Is evolusie ’n feit?
“EVOLUSIE is ’n feit, net soos dit ’n feit is dat die son hitte uitstraal”, beweer professor Richard Dawkins, ’n vooraanstaande evolusionistiese wetenskaplike. Eksperimente en direkte waarnemings bewys natuurlik dat die son warm is. Maar verleen eksperimente en direkte waarnemings dieselfde onbetwiste steun aan die evolusieleer?
Voordat ons daardie vraag beantwoord, moet iets opgeklaar word. Baie wetenskaplikes het al opgemerk dat afstammelinge van lewende dinge mettertyd effens kan verander. Charles Darwin het hierdie proses “afstamming met opeenvolgende veranderinge” genoem. Sulke veranderinge is direk waargeneem, in eksperimente opgeteken en op vindingryke wyse deur plant- en dieretelers gebruik.a Hierdie veranderinge kan as feite beskou word. Maar wetenskaplikes noem hierdie klein veranderinge “mikro-evolusie”. Selfs die naam impliseer wat baie wetenskaplikes beweer—dat hierdie geringe veranderinge bewys lewer van ’n heeltemal ander verskynsel, een wat niemand al waargeneem het nie, wat hulle makro-evolusie noem.
Darwin het baie verder as sulke waarneembare veranderinge gegaan. In sy beroemde boek The Origin of Species het hy geskryf: “Ek beskou alle wesens nie as spesiaal geskepte wesens nie, maar as die regstreekse afstammelinge van net ’n paar wesens.” Darwin het gesê dat hierdie oorspronklike “paar wesens”, of sogenaamde eenvoudige lewensvorme, stadig oor ontsaglike lang tydperke geëvolueer het—deur middel van “uiters klein veranderinge”—om die miljoene verskillende lewensvorme op aarde voort te bring. Volgens evolusioniste het hierdie klein veranderinge vermenigvuldig en die groot veranderinge teweeggebring wat nodig was om visse in amfibieë en ape in mense te verander. Hierdie veronderstelde groot veranderinge word makro-evolusie genoem. Vir baie klink hierdie tweede bewering redelik. Hulle wonder: ‘As klein veranderinge binne ’n spesie kan plaasvind, waarom sou evolusie nie groot veranderinge oor lang tydperke kon teweegbring nie?’b
Die makro-evolusieleer berus op drie vername veronderstellings:
1. Mutasies voorsien die grondstowwe wat nodig is om nuwe spesies te skep.c
2. Natuurlike seleksie lei tot die ontstaan van nuwe spesies.
3. Die fossielverslag bewys dat veranderinge in plante en diere weens makro-evolusie plaasgevind het.
Is die bewyse ter ondersteuning van makro-evolusie so sterk dat dit as ’n feit beskou moet word?
Kan mutasies nuwe spesies voortbring?
Baie besonderhede van ’n plant of dier word bepaal deur die instruksies in sy genetiese kode, die bloudruk in die kern van elke sel.d Navorsers het ontdek dat mutasies—of willekeurige veranderinge—in die genetiese kode wysigings in die afstammelinge van plante en diere kan veroorsaak. In 1946 het Hermann J. Muller, ’n Nobelpryswenner en die vader van die studie van mutasiegenetika, beweer: “Hierdie akkumulasie van talle seldsame, hoofsaaklik klein veranderinge is nie net die vernaamste manier waarop plante en diere kunsmatig verbeter word nie, maar dit is ook die manier waarop natuurlike evolusie plaasgevind het, onder die beheer van natuurlike seleksie.”
Trouens, die makro-evolusieleer berus op die bewering dat mutasies nie net nuwe spesies nie, maar ook nuwe families van plante en diere kan voortbring. Is daar enige manier om hierdie gewaagde stelling te toets? Wel, kyk na wat ongeveer 100 jaar se navorsing op die gebied van genetika aan die lig gebring het.
In die laat 1930’s het wetenskaplikes die idee geesdriftig aangeneem dat, as natuurlike seleksie nuwe plantspesies uit willekeurige mutasies kan voortbring, kunsmatige seleksie, of seleksie deur mense, dit dan meer doeltreffend behoort te kan doen. “Euforie het onder bioloë oor die algemeen en genetici en telers in die besonder versprei”, het Wolf-Ekkehard Lönnig gesê, ’n wetenskaplike by die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt, in Duitsland, met wie Ontwaak! ’n onderhoud gevoer het. Waarom die euforie? Lönnig, wat al sowat 28 jaar lank mutasiegenetika in plante bestudeer, het gesê: “Hierdie navorsers het gedink dat die tyd aangebreek het vir ’n omwenteling in die tradisionele manier waarop plante en diere geteel word. Hulle het gedink dat hulle, deur lewenskragtige mutasies voort te bring en te kies, nuwe en beter plante en diere sou kon teel.”e
Wetenskaplikes in die Verenigde State, Asië en Europa het goed befondste navorsingsprogramme van stapel gestuur en metodes gebruik wat beloof het om evolusie vinniger te laat plaasvind. Wat was die resultate ná meer as 40 jaar se intensiewe navorsing? “Ten spyte van die enorme finansiële onkoste”, sê die navorser Peter von Sengbusch, “was die poging om produktiewer variëteite deur middel van bestraling voort te bring, grotendeels ’n mislukking.” Lönnig het gesê: “Teen die 1980’s het wetenskaplikes se verwagtinge en euforie in wêreldwye mislukking geëindig. Teling deur middel van mutasie as ’n afsonderlike navorsingsveld is in Westerse lande laat vaar. Bykans al die mutante het ‘negatiewe seleksiewaardes’ gehad, dit wil sê, hulle het doodgegaan of was swakker as die wilde variëteite.”f
Die data wat ingesamel is ná sowat 100 jaar se mutasienavorsing oor die algemeen en 70 jaar se mutasieteling in die besonder, stel wetenskaplikes nogtans in staat om gevolgtrekkings te maak aangaande die vermoë van mutasies om nuwe spesies voort te bring. Nadat Lönnig die bewyse ondersoek het, het hy tot dié slotsom gekom: “Mutasies kan nie ’n oorspronklike spesie [van ’n plant of dier] in ’n heeltemal nuwe een verander nie. Hierdie gevolgtrekking stem ooreen met al die ondervindinge en resultate van mutasienavorsing in die 20ste eeu sowel as met die waarskynlikheidswette. Die wet van herhalende variasie impliseer dus dat spesies wat geneties gesproke behoorlik afgebaken is, werklike grense het wat nie deur toevallige mutasies vernietig of omseil kan word nie.”
Dink aan die implikasies van die bogenoemde feite. As hoogs opgeleide wetenskaplikes nie nuwe spesies kan teel deur lewenskragtige mutasies kunsmatig voort te bring en te kies nie, wat is die moontlikheid dat ’n onintelligente proses dit sou regkry? As navorsing toon dat mutasies nie ’n oorspronklike spesie in ’n heeltemal nuwe een kan verander nie, hoe kon makro-evolusie dan plaasgevind het?
Lei natuurlike seleksie tot die ontstaan van nuwe spesies?
Darwin het geglo dat die proses wat hy natuurlike seleksie genoem het, die lewensvorme sou begunstig wat die beste in die omgewing aard, terwyl minder geskikte lewensvorme uiteindelik sou uitsterf. Moderne evolusioniste leer dat namate spesies versprei het en van mekaar afgesonder geraak het, natuurlike seleksie dié begunstig het wie se geenmutasies hulle die geskikste gemaak het vir hulle nuwe omgewing. Gevolglik maak evolusioniste die veronderstelling dat hierdie afgesonderde groepe uiteindelik tot heeltemal nuwe spesies ontwikkel het.
Soos vroeër gemeld is, voorsien navorsing bewyse wat sterk daarop dui dat mutasies nie heeltemal nuwe soorte plante of diere kan voortbring nie. Maar watter bewyse voorsien evolusioniste om die bewering te staaf dat natuurlike seleksie lewenskragtige mutasies kies om nuwe spesies voort te bring? ’n Brosjure wat in 1999 deur die Nasionale Akademie vir Wetenskappe (NAS) in die Verenigde State uitgegee is, sê: “’n Besonder oortuigende voorbeeld van spesievorming [die evolusie van nuwe spesies] is die 13 vinkspesies wat Darwin op die Galápagos-eilande bestudeer het en wat nou as Darwin se vinke bekend staan.”
In die 1970’s het ’n navorsingsgroep onder leiding van Peter en Rosemary Grant hierdie vinke begin bestudeer en gevind dat die vinke wat effens groter snawels gehad het, ná ’n jaar van droogte beter gevaar het as dié met kleiner snawels. Aangesien die grootte en vorm van die snawels een van die vernaamste maniere is om die 13 vinkspesies uit te ken, is daar aangeneem dat hierdie bevindinge belangrik is. “Volgens die Grants se raming”, sê die brosjure verder, “sou ’n nuwe vinkspesie moontlik binne net sowat 200 jaar ontwikkel indien die droogtes ongeveer een keer elke 10 jaar op die eilande voorkom.”
Die NAS-brosjure laat egter ’n paar belangrike maar moeilik verklaarbare feite uit. In die jare ná die droogte het die vinke met kleiner snawels weer eens die bevolking oorheers. Peter Grant en die nagraadse student Lisle Gibbs het dus in 1987 in die wetenskaptydskrif Nature geskryf dat hulle “’n ommekeer in die rigting van die seleksie” gesien het. In 1991 het Grant geskryf dat “die bevolking, wat aan natuurlike seleksie onderworpe is, tussen die twee punte beweeg” elke keer wanneer die klimaatsomstandighede verander. Die navorsers het ook opgemerk dat sommige van die verskillende “spesies” van vinke met mekaar paar en nakomelinge voortbring wat beter vaar as hulle ouers. Peter en Rosemary Grant het tot die slotsom gekom dat die kruisings binne 200 jaar tot die samesmelting van twee “spesies” kan lei indien dit voortduur.
In 1966 het die evolusionistiese bioloog George Christopher Williams geskryf: “Ek dink dit is jammer dat die teorie van natuurlike seleksie oorspronklik ontwikkel is as ’n verklaring van evolusionêre veranderinge. Dit is veel belangriker as ’n verklaring van hoe aanpassing voortgesit word.” Die evolusionistiese teoretikus Jeffrey Schwartz het in 1999 geskryf dat as Williams se gevolgtrekkings korrek is, natuurlike seleksie spesies moontlik help om by die veranderende vereistes van hulle bestaan aan te pas, maar dat dit “niks nuuts skep nie”.
Ja, Darwin se vinke word “niks nuuts” nie. Hulle is nog steeds vinke. En die feit dat daar kruising tussen hulle plaasvind, wek twyfel oor die metodes wat sommige evolusioniste gebruik om ’n spesie te definieer. Daarbenewens lê dit die feit bloot dat selfs vooraanstaande wetenskapakademies bewyse op ’n bevooroordeelde manier kan aanbied.
Bevat die fossielverslag bewyse van makro-evolusionêre veranderinge?
Die NAS-brosjure wat vroeër gemeld is, laat die leser met die indruk dat fossiele wat deur wetenskaplikes gevind is, meer as genoeg bewys lewer van makro-evolusie. Dit sê: “Daar is al soveel oorgangsvorme ontdek tussen visse en amfibieë, tussen amfibieë en reptiele, tussen reptiele en soogdiere en in die afstammingslyne van die primate dat dit dikwels moeilik is om presies te identifiseer wanneer die oorgang van een spesie na ’n ander plaasvind.”
Hierdie selfversekerde stelling is nogal verbasend. Waarom? In 2004 het National Geographic die fossielverslag beskryf as “’n rolprent oor evolusie waarvan 999 uit elke 1 000 raampies vermis word”. Lewer die oorblywende een uit duisend “raampies” werklik bewys van die proses van makro-evolusie? Wat toon die fossielverslag werklik? Niles Eldredge, ’n onversetlike evolusionis, erken dat die verslag toon dat daar oor lang tydperke “min of geen evolusionêre veranderinge in die meeste spesies is nie”.
Tot op hede het wetenskaplikes regoor die wêreld ongeveer 200 miljoen groot fossiele en miljarde mikrofossiele ontdek en gekatalogiseer. Baie navorsers stem saam dat hierdie enorme en gedetailleerde verslag toon dat al die hoofgroepe van diere skielik verskyn het en feitlik onveranderd gebly het, met baie spesies wat net so skielik verdwyn het as wat hulle verskyn het. Nadat hy die bewyse van die fossielverslag nagegaan het, skryf die bioloog Jonathan Wells: “Op die vlak van ryke, filums en klasse, is die idee dat organismes met ’n gemeenskaplike voorouer veranderinge ondergaan het, beslis nie ’n waargeneemde feit nie. Te oordeel aan die fossiel- en molekulêre bewyse is dit nie eens ’n goed gestaafde teorie nie.”
Evolusie—Feit of mite?
Waarom hou talle vooraanstaande evolusioniste vol dat makro-evolusie ’n feit is? Nadat die invloedryke evolusionis Richard Lewontin ’n paar van Richard Dawkins se redenasies gekritiseer het, het hy geskryf dat baie wetenskaplikes bereid is om wetenskaplike bewerings te aanvaar wat teen die gesonde verstand indruis “omdat ons ons reeds tot materialisme verbind het”.g Baie wetenskaplikes weier om eens die moontlikheid van ’n intelligente Ontwerper te oorweeg, want, soos Lewontin skryf, “ons kan nie ’n goddelike voet in die deur toelaat nie”.
In hierdie verband het die sosioloog Rodney Stark volgens Scientific American gesê: “Die idee word al 200 jaar lank bevorder dat jy jou verstand vry van die kettings van die godsdiens moet hou as jy ’n wetenskaplike persoon wil wees.” Hy sê verder dat “godsdienstige mense [in navorsingsuniversiteite] hulle monde hou”, terwyl “ongodsdienstige mense teen hulle diskrimineer”. Volgens Stark “hou dit vir dié op die hoë vlakke [van die wetenskaplike gemeenskap] voordele in om ongodsdienstig te wees”.
As jy die makro-evolusieleer as die waarheid wil aanvaar, moet jy glo dat agnostiese of ateïstiese wetenskaplikes nie sal toelaat dat hulle persoonlike opvattings hulle interpretasie van wetenskaplike bevindings beïnvloed nie. Jy moet glo dat mutasies en natuurlike seleksie alle komplekse lewensvorme voortgebring het, ten spyte van die feit dat ’n eeu van navorsing, die studie van miljarde mutante, toon dat mutasies nie eens een behoorlik gedefinieerde spesie in iets heeltemal nuuts verander het nie. Jy moet glo dat alle lewensvorme geleidelik van ’n gemeenskaplike voorouer geëvolueer het, ondanks die feit dat daar sterk aanduidings in die fossielverslag is dat die hoofsoorte plante en diere skielik verskyn het en nie in ’n ander soort geëvolueer het nie, selfs oor ontelbare eeue. Klink hierdie soort oortuiging asof dit op feite of op ’n mite gebaseer is?
[Voetnote]
a Hondetelers kan hulle honde selektief met ander honde laat teel sodat hulle afstammelinge uiteindelik korter bene of langer hare as hulle voorouers het. Maar die veranderinge wat hondetelers kan voortbring, is dikwels weens ’n verlies aan geenfunksie. Die worshond is byvoorbeeld so klein omdat sy kraakbeen nie normaal ontwikkel nie, wat tot dwergisme lei.
b Hoewel die woord “spesie” dikwels in hierdie artikel gebruik word, kom hierdie term nie in die Bybelboek Genesis voor nie. Die term ‘soort’, soos dit in die Bybel gebruik word, is ’n baie breër term. Wat wetenskaplikes verkies om die evolusie van ’n nuwe spesie te noem, is dikwels net ’n variasie binne ’n ‘soort’, soos die woord in die Genesisverslag gebruik word.
c Sien die venster “Hoe organismes geklassifiseer word”.
d Navorsing toon dat die sel se sitoplasma, membrane en ander strukture ook ’n rol speel in die vorming van ’n organisme.
e Lönnig se kommentare in hierdie artikel is sy eie en verteenwoordig nie die mening van die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt nie.
f Tydens mutasie-eksperimente is daar herhaaldelik gevind dat die aantal nuwe mutante geleidelik afgeneem het, terwyl dieselfde soort mutante gereeld verskyn het. Lönnig het uit hierdie verskynsel die “wet van herhalende variasie” afgelei. Daarbenewens is minder as 1 persent van plantmutante vir verdere navorsing gekies, en minder as 1 persent van hierdie groep was geskik vir kommersiële gebruik. Die resultate van mutasieteling van diere was nog swakker as dié van plante, en die metode is heeltemal laat vaar.
g Materialisme verwys hier na die teorie dat fisiese materie die enigste fundamentele werklikheid is, dat alles in die heelal, insluitende alle lewe, ontstaan het sonder enige bonatuurlike inmenging in die proses.
[Lokteks op bladsy 15]
“Mutasies kan nie ’n oorspronklike spesie [van ’n plant of dier] in ’n heeltemal nuwe een verander nie”
[Lokteks op bladsy 16]
Al wat Darwin se vinke toon, is dat ’n spesie by veranderende klimaatsomstandighede kan aanpas
[Lokteks op bladsy 17]
Volgens die fossielverslag het al die hoofgroepe van diere skielik verskyn en feitlik onveranderd gebly
[Tabel op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
HOE ORGANISMES GEKLASSIFISEER WORD
Organismes word in toenemend omvattender groepe geklassifiseer, van spesifieke spesies tot ryke.h Vergelyk byvoorbeeld die klassifikasies van mense en van vrugtevlieë hieronder.
MENSE VRUGTEVLIEË
Spesie sapiens melanogaster
Genus Homo Drosophila
Familie Hominidae Drosophilidae
Orde Primate Tweevlerkiges
Klas Soogdiere Insekte
Filum Chordata Geleedpotiges
Ryk Diere Diere
[Voetnoot]
h Let wel: Genesis hoofstuk 1 sê dat plante en diere “volgens hulle soorte” sou voortplant (Genesis 1:12, 21, 24, 25). Die Bybelterm ‘soort’ is egter nie ’n wetenskaplike term nie en moet nie met die wetenskaplike term “spesie” verwar word nie.
[Erkenning]
Tabel gebaseer op die boek Icons of Evolution—Science or Myth? Why Much of What We Teach About Evolution Is Wrong, deur Jonathan Wells
[Prente op bladsy 15]
’n Mutante vrugtevlieg (bo) is nog steeds ’n vrugtevlieg, al is dit misvormd
[Erkenning]
© Dr. Jeremy Burgess/Photo Researchers, Inc.
[Prente op bladsy 15]
Tydens plantmutasie-eksperimente is daar herhaaldelik gevind dat die aantal nuwe mutante voortdurend afgeneem het, terwyl dieselfde soort mutante gereeld verskyn het (Mutant in foto het groter blomme)
[Foto-erkenning op bladsy 13]
From a Photograph by Mrs. J. M. Cameron/U.S. National Archives photo
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Vinkkoppe: © Dr. Jeremy Burgess/ Photo Researchers, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Dinosourus: © Pat Canova/Index Stock Imagery; fossiele: GOH CHAI HIN/AFP/Getty Images