Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/8 bl. 10-11
  • Die aarde kan gered word!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die aarde kan gered word!
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op ’n dwaalspoor
  • Die pad na herstel
  • Ons brose planeet—Wat van die toekoms?
    Ontwaak!—1996
  • Waarom moet ons vir die omgewing sorg?
    Ontwaak!—2007
  • Wie sal die aarde red?
    Nog onderwerpe
  • Die nuwe wêreld wat naby is!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/8 bl. 10-11

Die aarde kan gered word!

DIE voorafgaande artikels het dit duidelik gemaak dat die mens nie kan voortgaan om die aarde se hulpbronne teen die huidige tempo te gebruik nie. Ja, wêreldleiers het lofwaardige pogings aangewend om besoedeling, ontbossing en ander omgewingsprobleme in toom te hou. Sedert die VN-konferensie oor die Mens se Omgewing in 1972, wat gevolg is deur ander gereelde konferensies, het tot 163 lande saamgekom om planne van aksie te ondersteun. Maar wat was die gevolg? “Ongelukkig het al hierdie verdrae, planne van aksie en ander instrumente nie ’n ommekeer meegebring in die wêreldwye omgewingsverval nie”, sê David Hunter, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Internasionale Omgewingswetgewing. Trouens, voeg Hunter by, “vandag dui feitlik elke belangrike omgewingsaanwyser aan dat daar agteruitgang was sedert die VN-konferensie in 1992”.

Waarom was daar so min vooruitgang hoewel mense al meer as 30 jaar met omgewingsake worstel? Een rede is die behoefte aan ekonomiese groei. Die nasies se ekonomieë word deur verbruikersbesteding aangedryf. Dit vereis dat besighede dinge vervaardig, en daarvoor is grondstowwe nodig. Dit is ’n bose kringloop waarin die omgewing aan die verloorkant is. Wat is dan die oplossing?

Op ’n dwaalspoor

Die Bybel verduidelik waarom die mens se pogings om oor homself te heers so ’n volslae mislukking is. Die profeet Jeremia het gesê: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Hoe waar is hierdie woorde tog!

Het jy al ooit ’n tuin of ’n park besoek? Hoe waardeer ons tog die pragtige bome, struike en blomme! Maar ’n mooi tuin ontstaan nie sommer vanself nie. Ervare tuiniers bestee baie ure daaraan om bome te snoei, grasperke te sny en blombeddings in stand te hou sodat dit goed lyk. Dink net hoe ons aardse tuiste sou lyk as die hele wêreld dieselfde liefdevolle sorg as ’n tuin gekry het.

In werklikheid is ons Skepper se voorneme dat ons planeet daardie soort sorg kry. Volgens die skeppingsverslag in God se geïnspireerde Woord ‘het Jehovah God die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en daarvoor te sorg’ (Genesis 2:15). Daarbenewens het die mensegesin die opdrag gekry om nie net vir Eden te sorg nie, maar om daardie oorspronklike Paradys uit te brei totdat dit oor die hele aarde gestrek het.—Genesis 1:28.

Ongelukkig het Adam en Eva weens hulle ongehoorsaamheid onvolmaak geword en die geleentheid verbeur om vir die Paradys te sorg en die grense daarvan uit te brei (Genesis 3:1-6, 23). As nakomelinge van daardie eerste mensepaar het ons hulle sonde en onvolmaaktheid geërf (Romeine 5:12). Wanbestuur van die aarde se natuurlike hulpbronne is net een voorbeeld van die mens se dwase pogings om oor homself te heers. Dit is duidelik dat die mensdom nie in staat is om sy eie probleme op te los nie. Hulp van buite is nodig.

Die pad na herstel

Terwyl Jesus op aarde was, het hy sy dissipels leer bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Die Bybel leer dat die aarde onder God se hemelse Koninkryk tot ’n paradystoestand herstel sal word (Psalm 37:10, 11). Gedurende daardie tyd sal bome en plante hulle volle opbrengs in ’n skoon omgewing lewer (Psalm 72:16). Onder God se leiding sal die aarde ook van besoedeling gereinig word, en die mensdom sal leer hoe om in algehele harmonie met die omgewing te lewe. Hoe kan ons daarvan seker wees?

Die Bybel sê dat ‘niks die aarde tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal laat wankel nie’ (Psalm 104:5). Op God se bestemde tyd sal almal wat lewe, ewige seëninge geniet, insluitende goeie gesondheid, ’n oorvloed voedsel en goeie behuising. Wil jy graag meer omtrent God se voornemens leer? Praat met enigeen van Jehovah se Getuies. Hulle sal jou graag help om uit die Bybel te sien hoe die aarde gered kan—en sal—word!

[Prente op bladsy 10]

Onder God se leiding sal die mensdom in harmonie met die omgewing lewe

[Erkenning]

Meisie en boer: © Jeremy Horner/ Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel