Meule wat brood op die tafel sit
DIT is al beskryf as iets “waarsonder ’n mens nie kan lewe nie”, “die vernaamste voedselsoort”, “’n staatmaker wat van vervloë tye af die mens se honger stil”. Ja, brood is al van die ou tyd af as ’n stapelvoedsel beskou. Trouens, die behoefte aan daaglikse brood was nog altyd een van die mens se dringendste behoeftes.
Die hoofbestanddeel van brood is meel, wat verkry word deur graan fyn te maal. Malery is dus ’n baie ou kuns. Dit moes ongetwyfeld harde werk gewees het om graan sonder die hulp van masjiene tot meel te maal! In Bybeltye is die geluid van die handmeul met normale, vreedsame toestande vereenselwig, en die afwesigheid daarvan het op verwoesting gedui.—Jeremia 25:10, 11.
Wat het die maalproses deur die eeue heen behels? Wat is party van die metodes en werktuie wat gebruik is om dit te doen? En watter soort meule sit vandag brood op jou tafel?
Waarom ’n behoefte daaraan?
Jehovah het vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, gesê: “Kyk, ek het aan julle al die plante gegee wat saad dra wat op die oppervlak van die hele aarde is en al die bome waaraan ’n boomvrug is wat saad dra. Laat dit vir julle as voedsel dien” (Genesis 1:29). Onder die voedselsoorte wat Jehovah God die mensdom gegee het, was sade in die halms van graangewasse. Hierdie voedselbron was noodsaaklik vir die mens se voortbestaan omdat alle graansoorte—waaronder koring, gars, rog, hawer, rys, giers, sorghum en mielies—styselagtige koolhidrate bevat wat die liggaam in sy vernaamste brandstof—glukose—kan omskep.
Die mens is egter nie gemaak om heel, rou graan te verteer nie. Dit is makliker om in te neem as dit tot meel gemaal en dan gaargemaak word. Die eenvoudigste maniere om ’n hoeveelheid graan tot meel te maal, is om dit in ’n vysel te stamp, dit tussen twee stene fyn te maal of om ’n kombinasie van die twee metodes te gebruik.
Meule wat spierkrag vereis het
Standbeeldjies wat in eertydse Egiptiese grafte gevind is, toon een van die graanmeule wat in vroeë tye gebruik is, naamlik die saalhandmeul. Dit is so genoem omdat dit amper soos ’n perdesaal lyk. Hierdie meul het uit twee stene bestaan—onder was ’n steen wat effens hol en skuins was, en bo was ’n kleiner steen. Die werker—gewoonlik ’n vrou—het agter die toestel gekniel en die boonste steen met albei hande vasgevat. Sy het dan die volle gewig van haar bolyf daarop geplaas en die boonste steen vorentoe en agtertoe oor die onderste steen beweeg om die graan tussen die twee stene te maal. Wat ’n eenvoudige maar doeltreffende toestel!
Maar ure in ’n knielende posisie het sy tol geëis. Om die boonste klip tot die verste punt van die handmeul te stoot en dit dan weer terug te trek, het volgehoue druk op die rug, arms, dye, knieë en tone van die werker geplaas. Studies van beenmisvorming in geraamtes uit eertydse Sirië het paleontoloë tot die slotsom laat kom dat jong vroue wat met soortgelyke handmeule gewerk het, oorgebruiksbeserings opgedoen het—ingeduikte knieskywe, skade aan die onderste rugwerwel en kwaai rumatiek in die groottoon. In eertydse Egipte was dit blykbaar die lot van diensmeisies om met die handmeul te werk (Eksodus 11:5).a Party geleerdes meen dat die saalhandmeul die soort meul was wat die Israeliete met hulle saamgeneem het toe hulle Egipte verlaat het.
Latere verbeterings op meule het ingesluit dat groewe in albei stene gesny is om dit doeltreffender te maak. ’n Tregtervormige opening is in die boonste steen gemaak waarin die maler die graan kon gooi, wat dan vanself tussen die stene in geloop het. In die vierde of vyfde eeu v.G.J. is ’n primitiewe meul in Griekeland ontwerp. ’n Horisontale handvatsel, of hefboom, wat aan die een punt om ’n spil gedraai het, is aan die boonste steen vasgemaak. Wanneer die ander punt van hierdie hefboom met ’n effense boog heen en weer beweeg is, het die boonste steen, waarin die graan deur ’n tregter gevoer is, teen die onderste steen geskuur.
Al die voorgenoemde meule het ’n ernstige beperking gehad. Hulle kon slegs werk met ’n vorentoe-en-agtertoe-beweging wat geen dier geleer kon word om uit te voer nie. Gevolglik was hierdie meule van die mens se spierkrag afhanklik. Toe het nuwe tegnologie die lig gesien—die rotasiemeul. Diere kon nou gebruik word.
Rotasiemeule vergemaklik die taak
Die rotasiemeul is heel waarskynlik omstreeks die tweede eeu v.G.J. in die lande om die Middellandse See uitgevind. Teen die eerste eeu G.J. het die Jode in Palestina hierdie soort meul goed geken, want Jesus het gepraat van “’n meulsteen, soos wat deur ’n esel gedraai word”.—Markus 9:42.
Die eselsmeul is in Rome en ’n groot deel van die Romeinse Ryk gebruik. Baie van hierdie meule staan nog in Pompeji. Hulle het ’n swaar bosteen in die vorm van ’n uurglas, wat as ’n graanvoerder gedien het, en ’n keëlvormige ondersteen. Terwyl die bosteen op die ondersteen gedraai het, is graankorrels tussen die twee in gevoer en fyngestamp. Van hierdie soort bostene bestaan nog, en die grootte wissel van omtrent 45 tot 90 sentimeter in deursnee. Hierdie meule was tot 1,8 meter hoog.
Dit is nie duidelik of ligter rotasiemeule uit eselsmeule ontwikkel het of andersom nie. Hoe dit ook al sy, die rotasiehandmeul het die voordeel gehad dat dit vervoerbaar was en maklik was om te gebruik. Dit het uit twee sirkelvormige stene bestaan wat omtrent 30 tot 60 sentimeter in deursnee was. Die bokant van die ondersteen het ’n effense ronding gehad en die onderkant van die bosteen ’n effense holte wat oor die ronding van die ondersteen gepas het. Die bosteen het op ’n spil in die middel gerus en is met ’n houthandvatsel gedraai. Twee vroue het gewoonlik teenoor mekaar gesit, elkeen met een hand op die handvatsel om die bosteen te draai (Lukas 17:35). Met haar vry hand het een van die vroue klein hoeveelhede graan in die vulholte van die bosteen gevoer, en die ander vrou het die meel bymekaargemaak in ’n bak of op ’n doek wat onder die meul uitgesprei is. Hierdie soort meul het in die behoeftes voorsien van soldate, seemanne of klein huishoudings wat ver van meulenaarsbedrywe af gewoon het.
Aangedryf deur water of wind
Omstreeks 27 v.G.J. het die Romeinse ingenieur Vitruvius ’n beskrywing gegee van ’n watermeul van sy tyd. Vloeiende water het teen die lemme van ’n vertikale wiel gestoot wat aan ’n horisontale as vas was, en dit het die wiel laat draai. Ratte het hierdie beweging na ’n vertikale as oorgedra. Hierdie as het op sy beurt ’n groot boonste meulsteen aangedryf.
Hoe het die werkverrigting van die watermeul vergelyk met dié van ander meule? Handmeule het volgens skatting minder as 10 kilogram graan per uur gemaal, en die doeltreffendste eselsmeule tot 50 kilogram. Vitruvius se watermeul kon egter sowat 150 tot 200 kilogram per uur maal. Met tallose variasies en verbeterings is die basiese beginsel wat deur Vitruvius beskryf is, nog eeue later deur bekwame meulenaars gebruik.
Vloeiende water was nie die enigste natuurlike energiebron wat gebruik is om meulstene aan te dryf nie. Deur waterwiele met die wieke van ’n windmeul te vervang, kon dieselfde doel bereik word. Windmeule het waarskynlik in die 12de eeu G.J. in Europa in gebruik gekom en is algemeen in België, Duitsland, Holland en elders gebruik om graan te maal. Hulle was in werking totdat meule wat deur stoom en ander energiebronne aangedryf is, alle ander kragbronne geleidelik in onbruik laat raak het.
“Ons brood vir hierdie dag”
Ten spyte van vooruitgang het baie van die maalmetodes van die verlede in sekere dele van die aarde behoue gebly. ’n Vysel en stamper word nog steeds in dele van Afrika en Oseanië gebruik. In Mexiko en Sentraal-Amerika word saalhandmeule gebruik om mielies vir tortillas te maal. En ’n aantal water- en windmeule is nog hier en daar in gebruik.
Maar die meeste van die meel wat vandag in die ontwikkelde wêreld vir brood gebruik word, word in ten volle gemeganiseerde en outomatiese rolmeule vervaardig. Graankorrels word geleidelik in meel omskep terwyl dit stelselmatig gemaal word tussen stelle staalsilinders met gegroefde oppervlaktes wat teen verskillende tempo’s draai. Hierdie stelsel maak dit moontlik om verskillende grade meel teen ’n lae koste te vervaardig.
Dit is ongetwyfeld nie meer so ’n moeisame taak soos vroeër om meel te kry om mee te bak nie. Nogtans kan ons dankbaar wees teenoor ons Skepper wat ons die graan sowel as die vindingrykheid gegee het om dit te omskep in “ons brood vir hierdie dag”.—Matteus 6:11.
[Voetnoot]
a In Bybeltye moes vyande wat gevange geneem is, soos Simson en ander Israeliete, maalwerk doen (Rigters 16:21; Klaagliedere 5:13). Vry vroue het die graan vir hulle eie huishoudings gemaal.—Job 31:10.
[Prent op bladsy 23]
Egiptiese saalhandmeul
[Erkenning]
Soprintendenza Archeologica per la Toscana, Firenze
[Prent op bladsy 23]
Olie is met behulp van ’n eselsmeul uit olywe gepers
[Foto-erkenning op bladsy 22]
From the Self-Pronouncing Edition of the Holy Bible, containing the King James and the Revised versions