“Byna ontwerp”?
Het jy al ooit deur ’n teleskoop na die naghemel gekyk? Baie wat dit al gedoen het, kan vir jou sê dat hulle nog steeds die eerste keer onthou toe hulle na die planeet Saturnus gekyk het. Dit is ’n ietwat verrassende gesig. Teen ’n eindelose swart agtergrond, gespikkeld met ontelbare glinsterende sterre, hang ’n glimmende bal wat omring is deur plat, sierlike ringe!
Wat is hierdie ringe? In 1610, toe die sterrekundige Galileo vir die eerste keer deur sy handgemaakte teleskoop na Saturnus gekyk het, was die beeld so onduidelik dat Saturnus soos ’n planeet met ore gelyk het—’n sentrale bal met twee kleiner balle aan weerskante. Namate teleskope met die jare verbeter het, het sterrekundiges die ringe duideliker begin sien, maar hulle het nog steeds verskillende menings oor die samestelling van die ringe gehad. Baie het beweer dat die ringe onbuigbare, soliede skywe is. Eers in 1895 het sterrekundiges oortuigende bewyse gevind dat die ringe uit talryke rots- en ysdeeltjies saamgestel is.
Die boek The Far Planets sê: “Saturnus se ringe, ’n stel stroke wat uit ontelbare ysdeeltjies bestaan, tel onder die grootste wonders van die Sonnestelsel. Die glimmende ligkrans is ontsaglik groot, en dit strek ongeveer 400 000 kilometer van ’n binnerand net bo die planeet se atmosfeer na ’n buiterand wat amper te onduidelik is om te sien. Dit is ook verbasend dun, gemiddeld minder as 30 meter.” In Junie 2004, toe die Cassini Huygens-ruimtetuig Saturnus bereik en data en foto’s teruggestuur het, het wetenskaplikes selfs meer oor die kompleksiteit van hierdie honderde ringe begin leer.
’n Artikel in die tydskrif Smithsonian het onlangs gesê: “Saturnus lyk of dit byna ontwerp kan wees—’n voorwerp so volmaak soos wiskunde.” Ons kan met die skrywer se mening saamstem, maar ons kan maar net wonder oor die insluiting van die woord “byna”. In werklikheid is hierdie pragtige hemelliggaam net een van tallose ander wat pas by die geïnspireerde beskrywing wat duisende jare gelede opgeteken is: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—Psalm 19:1.
[Foto-erkennings op bladsy 31]
Agtergrond: NASA, ESA and E. Karkoschka (University of Arizona); inlasfoto’s: NASA and The Hubble Heritage Team (STScl/AURA)