Brasilië se Indiane—Word hulle deur uitsterwing bedreig?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
DIE Xingu- Nasionale Park is in die Brasiliaanse staat Mato Grosso geleë. Dit beslaan sowat 27 000 vierkante kilometer—’n gebied amper so groot soos Lesotho. Die park, ’n lowergroen eiland in die middel van ’n landskap wat op satellietfoto’s soos “’n enorme snoekertafel” lyk, is die tuiste van ongeveer 3 600 Indiane wat aan 14 etniese groepe behoort. Omliggende woude is óf afgebrand om houtkappers toegang te gee tot kommersieel lewensvatbare bome óf omskep in weivelde vir groot troppe beeste.
In die 1960’s het die Brasiliaanse regering reservate vir die Indiane begin skep. Die reservate is hoofsaaklik in die Amasone-gebied geleë en beslaan tans ongeveer 12 persent van Brasilië se grondgebied. Die stigting van reservate het bygedra tot ’n verbasende ommeswaai: Brasilië se Indianebevolking is aan die toeneem—vir die eerste keer in die afgelope 500 jaar! Die bevolking word geskat op driehonderdduisend. Maar dit verteenwoordig slegs ’n klein fraksie van die Indianebevolking in 1500, wat na raming enigiets tussen twee- en sesmiljoen was.
In die afgelope 500 jaar het daar, soos een skrywer dit gestel het, “’n afgryslike demografiese tragedie van enorme omvang plaasgevind”. Wat het tot so ’n drastiese vermindering in die Indianebevolking gelei? Beteken die toename in onlangse jare dat Brasilië se Indiane uiteindelik nie meer uitsterwing hoef te vrees nie?
Hoe kolonisasie begin het
Gedurende die eerste 30 jaar nadat Portugal in 1500 Brasilië in besit geneem het, was koloniale belange toegespits op brasiliehout—’n hardehout wat ’n rooi kleurstof bevat. Brasilië is na hierdie boom vernoem. Die hout was baie gesog in Europa, en die Europeërs het dit vir ’n appel en ’n ei van die plaaslike inwoners afgekwansel.
Daar is egter kort voor lank ontdek dat suikerriet in die Brasiliaanse klimaat floreer. Maar daar was ook ’n nadeel. Die verbouing van suikerriet was arbeidsintensief. Die aanvraag na slawearbeid het begin toeneem. En die setlaars het nie nodig gehad om ver te soek nie! ’n Oorvloed plaaslike arbeid was beskikbaar.
Hoe het slawerny begin?
Die Indiane het meestal ’n soort bestaansboerdery bedryf. Die mans was hoofsaaklik jagters en vissers. Hulle het die moeilike taak gehad om bome af te kap en die grond skoon te maak. Die vroue het geplant, die oes ingesamel en kos voorberei. In Europese intellektuele kringe is die Indiane se oënskynlike gebrek aan belangstelling in rykdom en die feit dat hulle geensins gierig was nie, geprys. Aan die ander kant het baie setlaars die Indiane as bloot lui beskou.
Vriendelikgesinde Indiane is aangemoedig om naby Portugese nedersettings te gaan woon om as arbeiders te werk en die setlaars te beskerm. Die Jesuïete en ander godsdiensordes het hierdie gebruik dikwels aangemoedig. Min het hulle besef hoe nadelig hierdie kontak vir die Indiane sou wees. Hoewel die Indiane se grond en vryheid deur die wet gewaarborg is, is hulle in werklikheid feitlik gedwing om die setlaars as slawe te dien. Hulle is selde betaal of toegelaat om gewasse op hulle eie grond te verbou.
Pogings deur die Portugese monargie om slawerny te verban, was nie baie suksesvol nie. Setlaars het dit gewoonlik reggekry om die wette teen slawerny te omseil. Oor die algemeen is dit as sedelik aanvaarbaar beskou om Indiane as slawe te gebruik of te verkoop as hulle sogenaamde vyande was wat in “regverdige oorloë” gevange geneem is. Indiane wat deur ander stamme gevange gehou is, kon ook gekoop, of “vrygekoop”, word en as slawe aangehou word.
Op die ou end was dit die suikerbedryf wat die kolonie ’n lewensvatbare onderneming gemaak het. En destyds het die suikerbedryf op slawearbeid staatgemaak. Die Portugese monargie moes dus dikwels die stem van sy gewete stilmaak omdat die bedryf soveel geld vir sy skatkiste ingebring het.
Koloniale wedywering—Portugal versus Frankryk en Holland
Die Indiane was die vernaamste slagoffers van konflikte tussen die koloniale magte. Frankryk en Holland wou Brasilië by Portugal afneem. Hulle het meegeding met die Portugese om die Indiane se ondersteuning te wen. Die Indiane het nie besef dat die buitelandse moondhede eintlik hulle land wou oorneem nie. Hulle het eerder hierdie konflikte beskou as ’n geleentheid om wraak te neem op hulle eie vyande—ander Indianestamme—en het dus uit eie wil verwikkel geraak in die konflikte tussen die buitelandse moondhede.
Byvoorbeeld, op 10 November 1555 het Nicholas de Villegaignon, ’n Franse edelman, aan wal gegaan by Guanabara-baai (die hedendaagse Rio de Janeiro) en ’n fort gebou. Hy het bande gesmee met die plaaslike Tamoio-Indiane. Die Portugese het Tupinamba-Indiane van Bahia af gebring en, in Maart 1560, uiteindelik die fort aangeval, wat onverowerbaar gelyk het. Die Franse het gevlug maar het aangehou om handel te dryf met die Tamoio en hulle aan te hits om die Portugese aan te val. Ná etlike veldslae is die Tamoio uiteindelik verslaan. Volgens berig het 10 000 in een veldslag omgekom, en 20 000 is tot slawe gemaak.
Verskriklike siektes uit Europa
Die boorlinge wat eerste met die Portugese in aanraking gekom het, het merkwaardig gesond gelyk. Vroeë ontdekkingsreisigers het gemeen dat baie van die ouer Indiane honderd jaar of ouer was. Maar die Indiane het geen immuniteit teen Europese en Afrika-siektes gehad nie. Dit is waarskynlik hierdie faktor meer as enigiets anders wat hulle tot op die randjie van uitsterwing gedryf het.
Portugese rekords is vol vreeslike verslae van epidemies wat die Indianebevolking drasties uitgedun het. In 1561 het ’n pokkeplaag Portugal getref en oor die Atlantiese Oseaan versprei. Dit het ’n verwoestende uitwerking gehad. Die Jesuïet Leonardo do Vale het op 12 Mei 1563 ’n brief geskryf wat die afgryse van die epidemie in Brasilië beskryf het: “Dit was ’n vorm van pokke wat so afskuwelik was en so walglik geruik het dat niemand die geweldige stank van [die slagoffers] kon verdra nie. Baie het dus gesterf sonder dat enigiemand hulle versorg het, terwyl hulle verteer is deur groot wurms wat in die wonde van die pokke uitgebroei het en wat in sulke groot getalle in hulle liggame voorgekom het, dat dit enigiemand wat dit gesien het, met afgryse en skok vervul het.”
Veelrassige verbintenisse skok Jesuïete
Verbintenisse tussen rasse het ook tot die verdwyning van talle stamme gelei. “Nóg die Portugese nóg die inheemse Brasiliane het veelrassige verbintenisse afstootlik gevind”, sê die boek Red Gold—The Conquest of the Brazilian Indians. Die Indiane het dit as ’n teken van gasvryheid beskou om vroue, dikwels hulle eie dogters, aan vreemdelinge aan te bied. Toe die eerste Jesuïete in 1549 in Brasilië aangekom het, was hulle ontstig deur wat hulle gesien het. “Hulle [die geestelikes] sê openlik vir die mans dat dit geoorloof is om met Indianevroue saam te lewe”, het die Jesuïet Manoel da Nóbrega gekla, en bygevoeg: “Die setlaars gebruik al hulle Indianevroue [slawe] as byvroue.” Die koning van Portugal is ingelig dat een Portugese setlaar ‘soveel kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en afstammelinge gehad het dat ek [in die spreker se woorde] dit nie sal waag om vir U Majesteit te sê hoeveel nie’.
Teen die middel van die 17de eeu is die Indiane van die voorheen digbevolkte kusvlaktes van Brasilië uitgeroei of tot slawe gemaak of weens veelrassige verbintenisse geassimileer. Dieselfde sou kort daarna gesê kon word van die stamme van die Amasone-gebied.
Die aankoms van die Portugese in die Amasone is gevolg deur ’n amper onbeteuelde “oop seisoen” op die inwoners van die Benede-Amasone. Volgens die vikaris-generaal van Maranhão, Manoel Teixeira, het die Portugese in ’n kwessie van ’n paar dekades byna tweemiljoen Indiane in Maranhão en Pará doodgemaak! Hierdie syfer is waarskynlik oordryf, maar die vernietiging en lyding was beslis ’n werklikheid. Die Bo-Amasone het later onder soortgelyke verwoesting deurgeloop. Teen die middel van die 18de eeu het die Amasone-gebied, met die uitsondering van die afgeleë gebiede, amper sy hele inheemse Indianebevolking verloor.
Gedurende die laat 19de en die 20ste eeu het die ontwikkeling van baie van die afgeleë gebiede in die Amasone Europeërs geleidelik in aanraking gebring met afgesonderde Indianestamme wat nog bestaan het. Charles Goodyear se ontdekking in 1839 van die vulkaniseringsproses van rubber en die daaropvolgende uitvinding van rubberbande het tot ’n “rubberstormloop” gelei. Handelaars het gestroom na die Amasone-gebied, wat die enigste verskaffer van ru-rubber was. Die tydperk is gekenmerk deur die gewelddadige uitbuiting van die inheemse bevolking, wat tot ’n verdere drastiese afname in hulle getalle gelei het.
Hoe het die 20ste eeu Indiane geraak?
In 1970 het die Brasiliaanse regering op ’n integrasieplan besluit wat behels het dat hoofweë gebou moes word om afgeleë dele van die Amasone te verbind. Baie hiervan het deur die Indianegebiede geloop en het die Indiane nie net aan die aanvalle van prospekteerders blootgestel nie, maar ook aan dodelike siektes.
Neem byvoorbeeld wat met die Panarás-volk gebeur het. Hierdie stam is gedurende die 18de en 19de eeu deur oorlog en slawerny uitgedun. ’n Klein oorblyfsel het in ’n noordwestelike rigting gevlug, tot diep in die woud in die noorde van Mato Grosso. Toe is die Cuiabá-Santarém-hoofweg regdeur hulle gebied gebou.
Kontak met Europeërs was vir baie van hulle dodelik. In 1975 het slegs 80 lede van die voorheen talryke stam oorgebly. Die Panarás is in die Xingu- Nasionale Park hervestig. Hulle het sonder sukses probeer om ’n omgewing in die park te vind wat soortgelyk was aan die woud waar hulle voorheen gewoon het. Toe het die Panarás besluit om na hulle tuisgebied terug te keer. Op 1 November 1996 het die Brasiliaanse Minister van Justisie ’n gebied van 495 000 hektaar tot ’n “permanente inheemse eiendom” verklaar. Dit lyk asof die Panarás van uitsterwing gered is.
Sal hulle toekoms enigsins beter wees?
Kan reservate die oorblywende Indianestamme van uitsterwing red? Tans lyk dit of Brasilië se Indiane nie sal uitsterf nie. Maar waardevolle natuurlike hulpbronne word dikwels aangetref in die gebiede waar hulle woon. Daar word gereken dat minerale ter waarde van ongeveer sewebiljoen rand—insluitende goud, platinum, diamante, yster en lood—voorkom in die Brasiliaanse Amasonië, wat nege state in die noordelike en sentraal-westelike dele van Brasilië insluit. Ongeveer 98 persent van Indianegebiede is in hierdie omgewing geleë. Onwettige prospekteerdery is reeds ’n werklikheid in party Indianegebiede.
Die geskiedenis toon dat die Indiane altyd aan die kortste ent getrek het wanneer hulle met Europeërs te doen gekry het. Hulle het goud vir spieëls en brasiliehout vir kleinighede verruil, en hulle moes na afgeleë plekke van die woude vlug om slawerny vry te spring. Sal die geskiedenis hom herhaal?
Baie Indiane het geleer om die hulpmiddels van ons tegnologiese era te gebruik—vliegtuie, motorbote en selfone. Maar slegs die tyd sal leer of hulle opgewasse sal wees teen die ander uitdagings van die 21ste eeu.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
■ Xingu-Nasionale Park
□ Indianereservate
BRASILIË
BRASÍLIA
Rio de Janeiro
FRANS-GUIANA
SURINAME
GUYANA
VENEZUELA
COLOMBIA
ECUADOR
PERU
BOLIVIA
PARAGUAY
URUGUAY
[Prent op bladsy 15]
Handelaars het die Indianebevolking as slawearbeiders op hulle rubberplantasies gebruik
[Erkenning]
© Jacques Jangoux/Peter Arnold, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Lyntekening en ontwerp: From the book Brazil and the Brazilians, 1857