Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 6/22 bl. 23-27
  • Madrid—’n Hoofstad gebou vir ’n koning

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Madrid—’n Hoofstad gebou vir ’n koning
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Groen stad
  • Die kunslaan
  • “’n Gedenkteken vir die Duiwel self”
    Ontwaak!—2002
  • Toe die rivier agteruitgevloei het
    Ontwaak!—2003
  • ’n Baie waardevolle pêrel is aan ons gegee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 6/22 bl. 23-27

Madrid—’n Hoofstad gebou vir ’n koning

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

PARTY hoofstede van die wêreld is naby natuurlike hawens gebou en dien al lank as bedrywige hawestede. Ander is by besige rivierkruisings geleë, en dit was amper onvermydelik dat hulle in vernaamheid sou toeneem. Baie Europese hoofstede is al van Romeinse tye af belangrik. Maar Madrid, die hoofstad van Spanje, is ’n uitsondering. Die dorp het minder as 10 000 inwoners in 1561 gehad toe dit skielik bekendheid verwerf het.

Daar was ’n eenvoudige rede hiervoor. Filips II, koning van Spanje en van ’n groot buitelandse ryk, het moeg geword om sy hof van een stad in Kastilië na ’n ander te skuif. Omdat hy lief was vir jag wou hy sy permanente hof naby sy gunstelingjagveld hê. Madrid was net die plek hiervoor, en die dorp het ook goeie drinkwater, plek vir uitbreiding en vrugbare grond daar naby gehad.

Toe die besluit gemaak is, het Filips ’n bouprogram van stapel gestuur wat Madrid ’n geskikte hoofstad sou maak. Later het ander Spaanse konings ook die stad verfraai, wat ’n unieke band tussen Madrid en die koningsgesin laat ontstaan het. Teen die 17de eeu het Madrid die grootste stad in Spanje geword. Vandag is dit ’n florerende moderne metropool met meer as driemiljoen inwoners.

Weens die noue band tussen Madrid en Spanje se koningshuis is daar ’n verwantskap tussen baie historiese geboue en die twee vernaamste vorstehuise. Die oudste deel van die stad word Madrid van die Oostenrykers genoem, wat teruggevoer kan word tot die Oostenrykse, of Habsburgse, vorstehuis van die 16de en 17de eeu. Latere uitbreidings het bekend geword as die Madrid van die Bourbons, die huidige vorstehuis wat uit 1700 dateer.

Deur die eeue heen het Spaanse konings die bou van talle statige geboue in die hoofstad bevorder en gefinansier. Hulle kosbare versameling skilderye vorm nou die kern van Madrid se nasionale kunsgalery. En die uitgestrekte koninklike eiendom in die omgewing van Madrid het uiteindelik die stad se hoofparke en ontspanningsgebiede geword.

’n Groen stad

Omdat die konings in jag en tuine belanggestel het, het daar alreeds ’n wye groen gordel bestaan toe Madrid sy hedendaagse uitbreiding begin het. Ondanks vinnige stedelike groei in onlangse dekades loop daar ’n groot wigvormige parkgebied suidwaarts van die bergreeks tot amper by die poorte van die middestad.

Een van Madrid se parkgebiede, ’n eertydse koninklike jagveld wat die Casa de Campo genoem word, is naby die koningspaleis geleë en ’n moderne dieretuin kan nou daar gevind word. Noord van Madrid lê ’n groot inheemse eikewoud wat tot binne tien kilometer van die middestad strek en as die heuwel van El Pardo bekend staan.

Filips II het die grense van hierdie wildpark vasgestel kort nadat hy Madrid sy hoofstad gemaak het. ’n Pragtige koninklike jaghuis, wat eers deur sy vader opgerig is, staan nog in die park. Hierdie beboste gebied het nou ’n streekspark geword wat beskerming bied aan twee van Europa se mees bedreigde spesies, die Spaanse keiserarend en die Europese monniksgier.

Retiro-park was voorheen ’n groot koninklike tuin in die middel van Madrid, waar die koningsgesin stiergevegte gehou en selfs seeslae uitgevoer het. In die 18de eeu is die publiek toegang tot die park gegee, mits hulle gepas aangetrek was. Deesdae is die kleredrag natuurlik informeler en Madrileños (burgers van Madrid) stroom elke naweek na hierdie gewilde park. ’n Kristalpaleis van smeeyster en glas sowel as ’n halfmaanvormige kolonnade wat op ’n meer uitkyk, is net twee van sy aantreklike kenmerke.

Karel III, ’n 18de-eeuse koning wat baie in die kuns en wetenskap belanggestel het, het die Koninklike Botaniese Tuin langs Retiro-park laat aanlê. Die tuin spesialiseer al die afgelope twee en ’n half eeue in Sentraal- en Suid-Amerikaanse flora.

Die kunslaan

Danksy die vrygewigheid van die Spaanse koningshuis het Madrid ook een van die belangrikste kunsgalerye ter wêreld. Die Prado-museum is gebou in opdrag van Karel III, wat ’n uitstaande burgemeester in die geskiedenis van Madrid was. Die kunsversameling is hoofsaaklik dié van die Spaanse konings, wat meer as vier eeue gelede kunswerke begin versamel het.

In die 17de eeu het die hofskilder Velasquez nie net meesterstukke geskilder nie, maar ook Europa gefynkam om kosbare skilderye vir sy koninklike beskermheer Filips IV te koop. In die volgende eeu het Francisco de Goya die amptelike hofskilder geword. Dit is geen wonder dat daar baie meesterstukke in die Prado is wat deur hierdie twee beroemde kunstenaars geskilder is nie.

Twee ander eersterangse kunsversamelings—die Thyssen-Bornemisza-museum en die Centro de Arte Reina Sofía- Nasionale Museum—is in dieselfde laan as die Prado geleë. Hierdie skilderagtige straat, wat die Kunslaan genoem word, is ook met baie van Madrid se beroemde standbeelde versier.

Soos baie ander stede het Madrid goeie en slegte tye deurgemaak. Die hoofstad is gedurende die grootste deel van die Spaanse Burgeroorlog (1936-39) beleër, en party van die koeëlmerke van daardie konflik kan nog op die gedenkboog gesien word wat as die Puerta de Alcalá bekend staan. Nietemin wou Madrid se stigters uit die staanspoor hê dat dit ’n beskaafde dorp moes wees waar mense oor die weg kon kom.

Madrid se grondwet, wat uit 1202 dateer, het burgers onder meer verbied om aan tweegevegte deel te neem, wapens te dra, te vloek of ander te beledig. Daar is ook van hulle verwag om die dorp skoon te hou, nie hulle medeburgers te bedrieg nie en die koste van troues binne perke te hou. In ooreenstemming met hierdie wense is Madrid vandag ’n skoon stad—hoewel huweliksfeeste ietwat duur geword het! Besoekers wat ’n bekostigbare maaltyd wil geniet, sal dalk ’n paar tipiese tapas wil probeer, smaaklike peuselhappies wat saam met koeldrank in baie eetplekke bedien word.

In onlangse jare het Madrid aansienlik uitgebrei. Dit het nou ’n doeltreffende vervoerstelsel en die nodige infrastruktuur om na die miljoene toeriste om te sien wat elke jaar die stad besoek. Duisende Getuies van Jehovah uit Spanje en ander lande sal die stad in Julie en Augustus besoek. Die Getuies beplan om ’n internasionale byeenkoms in een van Madrid se groot sokkerstadions te hou. Baie van dié wat dit bywoon, sal dus die geleentheid hê om self die hoofstad te sien wat vir ’n koning gebou is.

[Venster/Prente op bladsy 24, 25]

PALEISE GESKIK VIR ’N KONING

Die Koningspaleis. Hierdie paleis, wat heel waarskynlik die in- drukwekkendste gebou in Madrid is, staan op die terrein van ’n antieke Moorse vesting waarom Madrid eers gebou is. Dit word vir belangrike regeringsfunksies gebruik, hoewel dit sedert 1931 nie meer as koninklike woning gebruik word nie. Netjies uitgelêde tuine strek van die paleis tot by die rivier.

Aranjuez-paleis. Aranjuez lê sowat 50 kilometer suid van die hoofstad langs die Tagusrivier. Filips II, wat met die bouwerk aan die paleis begin het, was baie lief vir hierdie plek weens die vrugbare omgewing en gematigder klimaat. Die paleis en sy aantreklike tuine is in die 18de eeu deur Karel III voltooi.

El Escorial. Filips II het hierdie ontsaglike klooster, biblioteek, praalgraf en paleiskompleks begin bou kort nadat hy Madrid sy hoofstad gemaak het. Dit het meer as 20 jaar geneem om te voltooi en het die middelpunt van Filips se ryk geword; ’n eenvoudige paleis waar hy onversteurd kon werk. Dit is waar een van Spanje se belangrikste manuskripversamelings bewaar word, onder andere sommige Spaanse vertalings van die Bybel uit die Middeleeue.

El Pardo-paleis. Hierdie ko- ninklike jaghuis is binne die streekspark geleë wat aan Madrid grens. Filips II se vader het die oorspronklike gebou opgerig, en die binnehof kan tot daardie tydperk teruggevoer word.

In La Granja de San Ilde- fonso, 80 kilometer noord, is daar ’n selfs pragtiger paleis. Filips V het dit in die styl van die Versailles-paleis gebou waar hy sy kinderjare deurgebring het. Die spogtuine en fonteine vorm ’n kontras met die uitgestrekte dennewoude wat die omliggende berge bedek.

[Erkenning]

Foto: Cortesía del Patrimonio Nacional, Madrid, España

[Venster/Prente op bladsy 26]

PARTY VAN MADRID SE BEROEMDE MONUMENTE

Plaza Mayor (1). Hierdie plein het meer as drie eeue lank gedien as ’n mark en as die plek waar openbare geleenthede soos stiergevegte, kronings en die teregstelling van sogenaamde ketters meestal gehou is. ’n Skildery in die Prado-museum (2) beeld ’n treffende toneel uit van die Plaza Mayor tydens ’n groot auto-da-fé, of publieke verhoor van ketters, wat in 1680 in Madrid gehou is.

Die stadsaal staan in die Plaza de la Villa, die kleurryke ou plein waar die eerste amptelike stadsvergaderinge gehou is. Die plein is omring deur antieke geboue wat nog steeds die karakter van die 16de-eeuse Madrid vasvang. Nie ver daarvandaan nie kan die besoeker die Puerta del Sol sien, die stad se besigste plein en die beginpunt van alle paaie wat van Madrid na die provinsies uitsprei. Hierdie landmerke kom in die oudste deel van die stad voor.

Namate Madrid uitgebrei het, het konings van die Bourbonse vorstehuis—veral Karel III—ander monumente gebou of die oprigting daarvan ondersteun, wat dikwels die boustyle van hulle vaderland, Frankryk, nageboots het. Party voorbeelde is die Koningspaleis, die Nasionale Biblioteek (3), die Munisipale Museum (4), die Fontein van Cybele (5), die Fontein van Neptunus en die Puerta de Alcalá (6).

[Erkennings]

Prent 2: MUSEO NACIONAL DEL PRADO; prente 5 en 6: Godo-Foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel