Windmeule—Herinneringe aan ’n vergange tyd
Deur Ontwaak!-medewerker In Nederland
WINDMEULE is dikwels uitgebeeld in landskappe wat deur Jacob van Ruisdael, Meindert Hobbema, Rembrandt van Rijn en ander Nederlandse meesters uit die 17de eeu geskilder en geëts is—en dit is geen wonder nie! Daar was destyds ongeveer 10 000 meule oor die land versprei. Maar hierdie skilderagtige strukture het nie net kunstenaars geïnspireer nie. Van die vroeë 1400’s af tot die laat 1800’s het dit gedoen wat diesel- en elektriese enjins vandag doen. Dit het die krag voorsien wat nodig was om water te pomp, graan te maal, hout te saag en talle ander industriële take te verrig. Maar in teenstelling met vandag se enjins, het windmeule krag opgewek sonder om besoedeling te veroorsaak.
Die seile word gespan
As jy Nederland vandag besoek, kan jy nog steeds hierdie eeue oue strukture bewonder, hoewel daar nou net omtrent 1 000 oor is. Sal jy graag ’n bietjie meer hiervan wil leer? Kom saam met ons terwyl ons ’n 350 jaar oue windmeul besoek wat langs die pragtige Vechtrivier in Sentraal-Nederland staan.
Dit is ’n lieflike lenteoggend. Jan van Bergeijk, ’n meulenaar, verwelkom ons met ’n stomende koppie koffie en sê vir ons dat die weer ideaal is om die meul te laat werk. Maar eers moet die dak van die meul na die wind gedraai word. Jan verduidelik hoe dit gedoen word terwyl hy op die speke van ’n houtwiel trap wat twee keer so groot soos hy is. Hierdie wiel is verbind met die meul se kap, of dak. Met behulp van die wiel draai Jan die kap totdat dit in die posisie is waar elkeen van die 13 meter lange wieke die meeste wind vang. Dan word die wiel met ’n ketting aan die grond vasgemaak sodat dit nie sal beweeg nie. Daarna rol Jan ’n stuk seil oop en bind hy dit aan die latwerk van elke wiek vas. Nadat Jan ’n veiligheidsketting aangesit het, maak hy die rem los. Die seile vang die wind en die vier wieke begin stadig draai. ’n Ruk lank staan ons met ontsag en kyk hoe die wieke verbyswoesj. Dan nooi Jan ons om na die binnekant van die meul te gaan kyk.
Van naderby beskou
Ons klim teen ’n steil trap op tot in die meul se kap, waar ons ’n horisontale, of boonste, houtas sien wat aan die wieke vas is. Hierdie as dryf die vertikale as, of so genoemde vertikale koningspil, aan met behulp van houtwiele met kamme en stawe. Ons sien ’n stukkie wit varkvet daar naby hang. Jan verduidelik dat dit gebruik word om die kliplaers te ghries waarin die houtas draai. Maar om die eikekamme te ghries, gebruik hy byewas. Hier sien ons ook hoe die spoed van die roterende wieke verminder kan word. Rondom een van die wiele is ’n reeks houtblokke. Wanneer dit styfgetrek word, dien die blokke as remme; wanneer dit skiet gegee word, verslap dit en kan die wieke draai.
Terwyl ons versigtig teen die steil trap afklim, kan ons die hoofas, wat van bo tot onder deur die meul loop, van naderby bekyk. Ons kan die ou hout ruik en die gekraak van die bewegende ratte hoor. Onderaan die koningspil is daar nog ’n stel houtwiele met kamme en stawe. Hierdie toestel dryf ’n waterwiel aan. Ons gaan staan by die draaiende wiel en luister na die geplas van die water en die geswoesj van die draaiende seile. Dit is asof ons teruggegaan het in tyd. Ons is beïndruk en geniet die oomblik.
Die lewe in ’n windmeul
Party meule, soos graanmeule, kon nie bewoon word nie. Al die plek is deur die meul se meganiese dele opgeneem. Die meulenaar en sy gesin het gewoonlik langs die meul gewoon. Maar ’n meul soos die een wat ons besoek, kon ook as ’n huis dien.
Vandag lyk dit dalk lekker om in ’n meul te bly; in die verlede was dit allesbehalwe gerieflik. Die grondverdieping het as ’n woon- en slaapkamer gedien. Dit het ’n opklapbed vir twee mense, ’n kombuishoekie en ’n bietjie pakplek gehad. Tot die middel van die 20ste eeu het meule ’n klein buitetoilet bo ’n sloot gehad. Jan verduidelik dat meulenaars met groot gesinne, waarin daar soms meer as tien kinders was, oral slaapplek moes maak. Partykeer het die jongste kind onder die ouers se bed geslaap, terwyl die ander kinders of in die woonkamer of op die eerste of tweede verdieping geslaap het—reg onder die lawaai van die ratte!
Sommige meule is as pompe gebruik om polders—laagliggende gebiede wat voorheen moontlik die bodem van ’n meer of die see was—droog te lê. Die meul moes dag en nag pomp. Omdat die meul in ’n oop vlakte gestaan het, het dit baie wind gevang—wat die binnekant trekkerig en koud gemaak het. As ’n mens ook die gevaar van stormwinde en elektriese storms in ag neem, is dit duidelik dat die mense wat in windmeule gewoon het, ’n moeilike lewe gehad het. Daar is tans sowat 150 windmeule in Nederland wat nog bewoon word, dikwels deur bekwame meulenaars.
Meerdoelige windmeule
Terwyl die windmeul water skep, gaan ons buitentoe en gaan sit ons op ’n bankie. Jan vertel ons waarvoor windmeule al gebruik is—graanmeule om graan te maal, poldermeule om water in ’n rivier of reservoir in te pomp, oliemeule om olie uit sade te pers, papiermeule om papier te vervaardig, saagmeule om hout te saag, ens. Hy verduidelik ook dat die eerste windmeul wat vir drooglegging gebruik is, in die vroeë 15de eeu gebou is. Later is sulke meule gebruik om verskeie mere droog te lê, soos die Schermer-, die Beemster- en die Wormermeer naby Amsterdam.
Vandag woon en werk honderdduisende Nederlanders in gebiede wat voorheen die bodem van hierdie en ander mere was. Trouens, Nederland se grootste lughawe naby Amsterdam is op die bodem van ’n drooggelegde meer gebou. Passasiers wat deur die lughawe stap, loop 4 meter onder seespieël! Maar jy hoef nie bang te wees dat jou vlug in ’n seereis sal ontaard nie. Pompstasies wat deur diesel- of elektriese enjins (die windmeul se opvolgers) aangedryf word, werk dag en nag om jou voete droog te hou.
Pratende windmeule?
Terwyl die wieke verby ons swoesj, vra Jan of ons al van pratende meule gehoor het. “Pratende meule? Nee”, sê ons. Hy verduidelik dat windmeule op die plat Nederlandse landskap dikwels kilometers ver gesien kon word, sodat die meulenaar oor groot afstande ’n boodskap aan sy bure kon stuur deur die wieke op ’n bepaalde manier te stel. Byvoorbeeld, wanneer die meulenaar ’n blaaskansie geneem het, het hy die wieke horisontaal en vertikaal gestel (A). Wieke in ’n diagonale posisie was ’n teken dat hy van diens af was (B). Die wieke is ook tydens slegte weer in hierdie posisie gestel om dit so laag as moontlik te hou en sodoende die gevaar te verminder dat weerlig dit sou raak slaan. Deur die wiek tot stilstand te bring net voordat dit sy hoogste punt bereik het, het die meulenaar aan vreugde en verwagting uiting gegee (C). As ’n teken van hartseer en rou is die wiek tot stilstand gebring net nadat dit verby sy hoogste punt beweeg het (D).
Daar was ook baie plaaslike gebruike. Noord van Amsterdam is meule soms versier vir vrolike geleenthede, soos troues. Dan is die wieke in die diagonale, oftewel ‘van diens af’-posisie, gestel met ornamente en versierings wat tussen hulle gehang is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe die land deur die Duitse leër beset is, het die plaaslike mense die wiekposisies gebruik om diegene wat weggekruip het, te waarsku dat ’n klopjag binnekort sou plaasvind. Al hierdie en ander fassinerende feite oor meule het ons besoek aan Jan, die meulenaar, ’n onvergeetlike ondervinding gemaak.
’n Paar jaar gelede het windmeulbewaring ’n hupstoot gekry toe die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur 19 meule in Kinderdijk, naby die hawestad Rotterdam, op die Wêrelderfenislys geplaas het. Gevolglik het strukture wat eens op ’n tyd net gewone fabrieke was, nou kulturele monumente geword. Wat meer is, talle toegewyde vrywilligers is landwyd betrokke by die instandhouding en bewaring van die meule. Danksy hulle pogings kan toeriste van regoor die wêreld dit vandag nog geniet om party van dieselfde windmeule te sien wat beroemde skilders in die verlede geïnspireer het.
[Venster/Prente op bladsy 23]
Uitvoerverbod op windmeule
Sowat 300 jaar gelede was daar ’n groot aanvraag na windmeultegnologie. Skeepsvragte vol windmeulonderdele het Nederland verlaat. Daarbenewens het buitelanders die land gefynkam op soek na meulmakers en hulle aanloklike werksgeleenthede in die buiteland aangebied. Kort voor lank was die Nederlandse windmeultegnologie in die Baltiese State, Duitsland, Engeland, Frankryk, Ierland, Portugal en Spanje te sien. Trouens, teen die middel van die 18de eeu het Nederland soveel kenners op die gebied van windmeultegnologie verloor dat die regering besluit het om op te tree. In Februarie 1752 het die owerheid ’n verbod op die uitvoer van windmeule geplaas. Volgens die Nederlandse geskiedkundige Karel Davids is niemand sedert daardie tyd toegelaat om ’n buitelander te help om “enige deel van ’n Nederlandse windmeul” te koop, te bou of te vervoer of “om enige stuk gereedskap wat gebruik kon word om dit te bou, uit te voer” nie. Wie het gesê dat handelsversperrings en industriële spioenasie ’n hedendaagse verskynsel is?
[Prente]
Onder: Jan draai die meul na die wind; houtratte en getande wiele; die woonkamer
[Erkenning]
Alle foto’s: Stichting De Utrechtse Molens
[Diagram/Prente op bladsy 22]
(Sien publikasie)
A
B
C
D
[Foto-erkenning op bladsy 21]
De Saen-skildery deur Peter Sterkenburg, 1850: Kooijman Souvenirs & Gifts (Zaanse Schans Holland)