’n Wêreld sonder voedseltekorte?
STEL jou voor hoe ’n liefdevolle vader moet voel wanneer hy sy kinders weens wanvoeding sien ly. Dit maak sy hart baie seer. As dit is hoe ’n menseouer reageer, dink net hoe ons liefdevolle hemelse Vader moet voel. Hy is ten volle bewus van die lyding van honderdmiljoene mense wat hulle in hierdie situasie bevind.
Ondanks die mensdom se goeie voornemens om voedsel vir die honger mense van die wêreld te voorsien, is voedseltekorte aan die begin van die 21ste eeu besig om toe te neem. Maar ons hemelse Vader, Jehovah, kan en sal iets doen om dit vir ewig uit die weg te ruim. Hoe weet ons dit?
Die Bybel verduidelik dat God vir Adam en Eva in die tuin van Eden gesit het en hulle voorsien het van alles wat hulle nodig gehad het om ’n veilige, bevredigende lewe te lei, en genoeg voedsel te hê. God het vir hulle gesê: “Ek het aan julle al die plante gegee wat saad dra wat op die oppervlak van die hele aarde is.” Dit was Jehovah se voorneme dat Adam en Eva se kinders ‘die aarde vul’ en dat die hele mensdom ’n oorvloed voedsame kos sou hê om te eet.—Genesis 1:28, 29.
Hoewel die eerste mensepaar teen hulle Skepper in opstand gekom het en sy seën verloor het, het God se oorspronklike voorneme vir die mensdom nie verander nie. Die Bybel noem Jehovah “die Een wat brood gee aan dié wat honger is”, en dit bevat talle profesieë wat toon dat hy alle probleme sal verwyder wat veroorsaak word omdat mense nie toegang tot voedsel het nie.—Psalm 146:7.
Toe Jesus se dissipels hom vir ’n teken, of bewys, gevra het om te bepaal wanneer hy sy Koninkryk sou oprig en in die aarde se aangeleenthede sou ingryp, het Jesus die toestande genoem wat daardie ingryping sou voorafgaan. Een daarvan is “voedseltekorte”. ’n Noukeurige ondersoek van Jesus se woorde verseker ons dat die mensdom se lyding binnekort tot ’n einde gaan kom.a—Matteus, hoofstuk 24.
Psalm 72:16 voorspel aangaande die Paradys wat God tot stand gaan bring: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” In eertydse Israel het graan gewoonlik in die valleie gegroei. Maar onder die geseënde toestande wat in hierdie profesie beskryf word, sal selfs saad wat gesaai word op die dorste, onvrugbaarste grond—wat gewoonlik niks voortbring nie—oorvloedige opbrengs lewer. “In die tyd van die Messias”, sê een Bybelgeleerde, “sal dit wees asof daar oral wuiwende graanlande is, selfs op die top van die berge, asof die heuwels tot op die kruin bewerk is, sodat die hele land bedek is met wuiwende, glimlaggende oeste.”
Wat ’n groot verskil is daar tog tussen die toekoms wat die Bybel voorspel en die lot van miljoene mense wat vandag lewe! Ja, in die toekoms wat God belowe, sal “die aarde . . . beslis sy opbrengs lewer; God, ons God, sal ons seën”.—Psalm 67:6.
As jy graag wil weet hoe jy en jou geliefdes hierdie en baie ander seëninge kan geniet wat in hartverblydende Bybelprofesieë beskryf word, moet jy nie huiwer om Jehovah se Getuies in jou omgewing te vra of na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif te skryf nie.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van hoe Jesus se profesie vervul is, sien hoofstuk 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Volbladillustrasie op bladsy 10]