Pogings om ’n miljard mense te voed
ELKE dag is daar ’n miljard mense wat nie genoeg voedsel kry om hulle honger te stil nie. Maar volgens die Verenigde Nasies behoort hierdie verskriklike toestand nie te bestaan nie.
“Julle het gesê dat dit julle eerste prioriteit is om volslae armoede uit te roei.” Dit was die woorde van die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Kofi Annan, op 8 September 2000 aan ’n vergadering van die wêreld se invloedrykste mans en vroue. Hulle het bymekaargekom vir die Verenigde Nasies se Millenniumberaad waartydens ’n aantal van hierdie leiers hulle reguit uitgespreek het oor die probleme van die wêreld se armes. “Volslae armoede is ’n belediging vir die mensdom”, het die visepresident van Brasilië gesê. Die eerste minister van Groot-Brittanje het selfs verder gegaan toe hy gesê het: “Die ontwikkelde wêreld se droewige geskiedenis van mislukking in Afrika is iets wat ons beskawing skok en in die skande steek.”
Hierdie twee sprekers het dit duidelik gemaak dat dit ’n skande is dat die nasies nie alles in hulle vermoë doen om uitgehongerde mense te voed nie. As bewys van hulle begeerte om lewensomstandighede vir almal op die aarde te verbeter, het diegene wat die spitsberaad bygewoon het, hulle tot optrede verbind in ’n agtdelige resolusie wat die volgende ingesluit het: “Ons sal alles in ons vermoë doen om ons medemens, mans, vroue en kinders, te bevry van die ellendige en onmenslike toestande van volslae armoede waarin meer as ’n miljard van hulle tans lewe. . . . Ons neem ons ook voor: Om teen 2015 die persentasie van die wêreldbevolking wat minder as een dollar per dag verdien en die persentasie van die bevolking wat honger ly, te halveer.”
Watter vooruitgang is sedert September 2000 gemaak om hierdie edele doelwit te bereik?
Baie myle lê tussen doen en sê
In 2003 het die Wêreldbestuursinisiatief van die Wêreld- Ekonomiese Forum ondersoek begin instel na wat gedoen is om die doelwitte te bereik wat in die Verenigde Nasies se Milleniumverklaring uiteengesit is. Die amptelike verslag, wat op 15 Januarie 2004 vrygestel is, sê: “Die wêreld doen nie naastenby genoeg om al sy belangrikste doelwitte te bereik nie.” Wat honger betref, sê die verslag: “Die probleem is nie dat daar ’n nypende tekort aan voedsel in die wêreld is nie—daar is genoeg vir almal. Die probleem is dat beskikbare voedsel en voldoende voeding nie by diegene uitkom wat nie geld het nie.”
Die verslag sê aangaande armoede oor die algemeen: “Vandag moet regerings, ryk en arm, grotendeels die skuld kry vir die swak resultate wat ons sien. Maar in ’n wêreldwye ekonomiese stelsel wat deur die rykes geskep is, trek die brandarmes dikwels aan die kortste end. Ondanks al die leë woorde van die ryk lande toon hulle min belangstelling daarin om hierdie stelsel te verander of om ontwikkelingshulp wat op die brandarmes gemik is, wesenlik te vergroot.” Ten spyte van hierdie kritiek is die politici nog steeds besig om debatte te voer, eerder as om iets te doen, en die regerings manipuleer dinge nog steeds tot hulle eie voordeel. Intussen is die armes van die wêreld se mae nog steeds leeg.
’n Feiteblad van die Wêreld- Ekonomiese Forum, getiteld “Van aspirasie tot aksie”, waarsku dat “honger onder groot dele van die mensdom sal toeneem tensy internasionale handelsbeleide verander word, nasionale beleide op honger fokus en suksesvolle plaaslike pogings skerp toeneem”. En wie moet beter beleide maak en meer “suksesvolle plaaslike pogings” aanwend? Die einste regerings wat in 2000 openlik verklaar het dat hulle vasbeslote is om die situasie van die hele mensdom te verbeter.
Wanneer een belofte gebreek word, kan dit tot teleurstelling lei; wanneer etlike beloftes gebreek word, lei dit tot wantroue. Omdat wêreldregerings nie hulle woord gehou het om vir die wêreld se armes te sorg nie, wantrou mense hulle. ’n Moeder van vyf wat in ’n arm Karibiese land woon, kan haar gesin net een maaltyd per dag gee. Sy sê: “Ek stel net daarin belang of ons kan eet. Dit maak nie saak wie aan bewind is nie. Ons het nog nooit enigiets van hulle gekry nie.”
Die Bybelskrywer Jeremia het gesê: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die feit dat menseregerings misluk het in hulle pogings om die probleme van die armes op te los, bevestig hierdie Bybelwaarheid.
Maar daar is ’n Heerser wat die krag sowel as die begeerte het om die mens se probleme op te los, en die Bybel sê wie hy is. Wanneer daardie Heerser aan bewind kom, sal niemand weer honger ly nie.
’n Grondslag vir hoop
“Op u is almal se oë hoopvol gerig, en u gee hulle hulle voedsel op die regte tyd” (Psalm 145:15). Wie is hierdie Een wat aandag skenk aan die mens se behoefte vir voedsel? Ons Skepper, Jehovah God. Hoewel die mensdom al duisende jare lank hongersnood en ander probleme verduur, het Jehovah nog altyd in mense belanggestel. Hy het gesien hoe menseregerings misluk, en sy onfeilbare Woord, die Bybel, wys daarop dat hy hulle binnekort met sy eie regering gaan vervang.
Jehovah sê: “Ek, ja ek, het my koning ingehuldig op Sion, my heilige berg” (Psalm 2:6). Hierdie aankondiging van die hoogste gesag in die heelal gee ons rede tot hoop. Hoewel menseheersers dikwels versuim het om hulle onderdane te help, sal Jesus Christus, as die Koning wat deur God aangestel is, voordele bring wat die brandarmes van die aarde nog nooit gesien het nie.
Deur middel van hierdie Koning gaan Jehovah almal voed wat honger ly. ‘Jehovah van die leërs sal vir al die volke ’n feesmaal berei’, sê Jesaja 25:6. Onder God se Koninkryk in die hande van Christus sal daar, ongeag waar mense woon, nooit weer ’n tekort aan goeie voedsel wees nie. Aangaande Jehovah sê die Bybel: “U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe.”—Psalm 145:16.
[Lokteks op bladsy 13]
“Die ontwikkelde wêreld se droewige geskiedenis van mislukking in Afrika is iets wat ons beskawing skok en in die skande steek.”—Britse eerste minister Tony Blair
[Prent op bladsy 12]
ETIOPIË: In hierdie land is omtrent 13 miljoen mense van voedselbystand afhanklik. Die kind in die foto hierbo is een van hulle
[Prent op bladsy 12]
INDIË: Hierdie leerlinge kry voedsel by die skool
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Bo: © Sven Torfinn/Panos Pictures; onder: © Sean Sprague/Panos Pictures