Die Bybel se beskouing
Waarom moet ons vir die omgewing sorg?
MENSEBEDRYWIGHEDE skaad ons planeet dalk nou meer as ooit tevore in die geskiedenis. Namate die bedreiging van probleme soos aardverwarming al hoe ernstiger word, probeer wetenskaplikes, regerings en industriële groepe al hoe harder om iets daaromtrent te doen.
Het ons as individue ’n verantwoordelikheid om vir die omgewing te help sorg? Indien wel, tot watter mate? Die Bybel voorsien goeie redes waarom ons in die belang van die aarde moet optree. Dit help ons ook om gebalanseerd te wees in ons pogings.
Optrede wat ooreenstem met ons Skepper se voorneme
Jehovah God het die aarde as ’n tuinagtige tuiste vir die mensdom geskep. Hy het verklaar dat al sy werk “baie goed” was en het die mens die toewysing gegee om die aarde “te bewerk en daarvoor te sorg” (Genesis 1:28, 31; 2:15). Hoe voel God oor die huidige toestand van die aarde? Dit is duidelik dat hy diep gegrief is oor die mens se wanbestuur, want Openbaring 11:18 voorspel dat hy “die verderwers van die aarde [sal] verderf”. Ons moet dus nie onverskillig staan teenoor die benarde toestand van die aarde nie.
Die Bybel verseker ons dat elke bietjie skade wat die mens aangerig het, ongedaan gemaak sal word wanneer God ‘alles nuut maak’ (Openbaring 21:5). Maar die feit dat God die aarde eendag gaan herstel, moet ons nie tot die gevolgtrekking laat kom dat wat ons nou doen, nie saak maak nie. Dit maak saak! Hoe kan ons toon dat ons God se beskouing van ons planeet het en dat ons optree in ooreenstemming met sy wil dat dit ’n paradys moet wees?
Ons bydrae tot ’n skoon aarde
Normale mensebedrywighede het ’n sekere hoeveelheid afvalstowwe tot gevolg. Jehovah het in sy wysheid die aarde se natuurlike siklusse ontwerp om hierdie afvalstowwe af te breek en die lug, die water en die grond te suiwer (Spreuke 3:19). Ons moet in ooreenstemming met hierdie prosesse optree. Daarom moet ons seker maak dat ons nie onnodig bydra tot die aarde se omgewingsprobleme nie. Dit sal toon dat ons ons naaste liefhet soos onsself (Markus 12:31). Kyk na ’n interessante voorbeeld uit Bybeltye.
God het die nasie Israel beveel om menslike uitwerpsel “buite die kamp” te begrawe (Deuteronomium 23:12, 13). Dit het higiëniese toestande in die kamp verseker en die ontbindingsproses aangehelp. Vandag probeer ware Christene eweneens om vinnig en deeglik van rommel en ander afvalprodukte ontslae te raak. Ons moet veral versigtig wees wanneer ons ontslae raak van gifstowwe.
Baie afvalprodukte kan herwin of herbenut word. As herwinning deur plaaslike wette vereis word, sal ons hierdie wette gehoorsaam en “aan die keiser [terugbetaal] wat aan die keiser behoort” (Matteus 22:21). Herwinning verg dalk ekstra moeite, maar dit toon dat jy graag op ’n skoon aarde wil woon.
Bewaring van die aarde se hulpbronne
Ons het natuurlike hulpbronne nodig om ons behoefte aan voedsel, onderdak en brandstof te bevredig en sodoende aan die lewe te bly. Hoe ons daardie hulpbronne gebruik, toon of ons besef dat dit gawes van God is. Toe die Israeliete in die wildernis vleis wou eet, het Jehovah ’n oorvloed kwartels voorsien. Gierigheid het veroorsaak dat hulle daardie gawe op selfsugtige wyse misbruik het, en dit het Jehovah God se toorn laat ontvlam (Numeri 11:31-33). God het sedertdien nie verander nie. Daarom vermy verantwoordelike Christene dit om hulpbronne te vermors, wat ’n teken van gierigheid kan wees.
Sommige beskou die onbeperkte gebruik van energie of ander hulpbronne dalk as hulle reg. Maar natuurlike hulpbronne moenie vermors word net omdat ons dit kan bekostig of omdat daar ’n oorvloed is nie. Nadat Jesus ’n wonderwerk verrig het deur ’n groot skare van kos te voorsien, het hy gesê dat die oorblywende vis en brood bymekaargemaak moet word (Johannes 6:12). Hy wou nie vermors wat sy Vader voorsien het nie.
Balans in ons pogings
Ons maak elke dag keuses wat ’n uitwerking op die omgewing het. Moet ons na uiterstes oorgaan en ons van die mensegemeenskap onttrek sodat ons enige negatiewe uitwerking op die aarde se omgewing kan vermy? Die Bybel beveel nêrens aan dat ons dit doen nie. Kyk na Jesus se voorbeeld. Terwyl hy op die aarde was, het hy ’n normale lewe gelei, wat hom in staat gestel het om sy godgegewe predikingswerk te doen (Lukas 4:43). Daarbenewens het Jesus geweier om by die politiek betrokke te raak as ’n manier om die sosiale probleme van sy dag op te los. Hy het uitdruklik gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.”—Johannes 18:36.
Dit is egter gepas dat ons dink aan die uitwerking wat ons keuses in verband met huishoudelike aankope, vervoer en ontspanning op die omgewing het. Sommige kies byvoorbeeld om produkte te koop wat vervaardig is of wat werk op maniere wat skade aan die omgewing tot ’n minimum beperk. Ander probeer om hulle deelname aan bedrywighede wat besoedeling veroorsaak of natuurlike hulpbronne onnodig verbruik, te verminder.
Daar is geen rede vir een persoon om sy besluite aangaande die omgewing op ander af te dwing nie. Persoonlike en plaaslike omstandighede verskil. Nogtans bly ons individueel verantwoordelik vir ons besluite. Soos die Bybel sê: “Elkeen sal sy eie vrag dra.”—Galasiërs 6:5.
Die Skepper het vir die mens die verantwoordelikheid gegee om na die aarde om te sien. Waardering vir hierdie toewysing en nederige eerbied vir God en sy skeppingswerke moet ons beweeg om weldeurdagte en gewetensgetroue besluite te maak oor hoe ons vir die omgewing sorg.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Sal God optree om die aarde se omgewingsprobleme op te los?—Openbaring 11:18.
◼ Watter verantwoordelikheid ten opsigte van die aarde het God aan die mens toevertrou? —Genesis 1:28; 2:15.
◼ Watter voorbeeld het Jesus Christus daarin gestel om vermorsing te vermy?—Johannes 6:12.