Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 5/8 bl. 20-21
  • Moet ikone in aanbidding gebruik word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ikone in aanbidding gebruik word?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vroeë Christene
  • Aanvaarding van ikone deur “Christene”
  • Aanbid “met gees en waarheid”
  • Aanbid God “deur die Gees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Godsdiensikone—Die antieke oorsprong daarvan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die gebruik en misbruik van godsdiensprente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Die Christelike beskouing van beelde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 5/8 bl. 20-21

Die Bybel se beskouing

Moet ikone in aanbidding gebruik word?

ELKE jaar op 15 Augustus vind ’n groot godsdiensfees op die Griekse eiland Tínos plaas. Duisende mense kom bymekaar om Maria die moeder van Jesus en haar ikon, wat glo wonderdadige kragte besit, te vereer.a ’n Grieks-Ortodokse naslaanwerk verduidelik: “Met spesiale geloof en godsvrug vereer ons die allerheiligste Theotokos, die Moeder van ons Here, en ons vra dat sy ons beskerm en spoedig oorskadu en help. Ons wend ons tot die Heiliges wat wonderwerke verrig—heilige manne en vroue—vir ons geestelike en vleeslike behoeftes . . . Met innige vroomheid soen en vereer ons hulle relieke en heilige ikone.”

Talle ander verklaarde Christene behoort aan denominasies wat aan soortgelyke dade van aanbidding deelneem. Maar word die gebruik van ikone in aanbidding deur Bybelleringe ondersteun?

Die vroeë Christene

Dink aan wat in ongeveer 50 G.J. gebeur het toe die apostel Paulus Atene besoek het, ’n stad wat groot klem geplaas het op die gebruik van beelde in aanbidding. Paulus het aan die Ateners verduidelik dat God “nie in handgemaakte tempels [woon] nie, en ook . . . nie deur mensehande bedien [word] asof hy enigiets nodig het nie . . . Ons [moet dus] nie dink dat die Goddelike Wese gelyk is aan goud of silwer of klip nie, aan iets wat deur die kunsvaardigheid en vindingrykheid van die mens gebeeldhou is nie.”—Handelinge 17:24, 25, 29.

Daar is in werklikheid heelwat waarskuwings teen die gebruik van afgode in die Christelike Griekse Geskrifte, oftewel die Nuwe Testament. Byvoorbeeld, die apostel Johannes het Christene gemaan: “Bewaar julle van afgode” (1 Johannes 5:21). Paulus het aan die Korintiërs geskryf: “Watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?” (2 Korintiërs 6:16). Talle vroeë Christene het voorheen godsdiensbeelde in aanbidding gebruik. Paulus het Christene in Tessalonika hieraan herinner toe hy geskryf het: “Julle [het] julle van julle afgode tot God gekeer . . . om ’n lewende en ware God as slawe te dien” (1 Tessalonisense 1:9). Daardie vroeë Christene sou beslis dieselfde beskouing van ikone gehad het as Johannes en Paulus.

Aanvaarding van ikone deur “Christene”

Die Encyclopædia Britannica sê dat “daar gedurende die eerste drie eeue van die Christelike Kerk . . . geen Christelike kuns was nie, en oor die algemeen het die kerk met alle mag daarteen gestry. Klemens van Aleksandrië het byvoorbeeld godsdienstige (heidense) kuns gekritiseer omdat dit mense aangemoedig het om die skepping in plaas van die Skepper te aanbid.”

Hoe het die gebruik van ikone dan so gewild geword? Die Britannica sê verder: “Omstreeks die middel van die derde eeu is ’n soort skilderkuns in die Christelike Kerk ingebring en aanvaar, maar nie sonder hewige teenkanting in sommige gemeentes nie. Eers toe die Christelike Kerk in die vroeë vierde eeu die Romeinse keiserlike kerk onder keiser Konstantyn geword het, is prente in kerke gebruik en het dit begin wortelskiet in die Christelike Kerk.”

’n Algemene gebruik onder die talle heidene wat hulleself toe Christene begin noem het, was die aanbidding van portrette van die keiser. “In keiseraanbidding”, verduidelik John Taylor in sy boek Icon Painting, “het mense sy portret aanbid wat op seildoek of hout geverf is, en van daar af was dit nie moeilik om ikone te begin vereer nie.” Die heidense aanbidding van prente is dus vervang deur die verering van prente van Jesus, Maria, die engele en “heiliges”. Hierdie prente wat nou vir die eerste keer in die kerke gebruik is, het geleidelik ’n plek in die huise van miljoene mense gevind, en dit is ook daar vereer.

Aanbid “met gees en waarheid”

Jesus het vir sy toehoorders gesê dat God se knegte “met gees en waarheid” moet aanbid (Johannes 4:24). Wanneer ’n opregte persoon dus die waarheid wil uitvind omtrent die gebruik van ikone in aanbidding, moet hy na God se Woord gaan vir insig in hierdie saak.

Byvoorbeeld, in die Bybel vind ons hierdie woorde van Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Paulus het gesê: “Daar is een God, en een middelaar tussen God en die mense, ’n mens, Christus Jesus” en dat “Christus . . . vir ons pleit” (1 Timoteus 2:5; Romeine 8:34). Dit beteken selfs meer wanneer ons lees dat Christus “dié wat deur hom tot God nader, volkome [kan] red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit” (Hebreërs 7:25). Dit is in die naam van Jesus Christus wat ons tot God moet nader. Niemand anders, en sekerlik geen lewelose ikon, kan hom vervang nie. Sulke kennis uit God se Woord kan enigiemand wat die waarheid soek, help om die manier te vind waarop “die Vader met gees en waarheid . . . aanbid” kan word en die seëninge van hierdie verhewe manier van aanbidding te geniet. Trouens, dit is soos Jesus gesê het, “die Vader soek . . . sulke mense om hom te aanbid”.—Johannes 4:23.

[Voetnoot]

a Oor die algemeen is ’n godsdiensikon ’n uitbeelding of simbool wat deur lede van ’n sekere godsdiens vereer word. In die Oosters-Ortodokse Kerk is party ikone byvoorbeeld uitbeeldings van Christus; ander beeld die Drie-Eenheid, “heiliges”, engele of, soos in die geval hierbo, Maria die moeder van Jesus uit. Miljoene mense het net soveel eerbied vir ikone as wat baie ander vir beelde het wat in aanbidding gebruik word. Sekere nie-Christelike godsdienste het soortgelyke oortuigings en gevoelens wanneer dit kom by ikone en beelde van hulle gode.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Boris Subacic/AFP/Getty Images

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel