Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/06 bl. 20-24
  • Ek het geleer om op God te vertrou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het geleer om op God te vertrou
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek ontmoet die Getuies
  • My eerste Christelike vergadering
  • Gesinsteenstand
  • Beproewinge in Estland ná die oorlog
  • Onverwags vrygelaat
  • In die tronk en toe na Siberië
  • Oorgeplaas na Mordowiese kampe
  • Al byna 50 jaar terug by die huis
  • ’n Halfeeu onder totalitêre tirannie
    Ontwaak!—1999
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
  • “Die geskiedenis lieg nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Vreugdevolle verrassings en lesse uit my diens aan Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 4/06 bl. 20-24

Ek het geleer om op God te vertrou

SOOS VERTEL DEUR ELLA TOOM

ONS gesin het naby die klein dorpie Otepää, in die suide van Estland, gewoon, ongeveer 60 kilometer van die Russiese grens af. In Oktober 1944, ’n paar maande nadat ek met skool klaargemaak het, was die Tweede Wêreldoorlog amper verby. Terwyl die Russiese weermag die Duitsers teruggedryf het deur Estland, het ons en ons bure—ongeveer 20 van ons—in die woud weggekruip, saam met ons plaasdiere.

Ons was twee maande lank vasgekeer, in die middel van die slagveld, terwyl bomme oral om ons geval het. Ons het almal saamgesit, en ek het gedeeltes uit die Bybel, veral uit Klaagliedere, gelees. Dit was die eerste keer dat ek ooit die Bybel gelees het. Eendag het ek ’n hoë heuwel uitgeklim, gekniel en gebid: “Ek belowe om elke Sondag kerk toe te gaan wanneer die oorlog verby is.”

Nie lank daarna nie het die gevegsfront wes beweeg. Toe Duitsland in Mei 1945 oorgegee het, het die Tweede Wêreldoorlog uiteindelik in Europa tot ’n einde gekom. Intussen het ek my belofte aan God nagekom en elke week kerk toe gegaan. Maar daar was net ’n paar ouer vroue wat die dienste bygewoon het. Ek het ongemaklik gevoel om daar te wees. Wanneer iemand onverwags by ons huis kom kuier het, het ek die Bybel onder die tafel weggesteek.

Kort voor lank het ek by die plaaslike skool werk as onderwyseres gekry. Teen hierdie tyd het die Kommunistiese regime oorgeneem, en ateïsme het iets algemeens geword. Maar ek het geweier om by die Kommunistiese Party aan te sluit. Ek het my besig gehou met talle sosiale funksies, soos om volksdanse vir die kinders te reël.

Ek ontmoet die Getuies

Die kinders het verhoogkostuums nodig gehad, en daarom het ek in April 1945 na Emilie Sannamees, ’n vaardige kleremaakster, toe gegaan. Ek het nie geweet dat sy een van Jehovah se Getuies is nie. Sy het gevra: “Wat dink jy van die wêreldsituasie?” Aangesien daar ’n vredeskonferensie in San Francisco, VSA, aan die gang was, het ek gesê: “Dié regering sal binnekort tot ’n einde kom, en ek is seker dat hierdie vredeskonferensie gehou word om toe te sien dat dit gebeur.”

Emilie het gesê dat die vredeskonferensie geen blywende voordele sou bring nie, en sy het aangebied om vir my uit die Bybel te wys waarom nie. Ek was nie gereed om na hierdie sagmoedige, middeljarige vrou te luister nie, en daarom het sy my bloot gevra om te dink oor die vraag: “Weet jy waar God wou hê Adam en Eva moes lewe?” Toe ek nie kon antwoord nie, het sy net gesê: “Vra jou pa.”

Toe ek by die huis kom, het ek dit gedoen. Hy het nie geweet nie en het gesê dat dit onnodig is om die Bybel te bestudeer; dat ons net moes glo. Toe ek die kostuums by haar gaan haal het, het ek vir haar gesê dat my pa nie haar vraag kon beantwoord nie. Sy en haar suster het hulle Bybels uitgehaal en vir my gelees wat God Adam en Eva beveel het—dat hulle na hulle tuintuiste moes omsien en vir ewig in geluk daar moes lewe. Hulle het vir my uit die Bybel gewys dat dit God se voorneme was dat Adam en Eva kinders moes hê en hulle Paradystuiste oor die hele aarde moes uitbrei. Die skriftuurlike bewyse het my gefassineer!—Genesis 1:28; 2:8, 9, 15; Psalm 37:29; Jesaja 45:18; Openbaring 21:3, 4.

My eerste Christelike vergadering

Aangesien ek daardie somer vir ’n drie maande lange onderwyskursus na Tartu moes gaan, het Emilie vir my die adres van ’n Getuie in daardie stad gegee. Sy het ook vir my die boek Creation gegee, en ek was beïndruk met die eenvoudige verduideliking van basiese Bybelwaarhede daarin. Daarom het ek op 4 Augustus 1945 na die adres gegaan wat vir my gegee is.

Toe niemand na die deur toe kom nie, het ek so hard geklop dat die buurman sy deur oopgemaak het en vir my ’n ander adres gegee het—Salmestraat 56. Daar het ek vir ’n vrou wat aartappels in ’n werkswinkel geskil het, gevra: “Word ’n godsdiensvergadering hier gehou?” Sy het ergerlik vir my gesê om te loop en dat ek nie welkom is nie. Aangesien ek nie wou loop nie, is ek genooi om by ’n Bybelstudiegroep op die boonste verdieping aan te sluit. Ná ’n rukkie was daar ’n etenspouse, en ek het besluit om te loop. Maar van die ander het by my aangedring om te bly.

Terwyl ek gedurende die middagpouse rondgekyk het, het ek twee jong mans, buitengewoon bleek en maer, naby die venster sien sit. Ek het later gehoor dat hulle gedurende die oorlog meer as ’n jaar in verskeie skuilings deurgebring het sodat hulle nie gevang sou word nie.a Gedurende die middagsessie het Friedrich Altpere die woord “Armageddon” in ’n toespraak gebruik. Omdat ek nie die woord geken het nie, het ek hom agterna daaroor gevra, en hy het dit vir my in die Bybel gewys (Openbaring 16:16). Toe hy my verbasing sien, het hy net so verbaas gelyk oor die feit dat dit vir my iets nuuts was.

Ek het besef dat hierdie vergadering slegs vir bekende, betroubare Getuies gereël is. Later het ek gehoor dat dit hulle eerste vergadering ná die oorlog was! Van toe af het ek besef hoe belangrik dit is om op God te vertrou (Spreuke 3:5, 6). ’n Jaar later, in Augustus 1946, is ek op 20-jarige ouderdom gedoop om my toewyding aan die ware God, Jehovah, te simboliseer.

Gesinsteenstand

Die regering het daarop aangedring dat ateïsme in die skole geleer word, wat in stryd was met my Bybelopgeleide gewete. Ek wou van beroep verander. Toe ek dit vir my ma noem, het sy my woedend te lyf gegaan en van my hare uitgeruk. Ek het besluit om die huis te verlaat. Maar my pa het my aangemoedig om verdraagsaam te wees en gesê dat hy my sou help.

My broer Ants het my ook begin teëstaan. Maar op ’n dag het hy my gevra of ek vir hom lektuur het, en hy het baie gehou van wat hy gelees het. My ma het histeries geword. Ants het selfs by die skool oor God begin praat, maar toe hy ’n mate van vervolging begin ondervind het, het hy opgehou om met die Getuies te assosieer. Kort daarna het hy ’n kopbesering in ’n duikongeluk opgedoen. Hy het verlam op ’n draagbaar gelê, maar sy verstand was helder. “Sal Jehovah my vergewe?” het hy gevra. “Ja”, het ek gesê. Ants is ’n paar dae later oorlede. Hy was maar 17 jaar oud.

In September 1947 het ek uit my pos by die skool bedank. My ma was steeds baie vyandiggesind teenoor my. Toe sy al my klere uit die huis uitgegooi het, het ek die huis verlaat, en die Sannamees-susters het my ingeneem. Hulle het my bemoedig en my daaraan herinner dat Jehovah nooit sy knegte verlaat nie.

Beproewinge in Estland ná die oorlog

Die Sannamees-susters het my saam met hulle laat werk, en ons het vir die plaasmense naaldwerk gedoen. Ons het dikwels die geleentheid gekry om oor Bybelwaarhede met hulle te praat. Dit was ’n gelukkige tyd, want ek het nie net leer naaldwerk doen nie, maar ook ervaring in die Christelike bediening opgedoen. Buiten naaldwerk het ek ook privaat wiskundelesse gegee. Maar in 1948 het die owerheid die Getuies in hegtenis begin neem.

Terwyl ek die volgende jaar, in Oktober, by ’n plaas gewerk het, het ek gehoor dat die owerhede na die Sannamees-susters se huis gegaan het om my in hegtenis te neem. Toe ek op broer Hugo Susi se plaas skuiling gaan soek het, het ek uitgevind dat hy pas tevore in hegtenis geneem is. ’n Vrou vir wie ek naaldwerk gedoen het, het my genooi om by haar te bly. Later is ek van plaas tot plaas, waar ek naaldwerk gedoen en met die predikingswerk voortgegaan het.

Teen die begin van die winter het die Sowjet-staatsveiligheidskomitee (KGB) my eindelik in Tartu gekry by die huis van Linda Mettig, ’n ywerige jong Getuie wat ’n paar jaar ouer as ek was. Hulle het my in hegtenis geneem en vir ondervraging aangehou. Dit was vir my ’n vernedering om gedwing te word om al my klere uit te trek en deur die jong polisiebeamptes aangegaap te word. Maar nadat ek tot Jehovah gebid het, het ’n vrede en kalmte oor my gekom.

Daarna is ek in ’n klein sel gesit waarin ek nie eens kon lê nie. Hulle het my slegs vir ondervraging laat uitkom. Die beamptes het gesê: “Ons vra jou nie om die bestaan van God te ontken nie. Hou net op met jou simpel gepreek! Jy kan ’n belowende toekoms hê.” En hulle het gedreig: “Wil jy bly lewe? Of wil jy saam met jou God op die vlaktes van Siberië sterf?”

Ek is drie dae lank verhinder om te slaap, terwyl hulle my herhaaldelik ondervra het. Bepeinsing oor Bybelbeginsels het my gehelp om te volhard. Uiteindelik het een van die ondervraers my ’n dokument gegee wat gesê het dat ek instem om my predikingswerk te staak, en daar is vir my gesê om dit te onderteken. “Ek het lank hieroor nagedink”, het ek gesê, “en ek sal eerder in die tronk sit en ’n goeie verhouding met God hê as om vry te wees en sy goedkeuring te verloor.” Hierop het die ondervraer geskree: “Jou idioot! Julle sal almal in hegtenis geneem en na Siberië gestuur word!”

Onverwags vrygelaat

Tot my verbasing het die ondervraers net voor middernag vir my gesê om my goed te vat en te gaan. Ek het geweet dat hulle my sou agtervolg, en daarom het ek nie na die huis van ’n mede-Christen toe gegaan nie, aangesien ek hulle daardeur sou verraai. Terwyl ek deur die strate geloop het, het drie mans my toe wel gevolg. Ek het tot Jehovah gebid vir leiding en toe in ’n donker straat afgedraai en vinnig by ’n tuin ingehardloop. Ek het op die grond gaan lê en blare oor my gegooi. Ek kon die mans se voetstappe hoor, en ek kon die ligstrale van hulle flitsligte sien.

Etlike ure het verloop en ek het styf geraak van die koue. Uiteindelik het ek, skoene in die hand sodat niemand my sou hoor nie, deur die keisteenstrate geloop. Buite die stad het ek in die sloot langs die hoofweg geloop. Wanneer daar motors verbygery het, het ek plat gaan lê. Vyfuur daardie oggend het ek by Jüri en Meeta Toomel se huis, nie ver van Tartu af nie, aangekom.

Meeta het onmiddellik die sauna aangesteek sodat ek kon warm word. Die volgende dag het sy na Tartu gegaan en Linda Mettig gekontak. Linda het my aangespoor: “Kom ons begin onmiddellik getuig en dek die hele Estland met die goeie nuus.” Nadat ek my voorkoms met ’n nuwe haarstyl, ’n bietjie grimering en ’n bril verander het, het ons met ons predikingswerk begin. In die daaropvolgende maande het ons lang afstande per fiets afgelê. Ons het terselfdertyd medegelowiges bemoedig wat op plase gebly het.

Die Getuies het ’n byeenkoms vir 24 Julie 1950 gereël, in die groot hooiskuur van ’n Bybelstudent naby Otepää. Toe ons uitvind dat die KGB van ons planne vir die samekoms te hore gekom het, kon ons die meeste van die Getuies wat op pad was, waarsku. Daar is gereël om dit die volgende dag op ’n ander plek te hou, en sowat 115 het dit bygewoon. Almal het vreugdevol huis toe gegaan en was meer vasbeslote as ooit om ondanks toetse lojaal te bly.b

Daarna het ek en Linda voortgegaan om die predikingswerk te doen en mede-Christene aan te moedig. Later daardie jaar het ons met die aartappeloes gehelp en met medewerkers oor die Koninkryksboodskap gepraat. Die eienaar van een van die plase het selfs opgehou werk en ’n uur lank na ons geluister, waarna hy gesê het: “Dis nie aldag dat ’n mens sulke nuus hoor nie!”

Ek en Linda het teruggekeer na Tartu en gehoor dat nog Getuies in hegtenis geneem is, waaronder Linda se ma. Op daardie stadium was die meeste van ons vriende al in hegtenis geneem, ook die Sannamees-susters. Aangesien ons geweet het dat die KGB ons soek, het ons fietse gekry en ons predikingswerk buite Tartu voortgesit. Een aand, terwyl ek by die huis van Alma Vardja was, ’n Getuie wat kort tevore gedoop is, het die KGB daar opgedaag. Een van hulle het my paspoort nagegaan en uitgeroep: “Ella! Ons het jou oral gesoek!” Dit was 27 Desember 1950.

In die tronk en toe na Siberië

Ek en Alma het kalm gebly en ’n paar goedjies ingepak en toe iets geëet. Die KGB-agente was verbaas en het gesê: “Julle huil nie eers nie. Julle sit net daar en eet.” Ons het geantwoord: “Ons is op pad na ons nuwe toewysing en ons weet nie wanneer ons volgende maaltyd sal wees nie.” Ek het ’n wolkombers saamgeneem waarvan ek later warm sokkies en handskoene gemaak het. Ná maande in die tronk is ek in Augustus 1951 verban, saam met ander Getuies van Estland.c

Van Estland af is ons per trein na Leningrad (nou St. Petersburg), Rusland, gestuur en van daar af na die berugte strafkampe in Workoeta, Komi, bo die Noordpoolsirkel. Daar was drie Getuies in ons groep. Op skool het ek Russies geleer, en nadat ek in hegtenis geneem is, het ek die taal begin oefen. Daarom kon ek Russies goed praat teen die tyd dat ons by die kampe aangekom het.

In Workoeta het ons ’n jong Oekraïnse vrou ontmoet wat ’n Getuie geword het terwyl sy in ’n Nazi-konsentrasiekamp in Pole was. In 1945 is sy en 14 ander Getuies op ’n skip gesit wat die Duitsers van plan was om in die Baltiese See te kelder. Die skip het Denemarke egter veilig bereik. Later, nadat sy na Rusland teruggekeer het, is sy weens die predikingswerk in hegtenis geneem en na Workoeta gestuur, waar sy vir ons ’n bron van bemoediging geword het.

Ons het ook twee vroue ontmoet wat in Oekraïns wou weet: “Wie van julle is Getuies van Jehovah?” Ons het dadelik besef dat hulle ons Christensusters is! Hulle het ons bemoedig en vir ons gesorg. Volgens ander gevangenes was dit asof ons familie gehad het wat op ons gewag het.

Oorgeplaas na Mordowiese kampe

In Desember 1951 het ’n mediese ondersoek getoon dat ek ’n skildklierprobleem het, en ek is byna 1 500 kilometer suidwes gestuur, na die yslike Mordowiese gevangeniskompleks ongeveer 400 kilometer suidoos van Moskou. In die jare daarna het ek Duitse, Hongaarse, Poolse en Oekraïnse Getuies ontmoet in die vrouekampe waar ek opgesluit is. Ek het ook vir Maimu, ’n politieke gevangene van Estland, ontmoet.

Terwyl sy in Estland in die tronk was, het Maimu geboorte gegee, en ’n goedhartige bewaarder het die baba vir Maimu se ma gegee. In die Mordowiese tronk het ons die Bybel met Maimu gestudeer, en sy het die dinge aangeneem wat sy geleer het. Sy het vir haar ma geskryf, wat ook Bybelwaarhede aangeneem het en dit vir Maimu se dogtertjie, Karin, geleer het. Ses jaar later is Maimu uit die tronk vrygelaat en met haar kind herenig. Later, toe Karin groot was, het sy met ’n mede-Getuie getrou. Hulle dien al die afgelope 11 jaar by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Tallinn, Estland.

In ’n Gevangenekamp binne die enorme Mordowiese kompleks was die sogenaamde hok geleë. Dit was ’n klein, goed bewaakte barak binne die ommuurde kamp. Ek en ses ander Getuies is daarin gesit weens ons Christelike bedrywighede. Maar selfs terwyl ons daar was, het ons miniatuur handgeskrewe afskrifte van Wagtoring-artikels gemaak en dit na ander in nabygeleë kampe gesmokkel. Een van ons metodes was om ’n koekie seep uit te hol, die artikel binne-in te sit en die seep weer te seël.

Gedurende my jare in die Mordowiese kampe het ek meer as tien mense gehelp om hulle standpunt in te neem om God te dien. Uiteindelik, op 4 Mei 1956, is daar vir my gesê: “Jy is vry om te gaan en in jou God, Jehovah, te glo.” Ek het nog daardie selfde maand na Estland teruggekeer.

Al byna 50 jaar terug by die huis

Ek het nie werk, geld of ’n huis gehad nie. Maar binne ’n paar dae ná my aankoms het ek ’n vrou ontmoet wat belangstelling getoon het in Bybelleringe. Sy het my ’n rukkie saam met haar en haar man in hulle eenvertrekwoonstel laat bly. Ek het wol gekoop met geld wat ek geleen het en truie gebrei wat ek by die mark verkoop het. Ek is later werk aangebied in die Tartu-kankerhospitaal, waar ek die volgende sewe jaar verskillende soorte werk gedoen het. Intussen het Lembit Toom ook uit ballingskap in Siberië teruggekeer, en in November 1957 is ons getroud.

Die KGB het ons voortdurend dopgehou, en aangesien ons predikingswerk nog steeds verbied was, is ons aanhoudend lastig geval. Ons het nietemin ons bes gedoen om ander van ons oortuigings te vertel. Lembit het hierdie deel van ons lewe in die Ontwaak! van 22 Februarie 1999 beskryf. In die laat 1950’s en regdeur die 1960’s en 1970’s het Getuie-bannelinge teruggekeer huis toe. Teen die laat 1980’s was ons meer as 700 Getuies in Estland. In 1991 is ons Christelike bedrywighede wettig verklaar, en sedertdien het ons toegeneem tot meer as 4 100 Getuies in Estland!

Dit is nou meer as 60 jaar sedert ek daardie eerste geheime vergadering van die Getuies in Estland ná die Tweede Wêreldoorlog bygewoon het. Sedertdien was ek vasbeslote om gehoor te gee aan die Bybel se vermaning: “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is.” Ek het geleer dat ’n mens “die versoeke van jou hart” ontvang as jy dit doen.—Psalm 37:3, 4.

[Voetnote]

a Een van hierdie manne was Lembit Toom, wie se lewensverhaal in die Ontwaak! van 22 Februarie 1999 verskyn het.

b Sien die Ontwaak! van 22 Februarie 1999, bladsye 12-13, vir ’n breedvoeriger beskrywing van hierdie byeenkoms.

c Die meeste Getuies in Estland is egter vroeg in April 1951 verban. Sien die Ontwaak! van 22 April 2001, bladsye 6-8, en die video Faithful Under Trials—Jehovah’s Witnesses in the Soviet Union.

[Lokteks op bladsy 23]

“Kom ons begin onmiddellik getuig en dek die hele Estland met die goeie nuus.”—Linda Mettig

[Prent op bladsy 24]

Saam met nege ander Getuies in die Mordowiese tronk

[Prent op bladsy 24]

Vandag, saam met my man, Lembit

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel