Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 12/22 bl. 19-21
  • Wat behoort ek omtrent steroïede te weet?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat behoort ek omtrent steroïede te weet?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Hupstoot vir die natuur
  • Wat maak steroïede aanloklik?
  • Dink aan die risiko’s
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
  • Waarom is ek so maer?
    Ontwaak!—2000
  • Is die arbeider sy loon werd?
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 12/22 bl. 19-21

Jongmense vra . . .

Wat behoort ek omtrent steroïede te weet?

“Ek dink wel daaraan [die gevolge daarvan om steroïede te neem] . . . Hoe lank gaan ek lewe? . . . Maar, jy weet, dis wat ek nóú wil hê.”—John, ’n gewigopteller.

IS JY ontevrede met jou voorkoms? Sou jy graag die gespierde liggaam van ’n steratleet of die skraal figuur van ’n topmodel wou hê? Neem jy sport ernstig op en wil jy sterker en vinniger wees?

As jy op enige van dié vrae ja geantwoord het, kan jy dalk in die versoeking kom om van die pille of mengsels te neem wat jou maats belowe jou sal help om jou doelwitte vinniger te bereik. Die tydskrif American Academy of Family Physicians sê: “Ongeveer 1 miljoen adolessente [in die Verenigde State] tussen die ouderdomme van 12 en 17 het al potensieel gevaarlike aanvullings en middels geneem om beter te kan presteer.”

Die gewildste opkikkermiddels staan bekend as anaboliese steroïede. Wat is dit? Waarom gebruik mense dit? En hoe kan jy die aantrekkingskrag daarvan weerstaan?

’n Hupstoot vir die natuur

“Anaboliese steroïede”, verduidelik ’n verslag van die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste, “is die bekende naam van sintetiese middels wat aan die manlike geslagshormone (androgene) verwant is. Dit bevorder die groei van skeletspiere (anaboliese uitwerking) en die ontwikkeling van manlike geslagskenmerke.” Tydens puberteit is daar in seuns ’n fyn ingestelde, vooraf geprogrammeerde toename in dié geslagshormone wat sorg vir die fisiese veranderinge wat ’n seun ’n man laat word.—Psalm 139:15, 16.

Sintetiese steroïede is in die 1930’s ontwikkel om mans te behandel wat nie genoeg van hierdie hormone op ’n natuurlike manier kon vervaardig nie. Vandag word steroïede gebruik om die wegtering van die liggaam as gevolg van MIV of ander siektes teë te werk. Steroïede het egter ’n mark gevind onder diegene wat dit nie om mediese redes nodig het nie. In die 1950’s het steroïede op die swartmark verskyn, en ambisieuse atlete het hierdie middels begin gebruik om hulle prestasie te verbeter.

Maar dit is nie net atlete wat in die versoeking kom om steroïede te neem nie. In ’n studie wat in die mediese tydskrif Pediatrics gepubliseer is, word daar geskat dat byna 3 persent van seuns en meisies tussen 9 en 13 in die Verenigde State al hierdie middels gebruik het. Dr. Nora D. Volkow, direkteur van die Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik, het tydens ’n onlangse Amerikaanse kongressitting gesê dat daar in 2004 “’n geskatte 79 000 senior hoërskoolleerlinge was wat [gesê het dat hulle] gedurende die afgelope jaar anaboliese steroïede misbruik het”. In die Verenigde Koninkryk is steroïedmisbruik ook algemeen. “In 2003”, sê die New Statesman, “was die grootste enkele groep nuwe kliënte van naalduitruilprogramme in Merseyside en Cheshire steroïedgebruikers, wat vir die eerste keer meer as heroïengebruikers was.”a

Wat maak steroïede aanloklik?

Waarom is daar ’n toename in steroïedmisbruik? Een rede is dat suksesvolle atlete kitsroem kan verwerf en ’n enorme fortuin kan maak. Steroïede bied skynbaar ’n kortpad na hierdie goudmyn. ’n Vername sportafrigter het ’n oorheersende gesindheid onder baie opgesom toe hy gesê het: “Om te wen, is al wat tel.” Volkow, wat vroeër gemeld is, het gesê: “Ons het nou te kampe met ’n baie skadelike boodskap wat deur ons samelewing begin versprei—dat groter beter is, en dat om die beste te wees, belangriker is as hoe jy daar uitkom.”

’n Opname deur Bob Goldman, ’n dokter wat in sportgeneeskunde spesialiseer, bevestig blykbaar hierdie sombere gevolgtrekking. Hy het jong atlete gevra of hulle ’n verbode opkikkermiddel onder die volgende omstandighede sou neem: Hulle sou nie betrap word nie, hulle sou vir die volgende vyf jaar elke kompetisie wen, en daarna sou hulle sterf as gevolg van die middel se newe-effekte. Meer as die helfte van die jong respondente het ja geantwoord.

Al het jy nie ’n wen-ten-alle-koste-denkwyse nie, kan steroïede nog steeds ’n verloklike aantrekkingskrag hê. Waarom? “Mense besluit om steroïede te neem”, sê Volkow, “omdat [steroïede], om die waarheid te sê, wel fisiese prestasie en voorkoms in sekere opsigte verbeter.” In baie kulture is fisiese voorkoms vandag van die allergrootste belang. Dr. Harrison Pope, professor van psigiatrie by die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit, beweer: “Miljoene mans moet met skaamte, ’n gebrek aan selfvertroue en verleentheid saamleef omdat soveel klem op liggaamlike voorkoms gelê word.” Steroïede bied jong mans die kans om hulle onsekerheid agter ’n indrukwekkende, gespierde liggaam weg te steek.

Om soortgelyke redes is meisies ook vatbaar vir die aantrekkingskrag van steroïede. Charles Yesalis, professor van gesondheid en menslike ontwikkeling by die Universiteit van Pennsilvanië, het die volgende oor steroïedmisbruik gesê: “Gedurende die 1990’s was daar ’n aansienlike toename onder meisies, en dit is tans hoër as ooit tevore.” Party meisies neem steroïede om sterker en vinniger op die sportveld te wees. Maar die meeste neem dit blykbaar met die hoop dat die middels hulle liggame in die skraal, lenige figure sal verander waarmee vandag se modelle en rolprentsterre spog. “Onder jong vroue”, sê Jeff Hoerger van die Rutgers-universiteit in New Jersey, “sien jy meer dat hulle dit gebruik as ’n manier om gewig te beheer en liggaamsvet te verminder.”

Dink aan die risiko’s

As jy ooit in die versoeking kom om steroïede sonder ’n voorskrif te neem, is dit die moeite werd om oor die volgende feite te dink. Iemand wat dit selfs vir ’n kort tydjie neem, verhoog die risiko van hartaanval, lewerversaking, nierversaking en ernstige psigiatriese probleme. Vroue wat steroïede neem, loop die risiko om menstruele abnormaliteite, ’n toename in die groei van liggaamshare, mansblesheidspatroon en ’n permanente diep stem te hê. Aan die ander kant kan mans wat steroïede neem, borste ontwikkel en sal hulle moontlik vind dat hulle testikels begin wegkwyn. Mans sowel as vroue kan skielike vlae van aggressiwiteit ondervind. En as steroïede gedurende adolessensie geneem word, kan dit, ironies genoeg, groei belemmer.

As jy ’n jongmens is wat Jehovah God se goedkeuring wil geniet, watter Bybelbeginsels is van toepassing op die ongeoorloofde gebruik van steroïede? Die Bybel stel dit duidelik dat jou lewe ’n gawe van Jehovah is (Handelinge 17:25). Soos die voormelde feite toon, sal ’n jongmens wat steroïede misbruik, sy gesondheid waarskynlik benadeel. Vra jou dus af: ‘Sou ek waardering teenoor Jehovah toon vir my liggaam—wat “wonderbaar gemaak” is—as ek middels inneem wat dit uiteindelik beskadig?’—Psalm 139:14.

’n Ander feit om te oorweeg, is dat steroïede ’n mens geneig maak tot woedeuitbarstings. Wyse koning Salomo het gesê: “Iemand wat geneig is tot woede, begaan baie oortredings” (Spreuke 29:22). Die apostel Paulus waarsku dat diegene wat toelaat dat woede hulle persoonlikheid oorheers, God se Koninkryk nie sal beërf nie (Galasiërs 5:19-21). Is die korttermynvoordele van steroïede hierdie risiko’s werd?

Sê nou jy kom in die versoeking om steroïede te neem om jou sportprestasie te verbeter? Die Bybel vereis dat ons ons “in alles eerlik [moet] gedra” (Hebreërs 13:18). Is jy eerlik met jou mededingers of met jouself as jy steroïede misbruik om in sport sukses te behaal?

Onthou dat jou portuurs jou miskien aan jou fisiese voorkoms of prestasies sal beoordeel, maar dat Jehovah mense anders beskou. Vir hom is dit nie die vorm van jou liggaam wat jou werklike waarde bepaal nie. Toe Jehovah Dawid gekies het om die koning van Israel te wees, het hy die volgende vir Samuel gesê oor Dawid se broer wat indrukwekkender as hy gelyk het: “Moenie na sy voorkoms en na sy hoë gestalte kyk nie, want ek het hom verwerp. Want God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.”—1 Samuel 16:7.

Of jy ’n kneg van Jehovah is of nie, dit maak sin om die aantrekkingskrag van steroïede te weerstaan. ’n Amerikaanse jong man wat op kollege voetbal speel, gee hierdie praktiese raad: “As jy nie onder druk geplaas wil word om steroïede te neem nie, moet jy versigtig wees met wie jy assosieer. Enige ‘voordeel’ wat jy uit die middels kry, is eenvoudig nie die moeite werd nie.”

[Voetnoot]

a Steroïede word dikwels in die liggaam ingespuit, wat die risiko van MIV of ander bloedgedrae siektes verhoog onder diegene wat naalde deel. Daarom probeer steroïedgebruikers nou baat vind by programme wat oorspronklik bedoel was vir dwelmgebruikers, wat skoon naalde in ruil vir gebruikte naalde kry.

[Prent op bladsy 20]

Party jong vroue neem steroïede om hulle figuur te verander

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel