Kan die huwelik die storm deurstaan?
“Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—MATTEUS 19:6.
HUISE wat stewig gelyk het, is van hulle fondamente afgevee, en die raamwerk is uitmekaar geruk. Toe geweldige storms onlangs groot dele van die wêreld getref het, is die gehalte en duursaamheid van tallose geboue tot die uiterste beproef.
’n Storm van ’n ander aard is egter besig om die fondamente en raamwerk van die eeue oue huweliksinstelling te vernietig. “Die huwelik het, ten goede of ten slegte, sy belangrike posisie in die persoonlike en sosiale lewe van mense verloor”, sê Stephanie Coontz, ’n geskiedkundige op die gebied van die gesin.
Sien jy die gevolge van hierdie tendens? Dink jy dat die huwelik sy geëerde plek in die samelewing verloor? Indien wel, waarom gebeur dit? En watter hoop het enigiemand om ’n gelukkige huwelik te hê of te behou? Maar kom ons kyk eers na ’n paar dinge wat ’n bedreiging vir die huwelik inhou.
Die huwelik word aangeval
Aanvalle op die huwelik is niks nuuts nie; dit kan teruggevoer word tot die begin van die mensegeskiedenis. Eienskappe en gesindhede wat in ons eerste menseouers ontwikkel het, het tot die huwelikskrisis gelei wat ons vandag ondervind. Adam en Eva het gesondig toe hulle voor selfsugtige begeertes geswig het, en so het “sonde in die wêreld ingekom” (Romeine 5:12). Kort daarna, sê die geskiedkundige verslag in die Bybel, was “elke neiging van die gedagtes van [die mens se] hart die hele tyd net sleg”.—Genesis 6:5.
Nie veel het sedertdien verander nie. Een van die verwoestende neigings wat die huwelik teister, is die onbeheerste najaging van selfsugtige bevrediging. Die huwelik self lyk dalk na ’n verouderde instelling, wat nie meer prakties is in ’n moderne wêreld wat meegevoer word deur ’n nuwe moraliteit nie. En omdat wette wat die ontbinding van die huwelik reguleer, verslap is, het die meeste van die stigma verdwyn wat vroeër aan egskeiding gekleef het.
Ongeduldige mense, wat vinnige resultate en onmiddellike bevrediging wil hê, dink selde of ooit aan die gevolge van ’n egskeiding. Die aanloklike beloftes van vryheid en onafhanklikheid laat hulle glo dat ’n egskeiding tot geluk sal lei.
Ander wat voor netelige probleme in hulle verhouding te staan kom, wend hulle tot terapeute en huweliksberaders of tot boeke wat deur sulke gesaghebbendes geskryf is. Ongelukkig is sommige “huweliksdeskundiges” vandag baie meer bedrewe daarin om egskeidings te bevorder as om die huwelik voor te staan. “Moontlik vir die eerste keer in die mensegeskiedenis”, sê die boek The Case for Marriage, “word die huwelik as ideaal aan ’n ononderbroke en verbasend suksesvolle aanval onderwerp. Soms is dit ’n direkte en ideologiese aanval deur ‘deskundiges’ wat glo dat ’n lewenslange gelofte van getrouheid onrealisties of onderdrukkend is.”
Veranderde sienings
Sienings oor die aard en doel van die huwelik het ook verander. Jy het moontlik opgemerk hoe die klem verskuif het van lojale en ondersteunende huweliksmaats na huweliksmaats wat hoofsaaklik persoonlike bevrediging verwag—dikwels ten koste van die ander persoon. Die verandering na hierdie selfsugtige beskouing van die huwelik “het in die 1960’s begin en in die 1970’s versnel”, sê die Journal of Marriage and Family. Tradisionele redes om te trou—soos die begeerte na liefde, intimiteit, getrouheid, kinders en wedersydse bevrediging—het minder belangrik geword.
In onlangse tye het verskeie ander verwikkelinge die gedaantewisseling van die huwelik in baie lande versnel. Eerstens, die tradisionele rol van die man as broodwinner en die vrou as tuisteskepper het in baie lande verander. Met vroue se toetrede tot die arbeidsmark was daar ’n merkbare toename in huishoudings waar die man en vrou albei ’n loopbaan het. Tweedens, om buite-egtelike kinders te hê, word al hoe aanvaarbaarder, wat tot ’n toename in enkelouergesinne lei. Derdens, al hoe meer paartjies bly eerder saam as om te trou. (Sien die venster “Minder stabiel as huwelike”.) Vierdens, homoseksuele verbintenisse en die beweging om dit te wettig, word algemeen goedgekeur. Het hierdie hedendaagse tendense jou beskouing van die huwelik beïnvloed?
Egskeidingsyfers styg skerp
Kom ons kyk na ’n paar lande om te sien hoe die gewildheid van egskeidings tot die verdere erosie van die huwelik gelei het. In die Verenigde State “het die getal egpare wat tussen 1970 en 1996 geskei het, viervoudig toegeneem”, volgens ’n onlangse verslag. Sowat 1 uit 5 volwassenes is die slagoffer van die vernietigende winde van egskeiding. Wie loop die grootste gevaar om ’n mislukte huwelik te hê? Statistiek toon dat ongeveer 60 persent van alle egskeidings binne die eerste tien jaar plaasvind.
Ook in ander lande het egskeidingsyfers die hoogte ingeskiet. In 2004 was daar in Engeland en Wallis altesaam 153 490 egskeidings. Australiërs kan verwag dat ongeveer 40 persent van hulle huwelike op ’n egskeiding sal uitloop. In die Republiek van Korea was daar in net een jaar—van 2002 tot 2003—altesaam 167 100 egpare wat geskei het, ’n toename van 21 800 egskeidings. In Japan, waar 1 uit elke 4 huwelike misluk, haal die egskeidingsyfer nou dié van Europa in. “Eens op ’n tyd was dit net die ongelukkigste huwelike wat op ’n egskeiding uitgeloop het”, het ’n kenner op die gebied van gesinstudies by Japan se Rooikruis-universiteit gesê. “Nou het dit bloot ’n lewenstylkwessie geword.”
In baie lande het gevestigde godsdiensinstellings en sosiale tradisies tot die bestendigheid van die huwelik bygedra. Hulle kan egter nie meer die samelewing se oorweldigende aanvaarding van egskeiding keer nie. Neem byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk, wat die huwelik as iets heiligs beskou. In 1983 het die kerk sy reëls aangaande huweliksverbintenisse verslap en dit vir Katolieke makliker gemaak om hulle huwelik te beëindig. Gevolglik het die ontbinding van huwelike sedertdien toegeneem.
Dit is duidelik dat die bande wat die huwelik aanmekaarhou, besig is om te verbrokkel. Maar nie al die redes is voor die hand liggend nie. Trouens, buiten die algemene agteruitgang van die samelewing is daar ’n ander vername rede vir die toename in mislukte huwelike—een wat vir die meeste mense verborge is.
’n Verborge rede vir die storm
Die Bybel sê vir ons dat Satan die Duiwel, die verpersoonliking van selfsug, ’n onsigbare, toenemend verderflike invloed op die wêreld het. Waarom is dit die geval? Omdat hy uit die hemel neergewerp is na die omgewing van die aarde en woedend is. Ja, hy is daarop uit om soveel “weë”, of probleme, as moontlik te veroorsaak, en die goddelike instelling van die huwelik is net een teiken van Satan se kwaadwillige toorn.—Openbaring 12:9, 12.
Jesus het melding gemaak van die tyd nadat Satan uit die hemel gewerp is en gesê: “Weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel” (Matteus 24:12). Die apostel Paulus het eweneens geskryf: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid [vir gesinslede], nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:2-4). Hierdie aanstootlike eienskappe het nog altyd in sekere mate bestaan, maar in onlangse tye het dit baie opvallender geword, soos die meeste mense geredelik sal erken.
Hoe kan ons ons beskerm teen die storm wat die huweliksinstelling teister en ’n werklik gelukkige en blywende huwelik geniet? Die volgende artikel sal hierdie vraag ondersoek.
[Lokteks op bladsy 5]
“In ’n samelewing wat daaraan gewoond is om dinge weg te gooi, is mense geneig om dieselfde gesindheid teenoor verhoudings te hê.”—SANDRA DAVIS, DESKUNDIGE OP DIE GEBIED VAN FAMILIEREG
[Venster/Prent op bladsy 4]
“Minder stabiel as huwelike”
Baie paartjies van die teenoorgestelde geslag bly saam sonder om te trou. Maar sulke verbintenisse is selfs “minder stabiel as huwelike”, sê ’n verslag deur die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming. Van hierdie paartjies bly saam om vas te stel hoe verenigbaar hulle is voordat hulle trou. Voorkom hierdie reëling dat onverenigbare paartjies trou en lei dit tot beter huwelike? Volgens die Journal of Marriage and Family toon die feite dat die teenoorgestelde waar is. “Onder diegene wat saamgebly het voordat hulle getroud is, is daar minder huweliksbevrediging . . . , meer gevalle van huweliksprobleme en . . . ’n groter kans dat hulle huwelik in ’n egskeiding sal eindig”, sê die Journal.
[Venster/Prent op bladsy 5]
’n Lang lewe en die huwelik
Mense lewe vandag langer. Selfs hierdie andersins positiewe verwikkeling plaas druk op die huwelik. Vandag beëindig ’n egskeiding baie huwelike wat in vroeëre tye deur die dood beëindig sou word. Kyk byvoorbeeld na ’n vreemde huweliksprobleem onder Japannese vroue wat al lank getroud is. Volgens The Washington Post noem kenners dit “AMS”, of “afgetrede-man-sindroom”. Een vrou wat 40 jaar lank getroud was, het gesê dat sy met haar man se aftrede gedink het: “Ek sal nou van hom moet skei. Dit was erg genoeg dat ek hom moes bedien wanneer hy van die werk af gekom het. Maar om hom die heeltyd by die huis te hê, is meer as wat ek ooit sal kan verduur.”