“Moenie julle kinders irriteer nie”
“VADERS, moenie julle kinders irriteer nie.” So het die apostel Paulus gesê (Efesiërs 6:4, NW). In Westerse lande, waar ouers onderhewig is aan die spanning en druk van die geïndustrialiseerde samelewing, is dit nie altyd vir hulle maklik om hulle kinders met begrip te behandel nie. En dit is in ontwikkelende lande net so ’n groot uitdaging om kinders groot te maak. Die lewe is weliswaar minder gejaagd as in die Weste. Maar ou gebruike en tradisies kan ouers beïnvloed om hulle kinders op maniere te behandel wat hulle so goed as seker sal frustreer en irriteer.
In party ontwikkelende lande word kinders op die onderste sport van die leer geplaas wat erkenning en respek betref. In sekere kulture word kinders op dreigende en gebiedende tone gehiet en gebied, word daar op hulle geskree en word hulle afgejak. Dit kan ongewoon wees om te hoor dat ’n grootmens ’n vriendelike woord aan ’n kind sê, laat staan nog hoflikheidswoorde soos “asseblief” en “dankie”. Vaders meen dat hulle hulle gesag moet uitoefen deur sterk hande; harde woorde word versterk deur harde houe.
In sommige kulture van Afrika word dit selfs as onbeskof beskou vir ’n kind om ’n grootmens uit sy eie te groet. Dit is nie ongewoon nie om jongmense met swaar vragte op hulle kop te sien terwyl hulle geduldig wag vir toestemming om ’n groep volwassenes te groet. Die grootmense sal voortgaan met hulle geselsery en die wagtende jongmense ignoreer totdat hulle besluit dat die kinders mag groet. Slegs nadat die kinders gegroet het, word hulle toegelaat om verby te gaan.
Armoede is nog ’n faktor wat tot nadeel van die welsyn van kinders kan strek. Jong seuns en dogters word ten koste van hulle gesondheid en skoling onregverdig as kinderarbeiders uitgebuit. Onredelik swaar werklaste kan selfs by die huis op kinders geplaas word. En wanneer gesinne in plattelandse gebiede hulle kinders na die groot stede stuur om deur familielede versorg te word terwyl hulle skoolgaan, word hulle dikwels feitlik soos slawe behandel. Al hierdie onredelike behandeling irriteer kinders ongetwyfeld!
Wat dit beteken om ‘hulle te irriteer’
Sommige ouers gaan saam met die stroom as dit kom by die grootmaak van kinders, sonder om na te dink oor die gevolge daarvan. Maar dit is met goeie rede dat God se Woord ouers dit op die hart druk om nie hulle kinders te irriteer nie. Die oorspronklike Griekse uitdrukking wat weergegee word met ‘moenie irriteer nie’, beteken letterlik “jy moet nie opwek tot toorn nie” (Kingdom Interlinear). In Romeine 10:19 word dieselfde werkwoord weergegee as “toorn opwek teen”.
Today’s English Version sê dus: “Moenie julle kinders so behandel dat hulle kwaad word nie.” The Jerusalem Bible sê op soortgelyke wyse: “Moet nooit julle kinders tot wrewel dryf nie.” Die Bybel praat derhalwe nie van die geringe irritasies wat ’n ouer sy kind dalk onwetend veroorsaak as gevolg van onvolmaaktheid nie, en dit veroordeel nie dissipline wat regverdig toegepas word nie. Volgens Lange’s Commentary on the Holy Scriptures praat hierdie Bybelvers van “die haastige, ongemanierde, buierige behandeling van kinders, sodat . . . hulle weerstand bied en uitgelok word tot teenstand, opstandigheid en verbittering”.
Soos opvoedkundige J. S. Farrant opgemerk het: “Feit is dat kinders mense is. Hulle reageer nie eenvoudig soos plante passief op hulle omgewing nie. Hulle reageer daadwerklik.” En dikwels het die reaksie op onregverdige behandeling geestelike en emosionele verwoesting tot gevolg. Prediker 7:7 sê: “Want louter onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat handel.”—NW.
Maak kinders in God se dissipline groot
Ouers wat wil hê dat hulle kinders in die waarheid moet bly, moenie toelaat dat kulturele norme en tradisies die enigste faktore is wat bepaal hoe hulle hulle kinders sal grootmaak nie. (Vergelyk 3 Johannes 4.) Nadat Paulus ouers gewaarsku het om nie hulle kinders te irriteer nie, het hy bygevoeg: “Hou aan om hulle in die dissipline en die ernstige vermaning van Jehovah groot te maak” (Efesiërs 6:4, NW). Jehovah se standaarde neem dus die plek in van plaaslike gebruike en sieninge.
Terwyl dit in sekere lande algemeen is vir kinders om as minderes en as slawe-arbeiders behandel te word, sê die Bybel in Psalm 127:3: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.” Kan ’n ouer ’n goeie verhouding met God behou as hy sy erfdeel sleg behandel? Nouliks. Nog minder bestaan daar grond vir die siening dat kinders alleenlik bestaan om in die behoeftes van hulle ouers te voorsien. In 2 Korinthiërs 12:14 herinner die Bybel ons daaraan: “Want dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders.”
Dit beteken nie dat kinders verskoon moet word om hulle deel van die werk en verpligtinge by die huis na te kom nie. Maar moet die kind se eie beswil nie in aanmerking geneem word nie? Byvoorbeeld, toe Yaa, ’n Christenmeisie van Afrika, gevra is wat sy die graagste wou hê haar ouers vir haar moet doen, het sy geantwoord: “Ek wens dat ek minder werk by die huis sal kry op die dae wat ek velddiensreëlings het.” Sal dit nie die beste wees om ’n paar aanpassings te maak as ’n kind dit dus moeilik vind om betyds by die skool te wees of vergaderinge by te woon as gevolg van ’n swaar werklas by die huis nie?
Dit is weliswaar nie altyd so maklik om te weet hoe om jongmense te behandel nie. Hoe kan ouers hulle behandel op ’n manier wat nie verkeerd of irriterend is nie? Spreuke 19:11 sê: “Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig.” Ja, ten eerste kan jy probeer om jou kind as ’n individu te verstaan. Elke kind is uniek, met sy eie belangstellings, vermoëns en behoeftes. Wat is hierdie belangstellings, vermoëns en behoeftes? Het jy die tyd geneem om jou kind te leer ken en die antwoord op hierdie vraag te wete te kom? Die antwoord is dat julle saam moet werk en saam moet aanbid, en saam aan gesinsontspanning moet deelneem—hierdie dinge bied geleenthede vir ouers om nader aan hulle kinders te kom.
In 2 Timotheüs 2:22 het Paulus nog ’n interessante opmerking gemaak toe hy vir Timotheüs gesê het: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid.” Ja, Paulus het verstaan dat die jeug ’n onstuimige tyd kan wees. Dramatiese liggaamlike en emosionele veranderinge vind plaas. Aangetrokkenheid tot die ander geslag neem toe. Gedurende hierdie tyd het jongmense volwasse en liefdevolle leiding nodig om ernstige slaggate te vermy. Maar hulle moenie behandel word asof hulle sedeloos is nie. Die vertoornde dogter van ’n Christenman het gekla: “As ek my nie aan hoerery skuldig gemaak het nie maar my pa my daarvan beskuldig, kan ek dit net sowel gaan doen.” Pleks van jou kind van slegte beweegredes te beskuldig, moet jy vertroue in hom uitspreek. (Vergelyk 2 Thessalonicense 3:4.) Pleks van krities te wees, moet jy op ’n liefdevolle, konsekwente manier empatie en begrip toon.
Baie probleme kan egter voorkom word as ouers vooraf die morele gevare bespreek waarvoor ’n kind te staan kom. Onthou, God verplig ouers om hulle kinders in God se Woord te leer en op te voed (Deuteronomium 6:6, 7). Dit sal moontlik baie tyd en moeite kos. Ongelukkig laat sommige ouers dit na om hulle kinders te onderrig omdat hulle nie geduldig is nie. Ander ouers kan weens ongeletterdheid, ’n groot probleem in talle ontwikkelende lande, hulle kinders nie behoorlik onderrig nie.
In sommige gevalle kan ’n ryp Christen gevra word om te help. Dit kan eenvoudig ’n geval wees waar die minder ervare ouer van raad voorsien moet word (Spreuke 27:17). Of dit kan net wees dat hy gehelp moet word om die gesinstudie self te hou. Maar dit bevry die ouer nie van sy verantwoordelikheid om sy kinders God se Woord te leer nie (1 Timotheüs 5:8). Hy kan hom inspan om saam met sy kinders in die veldbediening te werk en om geestelike dinge aan tafel of op ander gepaste geleenthede te bespreek.
’n Jongmens wat volwassenheid nader, begeer van nature groter onafhanklikheid. Dit word dikwels verkeerd vertolk as opstandigheid of parmantigheid. Hoe ergerlik sal dit nie wees as sy ouers reageer deur hom soos ’n klein kindjie te behandel en weier om hom meer vryheid in sy optrede te gee nie! Dit sal ewe ergerlik wees as hulle oor elke aspek van sy lewe besluit—opvoeding, beroep, huwelik—sonder om dinge op ’n kalm en eerbiedige manier met hom te bespreek (Spreuke 15:22). Die apostel Paulus het mede-Christene aangespoor om “volwassenes in die verstand” te wees (1 Korinthiërs 14:20). Behoort dit nie ouers se begeerte te wees dat hulle eie kinders—emosioneel en geestelik—volwasse word nie? Maar ’n jongmens se “geestesvermoëns” kan slegs deur “gebruik” (NW) geoefen word (Hebreërs 5:14). Om dit te gebruik, moet hy ’n sekere mate van keusevryheid gegee word.
Dit is nie maklik om kinders gedurende hierdie moeilike dae groot te maak nie. Maar ouers wat God se Woord volg, irriteer of terg nie hulle kinders “sodat hulle . . . moedeloos word nie” (Kolossense 3:21). Hulle probeer eerder om hulle kinders met hartlikheid, begrip en waardigheid te behandel. Hulle kinders word gelei, nie gedryf nie; getroetel, nie geïgnoreer nie; tot liefde beweeg, nie aangehits tot toorn of frustrasie nie.
[Prent op bladsy 31]
Wanneer ouers en kinders “oware”, ’n plaaslike binnenshuise speletjie in Ghana, speel, gee dit ouers ’n geleentheid om met hulle kinders om te gaan