Die Bybel se beskouing
Gee kinders die nodige aandag
HET die Seun van God tyd gehad om saam met kinders deur te bring? Party van sy dissipels het nie so gedink nie. By een geleentheid het hulle probeer keer dat kindertjies naby Jesus kom. Hy het hierop gereageer deur te sê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Hy het toe die kinders liefdevol in sy arms geneem en met hulle gepraat (Markus 10:13-16). Jesus het sodoende getoon dat hy bereid was om aandag aan kinders te gee. Hoe kan ouers vandag sy voorbeeld volg? Deur hulle kinders behoorlik op te lei en tyd saam met hulle deur te bring.
Dit spreek vanself dat verantwoordelike ouers daarna streef om goed vir hulle kinders te sorg, en hulle mishandel hulle nie. ’n Mens kan selfs sê dat dit vir ouers “natuurlik” is om hulle kinders met respek en bedagsaamheid te behandel. Maar die Bybel waarsku dat baie in ons dag nie meer “natuurlike geneentheid” sal hê nie (2 Timoteus 3:1-3). En selfs diegene wat wel liefdevolle belangstelling in hulle kinders toon, kan altyd meer leer oor wat dit beteken om ’n verantwoordelike ouer te wees. Die volgende Bybelbeginsels is dus welkome herinneringe vir ouers wat die beste vir hulle kinders wil hê.
Lei hulle op sonder om hulle te irriteer
Dr. Robert Coles, ’n bekende opvoedkundige en navorsingspsigiater, het eenkeer gesê: “In die kind is daar ’n ontwikkelende sedelikheidsgevoel. Ek is van mening dat dit van God af kom, dat hulle ’n begeerte na sedelike riglyne het.” Wie moet hierdie honger en dors na sedelike leiding bevredig?
In Efesiërs 6:4 maan die Skrif: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.” Het jy opgelet dat die teks die verantwoordelikheid spesifiek op die vader plaas om ’n liefde vir God en diepe waardering vir goddelike standaarde by sy kinders in te skerp? In vers 1 van Efesiërs hoofstuk 6 het die apostel Paulus na die vader sowel as die moeder verwys toe hy vir kinders gesê het om ‘gehoorsaam aan hulle ouers te wees’.a
As daar nie ’n vader is nie, moet die moeder natuurlik hierdie verantwoordelikheid op haar neem. Baie ongetroude moeders het hulle kinders al met welslae in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah God opgevoed. Maar as die moeder trou, moet die Christenman die leiding neem. Die moeder moet die leiding wat hy gee om hulle kinders op te voed en te dissiplineer, gewillig volg.
Hoe kan ouers hulle kinders dissiplineer of opvoed sonder om hulle te “irriteer”? Daar is geen geheime resep nie, veral aangesien elke kind anders is. Maar ouers moet goed nadink oor hoe hulle dissipline uitoefen en altyd hulle kinders met liefde en respek behandel. Dit is interessant dat die Skrif hierdie gedagte, om nie julle kinders te irriteer nie, in Kolossense 3:21 herhaal. Daar word vaders weer eens gemaan: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”
Sommige ouers gil en skreeu op hulle kinders. Dit vertoorn hulle kinders ongetwyfeld. Maar die Bybel vermaan ons: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word” (Efesiërs 4:31). Die Bybel sê ook: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal.”—2 Timoteus 2:24.
Bring tyd saam het hulle deur
Om aan julle kinders die nodige aandag te kan gee, moet julle ook bereid wees om plesier en persoonlike gerief ter wille van julle kinders se welsyn op te offer. Die Bybel sê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.
Weens veeleisende finansiële verpligtinge kan min ouers vandag van die oggend tot die aand saam met hulle kinders wees. Tog beklemtoon Deuteronomium dat ouers tyd “moet” inruim om saam met hulle kinders deur te bring. Dit verg goeie organisasie sowel as opoffering. Maar kinders het sulke aandag nodig.
Kyk byvoorbeeld na die uitslag van ’n studie van meer as 12 000 tieners. Die navorsers se slotsom was: “’n Sterk emosionele band met ’n ouer is die beste waarborg vir ’n tiener se welsyn en die beste beskerming teen gevaarlike gedrag.” Ja, kinders smag na hulle ouers se aandag. ’n Moeder het haar kinders eenkeer gevra: “As julle enigiets kon kry wat julle wou hê, wat sou julle eerste keuse wees?” Al vier het geantwoord: “Meer tyd saam met Ma en Pa.”
As ’n verantwoordelike ouer moet jy dus seker maak dat jou kinders se behoeftes bevredig word, waaronder hulle behoefte aan geestelike onderrigting en ’n hegte vriendskap met hulle ouers. Dit beteken dat julle julle kinders moet help om bekwame, beleefde en eerlike volwassenes te word wat goedhartig is teenoor hulle medemens en hulle Skepper verheerlik (1 Samuel 2:26). Ja, ouers wat hulle kinders op ’n godvrugtige manier opvoed en dissiplineer, tree verantwoordelik op.
[Voetnoot]
a Hier het Paulus die Griekse woord go·neuʹsin gebruik, wat van go·neusʹ afkomstig is en “ouer” beteken. Maar in vers 4 het hy die Griekse woord pa·teʹres gebruik, wat “vaders” beteken.
[Prent op bladsy 13]
Dit kan ’n kind ontstel as daar op hom gegil en geskreeu word
[Prent op bladsy 13]
Bring tyd saam met jou kinders deur