Wat babas nodig het en wil hê
VAN die oomblik van sy geboorte af het die pasgebore baba tere sorg nodig, en dit sluit liefkosing en vel-teen-vel-kontak in. Party geneeshere glo dat die eerste 12 uur ná geboorte uiters belangrik is. Wat die moeder en kind volgens hulle onmiddellik ná die bevalling nodig het en die meeste wil hê, is “nie slaap of kos nie, maar om geliefkoos en vertroetel te word en om na mekaar te kyk en te luister”.a
Ouers omhels, liefkoos, streel en vertroetel hulle baba instinktief. Op sy beurt raak die baba baie geheg aan sy ouers en hy reageer op hulle aandag. Hierdie band is so sterk dat ouers onverpoos opofferings sal maak om vir die kleintjie te sorg.
Aan die ander kant sal ’n kleintjie dalk letterlik wegkwyn en sterf as daar nie ’n liefdevolle ouerlike band is nie. Daarom is dit volgens party dokters belangrik dat ’n baba onmiddellik ná die bevalling aan sy moeder gegee moet word. Hulle stel voor dat daar ten minste 30 tot 60 minute van vroeë kontak tussen die moeder en baba moet wees.
Ondanks die klem wat sommige op die bandvormingsproses plaas, kan vroeë kontak in party hospitale moeilik of selfs onmoontlik wees. Pasgebore babas word dikwels van die moeder geskei weens die gevaar dat ’n infeksie aan die kind oorgedra kan word. Maar daar is getuienis wat aantoon dat die aantal noodlottige infeksies in werklikheid kan verminder wanneer pasgebore babas by hulle moeder bly. Al hoe meer hospitale laat dus vroeë kontak tussen die moeder en die pasgebore baba toe.
Besorgdheid oor die bandvormingsproses
Sommige moeders raak nie emosioneel geheg aan hulle baba wanneer hulle hom vir die eerste keer sien nie. Hulle wonder dus: ‘Gaan ek dit moeilik vind om ’n band met my baba te vorm?’ Nie alle moeders raak weliswaar met die eerste oogopslag lief vir hulle baba nie. Maar daar is geen rede om bekommerd te wees nie.
Selfs as moederlike liefde vir die baba nie van die begin af bestaan nie, kan dit later ten volle ontwikkel. “Daar is geen enkele bevallingsituasie wat jou verhouding met jou kind maak of breek nie”, sê ’n ervare moeder. Maar as jy swanger is en bekommerd voel, sal dit dalk verstandig wees om vooraf met jou verloskundige te praat. Sê duidelik wanneer en hoe lank jy jou pasgebore baba by jou wil hê.
“Praat met my!”
Daar is blykbaar sekere vensterperiodes waartydens babas baie sensitief is vir spesifieke stimuli. Hierdie vensters gaan ná ’n ruk toe. Die kleintjie se verstand bemeester byvoorbeeld ’n taal, of selfs meer as een taal, met gemak. Maar dit lyk of die ontvanklikste tyd om ’n taal aan te leer teen ongeveer vyfjarige ouderdom begin eindig.
Ná ’n kind die ouderdom van 12 tot 14 jaar bereik het, kan dit ’n groot uitdaging wees om ’n taal aan te leer. Volgens Peter Huttenlocher, ’n kinderneuroloog, is dit wanneer “die aantal sinapse en die digtheid daarvan in die taalsenters van die brein afneem”. Dit is duidelik dat die eerste paar jaar van ’n kind se lewe ’n kritieke tyd is om sy taalvermoë te ontwikkel!
Hoe bemeester jong kinders die ingewikkelde taak om te leer hoe om te praat, iets wat so belangrik is vir hulle verdere kognitiewe ontwikkeling? Hoofsaaklik deur mondelinge interaksie met hulle ouers. Jong kinders reageer veral op menslike stimuli. “’n Baba . . . boots sy ma se stem na”, sê Barry Arons van Massachusetts se Instituut vir Tegnologie. Maar dit is interessant dat babas nie alle klanke naboots nie. Soos Arons opmerk, “boots die baba nie die kraakgeluide van sy wiegie na wat hy ook hoor terwyl sy ma met hom praat nie”.
Ouers van uiteenlopende kulturele agtergronde praat met hulle babas op dieselfde ritmiese manier, wat party “ouertaal” noem. Terwyl die ouer liefdevol met die baba praat, neem sy hartklop toe. Dit help hom blykbaar om die assosiasie tussen woorde en die voorwerpe waarna hulle verwys, vinniger te maak. Sonder om ’n woord te uiter, sê die baba in werklikheid: “Praat met my!”
“Kyk na my!”
Daar is vasgestel dat ’n baba gedurende die eerste jaar of wat emosioneel geheg raak aan ’n volwasse versorger, wat gewoonlik sy moeder is. Wanneer hierdie sterk band gevorm het, is die baba meer op sy gemak met ander mense as babas wat nie die geborgenheid van die ouerlike band geniet nie. Hierdie band met sy moeder moet blykbaar reeds gevorm wees teen die tyd dat die kind drie is.
Wat kan gebeur as ’n jong kind verwaarloos word gedurende hierdie kritieke tyd wanneer sy verstand uiters ontvanklik vir eksterne invloede is? Martha Farrell Erickson, wat 267 moeders en hulle kinders oor ’n tydperk van meer as 20 jaar bestudeer het, het hierdie opinie uitgespreek: “Verwaarlosing takel die kind se gees stadig maar seker af totdat [die kind] feitlik geen begeerte meer het om verhoudings met ander aan te knoop of die wêreld te verken nie.”
Dr. Bruce Perry van Texas se Kinderhospitaal het sy beskouing van die ernstige gevolge van emosionele verwaarlosing so probeer toelig: “As jy my sou vra om ’n ses maande oue baba te neem en elke been in sy liggaam te breek of hom twee maande lank emosioneel te ignoreer, sou ek sê dat die baba beter daaraan toe sou wees as jy elke been in sy liggaam breek.” Waarom? Volgens Perry “kan bene weer gesond word, maar as ’n baba twee maande lank van onontbeerlike breinstimulasie ontsê word, sal hy altyd ’n ongeorganiseerde verstand hê”. Nie almal stem saam dat sulke skade onherstelbaar is nie. Nogtans toon wetenskaplike studies dat ’n emosioneel verrykende milieu noodsaaklik vir die jong kind se verstand is.
“Kortom”, sê die boek Infants, “[babas] wil liefde gee en liefde ontvang.” Wanneer ’n baba huil, smeek hy dikwels sy ouers: “Kyk na my!” Dit is belangrik dat ouers liefdevol hierop reageer. Deur middel van hierdie interaksie leer die baba dat hy sy behoeftes aan ander bekend kan maak. Hy leer hoe om sosiale verhoudings met ander op te bou.
‘Sal ek nie die baba bederf nie?’
‘Sal ek nie die baba bederf as ek hom elke keer wanneer hy huil aandag gee nie?’ vra jy dalk. Moontlik. Daar is uiteenlopende beskouings hieroor. Aangesien elke kind uniek is, moet ouers gewoonlik bepaal watter benadering die beste werk. Maar onlangse navorsing toon dat die pasgebore baba se stresresponsstelsel streshormone vrystel wanneer hy honger, ongemaklik of omgekrap is. Hy huil dan om te sê dat hy ongelukkig is. Wanneer die ouer na die baba se behoeftes omsien, begin die volwassene na bewering die netwerk van selle in die baba se verstand skep wat hom help om homself te kalmeer. Wat meer is, ’n baba wat onmiddellik aandag gekry het, sê dr. Megan Gunnar, stel minder van die streshormoon kortisol vry. En selfs wanneer hy wel ontsteld word, beëindig hy die stresreaksie gouer.
“Trouens”, sê Erickson, “babas wat altyd gou aandag gekry het, veral gedurende die eerste 6-8 maande van hulle lewe, huil in werklikheid minder as babas wat toegelaat word om maar net te huil.” Dit is ook belangrik om jou reaksie af te wissel. As jy altyd op dieselfde manier reageer, soos om hom te voer of op te tel, kan hy beslis bederf word. Soms sal hy net jou stem hoef te hoor om gerusgestel te word wanneer hy huil. Wat ook goed kan werk, is om na aan die baba te kom en saggies in sy oor te praat. Of jy kan dalk sy ruggie of magie met jou hand streel.
“Dis ’n baba se werk om te huil.” So lui ’n Oosterse spreekwoord. Vir die baba is dit die vernaamste manier om te sê wat hy wil hê. Hoe sal jy voel as jy elke keer geïgnoreer word wanneer jy vir iets vra? Hoe sal jou baba, wat hulpeloos is sonder ’n versorger, dus voel as hy elke keer geïgnoreer word wanneer hy aandag soek? Maar wie moet na hom omsien wanneer hy huil?
Wie sien na die baba om?
’n Onlangse opname in die Verenigde State het aan die lig gebring dat 54 persent van kinders van geboorte tot graad drie gereeld die een of ander vorm van versorging van persone ontvang wat nie hulle ouers is nie. In baie gevalle moet albei ouers werk om kop bo water te hou. En baie moeders neem kraamverlof, indien moontlik, sodat hulle ’n paar weke of maande lank na hulle pasgebore baba kan omsien. Maar wie gaan daarna vir die baba sorg?
Daar is natuurlik geen vaste reëls waarvolgens ’n mens sulke besluite neem nie. Dit is egter goed om te onthou dat die kind nog broos is gedurende hierdie kritieke tyd van sy lewe. Albei ouers moet die saak saam ernstig oorweeg. Wanneer hulle besluit wat om te doen, moet hulle die opsies noukeurig opweeg.
“Dit word al hoe duideliker dat ons kinders nie deur selfs die beste kindersorgprogramme grootgemaak kan word as ’n plaasvervanger vir die tyd wat kinders van hulle moeder en vader nodig het nie”, sê dr. Joseph Zanga, van die Amerikaanse Akademie vir Kindergeneeskunde. Party kenners het hulle kommer uitgespreek oor die feit dat jong kinders by dagsorgfasiliteite nie genoeg kontak met die versorger het nie.
Sommige werkende moeders wat bewus is van wat hulle kind nodig het, het besluit dat hulle eerder tuis sal bly as om die emosionele versorging van hulle kinders aan ander mense oor te laat. Een vrou het gesê: “Ek ervaar ’n tevredenheid wat ek eerlikwaar nie dink enige ander werk my kan gee nie.” As gevolg van ekonomiese druk kan natuurlik nie alle moeders hierdie keuse maak nie. Baie ouers wat geen ander keuse het as om van dagsorgfasiliteite gebruik te maak nie, wend ’n spesiale poging aan om hulle kind aandag en liefde te gee wanneer hulle bymekaar is. Net so het talle werkende enkelouers ook nie baie opsies in hierdie verband nie en wend hulle prysenswaardige pogings aan in die grootmaak van hulle kinders—met uitstekende resultate.
Ouerskap kan ’n vreugdevolle, opwindende taak wees. Maar dit is ook vol uitdagings en veeleisend. Hoe kan jy suksesvol wees?
[Voetnoot]
a In hierdie reeks artikels bespreek Ontwaak! die beskouings van ’n aantal gerespekteerde kenners op die gebied van kindersorg, aangesien hierdie soort bevindinge nuttig en leersaam vir ouers kan wees. Maar daar moet erken word dat sulke beskouings dikwels met verloop van tyd verander en hersien word, anders as die Bybelse standaarde wat Ontwaak! sonder voorbehoud voorstaan.
[Venster/Prent op bladsy 6]
Stil babas
Party geneeshere in Japan sê dat daar ’n toename is in die aantal babas wat nie huil of glimlag nie. Die kinderarts Satosji Janagisawa noem hulle stil babas. Waarom hou die babas op om aan hulle emosies uiting te gee? Sommige dokters meen dat die toestand ontwikkel omdat babas kontak met hulle ouers ontsê word. Die toestand word gedwonge hulpeloosheid genoem. Een teorie gee te kenne dat babas wie se behoefte aan kommunikasie voortdurend geïgnoreer of verkeerd vertolk word, uiteindelik ophou probeer.
As ’n baba nie op die regte tyd behoorlik gestimuleer word nie, sal die deel van sy brein wat hom empatie laat voel, dalk nie ontwikkel nie, sê dr. Bruce Perry, hoof van psigiatrie by Texas se Kinderhospitaal. In gevalle van ernstige emosionele verwaarlosing kan die baba sy vermoë om empatie te voel vir altyd verloor. Dr. Perry meen dat dwelm- en alkoholmisbruik sowel as adolessensiegeweld in sommige gevalle met sulke vroeë ondervindinge verbind kan word.
[Prent op bladsy 7]
Terwyl ’n ouer en baba kommunikeer, raak die band tussen hulle al hoe sterker