Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/09 bl. 11-13
  • Wees veilig wanneer jy bestuur

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees veilig wanneer jy bestuur
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ✔Let op jouself
  • ✔Let op jou vaardighede
  • ✔Let op jou voertuig
  • ’n Skoon huis—Die rol wat ons almal speel
    Ontwaak!—2005
  • Hoe om motorongelukke te voorkom
    Ontwaak!—2011
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
  • Gestremd—En tog in staat om te bestuur
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 7/09 bl. 11-13

Wees veilig wanneer jy bestuur

HOEWEL miljoene mense dit vandag as noodsaaklik beskou om ’n motor te bestuur, eis dit ’n hoë tol. Daar word geskat dat meer as 1 200 000 mense elke jaar regoor die wêreld in motorongelukke sterf! Sal dit dan nie die moeite werd wees om te leer hoe om veilig te bestuur nie? Kom ons kyk na ’n paar praktiese stappe wat ons kan doen.

✔Let op jouself

Volgens ’n berig in die Australian Journal of Social Issues is een van die belangrikste dinge wat ’n bestuurder kan doen om die risiko van ’n noodlottige ongeluk te verminder, om sy optrede agter die stuurwiel te verbeter. Voordat ’n bestuurder dus agter die stuurwiel inklim, kan hy hom gerus afvra: ‘Is ek in die regte toestand en stemming om te bestuur?’ Moegheid kan ’n persoon se verstand verdof en sy reaksietyd vertraag. Die Filippynse Kantoor vir Landvervoer noem woede, angs, en opgewondenheid as emosies wat ’n uitwerking op bestuurgewoontes kan hê en tot onverstandige besluite en selfs gewelddadige padwoede kan lei.

’n Mens se fisiese toestand moet ook in ag geneem word, aangesien sekere siektes of beserings jou vermoë om veilig te bestuur, kan belemmer. ’n Bestuurder wat ander se lewens respekteer, sal dit nie op die pad waag as sy bestuurvermoë moontlik deur alkohol aangetas is nie. Sekere dwelms of medisyne, kan ook ’n uitwerking op die bestuurder se reaksies hê. Soms sal dit dalk verstandig wees om dit eerder glad nie op die pad te waag nie of om iemand anders te vra om te bestuur.

✔Let op jou vaardighede

Veral in ontwikkelende lande, neem die aantal nuwe, onervare bestuurders toe namate die aantal voertuie toeneem. Dit is dus goed om te kyk na twee dinge wat enige bestuurder kan doen om ongelukke te vermy.

Bestuur verdedigend! Wees oplettend, wees op die uitkyk na gevare op die pad voor en agter jou en probeer om voorbereid te wees op wat ander bestuurders sal doen—selfs as hulle iets onverstandigs doen. Aangesien ’n groot persentasie van botsings plaasvind omdat een motor te na aan ’n ander ry, sal ’n verstandige bestuurder ’n veilige afstand handhaaf tussen sy motor en ander motors.

Wees bewus van blinde kolle en afleidings. Draai jou kop om te sien wat om jou gebeur, en moenie net op spieëls staatmaak nie. Vermy afleidings terwyl jy bestuur. Moenie meer as een ding op ’n slag doen nie—om onder andere oor die selfoon te praat of toestelle te gebruik, sal jou aandag aflei.

As jy ’n motorfiets ry: Volgens sommige kenners is die moontlikheid dat ’n motorfietsryer in ’n ongeluk sal doodgaan 37 keer groter per kilometer as iemand in ’n motor. Wat kan jy doen om jou te beskerm? Albei van die bogenoemde stappe geld ook vir ’n motorfietsryer. Daarbenewens sê die Stigting vir Motorfietsveiligheid in die Verenigde State: “Wees sigbaar.” Maak seker dat ander jou kan sien. Hou jou kopligte aan. Moenie in die blinde kol van ander voertuie ry nie. “Trek aan met veiligheid in gedagte.” Dra ’n valhelm en helder, dik, beskermende klere. “Bestuur ekstra verdedigend.” Neem aan dat ander jou nie kan sien nie, en bestuur dienooreenkomstig.

✔Let op jou voertuig

Die bestuurder moet veiligheidsbewus wees, en sy motor moet in ’n goeie toestand wees. Remme asook alle ander werkende dele, moet in ’n puik toestand wees. Bande moet genoeg loopvlak hê om die moontlikheid te verminder dat die motor op ’n droë of nat oppervlak sal gly. Voldoende banddruk sal die motor se hanteer- en remvermoë verbeter. Vandag het die meeste voertuie sitplekgordels. Dit help egter nie veel as dit nie gebruik word nie.

Pas die manier waarop jy bestuur, by die toestande aan. Nat paaie, en veral dié met ys of sneeu, het ’n uitwerking op stilhouafstande en stuurvermoë. As ’n mens in die aand bestuur, moet kopligte in ’n goeie toestand gehou word en moet jy gewoonlik stadiger bestuur. Aangesien die lewe ’n gawe van God af is, is dit net reg dat ons doen wat ons kan om ons lewe te beskerm, insluitende om te leer om veilig te bestuur.

[Venster/Prent op bladsy 13]

BESTUUR EKONOMIES

◼ Bestuur egalig: Om dikwels spoed te vermeerder en rem aan te slaan, vermors brandstof.

◼ Moenie die motor laat luier nie: Oor die algemeen hoef motors deesdae nie meer opgewarm te word voordat dit gery word nie. As ’n motor meer as ’n halfminuut gaan stilstaan, moet die enjin afgeskakel word.

◼ Hou die banddruk reg: Bande wat hard genoeg opgepomp is, rol makliker en verminder brandstofverbruik dus aansienlik.

◼ Ry stadiger: Om baie vinnig te ry, kan onveilig wees en ekstra brandstof gebruik.

[Diagram/Prent op bladsy 11]

❏ Wees oplettend

❏ Gebruik jou sitplekgordel

❏ Moenie meer as een ding op ’n slag doen nie

❏ Vermy afleidings

[Diagram/Prent op bladsy 12]

❏ Wees bewus van blinde kolle

❏ Remme in ’n puik toestand

❏ Voldoende banddruk

❏ Genoeg loopvlak

❏ Handhaaf ’n veilige volgafstand

[Diagram/Prent op bladsy 13]

❏ “Trek aan met veiligheid in gedagte”

❏ “Wees sigbaar”

[Diagram/Prent op bladsy 13]

❏ Gaan kopligte na

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel