Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 3/1 bl. 26-29
  • “Hy lei my in die spore van regverdigheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hy lei my in die spore van regverdigheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek verlaat die huis
  • Ek trek uit die weste na die ooste
  • Godsdiensonverdraagsaamheid in Quebec
  • ’n Bediening wat seëninge meebring
  • Die huwelik en ’n gesamentlike bediening
  • My grondslag vir ’n doelgerigte lewe
    Ontwaak!—2003
  • “Die stryd is nie julle s’n nie, maar God s’n”
    Ontwaak!—2000
  • Ek het baie seëninge ontvang omdat ek by goeie voorbeelde geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 3/1 bl. 26-29

“Hy lei my in die spore van regverdigheid”

Soos vertel deur Olga Campbell

“’n Goeie voorbeeld is soos die gelui van ’n klok wat ander roep om te volg”, het my suster Emily gesê. “Jy het die klok gelui, en ek het gekom.” Sy het geskryf om my geluk te wens op 60 jaar in die voltydse bediening. Kom ek vertel van my vroeë lewe en hoe ek my lewenslange loopbaan begin volg het.

EK IS op 19 Januarie 1927 gebore in ’n Oekraïnse boeregesin naby Wakaw, Saskatchewan, in die middeweste van Kanada. Ek en my tweelingbroer, Bill, was die sesde en sewende van agt kinders. As kinders het ons ons hardwerkende pa op die landerye gehelp. In ons ou klein huisie het ons ma liefdevol vir ons gesorg ten spyte van die verlammende pyn van gewrigsrumatiek, wat uiteindelik haar lewe geëis het. Sy was net 37 toe sy oorlede is; ek was maar 4 jaar oud.

Ses maande ná my ma se dood het my pa weer getrou. Daar was kort voor lank spanning in ons huis, wat ons later met vyf nuwe halfsussies moes deel! Ek het probeer om respek aan ons stiefma te betoon, maar my ouer broer John het gesukkel om dit te doen.

In die laat-1930’s is ek en Bill middelskool toe, wat beteken het dat ons van die spanning by die huis kon wegkom. Die Tweede Wêreldoorlog het gedreig en patriotisme het hoogty gevier. Ons nuwe onderwyseres het ons die vlag laat salueer, en een meisie het geweier om dit te doen. Die kinders het haar beledigings toegeslinger. Maar ek het haar moed bewonder en het haar gevra waarom sy nie die vlag gesalueer het nie. Sy het verduidelik dat sy ’n Bybelstudent is, soos Jehovah se Getuies soms genoem is, en dat sy net aan God trou bewys.—Eksodus 20:2, 3; Handelinge 5:29.

Ek verlaat die huis

In 1943 het ek in Prince Albert gaan werk, waar ek vragmotors gelaai en kratte koeldrank afgelewer het. Ek het gesmag na geestelike leiding en het ’n Bybel gekoop, maar het dit so moeilik gevind om te verstaan dat ek van frustrasie gehuil het. Die Onse Vader was omtrent die enigste bietjie kennis wat ek van die Bybel gehad het.—Matteus 6:9-13.

Die vrou by wie ek loseer het, was ’n gereelde kerkganger en het een Sondag heel trots vertel dat sy ’n “Bybelvrou” van haar deur af weggejaag het. ‘Hoe kon sy so onvriendelik wees?’ het ek gewonder. ’n Paar Sondae later het ek nie lekker gevoel nie en is ek nie kerk toe nie. Daardie dag het die “Bybelvrou” teruggekom.

“Bid jy?” het sy vir my gevra.

“Die Onse Vader”, het ek geantwoord.

Terwyl sy die betekenis van Jesus se woorde verduidelik het, het ek aandagtig geluister. Sy het belowe om die volgende Woensdag terug te kom.

Toe die vrou by wie ek loseer het, by die huis kom, het ek haar opgewonde vertel van die “Bybelvrou”, wat een van Jehovah se Getuies was. Tot my ontsteltenis het sy gedreig: “As sy Woensdag terugkom, skop ek julle albei uit die huis uit!”

Ek het die buurt gefynkam op soek na die Getuie, wat ek uitgevind het mev. Rampel is. Toe ek haar opspoor, het ek my dilemma verduidelik en haar gevra om my alles van die Bybel te vertel wat sy kon. Dit het gevoel of ons alles van Genesis tot Openbaring gedek het! Sy het ons tyd met Noag se dag vergelyk, toe God ’n einde gebring het aan ’n onregverdige wêreld en vir Noag en sy gesin tot in ’n gereinigde aarde gebring het.—Matteus 24:37-39; 2 Petrus 2:5; 3:5-7, 12.

“Ek kan sien dat jy hierdie Bybelleringe as die waarheid aanvaar”, het mev. Rampel ná ons lang bespreking gesê. “Oor twee weke gaan daar ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies wees, en jy moet gedoop word.” Daardie nag het ek wakker gelê en gedink oor alles wat ek geleer het. Dit het gevoel asof doop so ’n ernstige stap is. Maar ek wou God dien! Hoewel ek maar min Bybelkennis gehad het, is ek gedoop toe ek 16 was, op 15 Oktober 1943.

Ek trek uit die weste na die ooste

In November het my broer Fred my gevra om as ’n huishoudster in sy drieverdiepinghuis in die stad Toronto in die ooste van Kanada te kom werk. Ek het ingestem in die hoop dat ek dalk groter vryheid sou hê om Jehovah daar te aanbid. Voor ek vertrek het, het ek by my suster Ann gekuier, wat nog daar naby in Saskatchewan gewoon het. Sy het ’n verrassing vir my gehad—sy en Doris het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en sy het my aangespoor om dit ook te doen. Toe het ek hulle my geheim vertel—ek was reeds ’n gedoopte Getuie!

Ek en my jonger suster Emily het die lang treinreis na Toronto aangepak. Bill het ons by die stasie ontmoet en ons na die huis gebring wat hy met Fred en John gedeel het. Ek het vir Fred gevra wie nog in die huis woon. “Jy sal dit nooit glo nie”, het hy gesê. “Onthou jy vir Alex Reed van ons tuisdorp? Hy bly bo, en daardie verspotte man stel belang in die Bybelstudente!” Ek was oorstelp van vreugde.

Ek is stilletjies met die trap op na Alex toe en het gereël om daardie aand nog saam met hom na ’n vergadering te gaan. Ek wou die vergaderinge onmiddellik bywoon sodat my broers nie tyd sou hê om my te probeer afraai nie. Kort daarna het ek vir die eerste keer in die predikingswerk uitgegaan, al het ek nog nooit ’n formele Bybelstudie gehad nie. Ek het dit geniet om met baie Oekraïners te praat in die taal wat ek as kind geleer het.

Bill het dit geniet om Die Wagtoring te lees, wat ek dikwels in sy kamer gesit het. Nadat hy na Brits-Columbië in die weste van Kanada getrek het, het ek vir hom ’n intekening op Die Wagtoring as ’n geskenk gestuur. Hoewel hy gewoonlik ’n man van min woorde was, het hy vir my ’n brief van tien bladsye geskryf om sy dankbaarheid uit te spreek. Mettertyd het hy sy lewe aan Jehovah toegewy en ’n ywerige Christenopsiener geword. Tot my groot vreugde het vyf van my broers en susters—Bill, Ann, Fred, Doris en Emily—toegewyde aanbidders van Jehovah geword!

Op 22 Mei 1945 het die Kanadese regering die verbod op die werk van Jehovah se Getuies opgehef.a Ek het eintlik nie eers geweet van die verbod totdat ek daardie aankondiging gehoor het nie. Ek en my vriendin Judy Lukus het besluit om die voltydse diens te betree en verder oos in Franssprekende Quebec te gaan pionier. Toe my susters Doris en Emily van ons planne hoor, het hulle besluit om in Vancouver, Brits-Columbië, aan die ander kant van die vasteland, te gaan pionier.

Godsdiensonverdraagsaamheid in Quebec

Toe ek na Quebec getrek het, was dit nie bloot ’n verandering van omgewing nie. Die Getuies daar het wrede teenstand teen hulle predikingswerk ondervind.b Ons was verheug om deel te neem aan die verspreiding van die traktaat Quebec’s Burning Hate for God and Christ and Freedom Is the Shame of All Canada. Daardie sterk boodskap het die godsdiensonverdraagsaamheid teen die Getuies blootgelê.

Ons het 16 dae lank elke oggend omtrent twee-uur begin en stilletjies traktate onder deure ingestoot. By een woonstelblok het ons uitgevind dat die polisie op pad is. Ons het hulle ontduik deur in ’n stegie weg te kruip. Die volgende dag was ons weer op straat om Die Wagtoring en Ontwaak! aan te bied. Gedurende die daaropvolgende maande het die polisie ons soveel keer in hegtenis geneem dat ons ophou tel het hoeveel keer dit gebeur het. Ingeval ek opgesluit sou word, het ek altyd my tandeborsel en my oogpotlood by my gehou.

In November 1946 het Nathan Knorr, wat die leiding geneem het in die wêreldwye werk van die Getuies, van Brooklyn, New York, gekom om ons te besoek. Hy het 64 van ons wat in Quebec gepionier het, genooi om die negende klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, by te woon. By hierdie skool het ons ’n intensiewe Bybelonderrigkursus van vyf maande gevolg. Nadat ons in Augustus 1947 gegradueer het, is ons na dorpe oral in Quebec gestuur om nuwe gemeentes te stig.

’n Bediening wat seëninge meebring

Vier van ons meisies is na die stad Sherbrooke toe gestuur. Ons het hard geoefen om Frans te praat en het werkwoordvorme oor en oor opgesê terwyl ons na en van ons predikingsgebied geloop het. Soms het ons nie geld vir middagete gehad nie, en dan het ons terug huis toe gegaan en gaan leer. My pioniermaat, Kay Lindhorst, was baie goed met grammatika. Sy het eers vir my Engelse grammatika geleer sodat ek die Frans kon begryp.

Die hoogtepunt van my pionierdiens was in Victoriaville, destyds ’n dorp van omtrent 15- 000 mense. Aangesien omtrent niemand Engels gepraat het nie, was dit die beste plek vir ons om ons Frans te verbeter. Ons eerste week daar was opwindend. Oral waar ons gegaan het, het mense ons lektuur geneem. Toe ons teruggegaan het, was al die deure en blindings toe. Wat het gebeur?

Die plaaslike priester het die mense gewaarsku om nie na ons te luister nie. Terwyl ons van huis tot huis gegaan het, het kinders ons op ’n afstand gevolg en ons met klippe en sneeuballe gegooi. Maar baie het daarna gesmag om die Bybel se boodskap te hoor. Aan die begin het hulle ons net toegelaat om hulle ná donker te besoek. Maar namate hulle Bybelkennis toegeneem het, het hulle openlik gestudeer al was hulle bure daarteen gekant.

In die 1950’s het ek en my susters weer in Wakaw gaan kuier. Ons het ons ondervindinge in die predikingswerk by ’n gemeentelike vergadering vertel. Daarna het ’n opsiener in die gemeente vir ons gesê: “Julle ma sal so bly wees wanneer sy opgewek word en sien dat haar kinders Jehovah se Getuies geword het!” Hy het verduidelik dat sy voor haar dood die Bybel saam met ’n Getuie gestudeer het. Trane het in ons oë opgewel toe ons hoor dat sy Bybelwaarhede geleer het waarvan sy ons beslis sou vertel het as haar lewe nie kortgeknip is nie.

Die huwelik en ’n gesamentlike bediening

In 1956 het ek vir Merton Campbell ontmoet, ’n Getuie wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog 27 maande in die tronk was omdat hy Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Hy het al byna tien jaar lank by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn gedien. Merton het talle wonderlike geestelike eienskappe gehad, en ek het gesien dat hy ’n goeie man sou wees. Ons het ’n paar maande lank vir mekaar geskryf, en ons wedersydse respek en vriendskap het liefde geword.

Ek en Merton het op 24 September 1960 getrou. Wat ’n seën was dit tog om die afgelope 47 jaar met ’n wonderlike geestelike man te deel! Merton werk al 58 jaar in die Diensafdeling, wat hulp en leiding gee aan gemeentes van Jehovah se Getuies in die hele Verenigde State. Meer as 30 jaar lank was my werk in Brooklyn om binnenshuise versiering in gastekamers en later in groot Byeenkomssale in die omgewing van die stad New York te doen. In 1995 is ek en Merton verplaas na die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, sowat 110 kilometer noord van die stad New York.

Toe ek op 12 die huis verlaat het, het ek nooit gedink dat ek eendag ’n groot geestelike gesin om my sou hê, wat my eie broers en susters sou insluit nie. Ek smag na die tyd in God se nuwe wêreld wanneer ons om ons ma kan saamdrom en haar kan vertel wat gebeur het terwyl sy geslaap het—veral hoe Jehovah God op liefdevolle wyse omgesien het na die geestelike behoeftes van haar kinders. Hoe bly is ons tog dat Jehovah ons in “die spore van regverdigheid” gelei het!—Psalm 23:3.

[Voetnote]

a Weens die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies het die regering hulle organisasie op 4 Julie 1940 verbied.

b Vir meer besonderhede oor die godsdiensvervolging in Quebec, sien die Ontwaak! van 22 April 2000, bladsye 20-3.

[Prente op bladsy 27]

My ouers en die huis waar ek saam met hulle en my sewe broers en susters gewoon het

[Prent op bladsy 29]

Saam met my velddiensmaats in die bediening in Ottawa, 1952

[Prent op bladsy 29]

Saam met my broers en susters (van links na regs) Ann, Mary, Fred, Doris, John, ek, Bill en Emily

[Prent op bladsy 29]

Vandag saam met Merton

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel