Ons vernielde aarde
IN 1805 het die beroemde ontdekkingsreisigers Meriwether Lewis en William Clark die Columbia-rivier bereik in wat vandag die staat Washington, VSA, is.a Wat hulle meer verstom het as die rivier self, was die groot hoeveelheid salm wat daarin was. “Dit is amper ondenkbaar dat daar soveel van hierdie vis kan wees”, het hulle in hulle dagboek geskryf. “Omdat soveel visse met die stroom afdryf en uitspoel, hoef die Indiane dit net bymekaar te maak, oop te sny en op die stellasies te droog.” Ja, die salm was so volop dat die Indiane dit gedroog het om as vuurmaakhout te gebruik!
Vandag is die situasie heeltemal anders. “Wetenskaplikes weet al meer as ’n dekade dat vis vinniger uit die oseane geneem word as wat hulle kan voortplant”, sê ’n berig in Newsweek. Daar word byvoorbeeld geskat dat 90 persent van die wildesalmbevolking in die Noord-Atlantiese Oseaan verdwyn het.
Maar dit is nie net die visvoorraad wat uitgeput raak nie. Natuurlike hulpbronne, soos fossielbrandstowwe, minerale en produkte uit woude, word teen ’n verstommende tempo opgebruik. Die Wêreld-natuurfonds berig dat 30 persent van die aarde se natuurlike hulpbronne tussen 1970 en 1995 verlore gegaan het. Die benutting van die aarde se hulpbronne is dikwels ’n tweesnydende swaard, want die metodes wat gebruik word, kan natuurlike habitats vernietig.
Aangesien mense hierdie probleme veroorsaak het, redeneer party dat hulle dit ook kan oplos. In onlangse jare het lugbesoedeling in talle geïndustrialiseerde stede byvoorbeeld afgeneem. Beteken sulke straaltjies van hoop dat die mensdom beheer oor die situasie begin kry?
[Voetnoot]
a Lewis en Clark is gestuur om die pas gekoopte gebied wes van die Mississippi-rivier te gaan verken en te karteer.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
© Kevin Schafer/CORBIS