’n Skoon huis—Die rol wat ons almal speel
Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko
HOE aangenaam is dit tog om in ’n skoon, onbesoedelde omgewing te woon! Maar met vullis en afval wat toeneem in stede, word dit al hoe moeiliker om ons omgewing skoon en netjies te hou.
Munisipaliteite maak van ’n vullisverwyderingstelsel gebruik om strate skoon te hou, maar ten spyte hiervan hoop vullis op sekere plekke op, waar dit onooglik is en gesondheidsgevare inhou. Opgehoopte vullis kan lei tot ’n toename in rotte, kakkerlakke en ander peste wat siektes veroorsaak. Is daar enigiets wat jy omtrent die situasie kan doen? Ja, jy kan jou huis en omgewing skoon en netjies hou.
Die regte gesindheid
Sommige mense meen dat vuil woongebiede of huise sinoniem is met armoede. Dit is egter nie noodwendig die geval nie. ’n Gebrek aan materiële middele kan dit weliswaar moeiliker maak om ons omgewing skoon te hou. Maar, soos ’n Spaanse spreekwoord sê: “Armoede en sindelikheid bots nie met mekaar nie.” Daarenteen is die feit dat iemand genoeg geld het, nie ’n waarborg dat hy sy omgewing skoon sal hou nie.
’n Gesindheid wat ’n mens tot dade aanspoor, sal jou beweeg om jou huis binne en buite skoon te hou. Trouens, dit hang in ’n groot mate af van die hele gesin se gesindheid. Ons kan dus gerus kyk wat elkeen van ons kan doen om te help om ons huis, asook die buurt waarin ons woon, skoon te hou.
’n Skoonmaakprogram
Dit lyk of daar geen einde kom aan ’n ma se huiswerk nie. Buiten dat sy kos moet maak en die kinders gereed moet kry vir skool, moet sy ook werk om die huis binne en buite skoon te hou. Het jy al opgelet dat dit dikwels die ma is wat die vuil klere of persoonlike items optel wat haar kinders in hulle kamers laat rondlê? ’n Duidelik uiteengesette skoonmaakprogram wat die hele gesin betrek, kan help om die ma se las ligter te maak.
Sommige vrouens besluit dat daar sekere dinge is wat elke dag aandag vereis en skoongemaak moet word, terwyl ander dele van die huis een keer per week of een keer per maand skoongemaak kan word. Trouens, sekere dinge hoef net een keer per jaar skoongemaak te word. By die takkantoor van Jehovah se Getuies in elke land word kaste byvoorbeeld een keer per jaar deeglik skoongemaak. Dit is ’n geleentheid om ontslae te raak van dinge wat nie gebruik word nie en kaste reg te pak. Daar is ook ’n rooster waarvolgens die mure gereeld gewas word.
Daar is plekke in die huis wat om gesondheidsredes eenvoudig skoon gehou moet word, soos die badkamer. Hoewel ’n ligte skoonmaak elke dag noodsaaklik is, sal ’n deegliker skoonmaak, moontlik een keer per week, keer dat bakterieë vermenigvuldig. Party dink dat vlekke in die toiletbak onvermydelik is en dat dit onmoontlik is om daarvan ontslae te raak. Tog sal jy huise vind waar toilette silwerskoon bly. Al wat nodig is, is om gereeld skoon te maak en die regte produkte te gebruik.
Die kombuis moet ook baie goed skoongemaak word. Al was jy die skottelgoed en maak jy die stoof en werksoppervlak daagliks skoon, moet jy elke nou en dan—ten minste een keer per maand—deegliker skoonmaak, soos agter toestelle en onder die wasbak. As jy die spens of kaste gereeld skoonmaak, sal dit kakkerlakke en ander skadelike insekte uithou.
Die gesin se samewerking
Sommige ouers het vir hulle kinders reëls neergelê en hulle geleer om hulle bed op te maak, hulle vuil klere op die regte plek te sit en hulle persoonlike besittings te bêre voordat hulle soggens skool toe gaan. ’n Nuttige reël vir almal is: “’n Plek vir alles en alles op sy plek.”
Gesinslede kan ook ’n spesifieke taak hê of ’n deel van die huis kry om skoon te maak. Byvoorbeeld, hou die pa die motorhuis netjies en maak hy dit ten minste een keer per jaar deeglik skoon? Kan een van die kinders hom hiermee help? Wie se verantwoordelikheid is dit om onkruid uit te trek of die gras te sny? Hoe gereeld moet dit gedoen word sodat die buitekant van die huis netjies lyk? Is daar ’n solder in die huis of ’n stoorkamertjie wat reggepak moet word, sodat julle van onnodige goed ontslae kan raak en dit netjies kan hou? Indien wel, wie gaan dit doen? Party ouers laat die kinders sulke take om die beurt doen.
Werk dus ’n goeie program uit om jou huis in stand te hou. Of jy die skoonmaakwerk self of saam met jou gesin doen of iemand moet huur om jou te help, ’n duidelik uiteengesette program is noodsaaklik. Een ma wat haar huis baie netjies hou, vertel hoe die hele gesin saamwerk om dit skoon te hou: “Ek en my drie dogters verdeel die huiswerk tussen ons. Norma Adriana hou die sitkamer, twee slaapkamers, die stoep en die straat voor die huis skoon. Ana Joaquina sien om na die kombuis. Ek sien om na ander take soos die wasgoed, terwyl María del Carmen die skottelgoed was.”
’n Netjiese werf
Wat van die buitekant van die huis? Hetsy jou huis deftig of nederig is, jy moet ’n rooster hê vir die skoonmaak en instandhouding van die huis aan die buitekant. Byvoorbeeld, een van die hek se skarniere is dalk stukkend. Jy kan jou net indink hoe sleg dit sal lyk as die hek nie reggemaak word nie en uiteindelik heeltemal afval. Dieselfde kan gesê word van gemors wat buite die deur of op die sypaadjie ophoop. Soms word daar ook toegelaat dat blikke, gereedskap en ander items om die huis rondlê, en dit kan ’n skuilplek vir peste word.
Party gesinne het besluit dat hulle elke dag of een keer per week, wanneer dit nodig is, rondom hulle huis, asook die sypaadjie en selfs die straat voor hulle huis sal vee en skoonmaak. Op sekere plekke het die regering weliswaar ’n baie goeie stelsel om woongebiede skoon te hou, maar op ander plekke is daar geen munisipale skoonmaakprogram nie. Die omgewing waarin ons woon, sal ongetwyfeld baie beter lyk en meer higiënies wees as ons almal ons deel doen om dit skoon te hou.
Sommige gesinne het nie net besluit op ’n rooster vir die take wat hierbo gemeld word nie, maar hulle skryf dit ook neer en plak dit êrens op waar die gesin dit kan sien en volg. Dit kan baie goeie vrugte afwerp. Ons het natuurlik nie alles ingesluit wat jy oor skoonmaak moet weet nie. Julle moet byvoorbeeld besluit watter skoonmaakprodukte die geskikste in julle gemeenskap is en watter toestelle en gereedskap julle kan bekostig.
Hierdie paar wenke sal ongetwyfeld die hele gesin bewus maak van die feit dat julle julle huis en omgewing in stand moet hou. Onthou, om ’n huis binne en buite skoon te hou, hang nie af van hoeveel geld jy het nie, maar van jou gesindheid.
[Venster op bladsy 20, 21]
’n Praktiese program om die huis skoon te maak
Gebruik die ekstra ruimte om jou eie punte by die lys te voeg
Let wel: Dit kan uiters gevaarlik wees om skoonmaakprodukte te meng, veral as jy ’n bleikmiddel met ammoniak meng
✔ Daagliks
❏ Slaapkamer: Maak beddens op en maak aan die kant
❏ Kombuis: Was skottelgoed en opwasbak. Pak dinge weg wat op werksoppervlak en tafels rondlê. Vee of was die vloer, indien nodig
❏ Badkamer: Was wasbak en toilet. Maak aan die kant
❏ Sitkamer en ander vertrekke: Maak aan die kant. Maak die meubels liggies skoon. Vee, was of stofsuig die vloer, indien nodig
❏ Hele huis: Raak behoorlik ontslae van die vullis
✔ Weekliks
❏ Slaapkamer: Trek bed met skoon linne oor. Vee, was of stofsuig die vloer, indien nodig. Stof meubels af
❏ Kombuis: Was die stoof, toestelle op werksoppervlak en krane. Was die vloer
❏ Badkamer: Was die stortmure en al die krane. Maak die toilet, badkamerkassie en ander oppervlakke met ’n ontsmettingsmiddel skoon. Hang skoon handdoeke op. Vee of was die vloer
✔ Maandeliks
❏ Badkamer: Was al die mure deeglik
❏ Hele huis: Maak deurkosyne skoon. Stofsuig bekleedsel of maak dit deeglik skoon
❏ Tuin, erf, motorhuis: Vee en maak skoon, indien nodig. Moenie toelaat dat vullis of onnodige dinge ophoop nie
✔ Elke ses maande
❏ Slaapkamer: Maak dekens skoon volgens die vervaardiger se aanwysings
❏ Kombuis: Pak die yskas uit en maak dit deeglik skoon
❏ Badkamer: Pak rakke en laaie uit, en was hulle. Raak ontslae van onnodige of ou items
❏ Hele huis: Maak lampe, waaiers en ligte skoon. Maak die deure skoon. Was skerms, vensters en vensterrame
✔ Jaarliks
❏ Slaapkamer: Pak kaste uit en maak deeglik skoon. Raak ontslae van onnodige items. Was komberse. Stofsuig of stof matrasse deeglik af. Maak kussings skoon volgens vervaardiger se aanwysings
❏ Kombuis: Pak rakke, kaste en laaie uit, en maak deeglik skoon. Raak ontslae van onnodige items. Skuif toestelle sodat jy daaronder kan skoonmaak
❏ Hele huis: Was al die mure. Was bekleedsel en gordyne volgens vervaardiger se aanwysings
❏ Motorhuis of stoorkamers: Vee deeglik uit. Sorteer onnodige besittings of raak daarvan ontslae
[Prente op bladsy 22]
“’n Plek vir alles en alles op sy plek”
[Prente op bladsy 22]
Dit help om dinge weg te gee wat jy nie meer gebruik nie