Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 12/22 bl. 12-15
  • Twee keer tot 25 jaar slawearbeid gevonnis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Twee keer tot 25 jaar slawearbeid gevonnis
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek leer Bybelwaarheid
  • Onderskraag ten spyte van ontmoediging
  • Gedoop in ’n bomkrater
  • Uiteindelik vry!
  • Verban na Siberië
  • Ek ontkom aan die dood in Workoeta
  • Ons gebruik ons groter vryheid ten volle
  • Terug na Moldowa
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
  • ’n Belofte wat ek beslis gaan hou
    Ontwaak!—1998
  • Die hoofsaak in my lewe—Om lojaal te bly
    Ontwaak!—2000
  • Onderskraag tydens verskriklike beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 12/22 bl. 12-15

Twee keer tot 25 jaar slawearbeid gevonnis

SOOS VERTEL DEUR EFREM PLATON

Laat in 1951 is ek vir die tweede keer tot 25 jaar in ’n strafkamp gevonnis. Hierdie keer is ek na die berugte Sowjetkamp in Workoeta, bo die Noordpoolsirkel, gestuur. Laat my verduidelik hoe ek daar beland het en amper ’n gewelddadige dood gesterf het.

EK IS op 16 Julie 1920 uit ’n arm gesin in Bessarabië, ’n gebied wat nou die Republiek van Moldowa is, gebore. My pa het gesterf kort voor ek gebore is en my ma toe ek vier jaar oud was. Dit het die ses kinders wat agtergebly het, wees gelaat. Ek is dankbaar teenoor my ouer broers, wat amper soos ouers was vir ons jongeres.

As ’n jongmens was ek baie geïnteresseerd in godsdienssake en betrokke by die bedrywighede van ons plaaslike Ortodokse Kerk. Maar mettertyd het die kerk my teleurgestel, veral die priesters, wat die nasies se pogings geseën het gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat in September 1939 begin het.

In die vroeë 1940’s het gevegte tussen Roemenië en die Sowjetunie uitgebreek, en Bessarabië was in die middel vasgevang. Generaal Ion Antonescu, die destydse heerser van Roemenië, het Bessarabië herower. Die owerheid het ’n vorm van voormilitêre opleiding ingestel vir mans van 20 jaar en ouer. Ek was onder diegene wat opgeroep is. Ons het ons opleiding ontvang in Boroseni, nie ver van die dorpie waar ek en my vrou, Olga, gebly het nie.

Ek leer Bybelwaarheid

Terwyl ons eendag gedurende ons opleiding middagete gehad het, het ek ’n groep mans gesien wat ’n lewendige bespreking voer; ek het gou uitgevind dat hulle Jehovah se Getuies is. My kort gesprek met hulle het tot baie ander gesprekke gelei. Mettertyd het ek met groot vreugde besef dat ek Bybelwaarheid gevind het, wat ek aan Olga en haar ouers oorgedra het.

Die bespreking wat daardie dag my aandag getrek het, was oor neutraliteit. Die Getuies het daar tot die slotsom gekom dat hulle ’n standpunt oor die saak moes inneem. Hulle het besluit om die opleiding te ondergaan, maar om te weier om die eed van getrouheid af te lê, wat ’n vereiste was om in die leër opgeneem te word.

Ek het vir Olga en haar ouers vertel dat ek ook gaan weier om so ’n eed af te lê, en hulle het my besluit ondersteun. Op 24 Januarie 1943 het die oomblik aangebreek waarop ons die eed van getrouheid moes aflê sodat ons in die leër opgeneem kon word. Agt van ons het vorentoe getree, tot voor die priesters wat die verrigtinge waargeneem het. Ons het nie die eed van getrouheid afgelê nie, maar eerder gesê dat ons nie aan die oorlog kan deelneem nie, want ons is neutraal.

Ons is in hegtenis geneem en na die polisiestasie in Boroseni geneem. Daar het hulle ons so wreed geslaan dat my vrou my na die tyd amper nie herken het nie. Ons is toe na Tsjisinau (voorheen Kisjinef), die land se hoofstad, geneem om voor ’n krygshof te verskyn.

Ons moes omtrent 140 kilometer ver stap, en dit het ons 21 dae geneem omdat dit so bitter koud was. Die agt van ons is aan mekaar vasgeketting en begelei deur gewapende soldate, wat ons niks gegee het om te eet of te drink nie. Elke keer wanneer ons by ’n polisiestasie aangekom het, is ons geslaan, en ons het by 13 polisiestasies langs die pad gestop! Ons het aan die lewe gebly omdat plaaslike mense vir ons iets gegee het om te eet en te drink by die stasies waar ons oornag het. In hulle dade van goedhartigheid het ons God se besorgdheid oor ons raakgesien.

Onderskraag ten spyte van ontmoediging

Terwyl die agt van ons in Tsjisinau aangehou is en gewag het om voor ’n krygsraad te verskyn, is ons weer vreeslik mishandel. Die owerheid het ons geloof probeer verswak deur vir ons te sê dat Getuies van Zaicani, ’n dorpie in Noord-Moldowa, hulle geloof verloën het en toegelaat is om na hulle huise terug te keer. Ons het later uitgevind dat hulle eintlik net huis toe gestuur is om op hulle onderskeie verhore te wag. ’n Polisiebeampte het ook ’n koerantberig aangehaal wat gesê het dat ’n krygshof in die Oekraïne 80 Getuies ter dood veroordeel het.

Party van ons het ontmoedig geraak omdat hulle gedink het dat hulle nooit weer hulle kinders gaan sien nie. Ons is belowe dat ons vrygelaat sou word as ons ons geloof verloën. Ons is almal vir ’n week huis toe gestuur om by ons gesin te wees sodat ons oor ons toekoms kon dink. Daarna het net drie van ons by ons besluit gebly om ons neutraliteit te handhaaf.

Op 20 Februarie 1943 is ek na dieselfde polisiestasie in Boroseni geneem waar ek voorheen so erg geslaan is. Daar het ek die ander twee Getuies ontmoet wat ook by hulle besluit gebly het. Hoe bly was ons tog om mekaar weer te sien! Ons is later op ’n perdewa na Balti toe geneem. Tydens die rit het ek baie siek geword, wat eintlik ’n seën was omdat ons die res van die pad na Tsjisinau met ’n bus geneem is.

Toe ons daar aangekom het, het die wagte ons herken as die drie wat by hulle besluit gebly het. Hulle het ons onmiddellik weer geslaan. ’n Maand later is ons tot 25 jaar in ’n strafkamp in Roemenië gevonnis.

Gedoop in ’n bomkrater

Ons is op die ou end na Coegir, in Roemenië, gestuur, waar ons as houtkappers in die woud gewerk het. As ons ’n sekere hoeveelheid hout gekap het, het ons ’n bietjie meer kos gekry. Ons groep van tien Getuies was fluks, en daarom het ons beter geëet as in die tronke waar ons vroeër was.

In 1944 het die Amerikaanse magte die gebied naby ons kamp begin bombardeer. Eendag het ’n bom ’n reusagtige krater naby ’n spruitjie gemaak. Water het in die krater begin invloei en kort voor lank was daar ’n groot poel water. Ek is in September 1944 daar gedoop om my toewyding te simboliseer wat ek meer as ’n jaar en ’n half vroeër aan Jehovah God gemaak het.

Uiteindelik vry!

’n Paar weke later het die Russiese leër honderde Getuies in die gebied bevry, en ons kon huis toe gaan. Ek het my seun Wasile, wat in 1943 gebore is terwyl ek in die strafkamp was, toe vir die eerste keer gesien.

Teen die tyd dat die Tweede Wêreldoorlog in Mei 1945 in Europa geëindig het, was Bessarabië deur die Sowjetunie geannekseer en het dit die Moldowiese Sosialistiese Sowjetrepubliek geword. Die owerheid het nie dadelik stappe teen ons Christelike bedrywighede geneem nie. Hulle het egter agtergekom dat ons nie stem nie, en in die Sowjetstaat se oë was dit ’n baie ernstige misdaad.

In 1946 het ons ons tweede seun, Pawel, gehad en in 1947 is ons dogter, Maria, gebore. Hoe het ons tog ons gesinslewe geniet! Maar omtrent twee jaar later het ’n tragedie ons getref. Ons klein Maria het siek geword en skielik gesterf. Sy is op 5 Julie 1949 begrawe. Maar dit was net die begin van ons smarte.

Verban na Siberië

Slegs ure nadat ons Maria begrawe het, het drie soldate ons in die donker oggendure wakker gemaak. Hulle het vir ons gesê dat ons as gevolg van ons “anti-Sowjetgedrag” gedeporteer gaan word. Ons kon ’n bietjie kos en klere saamneem, en op 6 Julie 1949 is ons sowat 4 000 kilometer ver na Koergan, in Siberië, net noord van Kazakstan geneem.

Die reis het 18 dae geduur. Ons is soos beeste in treinwaens vervoer. Gedurende die reis is ons net twee keer kos gegee. Ons het ons kos spaarsamig gebruik sodat dit die hele reis gehou het. Almal in ons treinwa was Jehovah se Getuies. Ons het elke dag geestelik bedrywig gebly deur baie Bybelbesprekings te hê. Die kosbaarste besitting wat ons gehad het, was ’n Bybel.

Toe ons uiteindelik in Koergan aangekom het, het ons gevind dat ons ’n mate van bewegingsvryheid gehad het, al was ons in ’n strafkamp. Ek het in ’n smidswinkel gewerk en kon met my medewerkers oor my Bybelse hoop praat. Twee jaar later, op 27 September 1951, is ek in hegtenis geneem en weer voor ’n hof gebring. Die aanklaer het 18 mense gekry wat gesê het dat ek die vernietiging van die Staat voorspel het. Ek het eintlik die profesie in Daniël 2:44 gebruik om te wys dat alle menseregerings deur God se Koninkryk vervang gaan word.

Daarbenewens het die owerheid ons woonplek deursoek en ’n Wagtoring gevind wat in die geheim uit Moldowa gestuur is. Die owerheid het gewoonlik tydskrifte gevind wat óf met die hand geskryf is óf plaaslik gereproduseer is. Hierdie een het egter van buite die Sowjetunie gekom. Ek is dus vir die tweede keer tot 25 jaar dwangarbeid gevonnis. Hierdie keer is ek gestuur om in die steenkoolmyne van Workoeta te gaan werk, ’n berugte strafkamp aan die noordelike punt van die Oeralgebergte, bo die Noordpoolsirkel.

Ek ontkom aan die dood in Workoeta

In Workoeta was daar ’n enorme gevangeniskompleks wat uit 60 strafkampe bestaan het. Daar was meer as 6 000 arbeiders net in ons kamp. Die kombinasie van temperature onder vriespunt, onmenslike lewensomstandighede en die ondergrondse werk in die steenkoolmyne het baie lewens geëis. Daar was amper elke dag dooies wat begrawe moes word. My gesondheid het so agteruitgegaan dat ek nie harde fisiese werk kon doen nie. Ek is toe sogenaamde ligter werk gegee, wat behels het dat ek steenkool met ’n graaf in koekepanne moes laai.

Omstandighede in Workoeta was so sleg dat die myners ’n staking georganiseer het, maar dit het in ’n volskaalse opstand ontaard. Die myners het selfs hulle eie administrasie opgestel en ’n groep van omtrent 150 manne georganiseer wat weerstand sou kon bied as troepe sou opdaag. Hulle wou hê dat ek en byna 30 ander Getuies ook deel van hulle “leër” moes wees. Maar ons het geweier.

Die opstand het twee weke lank geduur totdat gewapende magte opgedaag het en al die opstandelinge geskiet het. Ons het gehoor dat die opstandelinge beplan het om ons net daar in die werkswinkel op te hang! Gelukkig het hulle planne misluk. As ’n mens dink aan die stelselmatige pogings van die Sowjetregering om ons geloof af te breek, kan jy verstaan waarom ons ons oorlewing aan ons groot God, Jehovah, toegeskryf het!

Ons gebruik ons groter vryheid ten volle

Stalin se dood in Maart 1953 het tot ’n verbetering in ons situasie gelei. Ek is in 1955 uit Workoeta vrygelaat en toegelaat om na my gesin terug te keer, wat nog steeds in die kamp in die woud in Koergan gebly het. Daar het ons voortgegaan om vir die plaaslike mense van ons wonderlike hoop te getuig.

Teen 1961 wou ons na ’n nuwe predikingsgebied verhuis. Ons het dus ’n brief aan die leier van die land, Nikita Chroesjtsjof, geskryf en toestemming gevra om te verhuis omdat daar nie skole vir ons kinders was nie—wat die waarheid was. Ons is toestemming gegee om na die dorpie Makoesjino te verhuis, waar daar ook ’n strafkamp was. Hoeveel vreugde het dit ons tog verskaf om vier groot gesinne daar te help om toegewyde knegte van Jehovah te word!

Ek is uiteindelik in 1965 uit hierdie kamp vrygelaat. Hoewel ons nog nie toegelaat is om na Moldowa terug te keer nie, kon ons na ander plekke in die Sowjetunie verhuis. Die volgende jaar het ons vertrek na Qostanai (voorheen Koestanai), in Kazakstan, waar daar reeds twee gemeentes van Getuies was. Aangesien hierdie gebied uiteindelik redelik goed gedek is, het ons drie jaar later na Tsjirtsjik, in Oesbekistan, verhuis. Teen hierdie tyd was ons seuns Wasile en Pawel getroud. Daarom het ons gekonsentreer op die geestelike vooruitgang van ons ander kinders—Doemitroe, 10 jaar oud, en Ljoeba, 7 jaar oud.

Ons het tien jaar lank in Oesbekistan gewoon, waartydens ons ook ander gehelp het om Jehovah te leer ken. In 1979 het ons meer as 1 600 kilometer wes verhuis na die stad Krasnodar, naby die Swart See in Suid-Rusland. Hier het ek en Olga twee jaar lank in die voltydse bediening as pioniers gedien, waar ons nog ander gehelp het om Getuies te word.

Terug na Moldowa

Uiteindelik, gedurende die somer van 1989—40 jaar nadat ons verban is—het ons besluit om na Moldowa terug te keer. Ons het dadelik weer die voltydse bediening betree en tot 1993 gepionier. Daar het ons meer as 30 persone gehelp om bedrywige Getuies van Jehovah te word. My hart swel van vreugde wanneer ek dink aan hoe ryklik Jehovah ons as ’n gesin geseën het! Maar ongelukkig het my dierbare vrou in Mei 2004 gesterf.

Ek word nogtans getroos deur die feit dat al 4 ons kinders, sowel as 14 van ons kleinkinders en 18 van ons agterkleinkinders, bedrywige knegte van Jehovah is. Ons het weliswaar ’n moeilike lewe gehad, maar hoe wonderlik is dit tog om te weet dat Jehovah ons tydens ons beproewinge gehelp het om lojaal aan hom te bly!

Namate ek ouer geword het, het slegte gesondheid en die ouderdom my bediening beperk. Nogtans doen ek my bes. Ek het geleer dat Jehovah altyd daar is om ons die krag en die aanmoediging te gee wat ons nodig het, ongeag voor watter uitdagings ons in die lewe te staan kom.a

[Voetnoot]

a Efrem Platon is op 28 Julie 2005 oorlede, terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is.

[Prent op bladsy 14, 15]

Jehovah se Getuies in die Workoeta-strafkamp

[Prent op bladsy 15]

Saam met Olga in 2002

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel