Ons beskou die wêreld
Die gevare van multitaakverrigting
Multitaakverrigting—om meer as een ding op ’n slag te probeer doen—“kan jou eintlik minder produktief en, wel, dommer maak”, sê The Wall Street Journal. “Wanneer jy probeer om twee of drie dinge tegelyk of kort na mekaar te doen, kan dit jou op die ou end langer neem as wanneer jy dit een-een doen, en dit kan veroorsaak dat jy minder breinkrag het om elke taak te verrig.” Party waarskuwingstekens is korttermyngeheueverlies (soos om te vergeet wat jy so pas gesê of gedoen het), dwalende gedagtes, verlies aan konsentrasievermoë, simptome van spanning (soos om kortasem te wees) en probleme om met ander te kommunikeer. Produktiwiteit word die meeste benadeel wanneer die take vereis dat dieselfde dele van die brein gebruik word, soos wanneer jy oor die telefoon praat en terselfdertyd na ’n kind luister wat uit die kamer langsaan roep. Multitaakverrigting is veral gevaarlik terwyl ’n mens bestuur. As jy eet of drink, na iets strek, ’n ernstige gesprek met ’n passasier of oor die telefoon voer, jou grimeer of selfs net die radio of ’n ander kontrole verstel, kan dit jou aandag vir ’n oomblik aftrek en ’n ongeluk veroorsaak.
Moet nooit ’n baba skud nie!
Wanneer ’n baba hard geskud word, veroorsaak dit ’n skielike sweepslagbeweging wat “bloeding in die skedel en meer drukking op die brein tot gevolg kan hê en daartoe kan lei dat die brein uitmekaar trek”, sê die koerant Toronto Star. Aangesien ’n baba se spiere nog nie ten volle ontwikkel is nie en breinweefsel baie maklik beskadig word, “kan ’n baba lewenslange beserings opdoen as dit net ’n paar sekondes geskud word. Dit kan lei tot breinswelling en -skade, serebrale verlamming, verstandelike vertraagdheid, belemmerde ontwikkeling, blindheid, gehoorverlies, verlamming en die dood.” Dr. James King, ’n kinderarts by Oos-Ontario se Kinderhospitaal, het navorsing gedoen oor die gevolge wanneer babas geskud word. Hy sê dat die publiek ingelig moet word, want in baie gevalle is die beserings nie dadelik sigbaar nie, en die baba kan dalk met griep of ’n virussiekte gediagnoseer word. “Die boodskap dat jy nooit ’n baba moet skud nie, moet hard en duidelik oorgedra word”, sê dr. King. “Nuwe ouers moet hiervan weet.”
Hulle stel nie in godsdiens belang nie
“Dit lyk nie asof [Japannese] mense hulle tot godsdiens wend om antwoorde te kry terwyl hulle die huidige donker toestande die hoof probeer bied nie”, berig die koerant IHT Asahi Sjimboen. Slegs 13 persent van mans sowel as vroue het ja geantwoord op die vraag: “Is jy ’n gelowige of het jy enige belangstelling in godsdiens of enige soort geloof?” ’n Bykomende 9 persent van mans en 10 persent van vroue het gesê dat hulle “ietwat” belangstel. “Wat veral merkwaardig is, is die geringe belangstelling onder vroue in hulle twintigerjare, wat net 6 persent was”, voeg die koerant by. Die jaarlikse verslag het geopenbaar dat 77 persent van mans en 76 persent van vroue in Japan sê dat hulle glad nie in godsdiens of enige soort geloof belangstel nie. Japannese se belangstelling in godsdiens is bykans die helfte minder as in ’n soortgelyke opname in 1978. Oor die algemeen was dit die ouer respondente, veral diegene bo 60, wat gesê het dat hulle effens belangstel.
Depressie hou verband met ander siektes
“Die Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel dat depressie teen 2020 naas hartsiekte wêreldwyd die grootste oorsaak van ongeskiktheid sal wees”, sê U.S.News & World Report. Hierdie ernstige openbare gesondheidsprobleem word al hoe minder as ’n “suiwer sielkundige” probleem beskou. Volgens Philip Gold, die hoof van kliniese neuro-endokrinologie by die Nasionale Instituut van Geestesgesondheid, “is depressie in werklikheid die enigste sistemiese siekte wat op amper alle ander siektes ’n uitwerking het—en hulle kompliseer”. Depressie kan selfs tot toestande soos hartsiekte en suikersiekte aanleiding gee. Navorsing toon byvoorbeeld dat mense wat aan depressie ly, “minder soepel harte het, wat nie so goed op die liggaam se veranderende behoeftes aan bloed en suurstof kan reageer nie”, het die artikel gesê. “’n Depressiewe brein stuur [ook] seine uit dat dit meer energie nodig het, wat die vervaardiging van kortisol kan stimuleer en sodoende bloedsuikervlakke verhoog.” Daar word ook ’n verband tussen depressie en osteoporose en kanker gesien. Studies word gedoen om te sien of die behandeling van depressie nie hierdie siektetoestande kan verlig nie.
Die huwelik en die hart
“Navorsing het getoon dat die gehalte van ’n persoon se huwelik kan help om te voorspel hoe hy van ’n hartoperasie sal herstel”, sê The Daily Telegraph van Londen. Volgens dr. James Coyne van die Universiteit van Pennsilvanië, VSA, kan ’n gelukkige huwelik ’n pasiënt rede gee om te probeer gesond word, maar “’n ongelukkige huwelik kan erger wees vir ’n pasiënt as geen huwelik nie”. Dr. Coyne en sy span het ’n video-opname gemaak van die woordewisselings wat egpare by die huis gehad het en het gevind dat die moontlikheid dat hartpasiënte binne vier jaar sal sterf, byna twee keer groter was onder dié wat ‘n slegte verhouding met hulle maat gehad het as onder diegene wat ’n beter verhouding gehad het. Dr. Linda Waite, ’n professor van sosiologie aan die Universiteit van Chicago, maak die gevolgtrekking dat ’n goeie huwelik “in presies dieselfde klas [kan val] as om gesond te eet, oefening te kry en nie te rook nie”.
“Vioolbome” word bedreig
“’n Spesiale soort hout is nodig om strykstokke van hoë gehalte vir viole te maak—maar hierdie hout word skaars”, berig die Duitse wetenskaptydskrif natur & kosmos. Die boom waarvan hierdie hout verkry word, is die Caesalpinia echinata, wat ook die Pernambuco of pau brasil genoem word. Sy natuurlike habitat is die kuswoude van Brasilië. Maar hierdie woude krimp vinnig namate dit vir landboudoeleindes uitgekap word. Die bome kom nou net in 4 persent van hulle oorspronklike gebied voor en is op die lys van bedreigde spesies. Daarbenewens lewer net bome wat 20 jaar of ouer is, die geel of rooibruin kernhout wat vir die maak van strykstokke geskik is. Volgens die artikel sê die meesterstrykstokmaker Thomas Gerbeth dat daar geen vergelykbare plaasvervanger bestaan nie, want “sintetiese stowwe het nog nie hierdie vlak van voortreflike gehalte bereik nie”. Strykstokmakers en musikante bevorder nou die bewaring van hulle “vioolboom”.
’n Ou plaag wat nog nie verdwyn het nie
Volgens syfers van die Wêreldgesondheidsorganisasie “het daar gedurende 2002 meer as 700 000 nuwe gevalle van melaatsheid wêreldwyd bekend geword”, berig die Spaanse koerant El País. Melaatsheid is al sedert Bybelse tye ’n gevreesde siekte. Deesdae kan die moderne vorm van die siekte genees word. Trouens, sowat 12 miljoen mense is in die afgelope 20 jaar van melaatsheid genees. Maar “ons kan nog nie aanneem dat melaatsheid tot die verlede behoort nie”, sê die navorser Jeanette Farrell. Gesondheidsowerhede het nog nie daarin geslaag om die siekte uit te wis nie, en nuwe gevalle kom nog gereeld voor. Die vernaamste lande wat nog steeds deur melaatsheid geraak word, is Brasilië, Indië, Madagaskar, Mianmar, Mosambiek en Nepal. Die onlangse ontsyfering van die menslike genoom gee wetenskaplikes hoop dat hulle ’n geskikte entstof sal kry.
“Verontrustende geslagswanbalans” in China
“Volgens China se vyfde nasionale sensus is die verhouding van die geboortesyfer van [seuns tot meisies] nou 116,9:100 in die guns van babaseuns, in vergelyking met 113,8:100 in 1990”, sê die tydskrif China Today. “Albei hierdie syfers is ver oor die internasionale norm van 105:100 en toon dat daar ’n verslegting in die reeds verontrustende geslagswanbalans in China is.” Daar word voorspel dat sowat 50 miljoen Chinese mans in die toekoms nie ’n maat sal kan vind wanneer hulle hubaar is nie. Die artikel voeg by: “Zheng Zizhen, hoof van die Instituut vir Sosiologie en Demografie van die Guangdong-streek, het volgens berig gesê dat hierdie volgehoue wanbalans wat die geboortesyfer betref, ’n nadelige uitwerking op die samestelling van die Chinese bevolking, gemeenskap en sedes sal hê.”