Januarie tot die middel van Maart, wat die kalfies in staat stel om ’n dik laag spek op te gaar waarvan hulle op die tog noordwaarts moet leef en wat hulle in die kouer water van die Noordpool moet warm hou.
Ons het al hierdie feite oor die gryswalvis fassinerend gevind, en dit het bygedra tot die onvergeetlike ondervinding om hulle in hulle habitat te sien. Hierdie diere het ons laat nadink oor die woorde van Psalm 148:7: “Loof Jehovah van die aarde af, seemonsters en alle waterdieptes.”
[Voetnoot]
a Die Internasionale Walviskommissie laat slegs bestaansjagtery deur die inboorlinge van Alaska en Siberië toe. Hierdie maatreëls het die gryswalvis tot voordeel gestrek, wat nou deur die plaaslike bevolking as vriendelik beskou word weens die gedrag wat ons gids gemeld het.
[Venster/Prent op bladsy 17]
HOE HULLE EET
Die gryswalvis, wat ’n baardwalvis is, het nie tande nie, maar het roomkleurige horingplate. (Sien foto.) Dit is 5 tot 25 sentimeter lank en hang weerskante van die bokaak af. Die plate bestaan uit keratien—dieselfde stof waarvan ons vingernaels gemaak is. Die gryswalvis is ’n bodemvoeder—dit wil sê, hy suig afsaksel en skaaldiertjies van die seebodem af op. Dan sif hy die water deur die fraiings van die baard uit.
[Erkenning]
Courtesy Gray whales with Winston
[Venster/Prent op bladsy 18]
BESKRYWING VAN DIE GRYSWALVIS
◼ Die gryswalvis het wit vlekke op sy vel—wat deur eendmossels en parasiete veroorsaak word.
◼ Mannetjies word 14 meter lank—langer as ’n bus—en wyfies is effens groter.
◼ Die gryswalvis het twee tot vyf plooie aan die onderkant van sy keel, sodat dit kan rek terwyl hy eet.
◼ Die gemiddelde gewig van ’n gryswalvis is 16 ton, maar party het al ’n gewig van 30 tot 40 ton bereik.
◼ Die gryswalvis kom elke drie tot vyf minute op om asem te haal, maar hy kan tot 15 minute lank onder die water bly.
[Erkenning]
© Richard Herrmann/Seapics.com
[Prent op bladsy 16, 17]
“Spyhopping”
[Erkenning]
© Michael S. Nolan/Seapics.com
[Foto-erkenning op bladsy 16]
© Howard Hall/Seapics.com