Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 10/22 bl. 19-23
  • My grondslag vir ’n doelgerigte lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My grondslag vir ’n doelgerigte lewe
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek dien in Quebec
  • Ons pas ons aan by die lewe in Afrika
  • Gasvryheid en vindingrykheid in Afrika
  • ’n Onvergeetlike ondervinding
  • Reaksie op ’n indrukwekkende rolprent
  • Nuwe toewysings in Afrika
  • Terugkeer na Kanada
  • “Hy lei my in die spore van regverdigheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Ware geregtigheid onder God se regering
    Ontwaak!—2012
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 10/22 bl. 19-23

My grondslag vir ’n doelgerigte lewe

SOOS VERTEL DEUR ERNEST PANDACHUK

Ek is op die grasvlaktes van Saskatchewan, Kanada, gebore. Toe ek 23 jaar oud was, het ek na Afrika gegaan, waar ek 35 jaar lank ’n baie interessante lewe as ’n sendeling gelei het. Wat het daartoe aanleiding gegee? Dit het nie per toeval gebeur nie. Laat ek verduidelik.

ONS eerste huis was van pale, klei en gras gemaak—skaars voldoende om ons gesin teen die strawwe winters op die grasvlaktes te beskerm. My pa en ma het in 1928, voordat die meeste van hulle nege kinders gebore is, Bybellektuur geneem van iemand wat ons huis besoek het. Gedurende die lang winter wat gevolg het, het hulle die Bybel met behulp van hierdie publikasies bestudeer. Teen die volgende lente was hulle oortuig dat hulle die waarheid gevind het. Hulle het met hulle familie, vriende en bure daaroor gepraat, maar veral met hulle kinders.

Ek is in 1931 gebore, en my vyf jonger broers en susters kort daarna. Bybellees en -studie was deel van ons gesin se roetine. Ek het goeie herinneringe aan ons oggende saam. My pa het ’n Bybelteks met ons bespreek, selfs wanneer ons besoekers gehad het. My ma en pa, sowel as die ouer kinders, het beurte gemaak om uit Bybelpublikasies voor te lees.

My pa het ons nie net leer lees en skryf nie, maar ook om met behulp van Bybelkonkordansies navorsing te doen. Ons het gou geleer hoe om die Bybel te gebruik om ons oortuigings aan ander te verduidelik. Hierdie aangename besprekings het my gehelp om oor Bybelonderwerpe te redeneer. Mettertyd kon ek die Bybel gebruik om valse godsdiensleerstellings te weerlê. Ek kon bewys dat die siel sterf, dat daar nie ’n helse vuur is nie en dat God en Jesus nie gelyk of ’n deel van ’n sogenaamde Drie-eenheid is nie.—Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4; Johannes 14:28.

My pa en ma het ons ook deur hulle voorbeeld geleer en ons aangespoor om ons standpunt in te neem vir wat reg is, al sou dit ons ongewild maak. Hulle het byvoorbeeld nooit tabak gebruik nie, en hulle het ons gewaarsku teen die verontreinigende uitwerking daarvan en teen die druk wat by die skool op ons uitgeoefen sou word om dit te gebruik. Ek onthou my pa se woorde: “Jy sal dalk ’n papbroek genoem word as jy weier om te rook. Maar vra net die persoon: ‘Wie is eintlik die papbroek? Die een wat ’n slaaf is van tabak of die een wat nee kan sê vir tabak?’”

Toe ek 11 was, het ek voor nog ’n situasie te staan gekom wat sou toets of ek by my Bybelse opvoeding as kind sou bly. Teen daardie tyd het die Tweede Wêreldoorlog al begin, en daar is van skoolkinders verwag om ’n eed van getrouheid aan die vlag af te lê. My studie van die Bybel het my laat besef dat so ’n eed ’n daad van aanbidding is, en ek het dus geweier om daaraan deel te hê. Dit het daartoe gelei dat ek vir ses maande uit die skool geskors is.

Maar ek het mettertyd my skoolopleiding voltooi, en in Maart 1947 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Ses maande later het ek ’n pionier, ’n voltydse verkondiger van die goeie nuus, geword. Ek het eers in Suid-Saskatchewan gedien, waar ek vir boere in hierdie uitgestrekte gebied getuig het. In die somer het ek te perd gereis en in die koue winter het ek ’n toe perdeslee gebruik, wat ons ’n kaboes genoem het. Dit is met ’n koolbrander verhit, en daarom moes ek versigtig wees dat ek die slee nie omgooi nie.

Die plattelanders was vriendelik en gasvry. Wanneer ek hulle laatmiddag besoek het, het hulle my dikwels genooi om by hulle te oornag. Hoe het ek tog die lewendige Bybelbesprekings geniet wat gevolg het! Die Petersons was een gesin wat gunstig gereageer het ná ’n bespreking wat heelnag geduur het. Earl en sy ma het ywerige Getuies van Jehovah geword.

Ek dien in Quebec

In 1949 het ek gehoor gegee aan die oproep om in die provinsie Quebec te gaan pionier. Ongeveer 200 pioniers van Wes-Kanada het daarop gereageer. Hulle het in September in die stad Montreal aangekom, gereed om toewysings op enige plek in Quebec te aanvaar. Dit was gedurende die ampstermyn van die Katolieke eerste minister Maurice Duplessis, wat gesweer het dat hy van die Getuies in die provinsie ontslae sou raak.

Dit was besige en opwindende tye vol uitdagings. Ons moes onder andere Frans leer sowel as inhegtenisneming, gepeupelgeweld en die ontwrigting van ons Christelike byeenkomste deur fanatiese indringers die hoof bied. Maar hierdie onverdraagsaamheid het my nie bang gemaak of my laat twyfel oor my loopbaan as ’n bedienaar van God nie. My ouers het ’n liefde vir wat reg is by my ingeskerp sowel as ’n oortuiging dat die wêreldwye predikingswerk wat Jesus voorspel het, ondanks vervolging volbring sou word.—Matteus 24:9, 14.

Terwyl ek in Quebec was, het ek Emily Hawrysh, ’n getroue pionier uit Saskatchewan, ontmoet. Emily is sedert ons troue op 27 Januarie 1951 my lojale medewerker en aanmoedigende metgesel. Aangesien ons doel was om ’n groter aandeel aan die bediening te hê, het ons aansoek gedoen vir en is ons aanvaar as studente van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat ’n kursus van etlike maande aanbied om bedienaars vir sendingdiens voor te berei. Ons het in Februarie 1953 saam met die 20ste klas van Gilead gegradueer.

Terwyl ons gewag het vir dokumente wat ons toestemming sou gee om Afrika toe te gaan, is ons genooi om gemeentes van Jehovah se Getuies in Alberta en Ontario, Kanada, te help. In daardie dae het ons met openbare vervoer van gemeente tot gemeente gereis. Ons het dus geleer om ons lewe te vereenvoudig en al ons besittings in ’n koffer te dra. ’n Paar maande later, toe ons reis- en toegangsdokumente reg was, was ons op pad Suid-Rhodesië toe, wat nou Zimbabwe genoem word.

Ons pas ons aan by die lewe in Afrika

Binne vyf maande ná ons aankoms het ons die toewysing ontvang om groepe van Jehovah se Getuies in Zimbabwe sowel as in Botswana en die suidelike dele van Noord-Rhodesië (nou Zambië) te besoek. By die Gileadskool is ons aangespoor om nie ons buitelandse toewysing met ons geboorteland te vergelyk nie en om te onthou dat ons iets uit ons ondervindinge kan leer, ongeag die omstandighede waarin ons ons bevind. Hierdie wyse woorde het ons gehelp om die regte beskouing te kry. Tot vandag toe is ek en Emily dit eens met die gesegde: “Benut elke geleentheid ten beste; jy kry dit dalk nooit weer nie.”

Ons het per trein, bus, vragmotor of fiets gereis—wat ook al beskikbaar was. Dit was baie veeleisend, maar daar was ook ander situasies wat sou toets of ons by ons besluit sou bly om ‘elke geleentheid ten beste te benut’. Gedurende die eerste twee jaar kon Emily weens wetlike beperkings nie saam met my in stamgebiede ingaan nie. My vrou, met wie ek nog net ’n paar jaar getroud was, moes dus in dorpe naby die spoorwegeindpunt agterbly, waar daar dikwels geen ander Getuies was nie. Emily se geloof, moed en volharding het my nie net met bewondering en liefde vir haar vervul nie maar het ook Koninkryksvrugte in hierdie gemeenskappe opgelewer.

Nadat Emily blyplek by een van die plaaslike inwoners gekry het, het sy onmiddellik in die omgewing begin getuig totdat ek uit die stamgebied teruggekeer het. Soms het sy ’n maand lank alleen gedien. Sy het krag en beskerming gekry deur op Jehovah se sterk hand te vertrou, en haar bediening het vrug gedra. Een voorbeeld is dié van Rita Hancock wat gunstig op Bybelwaarheid gereageer het, en later het haar man by haar aangesluit. Hy het ’n getroue broer geword en tot sy dood as ’n Christen- ouer man gedien. Vandag is daar florerende gemeentes in party van die dorpe waar Emily saadjies van Bybelwaarheid gesaai het.

Gasvryheid en vindingrykheid in Afrika

Intussen was die plaaslike Getuies in die stamgebiede se groot waardering vir Jehovah se organisasie en sy reisende verteenwoordigers vir my ’n roerende ondervinding. Hierdie liefdevolle Christenbroers het goed vir my gesorg. Elke Maandag het ek van die een byeenkomsplek na die ander gereis. My blyplek was ’n nuwe grashut, wat my aan ons gesin se huis in Saskatchewan herinner het. My bed was ’n 30 sentimeter hoë bondel gras wat op die vloer uitgesprei is en waaroor ’n laken getrek is.

Die byeenkomste in die stamgebiede is gewoonlik in ’n woud gehou. Dié wat dit bygewoon het, het die struikgewasse verwyder en welige bome vir skaduwee gelos. Bondels gras wat netjies vasgebind en in rye gesit is, het as sitplekke gedien. Laastens is ’n grasheining om die vergaderplek opgerig. In hierdie pragtige omgewing is my hart altyd geroer deur die melodieuse stemme van ons swart broers en susters wat in onvergeetlike harmonie lofliedere tot Jehovah gesing het.

’n Onvergeetlike ondervinding

Ek het Gideon Zenda, ’n hoofinspekteur vir die sendingskole wat deur die Anglikaanse Kerk bestuur is, in my bediening ontmoet. Gideon het sy opleiding, met inbegrip van sy universiteitsopleiding, deur die kerk ontvang. Maar hy het nie bevredigende antwoorde op baie van sy Bybelvrae gekry nie. Hy het dus gevra dat ek saam met hom en ’n hele paar van sy kollegas bymekaarkom om hierdie vrae te bespreek. Ongeveer 50 mense was by hierdie vergadering teenwoordig, wat skoolinspekteurs, skoolhoofde en onderwysers ingesluit het. Gideon was die voorsitter van die vergadering. Ons het op ’n ordelike wyse die een onderwerp ná die ander bespreek. Ek het 15 minute lank oor elke onderwerp gepraat en dan geleentheid vir vrae gegee. Die vergadering het ’n hele paar uur geduur.

Hierdie ongewone vergadering het daartoe gelei dat Gideon, sy gesin en baie van sy kollegas almal toegewyde, gedoopte knegte van Jehovah geword het. Die plaaslike biskop het hulle diens in die Anglikaanse onderwysstelsel beëindig. Maar almal was moedig en het standvastig gebly in Jehovah se diens, en party het pioniers geword.

Reaksie op ’n indrukwekkende rolprent

In 1954 het Jehovah se Getuies die rolprent The New World Society in Action vrygestel. Die volgende jaar is die vorige wetlike beperkings dat ’n vrou haar man nie in stamgebiede mag vergesel nie, opgehef. Emily kon toe saam met my na die stamgebiede gaan. Ons is destyds van ’n motor, ’n kragopwekker en ’n projektor voorsien om die rolprent oral in die stamgemeenskappe te vertoon. Baie het nog nooit tevore ’n rolprent gesien nie, en daarom het ons vertonings baie aandag getrek. Die rolprent het gewys hoe Bybels en Bybellektuur stap vir stap by ons groot drukkery in Brooklyn, New York, gemaak word.

In die rolprent was daar ook tonele van die internasionale broederskap van Jehovah se Getuies waar hulle in 1953 by Yankee-stadion, New York, saam aanbid het. Hierdie Afrikane het nooit tevore so ’n bewys van veelrassige eenheid en liefde gesien nie. Die rolprent het talle Zimbabwiese gesinne beweeg om die Bybel te bestudeer en met die Getuies om te gaan. Versoeke om hierdie rolprent te vertoon, het letterlik ingestroom van skoolhoofde oor die hele land wat die opvoedkundige waarde van so ’n visuele hulpmiddel vir hulle leerlinge besef het.

Laat een aand het Getuies my wakker gemaak en gevra dat ek die rolprent vertoon. Tot my verbasing het sowat 500 mense ’n hele paar uur gestap om dit te sien. Hulle het gehoor dat ek in die gebied was en dit vertoon het. Teen die tyd dat daardie skare huis toe gegaan het, het nog ’n groep van 300 opgedaag. Ek het dus weer die rolprent vertoon. Die laaste kykers is eers drie-uur die oggend daar weg! Oor ’n tydperk van 17 jaar het meer as ’n miljoen mense in Zambië alleen daardie kragtige rolprent gesien!

Nuwe toewysings in Afrika

Nadat ons meer as vyf-en-’n-half jaar in Zimbabwe gedien het, is ons na Suid-Afrika gestuur. Dit het beteken dat ons Afrikaans moes leer. Ons het later ook Suid-Sotho en Zulu leer praat. Die feit dat ons God se Woord in bykomende tale aan ander kon leer, het ons bediening doeltreffender gemaak en het ons laat voel dat ons iets bereik.

Vroeg in 1960 het ons die toewysing ontvang om reisende werk in Suider-Afrika te doen. Die volgende 27 jaar het ons baie gereis in Lesotho, Namibië, Suid-Afrika en Swaziland sowel as op die Ascension-eilande en St. Helena in die Suid-Atlantiese Oseaan. Ons het altesaam honderdduisende kilometers afgelê terwyl ons ons Christenbroers en -susters gedien het. Hulle dade van geloof en lojaliteit onder ongunstige omstandighede het ons aangemoedig om nooit moed op te gee nie.

Ek het byvoorbeeld Getuies in Swaziland persoonlik leer ken wat nie hulle geloof versaak het toe koning Sobhuza II gesterf het nie. Omdat hulle geweier het om deel te neem aan onskriftuurlike rituele wat by die dood van so ’n hooggeplaaste gehou word, is hulle by die werk afgedank en hulle burgerregte ontsê. Ondanks jare van ontberings en swaarkry het hulle nooit hulle geloof prysgegee nie. Dit was ’n groot voorreg om hierdie wonderlike Christenbroers en -susters te ken en persoonlik met hulle te gesels, en ek dank Jehovah altyd daarvoor.

Dan is daar Philemon Mafareka, ’n pionier van Mokhotlong, Lesotho, wat op ’n hoogte van meer as 3 000 meter in die berge geleë is. Aangesien geen vervoer beskikbaar was nie, het hy en sy liewe vrou, hulle twee kinders en vier doopkandidate meer as 100 kilometer ver gestap na ’n byeenkoms wat op ’n hoogte van 1 200 meter gehou is. Die grootste deel van die pad was oor steil terrein. Hulle het teen steil skuinstes op- en afgeklouter en talle strome en riviere oorgesteek.

Op pad huis toe ná die byeenkoms het hulle honderd eksemplare van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe saamgedra. Dit was vir mense in hulle tuisdorp in Mokhotlong bedoel. Maar omdat soveel mense langs die pad in Bybellektuur belanggestel het, was al hulle boeke op voordat hulle by die huis gekom het. Dit was vir my en Emily ’n voorreg om self die ywer en toegewydheid van Christenbroers en -susters soos Philemon en sy vrou te sien en ons waardeer dit vandag nog.

Soms het ons te kampe gehad met giftige slange, soos kobras, sowel as met skielike oorstromings en ander gevare. Hoewel hierdie ondervindings destyds skrikwekkend was, is dit onbeduidend in vergelyking met die belonings en vreugdes van ’n loopbaan in Jehovah se diens. Ons het geleer dat hy nooit sy lojales in die steek laat nie.

Toe Emily ernstige gesondheidsprobleme gehad het, het Jehovah ons die wysheid gegee om die situasie op ’n gebalanseerde manier te hanteer. ’n Verandering van dieet en reëlings om beter higiëniese toestande te skep, het haar herstel bespoedig. Ons het ’n ligte vragmotor in ’n woonbussie omskep sodat Emily ’n omgewing kon hê waaroor ons beheer het terwyl ons reis, en sy het mettertyd gesond geword.

Terugkeer na Kanada

In 1988, ná 35 jaar van sendingwerk op die interessante vasteland van Afrika, het ons die toewysing ontvang om na Kanada terug te keer. In 1991 het ek toe weer eens as ’n reisende opsiener begin dien. Agt jaar later het ek ’n beroerte gehad. Hoewel my bedrywighede sedertdien baie beperk is, geniet ek dit nog om as ’n ouer man in een van die gemeentes in London, Ontario, te dien.

Vandag dink ek met bevrediging terug aan die tyd sowat 56 jaar gelede toe ek in Suid-Saskatchewan te perd begin pionier het. Hoe dankbaar is ek tog dat my pa volgehou het om ons te leer hoe om soos geestelike mense te dink en nooit bang te wees om standpunt in te neem vir die waarheid en regverdigheid nie! Hy het my God se Woord geleer, wat my lewe doelgerig gemaak het. Ek het my hele lewe lank by hierdie erfenis baat gevind. Ek sal nooit my lewe in Jehovah se diens verruil vir enigiets wat hierdie ou wêreld kan bied nie.

[Prent op bladsy 19]

Ons gesin van nege kinders in 1949, met my ma wat die jongste kind vashou. Ek staan agter haar

[Prent op bladsy 20]

Ek het hierdie “kaboes” gemaak om in my bediening te gebruik

[Prent op bladsy 20]

Vroue in Quebec wat in hegtenis geneem is omdat hulle die predikingswerk gedoen het

[Prent op bladsy 22, 23]

Ek het ’n aandeel daaraan gehad om hierdie reisende opsieners in Zimbabwe te onderrig

[Prent op bladsy 23]

Ons het hierdie woonbussie gemaak om Emily te help herstel

[Prent op bladsy 23]

’n Onlangse foto saam met Emily

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel