Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 4/8 bl. 14-17
  • Kersiebloeisels—Delikate blommetjies lank bewonder

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersiebloeisels—Delikate blommetjies lank bewonder
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Pragtige skouspel
  • Hanami—’n piekniek onder kersiebome
  • ’n Terugkerende tema
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Japannese tuine—die natuur in miniatuur
    Ontwaak!—1993
  • Mooi en lekker!
    Ontwaak!—2004
  • Hoe jy in ’n nuwe wêreld kan lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 4/8 bl. 14-17

Kersiebloeisels—Delikate blommetjies lank bewonder

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

SEDERT antieke tye prys die Japannese die prag van die sakoera—die Japannese blomkersieboom. So geliefd is sy delikate blommetjies dat die kersiebloeisel gewilder as alle ander blomme geword het en ’n spesiale plek in die geskiedenis en kultuur van Japan beklee. Trouens, in sekere kontekste verwys die Japannese woord “blom” na die sakoera. Die Japannese bewonder kersiebloeisels al meer as ’n duisend jaar lank.

Talle pragtige kersiebome kom regoor die Japannese eilande voor. Jy hoef nie baie ver te reis om een van die stuk of 300 soorte wat hier groei, te sien nie. Elke blom het gewoonlik vyf kroonblare met gekeepte randjies, maar party soorte het baie meer kroonblare. ’n Groepie blomme vorm saam ’n tros. Die kleure van die kroonblare wissel van naaswit tot pienk en selfs donkerrooi en sluit al die subtiele skakerings daartussen in. Die vorm en kleur van hierdie bloeisels word al lank met simbole van reinheid en eenvoud geassosieer.

’n Kersieboom in volle bloei trek baie aandag. Wanneer sagte sonstrale deur die wolke op ’n kersieboom skyn, gee sy sierlike blommetjies ’n pienk-wit skynsel af. ’n Klompie kersiebome saam is selfs ’n groter lus vir die oog.

’n Pragtige skouspel

Van antieke tye af is die Josjino-berge beroemd vir wit kersiebloeisels. Hierdie gebied het meer as 100 000 kersiebome wat in vier groot groepe groei. Een deel word Hitome Senbon genoem, wat ‘’n duisend kersiebome in ’n oogopslag’ beteken. So ver as die oog kan sien, verhelder wit bloeisels die omliggende heuwels sodat dit lyk asof dit met sneeu bedek is. Dit is dan geen wonder nie dat meer as 350 000 mense elke jaar daarheen stroom om die pragtige skouspel te sien!

Afhangende van hoe die kersiebome geplant word, kan aantreklike effekte geskep word. Byvoorbeeld, parallelle rye kersiebome waarvan die takke uitsprei en aan mekaar raak, vorm ’n ‘kersietonnel’. Stel jou trossies kersiebloeisels voor wat bo jou kop ’n pienk-wit dak vorm, terwyl die grond onder jou voete met blomblaartjies bestrooi lê.

Die delikate blommetjies hou egter nie lank nie—hulle is net twee of drie dae lank op hulle mooiste. Na gelang van die weer kan dit selfs korter wees.

Hanami—’n piekniek onder kersiebome

Die eerste vlaag delikate bloeisels word gedurende Januarie in die suide van die Japannese eilandgroep, in Okinawa, gesien en beweeg dan geleidelik noordwaarts totdat dit teen die einde van Mei Hokkaido bereik. Hierdie verskynsel staan ook bekend as die kersiebloeiselfront. Die televisie, radio, koerante en selfs die Internet doen gereeld verslag oor die vordering van die front. Die nuus dat die Japannese kersiebome bloei, laat miljoene mense stroom na plekke waar hulle dit kan sien.

Hanami, of “blombesigtiging”, dateer uit die verre verlede. En in hierdie geval is die blom altyd die kersiebloeisel. Reeds in die Heian-tydperk (794-1185) het die adellikes partytjies gehou om die sakoera te bewonder. In 1598 het ’n krygsheer met die naam Hidejosji Tojotomi ’n partytjie in die Daigodji-tempel in Kioto gehou om na die kersiebloeisels te kyk. Al die feodale here sowel as hooggeplaaste gaste het onder die bloeiende bome bymekaargekom en gedigte tot lof van die bloeisels voorgedra. Die vroue het hulle met kledingstukke versier met elegante sakoerapatrone daarop.

In die Edo-tydperk (1603-1867) het die gewone mense hierdie soort ontspanning—’n piekniek onder bloeiende kersiebome—begin geniet. Hulle het geëet, gedrink, gesing en gedans terwyl hulle die bloeisels saam met hulle vriende en familie bewonder het. Hanami is vandag nog ’n gewilde gebruik, en menigtes gaan na hulle gunstelingplek toe om hulle in die bloeisels te verlustig.

’n Terugkerende tema

Die sakoera is ’n terugkerende tema in die Japannese geskiedenis en kultuur. Dit word dikwels in die letterkunde, die poësie, die teater en musiek as motief gebruik. Deur die eeue heen het kunstenaars die prag van die kersiebloeisels vasgelê op oppervlaktes wat wissel van erdewerk tot vouskerms.

Die samoerai het ook die sakoera as simbool aangeneem. Omdat hulle heeltemal aan hulle meester toegewy was, is daar van hulle verwag om bereid te wees om hulle lewe te eniger tyd op te offer. Die samoerai het kersiebloeisels as ’n simbool van die kortstondigheid van die lewe beskou. Hieroor sê die Kodansha Encyclopedia of Japan: “Omdat die kersiebloeisels net ’n kort rukkie bloei en dan afval, het dit ook ’n geskikte simbool geword van wat die Japannese as ware skoonheid beskou, ’n prag wat van korte duur is.”

Die nasionale bewondering van die sakoera duur vandag nog voort. Die pragtige kimono het dikwels ’n kersiebloeiselpatroon op. Die sakoerapatroon kan ook op huishoudelike items, serpe en kledingstukke gevind word. Mense is so lief vir hierdie blommetjies dat ouers selfs hulle pragtige babadogtertjies met trots Sakoera noem, ter ere van die kersiebloeisel.

Die kersiebloeisel, wat baie broos is en tog kragtig genoeg was om die kultuur van ’n nasie te beïnvloed, is ’n uitstekende voorbeeld van die subtiele prag wat in ons Skepper se meesterlike werke te vinde is.

[Venster/Prent op bladsy 15]

Blomkersiebome

Die kersieboom se goeie hout kan vir snywerk, meubels en blokdruk gebruik word. Maar dít is nie wat die kersieboom in Japan gewild gemaak het nie. Dit was ook nie sy vrugte nie. In teenstelling met sy neefs in ander dele van die wêreld, word die Japannese kersieboom hoofsaaklik vir sy bloeisels, wat die harte van baie verower het, geplant.

Blomkersiebome kan maklik deur middel van saailinge gekweek word. Kersiebome is al langs rivieroewers en hoofstrate sowel as in baie parke en tuine regoor die land geplant.

[Venster op bladsy 15]

Sneeustorm van kersiebloeisels

’n Unieke illusie van pienk sneeu word geskep wanneer die kersieboom se tallose bloeisels afval. Skielik en sonder waarskuwing val die blommetjies van die tak af en reën saggies op die grond neer. ’n Sterk wind kan ’n hele klomp laat afval—en hulle die wêreld vol verstrooi. Die Japannese noem hierdie verskynsel sakoera foeboeki, of sneeustorm van kersiebloeisels. Die grond word dan met ’n pragtige pienk tapyt bedek. Daar is min natuurtonele wat so rustig is soos hierdie delikate blommetjies wat afgeval het.

[Prent op bladsy 16, 17]

“Hanami”—om onder bloeiende kersiebome piekniek te hou

[Prent op bladsy 17]

’n ‘Kersietonnel’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel