Ons beskou die wêreld
Vitamienaanvullings en kanker
’n Hersiening van 14 studies waarby 170 000 mense betrokke was, dui daarop dat vitamienaanvullings geen beskerming bied teen kanker van die keel, maag, lewer, ingewande en pankreas nie. Volgens die mediese tydskrif Deutsches Ärzteblatt het die anti-oksidantaanvullings betakaroteen en vitamiene A, C en E nie alleen geen voordelige uitwerking nie, maar dit kan selfs die kankerrisiko effens verhoog. Dr. Richard Sullivan van Kankernavorsing VK verduidelik: “Daar is geen kortpad om ingewandskanker te voorkom nie. As jy vitamiene drink om jou teen die siekte te beskerm, mors jy jou geld.” Hy sê verder: “Die beste manier om die risiko te verlaag, is om ’n gesonde dieet te volg en nie te rook nie.”
Bekommerd oor kieme?
“Die droom van ’n kiemvrye huis is nie net vergesog nie, maar dit is in werklikheid tevergeefs”, sê ’n artikel in The New York Times. “Tensy jy jou huis deel met iemand wat baie oud, baie jonk (onder 6 maande) of baie siek is, hou die paar honderd bakterieë op jou werksoppervlak, deurhandvatsel of lepel geen gevaar in” vir jou gesondheid nie. Bederfbare kos wat ’n paar uur lank op ’n werksoppervlak gelos word, kan egter wel met bakterieë besmet word en voedselvergiftiging veroorsaak. Om dit te voorkom, moet bederfbare kos in die yskas gebêre word. En jy hoef nie antibakteriële produkte te gebruik om jou teen bakterieë te beskerm nie. “Al wat jy hoef te doen, is om jou hande ’n paar keer elke dag met seep en water te was”, sê die koerant.
Vertroue neem af
“Die meerderheid Spanjaarde het min of geen vertroue in die meeste instellings wat ’n groot invloed op hulle lewe het nie”, berig die Spaanse koerant El País. Volgens die Sentrum vir Sosiologiese Navorsing het net ’n bietjie meer as die helfte van die 2 500 mense met wie onderhoude gevoer is, gesê dat hulle die regering wantrou, 56,2 persent van hulle het die banke wantrou en 57,7 persent het nie vakbonde vertrou nie. In ’n land waar bykans 75 persent van die bevolking sê dat hulle Katoliek is, het meer as 61 persent gesê dat hulle “min of geen vertroue in die Katolieke Kerk het nie”. ’n Hoofartikel in die koerant Diario 16 het hieroor kommentaar gelewer en gesê: “Dit is duidelik dat die meeste Spanjaarde hulle as Katoliek beskou, maar die oorgrote meerderheid beoefen nie hierdie godsdiens nie of hulle stem nie saam met die oortuigings daarvan nie.”
Lees verbeter geheue
Hoe kan jy jou geheue verbeter? “Moenie wag vir ’n wonderwerk nie”, sê Brasilië se Folha Online. “Die geheim is om jou brein te laat werk.” Een van die beste maniere om jou brein te stimuleer, is om te lees. Hoe so? Die neuroloog Ivan Izquierdo sê: “Wanneer iemand die woord ‘boom’ lees, flits al die bome wat hy al in sy lewe gesien het, deur sy gedagtes in ’n paar honderdstes van ’n sekonde.” Volgens Izquierdo “gebeur dit alles sonder dat ’n mens eens daarvan bewus is”. Hy meen dat hierdie soort verstandelike aktiwiteit ons brein minder vatbaar maak vir siektes soos Alzheimer se siekte. Die neuroloog Wagner Gattaz, van die Navorsingsentrum vir Geheueversteurings in São Paulo, Brasilië, sê: “Hoe meer ons ons geheue gebruik, hoe beter bewaar ons dit.”
Al hoe meer SMS’e
“Elke jaar word daar meer as 360 miljard teksboodskappe regoor die wêreld gestuur”, berig die International Herald Tribune. “Dis ongeveer eenmiljard teksboodskappe elke dag.” Teksboodskappe, of SMS’e, word nou vir al hoe meer dinge gebruik. ’n Toenemende aantal maatskappye stuur teksboodskappe na potensiële kliënte se selfone om hulle produkte te adverteer. Intekenaars kan nou byvoorbeeld die pous se gebede op hulle selfoon kry. Die polisie in Nederland stuur SMS’e na gesteelde selfone om voornemende kopers te waarsku dat die selfoon gesteel is. En in sommige lande waar die godsdienswet ’n man toelaat om van sy vrou te skei deur drie keer te sê “ek skei jou”, is egskeiding deur middel van SMS wettig verklaar.
Internetgebruik in Nederland
In ’n studie waaroor daar in die Nederlandse koerant Algemeen Dagblad berig is, is beweer dat “een uit elke 5 kinders tussen die ouderdomme van 11 en 12 al deur ’n vreemdeling geteister is met seksuele insinuasies terwyl hulle op die Internet geklets het”. Volgens vraelyste wat aan 660 ouers en 220 kinders tussen die ouderdomme van 8 en 12 uitgegee is, het meer as die helfte van die kinders wat die Internet gebruik, al die “onaangename ondervinding gehad” dat hulle “irriterende e-pos (spam)” of pornografiese beelde of ander onwelvoeglike inligting ontvang het. Die meeste van die kinders het hulle ouers van die voorval vertel. Die studie sê verder dat 8 uit 10 ouers bekommerd is oor die gevare wat Internetgebruik vir hulle kinders kan inhou, dat bykans die helfte van die ouers gesê het dat hulle graag ’n ogie oor hulle kinders wil hou wanneer hulle die Internet gebruik, dat 60 persent van ouers die rekenaar in die woonkamer hou om hulle kinders dop te hou en dat kinders gemiddeld amper ’n uur elke dag op die Internet deurbring terwyl hulle speletjies speel, e-posboodskappe stuur en klets.
Die raad wat hulle verkies
“Volgens ’n opname verkies byna twee derdes van die direkteure van toonaangewende maatskappye die raad van hulle huweliksmaat bo dié van ’n ander bestuurslid of kollega wanneer hulle voor ’n moeilike situasie by die werk te staan kom”, berig The Times van Londen. Bob Arnold, wie se raadgewende firma die navorsing laat doen het, sê dat sakeleiers nie op soek is na kundigheid in hulle raadgewers nie, maar na vertroue. Hy verduidelik: “Onafhanklikheid, objektiwiteit en ondervinding is natuurlik ook gesogte eienskappe in die mense wat raad aan bestuurslede gee”, maar omdat vertroue die belangrikste is, is hulle vrou hulle eerste keuse.
Einde van tjeks word voorspel
“Binne ’n geslag sal tjeks waarskynlik in onbruik geraak het”, sê U.S.News & World Report. Betaling per tjek het skerp afgeneem sedert “ander goedkoper en vinniger betalingsmetodes soos krediet- en debietkaarte en Internetbankdienste” beskikbaar geword het. Ander bydraende faktore is direkte deposito’s en outomatiese rekeningbetalings, waardeur kliënte magtiging aan krediteure gee om geld vir gereelde betalings uit hulle bankrekening te neem. Volgens die bankwese sal die einde van papiertjeks beskerming bied teen identiteitsdiefstal. Maar sommige verbruikers- en bedrogdeskundiges het kommer uitgespreek dat die gebruik van elektroniese tjeks tot ’n toename in die skending van privaatheid en bedrog sal lei.