Die man wat “die aarde laat beweeg het”
Deur Ontwaak!-medewerker in Pole
“Daar is sekere ‘kafpraters’ wat hulle die reg aanmatig om ’n oordeel te vel, hoewel hulle absoluut niks van wiskunde weet nie, en hulle waag dit om my werk te kritiseer en aan te val deur die betekenis van sekere gedeeltes in die Heilige Skrif skaamteloos te verdraai om hulle doel te pas; ek steur my so min aan hulle dat ek hulle opinies as dwaasheid sal verwerp.”
NICOLAUS COPERNICUS het die woorde wat hierbo aangehaal word, aan pous Paulus III geskryf. Copernicus het dit ingesluit in die voorwoord van sy revolusionêre werk met die titel Oor die omwentelinge van die hemelsfere, uitgegee in 1543. Aangaande die beskouings wat in hierdie werk uitgespreek is, het Christophorus Clavius, ’n 16de-eeuse Jesuïetepriester, gesê: “Copernicus se teorie bevat talle belaglike en onjuiste bewerings.” Die Duitse teoloog Martin Luther het gesê: “Hierdie dwaas gaan die sterrekunde heeltemal deurmekaarkrap.”
Wie was Nicolaus Copernicus? Waarom was sy beskouings so kontroversieel? En hoe het hy moderne denke beïnvloed?
’n Jong man se dors na kennis
Hy is op 19 Februarie 1473 in Toruń, Pole, gebore, en sy doopnaam was Mikołaj Kopernik. Mikołaj het eers later, toe hy sy wetenskaplike werke begin skryf het, die Latynse vorm van sy naam, Nicolaus Copernicus, aangeneem. Sy vader, ’n handelaar in Toruń, het vier kinders gehad; Nicolaus was die jongste. Toe Nicolaus 11 jaar oud was, is sy vader oorlede. Sy oom, Lucas Waczenrode, het Nicolaus en sy broers en susters onder sy sorg geneem. Hy het Nicolaus gehelp om ’n goeie opvoeding te kry en hom aangespoor om ’n priester te word.
Nicolaus se opvoeding het in sy tuisdorp begin, maar dit is later voortgesit in Chełmno, waar hy Latyn geleer en die werke van eertydse skrywers bestudeer het. Toe hy 18 was, het hy na Krakau, die destydse hoofstad van Pole, verhuis. Hy het daar aan die universiteit ingeskryf en sy studie van die sterrekunde geesdriftig voortgesit. Nadat Nicolaus sy studies in Krakau voltooi het, het sy oom—wat teen hierdie tyd die biskop van Warmia was—hom gevra om na Frombork, ’n stad langs die Baltiese See, te verhuis. Waczenrode wou hê dat sy susterskind die amp van domheer moes aanvaar.
Maar die 23-jarige Nicolaus wou sy dors na kennis les en het sy oom oortuig om hom toe te laat om in die kerklike reg, geneeskunde en wiskunde aan die Italiaanse universiteite van Bologna en Padua te studeer. Daar het Nicolaus met die sterrekundige Domenico Maria Novara en die filosoof Pietro Pomponazzi geassosieer. Die geskiedskrywer Stanisław Brzostkiewicz sê dat Pomponazzi se leringe “die jong sterrekundige se verstand van die greep van Middeleeuse ideologie” bevry het.
In sy vrye tyd het Copernicus die werke van eertydse sterrekundiges bestudeer, en hy het hom so daarin verdiep dat hy Grieks geleer het om die oorspronklike tekste te kan bestudeer omdat hy die Latynse werke onvolledig gevind het. Teen die tyd dat Nicolaus sy studies voltooi het, was hy ’n doktor van kerklike reg, ’n wiskundige en ’n mediese dokter. Hy was ook ’n kenner van Grieks en die eerste persoon wat ’n dokument direk uit Grieks in Pools vertaal het.
Hy kom met ’n revolusionêre teorie vorendag
Toe Copernicus na Pole teruggekeer het, het sy oom, die biskop, hom as sy persoonlike sekretaris, adviseur en dokter aangestel—’n hoë posisie. Gedurende die volgende dekades het Nicolaus verskillende godsdienstige sowel as burgerlike administratiewe posisies beklee. Ondanks sy werklas het hy sy studie van die sterre en planete voortgesit en bewyse ingesamel ter ondersteuning van ’n revolusionêre teorie—dat die aarde nie die stilstaande middelpunt van die heelal is nie, maar in werklikheid om die son beweeg.
Hierdie teorie het gebots met die leringe van die hoogaangeskrewe filosoof Aristoteles en was ook strydig met die gevolgtrekkings van die Griekse wiskundige Ptolemeus. Daarbenewens het Copernicus se teorie die skynbaar ooglopende “feit” weerspreek dat die son in die ooste opkom, deur die hemelruim beweeg en in die weste ondergaan, terwyl die aarde stilstaan.
Copernicus was nie die eerste persoon wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die aarde om die son draai nie. Die Griekse sterrekundige Aristargus van Samos het in die derde eeu v.G.J. met hierdie teorie vorendag gekom. Aanhangers van Pitagoras het geleer dat die aarde sowel as die son om ’n sentrale vuur beweeg. Ptolemeus het egter geskryf dat, as die aarde beweeg het, “diere en ander liggame in die lug agtergelaat sou word en die Aarde kort voor lank uit die hemel sou val”. Hy het bygevoeg: “Dit is belaglik om selfs net aan so iets te dink.”
Ptolemeus het Aristoteles se idee gesteun dat die aarde in die middel van die heelal stilstaan, omring deur ’n aantal deursigtige sfere binne-in sfere, waaraan die son, die planete en die sterre bevestig is. Hy het aangeneem dat die beweging van hierdie deursigtige sfere die beweging van die planete en die sterre verklaar het. Ptolemeus se wiskundige formules het ’n redelik akkurate verklaring vir die beweging van die planete in die naghemel voorsien.
Maar dit was die tekortkominge in Ptolemeus se teorie wat gemaak het dat Copernicus ’n alternatiewe verklaring vir die vreemde bewegings van die planete gesoek het. Om sy teorie te bewys, het Copernicus replikas gemaak van die instrumente wat deur die eertydse sterrekundiges gebruik is. Hoewel hierdie instrumente vandag as eenvoudig beskou sou word, het dit hom in staat gestel om die relatiewe afstande tussen die planete en die son te bereken. Dit het hom jare geneem om die presiese datums vas te stel waarop sy voorgangers sekere belangrike sterrekundige waarnemings gemaak het. Toegerus met hierdie gegewens, het Copernicus begin werk aan die kontroversiële dokument wat die mensdom uit sy posisie in die middel van die heelal geskuif het.
Geskil oor die manuskrip
Copernicus het gedurende die laaste jare van sy lewe die argumente en wiskundige formules wat die grondslag van sy teorie gevorm het, verfyn en uitgebrei. Meer as 95 persent van die finale dokument bevat tegniese besonderhede ter ondersteuning van sy gevolgtrekkings. Hierdie oorspronklike handgeskrewe dokument het behoue gebly en word in die Jagielloniese Universiteit in Krakau, Pole, bewaar. Die dokument het nie ’n titel nie. Die sterrekundige Fred Hoyle skryf gevolglik: “Ons weet nie werklik wat Copernicus sy boek wou noem nie.”
Selfs voordat die werk gepubliseer is, het die inhoud daarvan belangstelling gewek. Copernicus het ’n kort opsomming van sy idees gepubliseer in ’n werk wat Commentariolus genoem is. Gevolglik het berigte van sy navorsing Duitsland en Rome bereik. Pous Klemens VII het reeds in 1533 van Copernicus se teorie te hore gekom. En in 1536 het kardinaal Schönberg aan Copernicus geskryf en hom aangespoor om ’n volledige verslag van sy idees te publiseer. Georg Joachim Rheticus, ’n professor aan die Universiteit van Wittenberg in Duitsland, het soveel in Copernicus se werk belanggestel dat hy die sterrekundige besoek en uiteindelik twee jaar lank by hom gebly het. In 1542 het Rheticus ’n afskrif van die manuskrip saam met hom na Duitsland teruggeneem en dit aan Petreius, ’n drukker, en Andreas Osiander, ’n geestelike en proefleser, gegee.
Osiander het die werk die titel De revolutionibus orbium coelestium (Oor die omwentelinge van die hemelsfere) gegee. Deur die frase “van die hemelsfere” by te voeg, het Osiander te kenne gegee dat die werk deur Aristoteles se idees beïnvloed is. Osiander het ook ’n anonieme voorwoord geskryf en gesê dat die hipoteses in die boek nie geloofsartikels is nie en nie noodwendig waar is nie. Copernicus het eers ’n paar uur voor sy dood in 1543 ’n eksemplaar van die gedrukte boek met sy ongemagtigde veranderinge en afgewaterde idees ontvang.
Oor die omwentelinge—’n revolusionêre werk
Osiander se veranderinge het die boek aanvanklik kritiek gespaar. Die Italiaanse sterrekundige en fisikus Galileo het later geskryf: “Toe die boek uitgegee is, is dit deur die heilige Kerk aanvaar, en dit is deur almal gelees en bestudeer sonder dat daar hoegenaamd enige beswaar teen die idees daarin aangeteken is. Maar noudat duidelike eksperimente en nodige bewyse getoon het dat dit gegrond is, is daar mense wat die skrywer van sy beloning sal ontneem sonder om eers na sy boek te kyk.”
Die Lutherane was die eerstes wat die boek “belaglik” genoem het. Die Katolieke Kerk, wat aanvanklik nie ’n amptelike opinie uitgespreek het nie, het besluit dat die boek strydig was met sy amptelike leer en het Copernicus se werk in 1616 by die lys van verbode boeke gevoeg. Dit is eers in 1828 van hierdie lys verwyder. In sy inleiding tot ’n Engelse vertaling van die boek verduidelik Charles Glenn Wallis: “Die twis tussen Katolieke en Protestante het veroorsaak dat albei sektes enige skandaal gevrees het wat respek vir die Kerk van die Bybel kon ondermyn, en gevolglik het hulle die Skrif te letterlik begin vertolk en was hulle geneig om enige bewering te veroordeel wat as ’n weerspreking van enige letterlike vertolking van enige gedeelte van die Bybel opgeneem kon word.”a Aangaande die veronderstelde teenstrydigheid tussen Copernicus se teorie en Bybelleringe het Galileo geskryf: “[Copernicus] het nie die Bybel geïgnoreer nie, maar hy het alte goed geweet dat sy teorie, as dit bewys word, nie met ’n korrekte begrip van die Skrif kan bots nie.”
Vandag word Copernicus deur baie as die vader van die moderne sterrekunde vereer. Sy beskrywing van die heelal is weliswaar later deur wetenskaplikes soos Galileo, Kepler en Newton verfyn en verbeter. Maar die astrofisikus Owen Gingerich sê: “Dit is Copernicus wat deur sy werk vir ons gewys het hoe onseker eeue oue wetenskaplike idees kan wees.” Deur navorsing, waarneming en wiskunde het Copernicus diepgewortelde godsdiens- en wetenskaplike wanopvattings omvergewerp. In die gedagtes van mense het hy ook “die son laat stilstaan en die aarde laat beweeg”.
[Voetnoot]
a Die verslag wat in Josua 10:13 opgeteken is, wat praat van die son wat tot stilstand gekom het, is byvoorbeeld gebruik om te toon dat die son, nie die aarde nie, gewoonlik beweeg.
[Venster/Prent op bladsy 17]
Oor die omwentelinge van die hemelsfere
Copernicus het sy werk in ses dele verdeel. Hieronder is van die belangrikste idees wat in sy boek verskyn.
● Ons planeet is een van baie “reisigers” wie se bewegings beheer word deur ‘die son wat op sy koninklike troon sit’.
● Die planete wentel in dieselfde rigting om die son. Die aarde is een van hulle, en dit draai een keer per dag om sy eie as en wentel een keer per jaar om die son.
● Mercurius is die naaste aan die son, gevolg deur Venus, Aarde en sy maan, Mars, Jupiter en laastens Saturnus.
[Erkenning]
Titelblad van Copernicus se werk: Zbiory i archiwum fot. Muzeum Okręgowego w Toruniu
[Prent op bladsy 14]
’n Waarnemingsinstrument wat Copernicus gebruik het
[Erkenning]
Zbiory i archiwum fot. Muzeum Okręgowego w Toruniu
[Prente op bladsy 15]
Items uit Copernicus se studeerkamer in sy sterrewag in Frombork, Pole
[Erkenning]
Zdjecie: Muzeum M. Kopernika we Fromborku; J. Semków
[Prent op bladsy 16]
Geosentriese stelsel (aarde as middelpunt)
[Erkenning]
© 1998 Visual Language
[Prent op bladsy 16]
Heliosentriese stelsel (son as middelpunt)
[Erkenning]
© 1998 Visual Language
[Prent op bladsy 16, 17]
Die sonnestelsel soos ons dit vandag verstaan