Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 9/22 bl. 4-9
  • Kommunikasie in die wêreld om ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kommunikasie in die wêreld om ons
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Reukseine
  • “Pratende” plante
  • ‘Morsekode’ met ligte
  • Geveerde meestersangers
  • Kommunikasie onder die water
  • Die aarde se voortreflikste kommunikeerders
  • Kommunikasie in die gesin en in die gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • God se wysheid—duidelik in die natuur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Diere
    Ontwaak!—2015
  • Kommunikasie—Noodsaaklik vir die aarde se web van die lewe
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 9/22 bl. 4-9

Kommunikasie in die wêreld om ons

“Sonder kommunikasie sou elke individu bloot ’n eiland afgeskeie van alle ander eilande van sy soort wees.”—The Language of Animals.

IN ’N deel van ’n woud, ’n grasvlakte of self in jou tuin is daar wie weet hoeveel diere wat druk besig is om met mekaar te kommunikeer. Die boek The Language of Animals sê: “Diere gebruik elke sintuig; hulle maak gebare met liggaamsdele en hulle liggaamshouding; hulle stuur en ontvang subtiele reukseine—of allesbehalwe subtiel in die geval van skrikgemaakte muishonde; hulle piep, krys, sing en tjirp; hulle stuur en ontvang elektriese seine; hulle flits ligte; hulle verander hulle velpigmentasie; hulle ‘dans’ en tik selfs die oppervlak waarop hulle loop sodat dit vibreer.” Maar wat beteken al hierdie seine?

Wetenskaplikes ontdek die betekenis van diereseine deur noukeurige waarneming. Hulle het byvoorbeeld opgemerk dat ’n kapokhoender ander kapokhoenders met ’n hoë koek-koek-koek-geluid waarsku wanneer hy ’n landroofdier soos ’n muishond sien. Maar wanneer ’n kapokhoender ’n valk sien, maak hy een lang krasgeluid. Elke sein lok ’n onmiddellike reaksie uit wat by die bedreiging pas, en dit toon dat die voëls op ’n betekenisvolle manier kommunikeer. Daar is al gesien hoe ander voëls soortgelyke onderskeidende geluide maak.

“Een van die beste maniere om kommunikasie tussen diere te bestudeer”, sê die boek Songs, Roars, and Rituals, “is om die betrokke sein op te neem en dit dan vir die diere terug te speel en te kyk of hulle op ’n voorspelbare manier reageer.” Eksperimente met kapokhoenders het dieselfde resultate opgelewer as wat in die natuur waargeneem is. Die metode werk selfs met spinnekoppe. Om uit te vind waardeur wyfietarantulas aantrek word tot mannetjies—wat wyfies probeer beïndruk deur hulle harige voorbene te waai—het navorsers ’n mannetjietarantula op videoband opgeneem en die hare op sy bene digitaal verwyder. Toe hulle die video vir die wyfie teruggespeel het, het sy onmiddellik belangstelling verloor. Wat leer ons hieruit? Wyfietarantulas word blykbaar slegs aangetrek tot mannetjies wat hulle harige bene waai!

Reukseine

Baie diere kommunikeer met mekaar deur kragtige chemiese stowwe af te skei wat feromone genoem word. Hulle doen dit gewoonlik deur middel van spesiale kliere, urine of uitwerpsel. Net soos ’n heining en ’n naamplaat of nommer iemand se eiendom identifiseer, gebruik sekere diere, insluitende honde en katte, feromone om hulle gebied te merk en af te baken. Hoewel feromone onsigbaar is, keer hierdie uiters doeltreffende metode dat diere van dieselfde spesie te na aan mekaar kom.

Maar feromone word nie net gebruik om gebiede te merk nie. Dit is soos ’n chemiese bulletinbord wat ander diere met groot belangstelling “lees”. Reukmerke, sê die boek How Animals Communicate, “sluit waarskynlik bykomende inligting oor die bewoner in, soos sy ouderdom, geslag, fisiese krag en ander vermoëns, [en] die huidige fase van die eienaar se voortplantingsiklus . . . Die reuk van die dier se afskeiding dien as sy paspoort vir individuele identifikasie.” Dit is te verstane dat sommige diere hulle reukseine baie ernstig opneem—iets waarvan dieretuinwerkers alte bewus is. Nadat hokke of kampe uitgewas is, het dieretuinwerkers al gesien hoe baie diere onmiddellik weer hulle gebied merk. Trouens, “die afwesigheid van sy eie reuk is stresvol en kan tot abnormale gedrag en selfs onvrugbaarheid lei”, sê die bogenoemde naslaanwerk.

Feromone speel ook ’n belangrike rol in die insekwêreld. Alarmferomone laat insekte byvoorbeeld swerms vorm en dit lei ook tot aanvallende gedrag. Groeperingsferomone lok individue na ’n voedselbron of na ’n geskikte broeiplek. Dit sluit die geslagsferomone in, waarvoor party diere baie gevoelig is. Mannetjiesywurmmotte het twee gesofistikeerde antennas wat soos klein, delikate varingblare lyk. Hierdie antennas is so gevoelig dat dit ’n enkele molekuul van ’n wyfie se geslagsferomone kan bespeur! As die mannetjie sowat 200 molekules bespeur, sal hy na die wyfie begin soek. Chemiese kommunikasie is egter nie net tot diere beperk nie.

“Pratende” plante

Het jy geweet dat plante met mekaar en selfs met sekere diere kan kommunikeer? Die tydskrif Discover berig dat navorsers in Nederland waargeneem het hoe limaboontjies wat deur spinnekopmyte aangeval word, ’n chemiese noodsein uitstuur om ander myte te lok wat op die spinnekopmyte jagmaak. Wanneer ruspes aan mielies, tabak- en katoenplante begin eet, stel hierdie plante ook luggedrae chemiese stowwe vry wat perdebye lok—’n ruspe se moses. Een navorser het gesê: “Plante sê nie net: ‘Ja, ek is beskadig’ nie, hulle sê ook presies wie hulle beskadig. Dit is ’n uiters komplekse en ongelooflike stelsel.”

Kommunikasie tussen plante is net so merkwaardig. Volgens Discover het navorsers “waargeneem hoe wilger-, populier-, els- en berkebome na ander bome van dieselfde spesie luister en hoe garssaailinge na ander garssaailinge luister. In elke geval het beskadigde plante, hetsy hulle deur ruspes geëet word of swamme, poeiermeeldou [of] spinnekopmyte het, . . . chemiese stowwe afgeskei wat blykbaar die verdedigingsmeganismes van onbeskadigde plante in die omgewing aan die gang gesit het.” Selfs nieverwante plante reageer soms op chemiese alarms.

Wanneer ’n plant aangeval of van ’n aanval gewaarsku word, aktiveer dit sy eie verdedigingsmeganismes. Dit sluit gifstowwe in wat insekte doodmaak of chemiese stowwe wat die plant gedeeltelik of heeltemal onverteerbaar vir die indringer maak. Toekomstige navorsing in hierdie fassinerende veld sal dalk tot nog ongelooflike ontdekkings lei, waarvan party selfs die landbou tot voordeel kan strek.

‘Morsekode’ met ligte

“Hierdie klein vlieënde lampies wat begin flikker voor die sterre opkom, het ’n wonderlike bekoring aan ons voorstedelike buurt verleen”, het die ekoloog Susan Tweit in ’n artikel oor vuurvliegies geskryf. Hierdie insekte van die kewerfamilie gebruik ’n woordeskat van ligseine wat “wissel van ’n eenvoudige waarskuwingsgloed tot ingewikkelde ‘roep en reageer’-flitse tussen potensiële maats”, sê Tweit. Die kleur van hulle lig wissel van groen tot geel tot oranje. Omdat wyfies selde vlieg, is die flitsende liggies wat ons sien, meestal dié van die mannetjies.—Sien die venster “Die vuurvliegie se koue lig”.

Elkeen van die 1 900 soorte vuurvliegies, wat ook vuurkewers genoem word, het ’n unieke flikkerpatroon. Dit kan uit drie flikkers bestaan, min of meer een sekonde uitmekaar, of uit ’n reeks flikkers van verskillende lengtes en met verskillende tussenposes. Wanneer ’n mannetjie ’n maat soek, vlieg hy rond terwyl hy sy hofmaakkode flikker. “’n Wyfie herken die flikkerpatroon”, sê die tydskrif Audubon en “reageer met ’n ‘Hier is ek’-flikker volgens die gepaste tussenpose eie aan haar spesie”. Die mannetjie herken haar geluidlose uitnodiging en vlieg na haar toe.

Geveerde meestersangers

“Geen ander dier bring enige geluid voort wat met voëlsang vergelyk kan word wat duur, verskeidenheid en kompleksiteit betref nie”, sê David Attenborough in sy boek The Life of Birds. Voëlsang word nie in die keel voortgebring nie, maar in die sirinks, ’n orgaan wat diep in ’n voël se bors geleë is waar die lugpyp verdeel voordat dit in die longe ingaan.

Voëlsang word deels geërf en deels by ouers geleer. Gevolglik kan voëls selfs streeksaksente ontwikkel. The Life of Birds sê: “Merels wie se voorsate gedurende die negentiende eeu na Australië gebring is om Europese setlaars met geluide van hulle tuisland op te beur, het nou baie kenmerkende Australiese aksente.” Die sang van die liervoëlmannetjie, wat blykbaar die ingewikkeldste en pragtigste van alle voëlsang is, word amper geheel en al by ander voëls geleer. Trouens, liervoëls is sulke talentvolle nabootsers dat hulle byna enige klank wat hulle hoor, kan naboots—insluitende musiekinstrumente, blaffende honde, diefalarms, die slag van ’n byl en selfs die geluid van ’n kamera met motoraandrywing! Die hoofdoel van al hierdie na-apery is natuurlik om ’n potensiële maat te beïndruk.

Spegte, wat gewoonlik hulle snawel gebruik om kos uit te grawe, is die tromslaners van die voëlwêreld, en hulle kommunikeer met ander voëls deur hulle snawels teen ’n weerklinkende hol boomstomp of tak te slaan. Party eksperimenteer selfs met “opwindende nuwe instrumente . . . soos ’n sinkdak of ’n metaalkaggelpyp”, sê Attenborough. Voëls kommunikeer ook visueel, met of sonder musikale begeleiding. Hulle sal byvoorbeeld met mekaar kommunikeer deur met hulle pragtig gekleurde vere te pronk.

Wanneer die Australiese palmkaketoemannetjie sy gebied adverteer, doen hy alles—perkussie, sang, ritmiese bewegings en ’n verevertoning! Hy breek ’n takkie af, gryp dit met sy voet en slaan dit teen ’n dooie boomstomp. Terselfdertyd sprei hy sy vlerke en sy kuifvere uit, swaai hy sy kop heen en weer en maak hy skerp krasgeluide—waarlik ’n skouspelagtige vertoning!

Party voëlroepe word deur ander diere herken. Neem die heuningwyser, ’n klein, lysteragtige voël wat meestal in Afrika gevind word. Soos sy naam aandui, sal die heuningwyser, met sy herkenbare roep, ’n ratel na ’n boom lei waarin daar ’n bynes is. Wanneer die voël op of naby die boom gaan sit, gee hy ’n ander roep wat as ’t ware sê: “Heuning is naby!” Die ratel vind die boom, breek die stam met sy kloue oop en begin aan die heuning smul.

Kommunikasie onder die water

Sedert die uitvinding van hidrofone, onderwaterluisterapparate, is navorsers verbaas oor al die geluide wat in die see gehoor kan word. Daar is soveel van hierdie geluide, wat wissel van ’n lae gegons tot ’n gemiaau en selfs ’n gekras, dat duikbote dit al gebruik het om hulle enjingeraas te kamoefleer. Maar visgeluide volg ook sekere patrone. In sy boek Secret Languages of the Sea sê die marinebioloog Robert Burgess: “Terwyl een vis sal ‘knor, kloek en blaf’, en dan die uitvoering presies sal herhaal, sal ’n ander dalk ‘klik en klap’ en dan ‘krap en skraap’.”

Hoe bring visse geluide voort, aangesien hulle nie stembande het nie? Party, sê Burgess, gebruik spiere “wat aan die wande van hulle ballonagtige swemblaas geheg is om die wande te laat vibreer totdat hulle blase” soos tromme resoneer. Ander visse kners op hulle tande of maak hulle kieudeksels oop en toe sodat dit ’n harde plof- of klapgeluid maak. Is dit alles net ’n sinlose “gebabbel”? Blykbaar nie. Net soos landdiere maak visse geluide om “lede van die teenoorgestelde geslag te lok, vir oriëntasie, as beskerming teen vyande en vir algemene kommunikasie en intimidasie”, sê Burgess.

Visse het ook goeie gehoor. Trouens, baie spesies het binneore sowel as ’n lyn van druksensitiewe selle wat al langs die mediaanlyn van hulle sye loop. Hierdie ry selle, wat die sylyn genoem word, kan die drukgolwe waarneem wat deur klank voortgebring word terwyl dit deur die water beweeg.

Die aarde se voortreflikste kommunikeerders

“Wanneer ons menslike taal bestudeer”, het die taalkundeprofessor Noam Chomsky geskryf, “het ons te doen met wat party moontlik die ‘kern van menswees’ sal noem, die onderskeidende verstandelike vermoëns wat, sover ons weet, eie aan die mens is.” Barbara Lust, professor van taalkunde en menslike ontwikkeling, het gesê: “Kinders van net 3 besit reeds ’n merkwaardige kennis van taalstruktuur en sintaksis wat so kompleks en akkuraat is dat dit moeilik is vir enige leerteorie om te verklaar hoe hierdie kennis verkry is.”

Maar die Bybel gee wel ’n redelike verduideliking vir die wonderwerk van menslike taal. Dit skryf hierdie gawe aan die Skepper, Jehovah God, toe wat die mens na sy “beeld” geskep het (Genesis 1:27). Maar hoe word God se eienskappe in ons taal weerspieël?

Neem byvoorbeeld die vermoë om dinge name te gee. Die professor van spraakkommunikasie Frank Dance het geskryf dat mense “die enigste skepsele is wat dinge name kan gee”. Dat dit ’n goddelike eienskap is, kan uit die Skrif gesien word. Die Bybel sê vir ons dat God reg aan die begin van die skeppingsverslag “die lig Dag begin noem [het], maar die duisternis het hy Nag genoem” (Genesis 1:5). Volgens Jesaja 40:26 het God elke ster blykbaar sy eie naam gegee—’n verstommende prestasie!

Nadat God Adam geskep het, was een van sy eerste opdragte aan hom om die diere name te gee. Hoe moes daardie toewysing Adam se waarnemings- en skeppingsvermoë tog getoets het! Later het Adam sy vrou Eva genoem. Sy het weer hulle eerste kind Kain genoem (Genesis 2:19, 20; 3:20; 4:1). Sedertdien het mense geen moeite ontsien om elke denkbare ding ’n naam te gee nie—en alles ter wille van kommunikasie. Ja, dink net hoe moeilik intelligente kommunikasie sonder name sou gewees het.

Behalwe dat mense die vermoë en begeerte het om dinge name te gee, kan hulle ook op baie ander maniere kommunikeer, wat nie altyd mondelinge kommunikasie behels nie. Trouens, daar is feitlik geen einde aan wat ons aan ander kan oordra nie, van ingewikkelde konsepte tot die teerste gevoelens. Maar daar is ’n spesiale vorm van kommunikasie wat al die ander oortref, soos ons nou sal sien.

[Venster/Prent op bladsy 6]

DIE VUURVLIEGIE SE KOUE LIG

’n Gloeilamp verloor meer as 90 persent van sy energie in die vorm van hitte. ’n Vuurvliegie se lig, wat deur ’n ingewikkelde chemiese reaksie voortgebring word, is 90 tot 98 persent doeltreffend en mors so te sê geen energie in die vorm van hitte nie. Gevolglik word dit tereg koue lig genoem. Die liggewende chemiese reaksies vind in spesiale selle plaas wat fotosiete genoem word. Senuwees sit die fotosiete aan en af.

[Erkenning]

John M. Burnley/Bruce Coleman Inc.

[Venster/Prent op bladsy 8, 9]

NUTTIGE WENKE OM JOU KOMMUNIKASIEVAARDIGHEDE TE VERBETER

1. Luister met belangstelling wanneer ander praat, en moenie gesprekke oorheers nie. Mense sal ’n woord wat verkeerd uitgespreek is of ’n grammatikafout oor die hoof sien, maar hulle hou nie van mense wat wil praat maar nie wil luister nie. “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat”, sê die Bybel.—Jakobus 1:19.

2. Toon belangstelling in die lewe en die dinge om jou. Lees oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe, maar lê goeie oordeel aan die dag. Temper jou gesprekke met beskeidenheid en nederigheid wanneer jy praat oor wat jy geleer het.—Psalm 5:5; Spreuke 11:2.

3. Vergroot jou woordeskat—maar met praktiese woorde, nie met vertonerige woorde wat die aandag op die spreker vestig nie. Mense het van Jesus gesê: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie” (Johannes 7:46). En tog het selfs “ongeleerde en gewone mense” Jesus maklik verstaan.—Handelinge 4:13.

4. Praat duidelik en spreek woorde reg uit. Maar moenie woorde te presies uitspreek of dit aanstellerig laat klink nie. Wanneer ons woorde duidelik uitspreek en nie ons tong sleep of woorduitgange afkap nie, verleen ons waardigheid aan ons spraak en toon ons bedagsaamheid teenoor ons luisteraars.—1 Korintiërs 14:7-9.

5. Hou in gedagte dat jou kommunikasievaardighede ’n gawe van God is. Dit sal jou beweeg om daardie vaardighede met die gepaste waardigheid te gebruik.—Jakobus 1:17.

[Prent op bladsy 5]

Sywurmmotte se antennas is uiters sensitief

[Erkenning]

Courtesy Phil Pellitteri

[Prent op bladsy 7]

Speg

[Prent op bladsy 7]

Paradysvoël

[Erkenning]

© Michael S. Yamashita/CORBIS

[Prent op bladsy 7]

Palmkaketoe

[Erkenning]

Roland Seitre

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel