Gelei na die Skepper deur die prag van die waarheid
SOOS VERTEL DEUR TSOEJOSJI FOEDJII
’NPAAR jaar gelede het ek ’n seldsame geleentheid gekry. Ek was die assistent van Senei Ikenobo, hoof van die Ikenobo-blommerangskikkingskool, en ek moes blomme rangskik in ’n deftige vertrek van die Keiserlike Paleis in Tokio, Japan. Daar was streng veiligheidsmaatreëls waar ons gewerk het. Ek was in dié gespanne atmosfeer versigtig om nie eers ’n druppel water te mors nie. Dit was een van die hoogtepunte van my loopbaan in die wêreld van blommerangskikking. Laat my verduidelik hoe ek hierdie wêreld betree het.
Ek is in 1948 gebore in die stad Nishiwaki, noordwes van Kobe, Japan. Van kleins af is ek diep geraak deur die veranderende prag van die vier seisoene soos dit in blomme gesien kan word. Ek is egter deur my ouma grootgemaak wat ’n vroom Boeddhis was, en daarom het die gedagte van ’n Skepper nooit by my opgekom nie.
In my tuisdorp leer my ma mense nog steeds om ikebana, of blommerangskikking, te doen. In Japan is ikebana, wat ook bekend staan as kado (die weg van blomme), ’n hooggeagte kunsvaardigheid. Hoewel my ma my nooit self die kuns geleer het nie, het sy ’n groot invloed op my gehad. Toe die tyd aangebreek het dat ek moes besluit wat ek met my toekoms wou doen, wou ek die wêreld van ikebana betree. My onderwyser en my ma het ’n gewone universiteitskursus aanbeveel, maar ek het sonder aarseling besluit om aan die Ikenobo-kollege te studeer. Ikenobo is die oudste vorm van ikebana in Japan. Toe ek aanvaar is, het ek die blommerangskikkingskuns in alle erns bestudeer.
Ek betree die wêreld van ikebana
Ikebana, ’n Japannese tradisionele kuns, het die lewe as tema. Laat my verduidelik. Blomme in ’n emmer by ’n bloemis lyk dalk mooi, maar kan dit regtig vergelyk word met plantjies wat in ’n veld blom of bome wat in die berge bloei? In die natuur word ’n mens bewus van lewe en die seisoene. Dit is meer waarskynlik dat jou hart dan geraak sal word. Ikebana is ’n manier om daardie prag in die natuur deur blomme en plante uit te beeld deur die dinge wat jou diep raak, as motief te gebruik.
Sê nou jy wil byvoorbeeld die gedagte van herfs oordra. Jy kan dit doen deur die blomme van daardie seisoen, soos gentiaan en goudvaleriaan, saam met herfsblare te gebruik. Wil jy ook die indruk van ’n verfrissende bries skep? ’n Paar stingels van Japannese sierriet wat effens wieg, sal mense wat daarna kyk, die gevoel van ’n herfsbries gee. Ek het sterk aangetrokke gevoel tot ikebana en het baie vreugde daaruit geput om myself uit te druk deur blomme en plante in die ruimte bo die blompot te kombineer.
’n Groot “familie”
Ikebana word al 500 jaar lank as ’n sierkuns beoefen. Die ikebana-skole word beheer deur wat ’n skoolhoofstelsel genoem kan word. Die amp van skoolhoof word oorgeërf. As die erfgenaam van kunstradisies oefen hy patriargale gesag uit oor ’n groot “familie” van volgelinge. Hy moet die tradisies aan die volgende geslag oorlewer, maar ook nuwe style wat hy geskep het, wat in ooreenstemming is met die tydperk waarin hy lewe.
Nadat ek aan die Ikenobo-kollege gegradueer het en ’n vakkursus van twee jaar in kado voltooi het, het ek in Januarie 1971 by die Ikenobo-stigting begin werk. Ek het “Ikebana-tentoonstellings deur Ikenobo” oral in Japan beplan en georganiseer. Ek het ook saam met die skoolhoof deur die hele land gereis as een van sy assistente wanneer hy sy kunswerke geskep het.
Ek onthou nog toe ek vir die eerste keer as die skoolhoof se assistent op die verhoog gestaan het in die Foekoeoka-sportsentrum terwyl hy blommerangskikking gedemonstreer het. Ek was versteen van skrik omdat ek voor duisende mense gestaan het. Ek het stingels geknak en takkies afgesny; ek het alles verkeerd gedoen. Maar die skoolhoof het net ligweg grappies hieroor gemaak terwyl hy aan die gehoor verduidelik het wat hy doen. Dit het my gehelp om te ontspan.
Wanneer daar nasionale gebeurtenisse was wat deur beroemde mense van oorsee bygewoon is, het ek saam met die skoolhoof gegaan om blomme vir die geleentheid te rangskik. Soos ek aan die begin genoem het, het ek by een van hierdie geleenthede blomme in ’n deftige vertrek in die Keiserlike Paleis gerangskik.
Later, toe die Ikenobo- Sentrale Opleidingskool gestig is met die doel om instrukteurs landwyd weer op te lei, is ek werk gegee in verband met onderwys, die opstel van die leerplan en toesig oor die produksie van handboeke en films wat gebruik sou word in lesings wat voor omtrent 200 000 vakleerlinge by 300 takke regoor Japan aangebied sou word. Ek het deur die hele land gereis om oor die kursus toesig te hou. Ikenobo het ook takke oorsee, en ek het etlike kere per jaar na Taiwan gereis. Op dié manier het ek die skoolhoof se vertroue gewen, en ek het ’n verantwoordelike posisie beklee.
Ek het my werk geniet, maar daar het iets in my lewe kortgekom. Agter al die prag was daar dinge wat my ontnugter het. Jaloesie en afguns onder vakleerlinge het tot laster aanleiding gegee, en plaaslike instrukteurs het my dikwels genader vir raad. Maar in ’n organisasie waar ou gebruike en mag ’n groot invloed het, was daar baie dinge waaraan ek niks kon doen nie. Omdat baie werklik lief was vir ikebana en die kursus ernstig opgeneem het, het ek alles in my vermoë gedoen sodat dit vir hulle aangenaam sou wees om te leer.
My eerste kontak met die prag van die waarheid
Ek het nie van godsdiens gehou nie omdat ek gedink het dat dit ’n mens verstandelik blind sou maak. Daarbenewens het ek baie skynheiligheid gesien onder diegene wat van vrede en geluk praat. Aan die ander kant het my vrou, Keiko, al van kleins af na die waarheid gesoek. Sy het in verskillende godsdienste belanggestel en na hulle leringe geluister, maar nie een van hulle het haar geestelike honger gestil nie.
Toe een van Jehovah se Getuies ons huis besoek het, het Keiko dus tot ’n Bybelstudie ingestem. Sy het alles wat sy geleer en enigiets wat haar beïndruk het, vir my vertel. Die dinge wat Keiko my vertel het, het goed geklink, maar ek was nie so entoesiasties soos sy nie.
Nogtans het Keiko my met sterk oortuiging bly vertel van wat sy uit die Bybel geleer het. Sy het altyd ’n paar Bybeltydskrifte in my tas gesit wanneer ek gereis het. Maar ek het geweier om dit te lees. Ek wou die dinge waarvoor ek jare lank gewerk het, beskerm. Ons het pas ons eie huis gekoop, en ek het om die een of ander rede gedink dat ek die huis sou moes opgee as ek Bybelleringe aanneem. Keiko het intussen vinnig vooruitgang gemaak en die dinge wat sy geglo het, toegepas. Ek het uitgesluit en alleen gevoel. Al het ek geweet dat die dinge wat sy my vertel het, reg was, het ek haar begin teëstaan.
Teenstand ondanks aangetrokkenheid
Ek het gewoonlik laat in die aand ná werk by die huis gekom, maar op die aande wanneer Keiko die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het, het ek opsetlik later as gewoonlik teruggekom. Selfs wanneer ek twee- of drie-uur die oggend tuisgekom het, het Keiko vir my gewag om my te vertel van wat gedurende die dag gebeur het en sodoende te wys dat sy vir my omgee. Maar ek kon nie die gedagte verdra dat my gesin die huis ’n paar uur lank verlaat om Christelike vergaderinge by te woon nie. Ek het meer teenstand gebied en van ’n egskeiding begin praat. Maar Keiko het standvastig gebly.
Ek kon nie Keiko se gedrag verstaan nie. Ten spyte van ons gespanne verhouding en haar asma-aanvalle, was sy baie gelukkig in alles wat sy gedoen het. Dit was Keiko se suiwer hart en haar sagmoedige onskuld wat my oorspronklik tot haar aangetrokke laat voel het. En juis daarom was ek bekommerd dat sy bedrieg sou word toe sy die Bybel begin studeer het.
Nogtans het Keiko die dinge wat sy geleer het, toegepas en haar bes gedoen om ’n goeie vrou en moeder te wees. Hoewel ek Keiko teëgestaan het, het ek nou en dan Christelike vergaderinge en byeenkomste bygewoon wanneer sy my gesmeek het, moontlik omdat ek trots op haar was.
Ek was terselfdertyd jaloers op Jehovah. Toe ek sien hoe Keiko probeer om te verander, het ek gewonder waarom Bybelleringe so ’n diepgaande uitwerking op mense het. ‘Waarom is my vrou bereid om allerhande moeilikhede vir Jehovah te verduur?’ het ek gedink.
Kort voor lank het van die Christenbroers van Keiko se gemeente my by die huis probeer besoek. Ek was glad nie van plan om hulle te ontmoet nie. En tog wou ek weet waarom Keiko sulke gemoedsrus gehad het. Op die ou end kon ek my nuuskierigheid nie langer bedwing nie en het ek ingestem om die Bybel te bestudeer. Namate ek diegene wat my besoek het, beter leer ken het, het ek besef dat daar iets verkwikkends omtrent hulle is. As gevolg van die weeklikse studie het Bybelwaarheid stadigaan my hart bereik, en ek het minder eng in my beskouings geword.
Die prag van die natuur en van die waarheid
Wanneer ek probeer het om die prag en die krag van die natuur deur middel van ikebana weer te gee, het dit my hoofbrekens besorg om die luisterrykheid daarvan oor te dra. Maar toe ek geleer het dat dit Jehovah is wat die wonders van die natuur geskep het, het dit alles vir my sin gemaak. Hoe kan ’n nietige mens met die Skepper se kunssinnigheid meeding? Jehovah is die Grootste Kunstenaar! Maar deur hom te probeer naboots, het ek blomme baie beter begin rangskik. Om die waarheid te sê, nadat ek die Bybel begin studeer het, het mense vir my begin sê dat my werk verander het, dat dit nou sagtheid sowel as energie gehad het.
Bybelwaarheid het my gehelp om baie dinge vir die eerste keer te verstaan. Toe ek geleer het dat Satan die Duiwel, as die heerser van die wêreld, die oorsaak van hedendaagse menselyding is en dat ons hart verraderlik is as gevolg van sonde wat ons van Adam geërf het, het ek uiteindelik die ware betekenis verstaan van die gebeure wat om ons plaasvind (Jeremia 17:9; 1 Johannes 5:19). Ek het geleer dat Jehovah ’n vreedsame God is wat oorvloedig is in liefde, geregtigheid, krag en wysheid (Deuteronomium 32:4; Romeine 11:33; 1 Johannes 4:8; Openbaring 11:17); dat God, weens sy liefde, Jesus gestuur het om vir ons te sterf (Johannes 3:16; 2 Korintiërs 5:14) en dat daar ’n tyd sal kom wanneer daar geen lyding of dood meer gaan wees nie (Openbaring 21:4). Die prag van hierdie waarhede het my gefassineer. Daarbenewens lewe Jehovah se Getuies volgens Jesus se lering om ‘jou naaste soos jouself lief te hê’. Omdat ek dit self gesien het, het dit my verseker dat dit die ware godsdiens is.—Matteus 22:39.
’n Struikelblok om uit die weg te ruim
Nadat die waarheid in my hart wortelgeskiet het, het ek voor ’n uitdaging te staan gekom. Wanneer die skoolhoof nie begrafnisse kon bywoon nie, het ek hom dikwels in die Boeddhistiese ritusse verteenwoordig. Dit het vir my ’n toets geword toe ek my aan Jehovah wou toewy. Ek het ’n persoonlike besluit geneem om nie aan Boeddhistiese ritusse deel te neem nie (1 Korintiërs 10:21). Ek het eerbiedig aan die skoolhoof verduidelik dat ek van plan was om binnekort gedoop te word en dat ek besluit het om aan geen ander vorm van aanbidding deel te neem nie, al was dit deel van my werk. Hy het vir my gesê dat hy geen beswaar daarteen het dat ek ’n Christen word nie en dat ek godsdienstige aangeleenthede op my eie manier kon hanteer. Dié antwoord het my aangenaam verras omdat ek gedink het dat ek bestraf sou word en my posisie sou verloor.
Nadat ek hierdie struikelblok uit die weg geruim het, is ek in Junie 1983, ’n jaar nadat ek die Bybel begin studeer het, by ’n Christenbyeenkoms gedoop om my toewyding aan Jehovah te simboliseer. Toe ek uit die doopbad klim, het Keiko my met ’n groot glimlag en trane in haar oë verwelkom. Met trane in my eie oë het ek saam met Keiko Jehovah bedank vir die vreugde wat ons saam geniet het.
Die besluit om my sekulêre loopbaan te laat vaar
Die skoolhoof het besondere begrip vir my as ’n toegewyde Christen getoon. Ek het probeer om my verantwoordelikhede by die werk selfs deegliker as vroeër na te kom. Nietemin het ek probeer om ’n balans tussen my sekulêre werk en my Christelike lewe te handhaaf. Ek het sewe jaar lank gedurende etlike maande van elke jaar meer in die Christelike bediening gedoen.
Ek moes egter ernstig aan my enigste seun se geestelikheid en aan Keiko se verswakkende gesondheid dink. ‘Ek moet meer tyd saam met my gesin deurbring’, het ek gedink. Ek wou ook Koninkryksbelange altyd eerste in my lewe stel. Hierdie behoeftes en begeertes het my beweeg om tot Jehovah te bid omtrent my besluit om my loopbaan in ikebana te laat vaar. Die skoolhoof het besef dat ek vasbeslote was, en ek kon uiteindelik in Julie 1990 op 42-jarige leeftyd sonder enige probleme aftree.
Ek help ander om die prag van die waarheid te sien
Kort nadat ek afgetree het, het ek die voltydse bediening betree sodat ek ander kon help om die waarheid te vind. Op die oomblik gee ek een dag per week klas in blommerangskikking, sonder die beperkings van die Ikenobo-styl. Ek het die voorreg om as ’n ouer man in die gemeente te dien, en Keiko geniet die pionierdiens en kry minder asma-aanvalle as tevore. Ons seun, wat nou getroud is, is ’n bedieningskneg in ’n nabygeleë gemeente. Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog vir ons almal om Jehovah as ’n gesin te dien!
Ek sien daarna uit om, onder Jesus Christus se Koninkryksheerskappy, die plante te gebruik wat ek in my tuin kweek, om pragtige blommerangskikkings te maak. Dit is my opregte begeerte om die luisterryke naam van Jehovah, die Skepper van alles wat pragtig is, vir ewig saam met my dierbare gesin te loof.
[Prent op bladsy 23]
Saam met my vrou, ons seun en sy gesin
[Prente op bladsy 23]
Deur ikebana kan jy uitdrukking gee aan die indruk wat die prag van die natuur op jou maak