Die gebruik en misbruik van godsdiensprente
DIE plek is St. Petersburg, Rusland. Die datum is 2 Augustus 1914. Opgewonde mense wat ikone waai het by die tsaar se paleis bymekaargekom. ’n Altaar is in die middel van ’n groot saal opgerig. ’n Prent van ’n vrou met ’n kind in haar arms staan op die altaar. Hierdie ikoon word die “Vladimir Moeder van God” genoem. Die menigtes beskou dit as die heiligste skat in Rusland.
Daar word in werklikheid geglo dat dié ikoon wonderwerke kan verrig. In 1812, toe Russiese troepe teen Napoléon opgeruk het, het generaal Kutuzof voor die prent gebid. Nou staan tsaar Nikolaas II voor die prent nadat hy sy land tot oorlog verbind het. Met sy regterhand omhoog lê hy ’n eed af: “Ek sweer plegtig dat ek nooit vrede sal maak terwyl daar nog een vyand op Russiese grond is nie.”
Twee weke later onderneem die tsaar ’n pelgrimstog na Moskou om God se seëning op sy troepe te vra. In die Katedraal van die Assumpsie kniel en bid hy voor die groot ikonostase vol juwele—’n muur waarteen daar prente van Jesus, Maria, engele en “heiliges” is.
Hierdie godsdiensdade het nie ellende voorkom nie. In minder as vier jaar het die Russiese leër meer as sesmiljoen ongevalle gehad en baie grondgebied verloor. Boonop is die tsaar, sy vrou en hulle vyf kinders wreed vermoor. In die plek van die eeue oue monargie het ’n revolusionêre regering wat teen godsdiens gekant was die land begin regeer. Tsaar Nikolaas se vertroue in ikone was tevergeefs.
Tog vereer miljoene in Rusland en ander lande tot vandag toe nog ikone. Dit laat belangrike vrae ontstaan. Hoe beskou God dade van verering wat voor sulke prente gedoen word? En wat van die gebruik om hulle teen die mure van huise te hang?
Wat sê die Bybel?
Toe Jesus op die aarde was, was hy gehoorsaam aan God se Wet wat deur Moses gegee is. Dit sluit die tweede wet in van wat die Tien Gebooie genoem word, wat sê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n . . . God [“wat uitsluitlike toegewydheid vereis”, NW].”—Exodus 20:4, 5.
Jesus het God gevolglik nie aanbid met behulp van prente of beelde wat deur mensehande gemaak is nie. Sy aanbidding was eerder in ooreenstemming met sy Vader se verklaring: “Ek is [“Jehovah”, NW], dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.”—Jesaja 42:8.
Jesus het ook verduidelik waarom God sonder die hulp van materiële voorwerpe aanbid moet word. Hy het gesê: “Daar kom ’n uur . . . wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is ’n gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:23, 24.
Jesus se ware dissipels het, soos hy, ander die korrekte manier van aanbidding geleer. Die apostel Paulus het byvoorbeeld eenkeer met ’n groep Griekse filosowe gepraat wat afgodsbeelde gebruik het om hulle onsigbare gode te aanbid. Hy het vir hulle van die mens se Skepper vertel en gesê: “Ons [moet] nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.” Dieselfde apostel het later verduidelik dat Christene “wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie” en dat Christene moet “vlug vir die afgodediens”.—Handelinge 17:16-31; 2 Korinthiërs 5:7; 1 Korinthiërs 10:14.
’n Ondervinding in die lewe van die apostel Petrus toon dat hy gou opgetree het om enige handeling reg te stel wat dalk tot afgodediens kon lei. Toe die Romeinse leëroffisier Cornelius voor Petrus se voete neergeval het, het hy beswaar aangeteken. Hy het Cornelius opgerig en gesê: “Staan op, ek is self ook maar ’n mens.”—Handelinge 10:26.
Die apostel Johannes was so oorbluf deur Goddelike visioene dat hy voor die voete van ’n engel neergeval het. “Moenie!” het die engel hom bestraf. “Want ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God” (Openbaring 22:8, 9). Die apostel het hierdie raad waardeer. Hy het uit liefde die voorval tot ons voordeel opgeteken.
Maar hoe hou die ondervindinge wat hierbo genoem is verband met die gebruik van godsdiensprente? Wel, as dit verkeerd was van Cornelius om voor een van Christus se apostels neer te buig, wat van die verering van lewelose prente van “heiliges”? En as dit verkeerd was van een van Christus se apostels om hom voor ’n lewende engel neer te buig, wat dan van die verering van lewelose prente van engele? Sulke handelinge is beslis in teenstelling met Johannes se waarskuwing: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.”—1 Johannes 5:21.
As versierende leermiddels
Dit beteken nie dat die blote besit van ’n prent van die een of ander Bybelse toneel afgodediens is nie. Hierdie tydskrif gebruik gereeld prente van Bybelse gebeure as leermiddels. Tonele van Bybelse gebeure kan ook gebruik word om die mure van huise en geboue te versier. ’n Ware Christen sal nogtans nie ’n prent wil ophang wat hy weet deur ander vereer word nie, en hy sal ook nie ’n prent teen sy muur hang wat die Bybel verdraai nie.—Romeine 14:13.
Die meeste van die Christendom se ikone beeld ’n kring lig om die kop van Jesus, Maria, engele en “heiliges” uit. Dit word ’n stralekrans genoem. Wat is die oorsprong van die stralekrans? “Die oorsprong daarvan is nie Christelik nie”, erken The Catholic Encyclopedia (1987-uitgawe), “omdat dit deur heidense kunstenaars en beeldhouers gebruik is om simbolies die groot waardigheid en krag van die verskeie godhede voor te stel.” Die boek The Christians, deur Bamber Gascoigne, bevat ’n foto, wat van die Capitoline-museum in Rome verkry is, van ’n songod met ’n stralekrans. Hierdie god is deur heidense Romeine aanbid. Gascoigne verduidelik dat “die son se stralekrans” later “deur die Christendom geleen” is. Ja, die stralekrans word met heidense sonaanbidding verbind.
Is dit gepas om prente wat Bybelse gebeure met simbole van heidense afgodediens meng teen die muur van ’n Christenhuis te hang? Nee. Die Bybel vermaan: “Watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”—2 Korinthiërs 6:16, 17.
Voorgewende Christene het mettertyd sulke raad begin ignoreer. ’n Afvalligheid het ontwikkel, soos Jesus en sy apostels voorspel het (Mattheüs 24:24; Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1). Die Romeinse keiser Konstantyn het vroeg in die vierde eeu G.J. die afvallige Christelike godsdiens die Staatsgodsdiens gemaak. Nou het ’n stroom heidene bely dat hulle “Christene” is. ’n Algemene gebruik onder hulle was die aanbidding van beelde van die keiser. Hulle het ook prente van hulle voorouers en ander beroemde mense opgehang. “In ooreenstemming met die verering van die keiser”, verduidelik John Taylor in sy boek Icon Painting, “het mense [die keiser] se portret aanbid wat op doek en hout geverf is, en van [keiseraanbidding] tot die verering van ikone was nie ’n groot stap nie.” Die heidense aanbidding van prente is gevolglik vervang deur die verering van prente van Jesus, Maria, engele en “heiliges”.
Hoe het kerkleiers dit geregverdig?
Volgens The Encyclopedia of Religion het kerkleiers dieselfde ou argumente as die heidense filosowe gebruik. Manne soos Plutarchus, Dion Chrusostomos, Maksim van Tirus, Celsus, Porphyrius en Julianus het erken dat afgode leweloos is. Maar hierdie heidene het die gebruik van afgode geregverdig deur te redeneer dat hulle hulpmiddels is waardeur hulle hulle onsigbare gode aanbid. Die Russiese tekenaar Leonid Ouspensky erken in die boek The Meaning of Icons: “Die Kerkvaders het die werktuig van Griekse filosofie gebruik en die begrip en taal by die Christenteologie aangepas.”—Vergelyk Kolossense 2:8.
Baie mense het die teologiese regverdiging vir die verering van beelde moeilik verstaan. “Die onderskeid tussen die aanbidding van ’n ikoon vanweë dit wat dit dalk voorstel en om dit self te aanbid . . . was te klein om deur enigeen behalwe die hoogs geleerdes getref te word”, sê John Taylor in Icon Painting.
Daarenteen is wat die Bybel oor godsdiensbeelde sê maklik verstaanbaar. Beskou Emilia, wat in Johannesburg woon. Sy was ’n vroom Katoliek en het altyd voor prente gekniel en gebid. Toe het een van Jehovah se Getuies aan haar deur geklop. Sy was verheug om in die Portugese Bybel te sien dat God ’n naam het, Jehovah (Psalm 83:18, Almeida). Gedurende haar studie van die Bybel het sy gevra: “Wat moet ek doen om te verhoed dat ek Jehovah mishaag?” Die Getuie het na die prente gewys wat teen haar muur gehang het en haar gevra om Psalm 115:4-8 te lees. Daardie aand toe Emilia se man tuiskom, het sy vir hom gesê dat sy ontslae wil raak van haar godsdiensprente. Hy het ingestem. Die volgende dag het sy haar twee seuns, Tony en Manuel, die prente in stukke laat breek en verbrand. Is Emilia vandag, ongeveer 25 jaar later, enigsins spyt hieroor? Nee. Trouens, sy en haar gesin het al baie van haar bure gehelp om gelukkige aanbidders van Jehovah te word.
Soortgelyke ondervindings het al baie keer plaasgevind. Vanweë die wêreldwye dissipelmaakwerk van Jehovah se Getuies leer miljoene om God “in gees en waarheid” te aanbid. Jy kan ook die seëninge van hierdie verhewe manier van aanbidding ontvang omdat, soos Jesus gesê het, ‘die Vader mense soek wat hom só aanbid’.—Johannes 4:23, 24.
[Prent op bladsy 26]
Tsaar Nikolaas II seën sy troepe met ’n ikoon
[Erkenning]
Photo by C.N.