Toe die rivier agteruitgevloei het
DIE Mississippirivier is soos ’n vou op ’n kaart van die Verenigde State wat die land in twee verdeel. By sy oorsprong in Minnesota is die rivier net drie meter breed. Maar dit word vinnig breër namate tientalle syriviere in die 3 700 kilometer lange rivier inloop wat suidwaarts vloei. Naby New Orleans, Louisiana, is die rivier 60 meter diep en een kilometer breed. Elke sekonde stroom 15 000 000 liter water deur sy delta in die Golf van Mexiko in. Gedurende ’n oorstroming kan dit tot meer as 80 000 000 liter per sekonde toeneem.
Mense wat langs die rivier bly, weet hoeveel skade soveel water kan aanrig. Hulle het al gesien hoe dit landerye oorstroom, oewerwalle vernietig, huise meesleur en lewens eis. Maar vandag is daar min mense wat hulle die gebeure kan voorstel wat minder as 200 jaar gelede op die rivier afgespeel het.
In Desember 1811 het ’n onsigbare krag sy kloue in die sentrale Mississippivallei ingeslaan, en eers weke later sy greep verslap. ’n Reeks groot aardbewings het die rivierbedding soos ’n onstuimige see laat golf. Die vervorming van die aarde was so groot dat die magtige Mississippi op 7 Februarie 1812, net stroomop van New Madrid,a Missouri, noord gevloei het pleks van suid.
Dae van vrees en bewing
Daardie gebeurtenis was die hoogtepunt van ’n angswekkende tyd wat as die New Madrid-aardbewings bekend gestaan het. Op 16 Desember 1811, om 2:00 vm., het die eerste aardbewing die suidoostelike deel van wat nou die staat Missouri is, getref. Boere en dorpenaars het wakker geword toe hulle meubels begin rondskuif en hulle porseleinware in skerwe op die vloer geval het. Huise het van hulle fondamente af beweeg. Mense het uit hulle huise gehardloop en buite gebly, waar hulle weens die koue en die aardskudding gestaan en bewe het. Hulle eie huise, wat voorheen plekke van rus en veiligheid was, het nou vir hulle gevaar ingehou.
In die paar ure voor dagbreek het die grond bly skud, maar nie met soveel krag nie. Ongeveer 7:00 vm. het nog ’n hewige aardbewing die dorp getref. Toe, net voor 11:00 vm., het ’n selfs kragtiger aardbewing plaasgevind. Die grond het oopgeskeur. Modder, water en steenkool het in onheilspellende fonteine hieruit gespuit. Stinkende swaelagtige gasse het uit die aarde ontsnap en die lug besoedel. Ooggetuies het duisende verskrikte voëls uit die gebied sien vlieg. Nadat die kwaai skuddings opgehou het, het die dorp Little Prairie, Missouri, in puin gelê.
’n Onstuimige vaart stroomaf
Terwyl die aardbewings plaasgevind het, het die splinternuwe stoomboot New Orleans met die Ohio-rivier afgevaar in die rigting van die Mississippi—op pad na New Orleans, Louisiana. Opgewondenheid het in groot kommer verander toe die boot waters binnevaar wat deur die aardbewings getref is. Rivieroewers het geskud en in die rivier gestort. Bome wat lank in die rivier begrawe gelê het, het na die oppervlak gedryf en kon maklik die romp van die boot oopgekloof het. Groot golwe het die boot soos ’n kurkprop heen en weer gegooi. Navigasiekaarte wat vir die vaart voorberei is, was nutteloos, want die aardbewings het die loop van die rivier verander. ’n Aangename bootrit het in ’n nagmerrie verander.
Op 19 Desember 1811 het die New Orleans New Madrid genader in die hoop om voorraad op te laai. Maar die eens lewendige rivierdorp was nie in staat om enige bystand te verleen nie. Die paar mense wat nog daar was, het desperaat beduie dat die boot hulle moes kom optel en hulle van die smeulende puinhope van huise en sakeondernemings moes wegneem.
Die stoomboot het egter verder met die Mississippi afgevaar, en sy passasiers het teen dié tyd soos skaatsers op dun ys gebewe. Die boot het verby die dorp Point Pleasant gevaar, wat ’n spookdorp was. Little Prairie was volgende op die roete. Die boot het ook nie hier aangedoen nie, aangesien die grootste deel van Little Prairie reeds onder die water verdwyn het, en die geboue wat agtergebly het, is totaal verwoes.
Verder suid het die stoomboot op ’n groot aantal stompe afgekom wat die waterweg versper het. Die aardbewings het tientalle bome ontwortel en dit in die rivier gegooi. Nadat hulle met groot moeite daardeur is, het die bemanning die New Orleans by Eiland #32, naby die hedendaagse Osceola, Arkansas, vir die nag vasgemeer. Ongeveer 4:30 vm., op 21 Desember, het ’n passasier gevoel hoe die boot om ’n onverklaarbare rede aan sy meertou pluk. Met dagbreek het dit aan die lig gekom wat gebeur het. Die tou was styfgetrek en het amper regaf in die water ingegaan. Daar was nêrens droë grond te sien nie. Gedurende die nag het die rivierbedding gesak, en Eiland #32 het onder die oppervlak verdwyn. Die New Madrid-aardbewings het nog ’n slagoffer geëis.
Die New Orleans het sy eerste vaart veilig voltooi, die eerste boot wat die lengte van die Mississippi met stoomkrag afgelê het. Wat moontlik selfs merkwaardiger was, is dat die boot sy bestemming hoegenaamd bereik het.
Nog skuddings
Ligter skuddings het tot in Januarie 1812 voorgekom. Op 23 Januarie, om ongeveer 9:00 vm., het mense die senutergende skokke van nog ’n kragtige aardbewing gevoel. Die dorp Point Pleasant, Missouri, wat reeds deurgeloop het, was naby aan die aardbewing se episentrum, en al sy inwoners het gevlug. Toe party in Februarie 1812 teruggekeer het, het hulle nie net ontdek dat die dorp vernietig is nie, maar dat dit spoorloos verdwyn het. Weens die skudding van 23 Januarie het Point Pleasant en die grond waarop dit gestaan het in die Mississippi verdwyn.
Baie van die gebied se inwoners, wat gevrees het dat die einde van die wêreld aangebreek het, het hulle tot godsdiens begin wend. Party geestelikes was verheug, aangesien die nuwe bekeerlinge nou die kerkbanke gevul het wat lank leeg was. Ander was agterdogtig oor die motiewe van die vinnig groeiende kuddes en het hulle aardbewing-Christene genoem. Die predikant James B. Finley het ’n vurige toespraak gehou waarin hy Openbaring 6:17 uit die King James-vertaling van die Bybel aangehaal het: “Want die groot dag van sy gramskap het aangebreek en wie sal kan staan?” Weens die aardskuddings het dit in fisiese sin meer as in geestelike sin moeilik geword om te staan.
Die finale slag
Hoewel kerkgangers God versoek het om verligting te bring, het rampspoed die gebied bly teister. Voor dagbreek op 7 Februarie 1812 is die inwoners van die gebied weer eens uit ’n onrustige slaap wakker geskud toe ontsaglike seismiese golwe vanuit die episentrum onder hulle beweeg het. Hierdie aardbewing, die grootste van hulle almal, was so kragtig dat dit skoorstene in Cincinnati, Ohio, 650 kilometer daarvandaan omgeslaan het. In Boston, Massachusetts, 1 600 kilometer daarvandaan, het dit kerkklokke laat lui. Selfs in Montreal, Kanada, het borde en pierings op tafels gekletter. ’n Man van Kentucky, wat omtrent 130 kilometer van die episentrum af gewoon het, het in sy dagboek geskryf: “As ons nie hier wegkom nie, gaan die grond ons lewendig insluk.” Die rivierdorp New Madrid het egter die ergste deurgeloop onder die aardbewing se woede.
Die aanvanklike skokke het New Madrid erg beskadig, etlike lewens geëis en die meeste oorlewendes laat vlug. Die skudding op 7 Februarie was die finale doodsteek. Toe die aardbewing die dorp tref, het die oorblywende inwoners gevlug—en ook net betyds. Die hoë oewer waarop die dorp gebou was, het inmekaargestort en in die Mississippi afgegly, waar die onstuimige stroom die planke, bakstene en klippe van New Madrid meegesleur het. In ’n kort tydjie het alle tekens van die dorp se bestaan in die niet verdwyn.
Uitwerking op die rivier
Die New Madrid-aardbewings het tydelike watervalle in die Mississippi naby New Madrid laat ontstaan. Tientalle bote het omgeslaan terwyl hulle oor die watervalle gegaan het. Die aardbewing van 7 Februarie het die grond opgestoot en laat insink, wat die stroom gedwing het om in die teenoorgestelde rigting te vloei. Groot skeure het onder die rivier ontstaan, wat draaikolke veroorsaak het waarin nog bote vergaan het. Die skuddings het die loop van die rivier verander en dorpe en huise oorstroom. Dit het ook water van die rivier af weggekeer en Reelfoot-meer laat ontstaan, ’n groot meer in Tennessee wat voor 1812 nie bestaan het nie. Bome wat voorheen op droë grond gestaan het, staan nou in die middel van Reelfoot-meer en hou hardnekkig vas aan grond wat oorstroom het.
Dit is nie moontlik om presies te bepaal hoe sterk hierdie aardbewings was nie, aangesien moderne seismograwe nie in 1812 bestaan het nie. Wetenskaplikes bereken dat ten minste drie van die New Madrid-aardbewings meer as 8,0 op die Richterskaal sou geregistreer het. Hierdie is die grootste aardbewings wat tot nog toe in die aangrensende Verenigde State waargeneem is en is onder die kragtigste wat nog op die aarde opgeteken is. Al was die rampgebied yl bevolk, het tientalle mense—miskien selfs honderde—in die ramp omgekom.
Vandag vloei die Mississippi deur die suidoostelike deel van Missouri asof niks noemenswaardigs ooit gebeur het nie. Maar as die rivier kon praat, sou dit ’n ongelooflike verhaal vertel van die tyd toe dit agteruitgevloei het.
[Voetnoot]
a Die uitspraak van die naam is Madʹrid, wat verskil van Ma·dridʹ, die hoofstad van Spanje.
[Kaarte op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MISSOURI
Mississippi rivier
New Madrid
[Prent op bladsy 19]
Die stoomboot “New Orleans”
[Erkenning]
Used by permission, State Historical Society of Missouri, Columbia
[Prent op bladsy 20]
Die aardbewings het Reelfoot-meer laat ontstaan
[Foto-erkenning op bladsy 18]
U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./Dave Menke