Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vloektaal neem toe
  • Hoe slapende windswaeltjies hulle posisie behou
  • “Die siekte wat ons nie hoef te hê nie”
  • ’n “Heilige” wat knope losmaak
  • Die Evangelie in die ruimte
  • Die “oordeelsdaghorlosie” word verstel
  • Switserland besluit om ’n VN-lid te word
  • Dodelike steroïede
  • Wat behoort ek omtrent steroïede te weet?
    Ontwaak!—2005
  • Osteoporose—’n Stille siekte
    Ontwaak!—2010
  • Osteoporose—die ‘brosbeen’-siekte
    Ontwaak!—1997
  • Die windswael—Vlieg soos die wind
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vloektaal neem toe

Baie Noord-Amerikaners is daaroor besorg dat hulle “’n verlore stryd voer om goeie maniere te bewaar”, sê ’n artikel in The Toronto Star. Dit kan veral gesien word in “die feit dat vloektaal al hoe aanvaarbaarder word”. Volgens P. M. Forni, hoof van die Johns Hopkins-universiteit se Beleefheidsprojek, is vloektaal nou so algemeen dat baie jongmense nie dink dit is verkeerd nie en die meeste volwassenes dit blykbaar nie opmerk of selfs nie omgee dat mense vloek nie. Volgens professor Timothy Jay, berig die koerant, “begin kinders reeds op eenjarige ouderdom vloek, wanneer hulle die vermoë ontwikkel om woorde te leer wat hulle by hulle ouers en op televisie hoor”. Syfers van een studie toon dat “vloekwoorde ongeveer 10 persent van ’n volwassene se woordeskat by die werk uitmaak en 13 persent daarvan wanneer hy ontspan”. Nog ’n statistiek wat deur die Star aangehaal is, toon dat “vloektaal op televisie van 1989 tot 1999 met meer as 500 persent toegeneem het” in die Verenigde State.

Hoe slapende windswaeltjies hulle posisie behou

Windswaeltjies slaap nie net wanneer hulle vlieg nie, maar kry dit ook reg om oor hulle gebied te bly sonder om deur die wind weggevoer te word. Om uit te vind hoe hulle dit doen, het die voëlkenners Johan Bäckman en Thomas Alerstam van die Universiteit van Lund in Swede radar gebruik om die swaeltjies se nagtelike bewegings te monitor. Volgens ’n berig in die Duitse wetenskaptydskrif Bild der Wissenschaft het die navorsers ’n sekere vliegpatroon waargeneem wat die swaeltjies in posisie hou. Die voëls klim tot hoogtes van 3 000 meter en vlieg dan skuins in die wind in terwyl hulle gereeld elke paar minute van rigting verander. Deur gereeld so van rigting te verander, beweeg hulle heen en weer oor hulle gebied. Maar wanneer die wind nie so sterk waai nie, is daar opgemerk dat die swaeltjies in sirkels vlieg terwyl hulle slaap.

“Die siekte wat ons nie hoef te hê nie”

“Osteoporose is die siekte wat ons nie hoef te hê nie”, sê The Sun-Herald van Australië. “In die meeste gevalle is dit voorkombaar. Tog word daar voorspel dat een uit drie pasiënte in hospitale teen 2020 vroue met beenbreuke sal wees.” ’n Verslag deur Osteoporose-Australië toon dat die siekte, wat bene poreus en bros maak, “algemener is as hoë cholesterol, allergieë of verkoues. Dit kos meer as suikersiekte of asma. En die sterftesyfer onder vroue weens heupfrakture is hoër as die gekombineerde voorkomssyfer van alle soorte kanker onder vroue.” Volgens professor Philip Sambrook toon skattings dat die helfte van die vroue en ’n derde van die mans in Australië gedurende hulle leeftyd ’n beenbreuk weens osteoporose sal opdoen. “Die beste voorsorgmaatreël”, sê die koerant, “is om ’n mens se beenmassa in die eerste drie dekades van jou lewe soveel as moontlik op te bou deur oefeninge te doen en genoeg kalsium in te neem.” Die kans om osteoporose te kry, kan grootliks verminder word deur nie te rook nie en oormatige alkohol- of kafeïeninname te vermy. Nuttige gewoontes sluit in dat ’n mens gereeld oefen en kos eet wat ryk is aan kalsium en vitamien D.

’n “Heilige” wat knope losmaak

“In onlangse jare was sint Judas Taddeus, die beskermheilige van verlore sake; sint Rita, redder van die wanhopiges; sint Hedwig, beskermer van die skuldenaars, en sint Expeditus, die beskermheilige van dringende sake, almal gewild”, sê die koerant Veja. Die jongste toevoeging tot hierdie gewilde “heiliges” onder Brasilië se Katolieke is “Ons Liewe Vrou wat knope losmaak”. Hierdie ongewone titel kom van ’n skildery wat in ’n kapel in Augsburg, Duitsland, hang, waarin die Maagd Maria die knope in ’n lint losmaak. Mediapersoonlikhede het tot die gewildheid van “Ons Liewe Vrou wat knope losmaak” bygedra. Sy het gevolglik aanhangers gekry wat op haar staat maak om hulle te help om netelige gesondheids-, huweliks- en finansiële probleme te ‘ontknoop’, en dit het terselfdertyd ’n winsgewende bedryf in medaljons, bidsnoere, beelde en bufferplakkers geskep. “Hierdie gier is nie ’n slegte ding nie, maar dit sal nie lank hou nie”, voorspel Darci Nicioli, administrateur van Brasilië se grootste Katolieke heiligdom.

Die Evangelie in die ruimte

Hoewel wetenskaplikes nog nie eenstemmigheid bereik het oor die moontlikheid van lewe in die buitenste ruimte nie, berig die koerant Berliner Morgenpost dat priesters by die Vatikaanse Sterrewag tot die slotsom gekom het dat “die aarde se bewoners nie die enigste lewensvorme in die heelal is wat deur God geskep is nie. God het ook buiteaardse wesens geskep.” Soos George Coyne, direkteur van die sterrewag, verduidelik het, “is die heelal eenvoudig te groot om te dink dat ons alleen is”. Om hierdie buiteaardse wesens met die Evangelie te bereik, het verskeie kloosters die Nuwe Testament al as ’n gekodeerde boodskap in die ruimte ingestuur. Wat die Vatikaan volgende wil weet, sê die koerant, “is of Jesus Christus hom ook op ander planete geopenbaar het”. En, sê Coyne verder, “of Jesus Christus ook die bewoners” van daardie planete gered het.

Die “oordeelsdaghorlosie” word verstel

Die direkteure van The Bulletin of the Atomic Scientists het die wysers van die bekende oordeelsdaghorlosie “met twee minute aangeskuif na sewe minute voor middernag”, berig die Paryse dagblad International Herald Tribune. “Besorgdheid oor trae ontwapeningspogings, die veiligheid van bestaande kernopslagplekke en terrorisme” het tot hierdie verandering aanleiding gegee. Die horlosie—die simbool van hoe naby die wêreld aan kernvernietiging is—is sedert die ingebruikneming daarvan in 1947 al 17 keer verstel. Ná die ineenstorting van die Sowjetunie in 1991 is die wysers na 17 minute voor middernag teruggeskuif, maar met die jare het die wysers geleidelik nader aan middernag beweeg. Die horlosie is laas in 1998 aangeskuif, van 14 tot 9 minute voor middernag. Sedertdien is slegs 3 000 kernwapens uitmekaargehaal, wat beteken dat meer as 31 000 kernwapens nog in die hande van die kernmagte is.

Switserland besluit om ’n VN-lid te word

“Switserland, wat ’n tradisie van neutraliteit opgebou het, het in ’n landwye stemming met ’n naelskraapse meerderheid . . . besluit om dekades van isolasionisme te laat vaar en ’n lid van die Verenigde Nasies te word”, berig The New York Times. Die voorlegging van ’n amptelike aansoek aan die VN se Algemene Vergadering is nodig om Switserland die 190ste lid van die organisasie te maak. Toe die Switsers laas in 1986 oor lidmaatskap gestem het, is die voorstel met ’n oorweldigende meerderheid verwerp, “weens vrese dat die nasie sy tradisioneel neutrale posisie sou moes prysgee”. Wat het tot die verandering aanleiding gegee? “Hoewel die Verenigde Nasies se Europese hoofkwartier in Genève is en die land aktief betrokke is by verskeie van sy agentskappe, het die regering gevrees dat ’n voortgesette onwilligheid om ’n lid te word, Switserland polities en ekonomies sou ondermyn, en sy bemiddelingspogings in verafgeleë konflikte sou kniehalter”, sê die Times. Switserland het moontlik ook gemeen dat dit nodig is om hulle beeld te verbeter ná onlangse onthullings dat Switserse banke die rekeninge van die slagoffers van die Slagting opgegaar het en dat Switserland baie vlugtelinge wat uit Nazi-Duitsland probeer vlug het, van sy grense af weggewys het.

Dodelike steroïede

Volgens skattings “gebruik ongeveer 60 persent van diegene [in Pole] wat liggaamsbou beoefen, steroïede”, berig die Poolse weekblad Wprost. Tieners tussen 17- en 18-jarige ouderdom begin dit vroeg in die jaar gebruik “sodat hulle teen Junie by buitelugswembaddens met hulle spiere kan spog”. Hoewel die steroïede “in feitlik enige liggaamsbougimnasium gekoop kan word”, is dit gevaarlik vir die liggaam. “Steroïede beskadig nie net die lewer nie, maar ook die spiere”, sê professor Janusz Nauman van die Mediese Universiteit in Warskou. Ander newe-effekte sluit vel- en haarprobleme, hiperaktiwiteit, aggressiewe gedrag en ernstige emosionele versteurings in. Party newe-effekte van steroïede ontwikkel eers jare later. Byvoorbeeld, in die geval van “atlete van [die voormalige] Oos-Duitsland, waar die middels van die 1950’s af in groot dosisse gebruik is, is die uitwerking op hulle gesondheid in die 1970’s en ’80’s waargeneem”, sê Nauman. En, sê Wprost verder, die gebruik van steroïede “verhoog die moontlikheid dat persone heroïen en ander dwelmmiddels sal begin gebruik”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel