Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/06 bl. 21-23
  • ’n Besoek aan ’n kunsledematesentrum

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Besoek aan ’n kunsledematesentrum
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe word ’n kunsbeen vervaardig?
  • Kinderpasiënte en atlete
  • Hedendaagse vooruitgang
  • ’n Produktiewe lewe sonder ’n ledemaat
    Ontwaak!—1999
  • Die verlies van ’n ledemaat—Kan dit met jou gebeur?
    Ontwaak!—1999
  • ’n Ortopedis verduidelik waarom sy aan God glo
    Ontwaak!—2013
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 2/06 bl. 21-23

’n Besoek aan ’n kunsledematesentrum

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIEU-SEELAND

EK HET om twee redes ’n afspraak gemaak by die Kunsledematesentrum in Wellington, Nieu-Seeland. Eerstens het my kunsbeen herstelwerk nodig gehad. Tweedens wou ek op ’n toer van die sentrum gaan om meer omtrent die vervaardigingsproses van kunsledemate uit te vind.

My prostetikus was vriendelik genoeg om my versoek om ’n toer toe te staan. Dit was ’n lonende ondervinding, een wat my waardering vergroot het vir die bekwame en toegewyde pogings van die mense in die veld van die prostetika.

Die woord “prostese” verwys na die vervanging van ’n afwesige deel deur ’n kunsmatige plaasvervanger. Prostetika is “die kennisveld wat met prosteses verband hou”. ’n Prostetikus is “iemand wat in die prostetika gekwalifiseerd is en daarin praktiseer”.—Encyclopedia and Dictionary of Medicine, Nursing, and Allied Health, Third Edition.

Hoe word ’n kunsbeen vervaardig?

Die meeste pasiënte wat die sentrum besoek, kom om ’n kunsbeen te kry. In die eerste stap van die vervaardigingsproses word ’n spesiale kous oor die pasiënt se geneesde stompie getrek. ’n Gipsvorm word dan gemaak, wat gebruik word om ’n akkurate duplikaat van die stompie te vorm. Dit word dan gebruik om ’n koker te maak, waaraan die nuwe ledemaat gemonteer word. En so begin die proses om die verlore been met ’n ten volle funksionele been te vervang. In ’n nuwer, doeltreffender tegniek word CAD/CAM- (rekenaargesteunde ontwerp en vervaardiging) programme gebruik om die stompie te meet. ’n Masjien sny dan ’n presiese replika van die oorblywende deel van die ledemaat uit.

Nadat ek die tegniese vaardigheid gesien het wat by die sentrum ingespan word, het hulle vir my ’n paar van die pasklaar, ingevoerde prostetiese komponente gewys. Een indrukwekkende voorbeeld was ’n hidrouliese kniegewrig wat aan ’n termoplastiese koker gemonteer is en met behulp van hitte vir die pasiënt se gemak gevorm kan word. Omvattende, geïllustreerde katalogusse van hierdie soort komponente is wêreldwyd by ’n verskeidenheid bronne beskikbaar.

In die finale stadiums van kunsbeenvervaardiging word fyn verstellings gemaak sodat die dele van die koker, knie, vel en voet in die regte posisie is om die pasiënt so natuurlik as moontlik te laat loop. Heel aan die einde word ’n skuimomhulsel voorberei. Dit steek die “gebeente” van die kunsledemaat weg. Die kosmetiese afwerking word gedoen sodat dit so goed as moontlik by die oorblywende ledemaat kan pas.

Nadat ’n pasiënt ’n redelike mate van selfvertroue opgebou het, word ’n afspraak vir hom gemaak by ’n ortopedis wat die Kunsledematesentrum besoek. Dan word alles vir die laaste keer professioneel nagegaan om seker te maak dat die nuwe ledemaat so goed moontlik sal werk.

Kinderpasiënte en atlete

Terwyl ek op die toer was, het ’n meisietjie my aandag getrek. Sy was glad nie skaam om vir ons haar stompie en kunsledemaat te wys nie. Later het ek haar dopgehou terwyl sy rondgehuppel het, blykbaar heeltemal sorgeloos.

Ek het met groot belangstelling geluister na wat my prostetikus te sê gehad het oor kinders wat ’n ledemaat verloor. Hy het vir my ’n miniatuurhandjie gewys en het verduidelik dat sulke kunsledemate vir babas gebruik word, waarvan party maar ses maande oud is. Waarom? Sodat hulle opleiding kan kry om later ’n kunshand of -arm te gebruik. Sonder hierdie opleiding, het hy gesê, leer die kind om van net een arm afhanklik te wees en kan hy dit dan moeilik vind om later in die lewe te leer om twee arms te gebruik.

Ek het uitgevind dat ’n Europese vervaardigingsmaatskappy nie lank gelede nie ’n houer vol komponente van kunsledemate na Sydney, Australië, verskeep het sodat atlete dit by die Paralimpiese Spele kon gebruik. Dit is gratis aan die deelnemers voorsien, en prostetici, waarvan party uit Nieu-Seeland gekom het, was byderhand om die deelnemers tydens die spele te help.

Party dele van die ledemate is spesiaal vir atlete ontwerp. ’n Voorbeeld hiervan is vir my gewys. Dit was ’n voet-en-enkel-komponent van ’n spesiale materiaal wat die natuurlike veerkragtigheid in ’n mensevoet naboots.

Hedendaagse vooruitgang

Wat hou die toekoms vir kunsledemate in? My prostetikus het my vertel van ’n rekenaarbeheerde kunsbeen wat tans deur ten minste een pasiënt in Nieu-Seeland gebruik word. Dit reageer blykbaar op die druk wat geplaas word op sensors wat in die kunsbeen ingebou is. Die resultaat is dat ’n natuurlike loopbeweging nageboots kan word.

In party lande eksperimenteer bekwame ortopediste met ’n tegniek wat osteointegrasie genoem word. ’n Spesiale pen, wat ná amputasie in die stompie ingeplant word, dien as ’n anker waaraan ’n kunsledemaat geheg kan word. Dit skakel die behoefte aan gipsvorms en kokers uit.

Navorsing word ook gedoen om reseptors met senuweevesels te integreer, wat ’n mens in staat sal stel om ’n kunsledemaat geheel en al met die brein te beheer. In die Verenigde State en ’n paar ander lande is ’n beperkte aantal handoorplantings al uitgevoer, maar dit is ’n redelik omstrede prosedure wat vereis dat ontvangers vir die res van hulle lewe medikasie moet neem wat verwerping teëwerk.

Op die gebied van armprostetika is daar tans ’n stelsel in gebruik wat as mio-elektronika bekend staan. Elektrodes ontvang impulse van armspiere, wat dikwels nog in die oorblywende deel van die ledemaat teenwoordig is. Hierdie impulse word dan met behulp van batterye versterk om elektroniese komponente in die kunsledemaat te beheer. Met die nuutste tegnologie in armprostetika word die kunsarm deur middel van ’n rekenaarkoppelvlak by die spesifieke gebruiker aangepas.

Ek was verstom oor die tegnologiese vooruitgang op die gebied van kunsledemate en het my prostetikus gevra hoe hy die werking van kunsledemate met dié van natuurlike ledemate sou vergelyk. Natuurlik het hy geredelik erken dat die oorspronklike baie beter is. Dit het my laat dink aan die woorde van die psalmis wat in gebed aan sy Skepper gesê het: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is.”—Psalm 139:14.

[Diagram/Prente op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

[Prente]

Mio-elektriese hande gebruik spierimpulse om spoed en grypkrag te beheer

[Erkenning]

Hande: © Otto Bock HealthCare

[Prente]

Binne-in hierdie hipertegnologiese knie is rekenaarskyfies en magnetiese velde wat help om die knie by die pasiënt se loopbeweging aan te pas

[Erkenning]

Knie: Photos courtesy of Ossur

[Prent]

Hierdie dwarssnee van die voet toon die skuimomhulsel daarvan en die struktuur van die enkel

[Erkenning]

© Otto Bock HealthCare

[Erkenning]

© 1997 Visual Language

[Prent op bladsy 21]

Verstellings word aan ’n kunsbeen gemaak

[Prent op bladsy 22]

’n Pasiënt se kunsledemaat word aangesit

[Prent op bladsy 23]

’n Miniatuurkunshand, wat gebruik word om babas met ’n geamputeerde ledemaat op te lei

[Prent op bladsy 23]

In 2004 het die wenner van die Paralimpiese 100-meter-wedloop dit in 10,97 sekondes afgelê, met ’n voet van koolstofvesel

[Erkenning]

Photo courtesy of Ossur/Photographer: David Biene

[Foto-erkenning op bladsy 21]

© Otto Bock HealthCare

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel