Ontdekking by Red Bay
Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada
“DIS nie aan die einde van die aarde nie, maar jy kan dit van daar af sien”, sê party dalk. As jy al ooit Red Bay, in Oos-Kanada, besoek het, sal jy dit heel waarskynlik ook beskryf as ’n plek na aan die einde van die aarde. Hierdie klein dorpie is aan Labrador se skilderagtige kus geleë, naby Belle-Eiland-straat. Wat maak die rustige Red Bay met sy beskutte hawe uniek en interessant?
Sy unieke geskiedenis
Die dorp wemel van besoekers wanneer die tyd vir walviskykery aanbreek. Maar dit was nie altyd die aantrekkingskrag nie. Meer as 400 jaar gelede is noordkappers en Groenlandse walvisse hier gejag vir hulle waardevolle olie. Volgens ’n bron “was [walvisolie] in tye van skaarste . . . $10 000 [R60 000] per vat werd in vandag se geld”. Baskiese walvisjagters van die grensgebied van Frankryk en Spanje was onder die eerste Europeërs wat Kanada se natuurlike hulpbronne benut het. Hoofsaaklik walvisolie is gebruik om Europa van lig te voorsien. Dit is ook gebruik as smeermiddel vir masjinerie, as ’n bestanddeel van seep en skoonheidsmiddels en vir die verwerking van leer, wol en verf. Gedurende die laaste helfte van die 16de eeu was Red Bay die grootste hawe vir walvisjag ter wêreld. Een van die eerste nywerheidstelsels waarvan ons weet, is dus in Kanada gevestig—die walvisbedryf.
Hoe weet ons dit?
Bewyse in dokumente wat in Baskiese argiewe gevind is, het Red Bay onder die aandag van argeoloë en geskiedkundiges gebring. Verslae toon dat ’n Spaanse galjoen wat as die San Juan bekend gestaan het, in 1565 tydens ’n storm daar gesink het.
Tydens opgrawings op Saddle-eiland, naby die kus van Red Bay, is artefakte opgegrawe wat verband hou met die vroeë walvisbedryf, soos ’n harpoenpunt met twee weerhake. Trouens, besoekers kan nog steeds hope rooi Spaanse dakteëls op die strande sien lê. Plaaslike kinders het jare lank daarmee gespeel. ’n Inwoner het gesê: “Ons het die rooi teëls as kryt gebruik om prente op die rotse te teken en in te kleur, en ons het nooit eens geweet waarmee ons speel nie!”
In die somer van 1978 het onderwaterargeoloë wat ongeveer 30 meter van die kus van Saddle-eiland af van ’n vragboot af gewerk het, ’n eikehoutplank uitgehaal. Dit was nogal betekenisvol, want Baskiese skeepsbouers het hoofsaaklik eikehout gebruik, en dit kom nie aan die dor kus van Labrador voor nie. Later het hulle die merkwaardig goed bewaarde oorblyfsels gevind van ’n skip wat hulle gemeen het die San Juan is. Die ysige water van Red Bay het die skip behoue laat bly. Dit was met lae slik bedek en het op ’n diepte van ongeveer tien meter op die seebodem gelê. Blykbaar het die gewig van groot hoeveelhede ys die skip mettertyd in sy lengte laat breek en dit soos ’n oop boek platgedruk. Argeoloë was opgewonde oor hierdie vonds, want dit is die heel eerste 16de-eeuse handelskip wat in die Amerikas noord van Florida uitgehaal is en grotendeels onbeskadig was.
Kan dit die San Juan wees?
Duikers het die skip met moeite stuk vir stuk uitgehaal en elke stuk genommer. Nadat ’n deeglike studie van die skip gemaak is, is dit weer in die seebodem begrawe sodat dit behoue kan bly. Wat is daaruit geleer? Hierdie skip, wat ongeveer 300 ton geweeg het, is gebou vir seewaardigheid, nie om mooi te lyk of luukse verblyf te voorsien nie. Die voor- sowel as agterstewe is reghoekig gemaak sodat daar baie pakplek sou wees vir die groot vragte walvisolie wat na Spanje teruggeneem sou word. Vroeë verslae oor die vergane San Juan toon dat dit ’n vol vrag walvisolie aan boord gehad het. Baie daarvan is deur die bemanning gered. Op die laer vlakke van die wrak het duikers die oorblyfsels van ongeveer 450 vate gevind, blykbaar dié wat agtergelaat is omdat dit te moeilik was om uit te kry. Geen menslike oorskot is aan boord gevind nie. Geen verlies van menselewens is in Baskiese dokumente gemeld nie. Hierdie ooreenkomste het navorsers tot die gevolgtrekking laat kom dat hierdie skip die vergane San Juan is. En terwyl die vergane galjoen uitgehaal is, is ’n Baskiese walvisboot gevind, wat as ’n chalupa bekend staan. Die chalupa is “een van die mensdom se groot prestasies in skeepstegnologie”, sê Robert Grenier, hoof van skeepsargeologie by Kanada se Parkeraad.
Wie sou kon dink dat die rustige Red Bay eens op ’n tyd ’n bedrywige walvisjag-hoofstad was? Tye het beslis verander. Maar hier bly nog brokkies geskiedenis oor vir almal om te sien.
[Kaarte op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Labrador
Red Bay
Belle-Eiland-straat
Die eiland Newfoundland
[Prent op bladsy 15]
’n Model een tiende van die grootte van wat vermoedelik die “San Juan” is
[Erkenning]
Parks Canada Agency, Photographer Denis Pagé
[Prent op bladsy 15]
Heel regs: Duiker by die vergane skip
[Erkenning]
Bill Curtsinger/National Geographic Images Collection
[Prent op bladsy 15]
Heel regs: Die noordkapper is ’n bedreigde spesie
[Erkenning]
NOAA
[Prent op bladsy 15]
Baskiese walvisboot, ’n “chalupa”, wat in Red Bay gevind is
[Erkenning]
Parks Canada/Shane Kelly/1998
[Prent op bladsy 15]
Red Bay
[Erkenning]
Photo courtesy of the Viking Trail Tourism Association
[Prent op bladsy 15]
Rooi Spaanse dakteëls spoel dikwels op die strand uit
[Erkenning]
Parks Canada/Doug Cook/1997