Gee kinders wat hulle nodig het
DIT is duidelik dat jong kinders baie aandag nodig het, en klaarblyklik kry baie nie wat hulle nodig het nie. Dit kan gesien word in die toestand waarin vandag se jongmense hulle bevind. “Ons jongmense was nog nooit so afgeskeie van hulle familie nie, so beroof van praktiese ondervinding en praktiese wysheid nie”, het ’n navorser gesê wat in The Globe and Mail van Toronto, Kanada, aangehaal is.
Waar lê die fout? Kan die probleem, ten minste gedeeltelik, teruggevoer word na die feit dat mense nie besef hoe belangrik dit is om aandag aan jong kinders te gee nie? “Ons almal moet leer hoe om ouers te word”, verduidelik ’n sielkundige wat lae-inkomstevroue help om vir hulle pasgebore babas te sorg. “En ons moet besef dat ons oor en oor vergoed sal word vir die tyd wat ons nou saam met ons kinders deurbring.”
Selfs babas het gereelde onderrigting nodig. Nie net ’n paar minute hier en daar nie, maar gereeld—ja, regdeur die dag. Tyd wat van kleins af met babas deurgebring word, is onontbeerlik vir hulle gesonde ontwikkeling.
Belangrikheid van voorbereiding
As ouers hulle gewigtige verantwoordelikheid wil nakom, moet hulle vir die koms van hulle baba voorberei. Hulle kan uit ’n beginsel leer wat Jesus Christus beklemtoon het in verband met die belangrikheid van beplanning. Hy het gesê: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken [nie]” (Lukas 14:28). Om kinders groot te maak—wat dikwels ’n 20 jaar lange projek genoem word—is baie ingewikkelder as om ’n toring te bou. ’n Mens het dus as ’t ware ’n plan nodig om ’n kind suksesvol groot te maak.
Eerstens is dit belangrik om verstandelik en geestelik voorbereid te wees om die verantwoordelikhede van ouerskap te aanvaar. Volgens ’n studie van 2 000 swanger vroue in Duitsland was die kinders van moeders wat daarna uitgesien het om ’n gesin te hê, emosioneel en fisies baie gelukkiger as die kinders van moeders wat nie hulle babas wou hê nie. Aan die ander kant het een navorser bereken dat die moontlikheid 237 persent groter is dat ’n vrou wat in ’n stormagtige huwelik vasgevang is, ’n baba met emosionele of fisiese skade sal hê as ’n vrou in ’n hegte verhouding.
Dit is dus duidelik dat vaders ’n belangrike rol speel in die suksesvolle ontwikkeling van ’n kind. Dr. Thomas Verny merk op: “Min dinge is emosioneel en fisies gevaarliker vir ’n kind as ’n vader wat sy swanger vrou mishandel of verwaarloos.” Trouens, daar is al dikwels gesê dat ’n kind nie ’n beter geskenk kan ontvang as ’n vader wat sy moeder liefhet nie.
Hormone wat met angs en spanning geassosieer word en in die moeder se bloedstroom vrygestel word, kan die fetus aantas. Maar blykbaar is dit net gevaarlik wanneer die moeder intense of langdurige angs ervaar en nie wanneer sy nou en dan negatiewe emosies of spanningsvolle situasies ondervind nie. Wat die meeste saak maak, is blykbaar hoe die swanger moeder oor die ongebore baba voel.a
Maar sê nou jy is swanger en jou man gee jou nie sy ondersteuning nie, of sê nou jy het ’n teësin in die gedagte om ’n moeder te word? Dit is nie ongewoon dat omstandighede ’n vrou terneergedruk oor haar swangerskap kan laat voel nie. Maar jy moet altyd onthou dat dit nie jou kind se skuld is nie. Hoe kan jy dus kalm bly ondanks moeilike omstandighede?
Miljoene het al baat gevind by die wyse riglyne in God se Woord, die Bybel. Dit sê: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” As jy op hierdie woorde ag slaan, sal jy verbaas wees hoe dit jou kan help om die volgende raad te volg: “Moet julle oor niks kwel nie” (Filippense 4:6, 7). Jy sal die liefdevolle ondersteuning ondervind van die Skepper, wat vir jou kan sorg.—1 Petrus 5:7.
Nie ongewone gevoelens nie
In die eerste paar weke ná die bevalling, ondervind sommige jong moeders ’n onverklaarbare droefheid en tamheid. Selfs vroue wat bly was om ’n baba te hê, kan buierig raak. Sulke luimwisselinge is nie ongewoon nie. Dit is omdat daar ná die bevalling drastiese veranderinge in vroue se hormoonvlakke kan plaasvind. Dit is ook iets algemeens vir ’n nuwe moeder om oorweldig te voel deur die eise van moederskap—sy moet die baba, wat geen benul van tyd het nie, voer, sy doeke omruil en vir hom sorg.
Een moeder het gevoel dat haar baba huil net om haar te irriteer. ’n Mens kan dus verstaan waarom ’n spesialis op die gebied van kinderopvoeding in Japan gesê het: “Niemand spring die spanning vry wat die grootmaak van kinders meebring nie.” Volgens hierdie spesialis “is dit uiters noodsaaklik dat ’n moeder haar nooit afsonder nie”.
Al voel ’n moeder soms terneergedruk, kan sy voorkom dat haar kind deur haar luimwisselinge geraak word. Die tydskrif Time berig: “Terneergedrukte moeders wat dit reggekry het om hulle swaarmoedigheid af te skud en hulle babas nou baie aandag gee en met hulle speel, het kinders wie se breinaktiwiteit hulle baie vroliker maak.”b
Hoe ’n vader kan help
Die baba se vader is dikwels in die beste posisie om die nodige hulp en ondersteuning te voorsien. Wanneer die baba in die middel van die nag huil, kan die vader dikwels na die baba omsien sodat sy vrou kan slaap. Die Bybel sê: “Mans moet hulle vrou altyd met bedagsaamheid behandel terwyl hulle saam met hulle lewe.”—1 Petrus 3:7, The Jerusalem Bible.
Jesus Christus het mans die volmaakte voorbeeld gegee om te volg. Hy het selfs sy lewe vir sy volgelinge neergelê (Efesiërs 5:28-30; 1 Petrus 2:21-24). Mans wat hulle eie gerief opoffer om met die grootmaak van die kind te help, volg Christus dus na. Ja, die grootmaak van kinders is ’n gesamentlike onderneming, ’n spanpoging waaraan albei ouers moet deelneem.
’n Spanpoging
“As man en vrou het ons in detail bespreek hoe ons ons dogter moet grootmaak”, sê Joitsjiro, die vader van ’n tweejarige dogtertjie. “Wanneer daar ook al ’n probleem opduik, bespreek ons wat ons moet doen.” Joitsjiro besef dat sy vrou rus nodig het, en hy neem dikwels sy dogter saam met hom wanneer hy iewers heen moet gaan.
In vroeër jare, toe families oor die algemeen groot en baie geheg aan mekaar was, het ouer kinders en ander familielede ouers met die versorging van die kinders gehelp. Dit is dus nie verbasend nie dat ’n werker by die Ondersteunsentrum vir Kinderopvoeding in Kawasaki, Japan, gesê het: “In die meeste gevalle sal moeders verlig wees wanneer hulle met ander oor die saak praat. Met net ’n bietjie hulp kon baie moeders al hindernisse te bowe kom.”
Die tydskrif Parents sê dat ouers “’n netwerk van mense nodig het met wie hulle oor hulle bekommernisse kan praat”. Waar kan so ’n netwerk gevind word? Nuwe moeders en vaders kan baie daarby baat vind as hulle ’n oop gemoed het en na hulle eie ouers of skoonouers luister. Grootouers moet natuurlik besef dat die jong egpaar die finale besluite moet neem.c
Nog ’n bron van ondersteuning waarop jong ouers dikwels kan staat maak, is medeaanbidders. In die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies sal jy dalk mense vind met jare se ondervinding in die grootmaak van kinders wat bereid is om na jou probleme te luister. Hulle kan jou nuttige wenke gee. Jy kan dikwels die hulp inroep van “die bejaarde vroue”—soos die Bybel diegene met groter ondervinding in die Christelike lewenswyse noem—wat bereid is om jonger vroue by te staan.—Titus 2:3-5.
Ouers moet weliswaar selektief wees wanneer hulle na die opinies van ander luister. “Mense om ons het skielik spesialiste in kinderopvoeding geword”, sê Joitsjiro. Sy vrou, Takako, erken: “Aanvanklik het die wenke wat ander my gegee het, my ontstel, want ek het gevoel dat hulle my gebrek aan ondervinding as ’n ouer kritiseer.” Maar deur by ander te leer, is baie egpare al gehelp om ’n gebalanseerde beskouing te hê van wat hulle moet doen om in hulle kinders se behoeftes te voorsien.
Die beste beskikbare hulp
Al lyk dit nie of daar enigiemand is wat jou kan help nie, is daar een betroubare bron van krag. Dit is Jehovah God, die een wat ons geskep het, die een wie se oë ‘selfs die embrio’ kan sien van dié wat op die aarde gebore word (Psalm 139:16). Jehovah het eenkeer vir sy eertydse volk gesê, soos opgeteken in sy Woord, die Bybel: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie? Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie.”—Jesaja 49:15; Psalm 27:10.
Nee, Jehovah vergeet nie van ouers nie. In die Bybel het hy hulle uitstekende riglyne gegee om kinders groot te maak. Sowat 3 500 jaar gelede het God se profeet Moses byvoorbeeld geskryf: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag.” Toe het Moses gesê: “Hierdie woorde [insluitende die vermaning om Jehovah lief te hê en te dien] wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”—Deuteronomium 6:5-7.
Wat dink jy is die punt van hierdie opdrag in God se Woord? Is dit nie dat die onderrigting van jou kinders ’n gereelde, voortgesette proses moet wees waaraan elke dag aandag gegee moet word nie? Dit is in werklikheid nie genoeg om net van tyd tot tyd sogenoemde kwaliteitstyd opsy te sit om saam met jou kinders deur te bring nie. Aangesien belangrike oomblikke van kommunikasie dikwels spontaan is, moet jy gereeld tyd met jou kinders deurbring. As jy dit doen, sal jy die Bybel se opdrag kan nakom: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom.”—Spreuke 22:6.
Die behoorlike opvoeding van klein kindertjies sluit in dat ’n mens hardop vir hulle lees. Die Bybel sê vir ons dat die eerste-eeuse dissipel Timoteus ‘die heilige geskrifte van kleintyd af geken het’. Blykbaar het sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder, Lois, dus hardop vir hom gelees toe hy nog ’n baba was (2 Timoteus 1:5; 3:14, 15). Dit is goed om daarmee te begin sodra jy met jou baba begin praat. Maar wat kan jy lees, en wat is die beste manier om selfs ’n baba te leer?
Laat jou kind hoor hoe jy die Bybel lees. Dit is klaarblyklik wat aan Timoteus gelees is. Daar is ook boeke wat kinders die Bybel met behulp van kleurvolle prente leer. Dit help ’n kind om Bybellesse te visualiseer. Daar is byvoorbeeld My boek met Bybelverhale en Die grootste mens wat nog geleef het. Met behulp van hierdie boeke is Bybelleringe al in die verstande en harte van miljoene kindertjies ingeprent.
Soos die Bybel sê, is “seuns [en dogters] ’n erfdeel van Jehovah; die vrug van die moederskoot is ’n beloning” (Psalm 127:3). Jou Skepper het “’n erfdeel” aan jou toevertrou, ’n lieflike baba, ’n potensiële bron van vreugde wat jou trots kan maak. Dit is inderdaad ’n lonende loopbaan om kinders groot te maak, veral om lowers van hulle Skepper te wees!
[Voetnote]
a Dit is nie net streshormone wat ’n nadelige uitwerking op die fetus het nie, maar ook nikotien, alkohol en ander dwelmmiddels. Swanger moeders behoort enige gevaarlike middel te vermy. Verder is dit belangrik om ’n dokter te raadpleeg in verband met die uitwerking van medikasie op die fetus.
b As die moeder diep bedroef en hopeloos voel sowel as gevoelens van afsydigheid teenoor die baba en die wêreld ervaar, ly sy dalk aan nageboortelike depressie. In daardie geval behoort sy haar verloskundige te raadpleeg. Sien die Ontwaak! van 22 Julie 2002, bladsye 19-23 en 8 Junie 2003, bladsye 21-3.
c Lees asseblief die artikel “Grootouers—die vreugdes en uitdagings” in die Ontwaak! van 22 Maart 1999.
[Prent op bladsy 8]
’n Moeder se gevoelens oor haar ongebore baba is baie belangrik
[Prent op bladsy 9]
Hoewel ’n nuwe moeder luimwisselinge ná die bevalling kan ondervind, kan sy baie doen om haar baba geliefd en veilig te laat voel
[Prent op bladsy 10]
Vaders het ’n verantwoordelikheid om met die versorging van die kind te help
[Prent op bladsy 10]
Begin van kleintyd af vir jou baba lees