Groot monsters van die diepsee
’n Monster kom skielik uit die see op, gryp die boot en trek die matrose die dieptes in na ’n watergraf. Sulke stories het aanleiding gegee tot legendes wat deur die eeue heen behoue gebly het. Maar bestaan daar werklik monsters wat so groot is?
IN 2007 is ’n kolossale inkvis per ongeluk deur vissermanne in die Ross-see naby Antarktika gevang. Hy was saam met sy tentakels omtrent 10 meter lank, en het byna 500 kilogram geweeg! Wetenskaplikes meen dat hierdie soort inkvis selfs groter kan word.
’n Soortgelyke seemonster wat bekend staan as die reuse-inkvis het ’n torpedovormige liggaam, oë wat so groot soos ’n mens se kop kan wees, ’n papegaaiagtige snawel wat sterk genoeg is om ’n staalkabel deur te sny, agt arms met rye suiers en twee lang tentakels wat kos na sy bek bring. Hy kan teen 30 kilometer per uur deur die water beweeg—en hom selfs in die lug opskiet!
In die laaste eeu is minder as 50 gevalle gerapporteer waar sulke reuse gesien is, en hierdie diere is nog nooit in die natuur bestudeer nie.
Reusagtige walvisse van die see
Kolossale en reuse-inkvisse is egter net ’n maaltyd vir ’n selfs groter dier, die potvis, wat sowat 20 meter lank kan word en tot 50 ton kan weeg. Een tand alleen weeg 900 gram! Daar is al dele van reuse-inkvisse in die maag van dooie potvisse gevind. Hierdie walvisse het ook ronde merke van pylinkvisse se suiers op hulle ontsaglike, stomp kop gehad, wat toon dat die pylinkvis hard teruggeveg het. In 1965 het die bemanning van ’n Sowjetse walvisboot beweer dat hulle ’n worsteling tussen ’n reuse-inkvis en ’n potvis van 40 ton gesien het. Nie een van die twee het dit oorleef nie. Die verwurgde walvis is gevind waar hy in die see dryf, met die kop van die inkvis in sy maag.
Die reuse-inkvis en die potvis is inderdaad reusagtig, maar die blouwalvis, die grootste soogdier, is selfs groter. Die langste blouwalvis op rekord was ’n volgroeide koei van 33 meter wat in Antarktika gevang is. Die blouwalvis kan tot 150 ton weeg. Die tong alleen weeg soveel soos ’n volgroeide olifant! En stel jou net voor—sy gee geboorte aan ’n kalf van drie ton wat sewe tot agt meter lank is! Walvisjagters het die blouwalvis teen die 1960’s tot op die randjie van uitsterwing gebring, en vandag word dit geklassifiseer as ’n ernstig bedreigde spesie.
Wreedaardige en saggeaarde reuse
Met sy 3 000 vlymskerp tande is die witdoodshaai moontlik die skrikwekkendste vleisetende vis. Die grootste witdoodshaai op rekord was sewe meter lank en het 3 200 kilogram geweeg. Hierdie haai het ’n ongelooflike reuksin en kan een druppel bloed in 100 liter water ruik!
Die walvishaai is die grootste lewende vis en word gemiddeld 7,5 meter lank. Maar party kan byna twee keer so groot word. Sy mond kan tot 1,4 meter breed wees en kan maklik ’n man insluk. Hierdie saggeaarde reus is egter nie ’n wreedaardige jagter van ander groot seediere nie, maar leef van piepklein plankton en klein vissies.
“Die walvishaai se ongewone spysverteringstelsel leen hom tot Jona-verhale”, het die tydskrif National Geographic berig, met verwysing na die Bybelverslag van die profeet Jona wat deur ’n groot vis ingesluk is. Walvishaaie kan “ontslae raak van groot voorwerpe wat hulle per ongeluk insluk en wat moeilik verteerbaar is, sonder om dit skade aan te doen”.—Jona 1:17; 2:10.
Die skugter reus
Nog ’n groot seedier is die reuseseekat, wat tot 250 kilogram kan weeg. Hy is vroeër die duiwelvis genoem omdat mense gedink het dat hy skepe kan laat sink. Maar hierdie seekat is in werklikheid skugter en kruip tussen rotse en in skeure op die seebodem weg. Sy arms het ’n spanwydte van tot 10 meter, en hy het die grootste brein van enige ongewerwelde dier. Seekatte is beslis baie intelligent en kan ingewikkelde take baasraak soos om hulle pad uit ’n doolhof te vind en die deksel van ’n fles af te draai!
Soos die reuse-inkvis, kan die reuseseekat hom kamoefleer deur van kleur te verander, straalaandrywing gebruik om deur die water te beweeg en gevaar ontwyk deur ’n digte inkwolk uit te spuit. Die seekat kan selfs vir ’n kort rukkie die water verlaat om kos op land te soek!
Hierdie diere van die diepsee verheerlik werklik die naam van hulle Skepper, Jehovah. Die Bybelpsalmis het gepas gesing: “Loof Jehovah van die aarde af, seemonsters en alle waterdieptes.”—Psalm 148:7.
[Diagram op bladsy 17]
HOE GROOT KAN HULLE WORD?
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Witdoodshaai
Reuseseekat
Walvishaai
Reuse-inkvis*
Kolossale inkvis*
geskatte grootte
Potvis
Blouwalvis
voet 100 90 80 70 60 50 40 30 20 10 0
meter 30 25 20 15 10 5 0
[Prent op bladsy 15
Witdoodshaai
[Prent op bladsy 15]
Reuseseekat
[Prent op bladsy 16, 17]
Potvis
[Prent op bladsy 16]
Walvishaai
[Prent op bladsy 17]
Blouwalvis en kalf
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Haai: © Steve Drogin/SeaPics.com; tekening: Getty Images; seekat: © Brandon Cole
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Potvis: © Brandon Cole; blouwalvisse: © Phillip Colla/SeaPics.com; walvishaai: © Steve Drogin/SeaPics.com