Die Nazi’s kon my nie verander nie
Soos vertel deur Hermine Liska
MY BESKERMDE kinderjare het in 1938 skielik tot ’n einde gekom toe Adolf Hitler en sy Nazi-party die bewind in my vaderland, Oostenryk, oorgeneem het. Daar is kort voor lank van my en my skoolmaats verwag om die “Heil Hitler”-saluut te gee, Nazi-liedere te sing en by die Hitler-jeugbeweging aan te sluit. Ek het volstrek geweier om dit te doen. Kom ek verduidelik waarom.
Ek het saam met my vier broers, wat almal ouer as ek was, op ’n plaas in St. Walburgen in Karintië, Oostenryk, grootgeword. My ouers was Johann en Elisabeth Obweger. In 1925 het my pa ’n Bibelforscher, oftewel Bybelstudent, geword, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. My ma is in 1937 gedoop. Hulle het my van kleintyd af Bybelbeginsels geleer en gehelp om ’n liefde vir God en sy skeppingswerke te ontwikkel. Hulle het byvoorbeeld vir my gewys dat dit verkeerd is om aan enige mens eer te gee wat op aanbidding sou neerkom. Jesus Christus het gesê: “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.”—Lukas 4:8.
My ma en pa was baie gasvry. Ons het baie besoekers gekry, en ’n hele paar plaaswerkers het by ons gesin van sewe gewoon. Ons het baie gesing—’n gebruik wat nog steeds gewild is in Karintië—en ons het talle interessante Bybelbesprekings gehad. Ek het kosbare herinneringe aan hoe ons gesin elke Sondagoggend saam om die eetkamertafel gesit het om die Bybel te studeer.
Van vryheid na vrees
Toe ek byna agt jaar oud was, het Duitsland Oostenryk geannekseer. Van toe af het die druk toegeneem om aan die eise van die Nazi-party te voldoen, en alle burgers moes mekaar weldra met die “Heil Hitler”-saluut groet. Ek het geweier om dit te doen omdat “heil” in Duits “redding” beteken, en ek was nie bereid om redding aan Hitler toe te skryf nie! Ek het geweet dat Jesus Christus my Redder is (Handelinge 4:12). My onderwysers sowel as my klasmaats het my heeltyd oor my standpunt gespot. Toe ek 11 jaar oud was, het my laerskoolhoof gesê: “Hermine, ek gaan jou terugsit in graad een. Ek kan nie so ’n hardkoppige kind in my klas duld nie!”
Omdat ek en my broers bly weier het om “Heil Hitler” te sê, is my pa beveel om in die hof te verskyn. Hy is gevra om ’n dokument te teken waarin hy sy geloof verloën. Die dokument het ook gesê dat hy sy kinders volgens die Nazi-ideologie sou grootmaak. Omdat hy geweier het om dit te teken, het hy en my ma toesig oor ons verloor, en ek is gestuur na ’n heropvoedingsentrum sowat 40 kilometer van die huis af.
Ná ’n rukkie het ek verskriklik huis toe verlang, en ek het baie gehuil. Intussen het die goewernante my probeer dwing om by die Hitlerjeug aan te sluit, maar dit was tevergeefs. Ander meisies het my regterarm in die lug probeer hou wanneer ons die Nazi-vlag moes salueer, maar hulle kon dit nie regkry nie. Ek het soos God se knegte van ouds gevoel wat gesê het: “Dit is vir ons ondenkbaar om Jehovah te verlaat om ander gode te dien.”—Josua 24:16.
My ouers is verbied om my te besoek. Hulle het egter maniere gevind om my in die geheim op pad skool toe en by die skool te ontmoet. Hierdie kort ontmoetings het my grootliks aangemoedig om aan Jehovah getrou te bly. Tydens een so ’n ontmoeting het my pa my ’n klein Bybeltjie gegee, wat ek in my bed weggesteek het. Ek het dit baie geniet om daarin te lees, al moes ek dit in die geheim doen! Eendag het iemand my amper betrap, maar ek het die Bybel gou onder my kombers weggesteek.
Ek word na ’n klooster gestuur
Aangesien al die pogings om my te verander, misluk het, het die owerheid vermoed dat ek nog steeds onder my ouers se invloed is. Daarom het hulle my in September 1942 per trein gestuur na München, Duitsland, waar ek in ’n Katolieke skool met die naam Adelgunden gesit is, wat ook ’n klooster was. Toe ek oorgeplaas is, het die nonne my Bybel gesien en dit weggeneem.
Ek was nietemin vasbeslote om getrou by my oortuigings te bly, en ek het geweier om kerkdienste by te woon. Toe ek vir een van die nonne gesê het dat my ouers altyd op Sondae vir my die Bybel gelees het, het haar reaksie my verbaas. Sy het my Bybel teruggegee! My woorde het klaarblyklik haar hart geraak. Sy het my selfs toegelaat om vir haar die Bybel te lees.
By een geleentheid het ’n onderwyseres vir my gesê: “Hermine, jy is blond en jy het blou oë. Jy is Germaans, nie Joods nie. Jehovah is die God van die Jode.”
“Maar”, het ek geantwoord, “Jehovah het alles gemaak. Hy het ons almal geskep!”
Selfs die skoolhoof het druk op my geplaas. Hy het eenkeer gesê: “Kyk, Hermine, een van jou broers het by die leër aangesluit. Hy stel vir jou so ’n goeie voorbeeld!” Ek het geweet dat een van my broers by die leër aangesluit het, maar ek was glad nie van plan om sy voorbeeld te volg nie.
“Ek is nie ’n volgeling van my broer nie”, het ek gesê. “Ek is ’n volgeling van Jesus Christus.” Toe het die skoolhoof gedreig om my na ’n psigiatriese saal te stuur, en hy het selfs vir ’n non gesê om te reël dat ek daarheen gaan. Maar hy het nie sy dreigement uitgevoer nie.
In die somer van 1943 is München gebombardeer en is die kinders van Adelgunden na die platteland geneem. Gedurende hierdie tyd het ek dikwels nagedink oor my ma se woorde: “As ons ooit geskei word en jy selfs nie my briewe ontvang nie, moet jy onthou dat Jehovah en Jesus met jou sal wees. Hulle sal jou nooit verlaat nie. Daarom moet jy aanhou bid.”
Ek keer terug huis toe
In Maart 1944 is ek teruggeneem na Adelgunden, waar ons byna die hele tyd—dag en nag—in die bomskuiling moes bly as gevolg van die hewige lugaanvalle op München. Intussen het my ouers die owerheid gereeld gevra dat ek na hulle toe teruggestuur moet word. Hierdie versoek is uiteindelik toegestaan, en ek het die einde van April 1944 by die huis aangekom.
Toe die tyd aanbreek om die skoolhoof te groet, het hy gesê: “Skryf vir ons wanneer jy by die huis kom, Hermine. En bly net soos jy is.” Wat ’n verandering van gesindheid! Ek het gehoor dat nege meisies en drie nonne kort nadat ek daar weg is, gedurende ’n lugaanval dood is. Hoe verskriklik is oorlog tog nie!
Ek was egter bly om weer by my gesin te wees. In Mei 1944, terwyl die oorlog nog voortgewoed het, is ek in ’n bad gedoop, en sodoende het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer. Toe die oorlog in 1945 geëindig het, het ek die voltydse bediening betree. Ek was gretig om ander te vertel van die goeie nuus van God se Koninkryk, die mensdom se enigste hoop op blywende vrede en veiligheid.—Matteus 6:9, 10.
In 1950 het ek Erich Liska, ’n jong reisende bedienaar van Jehovah se Getuies van Wene, Oostenryk, ontmoet. Ons is in 1952 getroud, en ek het Erich ’n tydjie lank vergesel terwyl hy gemeentes besoek het om hulle geestelik te versterk.
Ons eerste kind is in 1953 gebore, en nog twee het gevolg. Omdat ons meer verantwoordelikhede gehad het, het ons die voltydse bediening verlaat om na ons gesin om te sien. Ek het geleer dat God jou nooit sal teleurstel as jy hom aankleef nie, maar dat hy jou krag sal gee. Hy het my nooit in die steek gelaat nie. Veral sedert ek my dierbare man in 2002 aan die dood afgestaan het, was Jehovah vir my ’n bron van vertroosting en krag.
Wanneer ek terugkyk op my lewe, is ek baie dankbaar teenoor my ouers dat hulle ’n liefde vir God en sy geskrewe Woord, die bron van ware wysheid, in my jong hart ingeboesem het (2 Timoteus 3:16, 17). Maar bowenal is ek dankbaar teenoor Jehovah, wat my altyd die krag gee om beproewinge in die lewe die hoof te bied.
[Lokteks op bladsy 19]
“Ek is nie ’n volgeling van my broer nie . . . Ek is ’n volgeling van Jesus Christus”
[Prent op bladsy 19]
Saam met my gesin op ons plaas in St. Walburgen
[Prente op bladsy 19]
My ouers, Elisabeth en Johann Obweger
[Erkenning]
Albei foto’s: Foto Hammerschlag
[Prent op bladsy 20]
Saam met my man, Erich