Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 8 bl. 99-113
  • Mutasies—’n Grondslag vir evolusie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mutasies—’n Grondslag vir evolusie?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is hulle nuttig of skadelik?
  • Bring mutasies iets nuuts voort?
  • Die eksperimente met vrugtevlieë
  • Die pepermot
  • “Volgens hulle soorte”
  • Nie ’n grondslag vir evolusie nie
  • Evolusie—Mites en feite
    Is lewe geskep?
  • Is evolusie ’n feit?
    Ontwaak!—2006
  • Evolusie
    Redenering uit die Skrif
  • ’n Ortopedis verduidelik waarom sy aan God glo
    Ontwaak!—2013
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 8 bl. 99-113

Hoofstuk 8

Mutasies—’n Grondslag vir evolusie?

1, 2. Watter meganisme word beskou as ’n grondslag vir evolusie?

DIE evolusieteorie het met ’n ander probleem te kampe. Hoe het dit nou eintlik plaasgevind? Watter basiese meganisme het een soort lewende ding in staat gestel om tot ’n ander soort te evolueer? Evolusioniste sê dat verskeie veranderinge binne die selkern ’n rol speel. En een van die vernaamstes hiervan is die “ongelukke” bekend as mutasies. Daar word gemeen dat die gene en chromosome in geslagselle in die besonder by hierdie mutasieveranderinge betrokke is, aangesien mutasies daarin op die volgende geslag oorgedra kan word.

2 “Mutasies . . . is die grondslag van evolusie”, sê The World Book Encyclopedia.⁠1 Paleontoloog Steven Stanley het mutasies eweneens die “grondstowwe” van evolusie genoem.⁠2 En genetikus Peo Koller het gesê dat mutasies “noodsaaklik is vir die evolusieproses”.⁠3

3. Watter soort mutasies sou nodig wees vir evolusie?

3 Maar evolusie het nie sommer enige soort mutasie nodig nie. Robert Jastrow het gewys op die noodsaaklikheid van “’n stadige akkumulasie van gunstige mutasies”.⁠4 En Carl Sagan het bygevoeg: “Mutasies—skielike veranderinge in erflikheid—teel suiwer. Dit voorsien die grondstowwe vir evolusie. Die omgewing kies die paar mutasies wat oorlewing in die hand werk, en dit het ’n reeks stadige transformasies van een lewensvorm tot ’n ander, die oorsprong van nuwe spesies, tot gevolg.”⁠5

4. Watter probleem ontstaan as gevolg van die bewering dat mutasies ’n rol kan speel by vinnige evolusionêre veranderinge?

4 Daar is ook al gesê dat mutasies die sleutel kan wees tot die vinnige veranderinge wat deur die “onderbroke ewewig”-teorie vereis word. John Gliedman het in Science Digest geskryf: “Evolusionistiese revisioniste meen dat mutasies in belangrike regulerende gene dalk net die genetiese hamerbore kan wees wat hulle kwantumsprongteorie vereis.” Britse dierkundige Colin Patterson het egter gesê: “Bespiegeling is vry. Ons weet niks van hierdie regulerende hoofgene af nie.”⁠6 Afgesien van sulke bespiegeling word daar algemeen aanvaar dat die mutasies wat by evolusie betrokke sou wees klein, toevallige veranderinge is wat oor ’n lang tydperk ophoop.

5. Hoe ontstaan mutasies?

5 Hoe ontstaan mutasies? Daar word gemeen dat die meeste van hulle tydens die normale proses van selvoortplanting voorkom. Maar eksperimente het getoon dat dit ook deur eksterne agentia soos straling en chemikalieë veroorsaak kan word. En hoe dikwels kom dit voor? Die reproduksie van genetiese materiaal in die sel is merkwaardig bestendig. Relatief gesproke, as ons in aanmerking neem hoeveel selle in lewende dinge verdeel, vind mutasies nie dikwels plaas nie. The Encyclopedia Americana het gesê dat die reproduksie “van die DNS-kettings wat ’n geen uitmaak merkwaardig akkuraat is. Drukfoute of foutiewe afdrukke is seldsame ongelukke.”⁠7

Is hulle nuttig of skadelik?

6, 7. Watter verhouding mutasies is nadelig eerder as voordelig?

6 Watter verhouding mutasies is nuttig, aangesien daar gesê word dat nuttige mutasies ’n grondslag van evolusie is? Daar is oorweldigende eensgesindheid hieroor onder evolusioniste. Carl Sagan sê byvoorbeeld: “Die meeste daarvan is skadelik of dodelik.”⁠8 Peo Koller sê: “Die meeste mutasies is skadelik vir die individu wat die gemuteerde geen dra. In eksperimente is daar bevind dat daar vir elke suksesvolle of nuttige mutasie derduisende skadelike mutasies is.”⁠9

7 As ons “neutrale” mutasies buite rekening laat, oortref die skadelikes die sogenaamde nuttiges met duisende teen een. “In enige ingewikkelde organisasie sal toevallige veranderinge sulke resultate meebring”, sê die Encyclopædia Britannica.⁠10 Dit is waarom daar gesê word dat mutasies verantwoordelik is vir honderde kwale wat ’n genetiese oorsaak het.⁠11

8. Hoe staaf wesenlike resultate ’n ensiklopedie se waarneming?

8 Vanweë die nadelige aard van mutasies het The Encyclopedia Americana erken: “Dit is moeilik om die feit dat die meeste mutasies vir die organisme skadelik is te versoen met die beskouing dat mutasies die bron van grondstowwe vir evolusie is. Die mutante wat in biologieleerboeke geïllustreer word, is inderdaad ’n versameling fratse en wangedrogte, en mutasies is skynbaar ’n destruktiewe eerder as ’n konstruktiewe proses.”⁠12 Wanneer gemuteerde insekte met normales moes meeding, was die resultaat altyd dieselfde. Dit is soos G. Ledyard Stebbins gesê het: “Na ’n sekere aantal geslagte word die mutante geëlimineer.”⁠13 Hulle kon nie meeding nie, omdat hulle nie beter was nie, maar gedegenereer het en slegter af was.

9, 10. Waarom is dit ’n ongegronde aanname dat mutasies vir evolusie verantwoordelik is?

9 In sy boek The Wellsprings of Life het wetenskapskrywer Isaac Asimov erken: “Die meeste mutasies is ongunstig.” Maar toe het hy beweer: “Op die lange duur laat mutasies evolusie beslis vooruit en opwaarts beweeg.”⁠14 Maar is dit die geval? Sou enige proses wat meer as 999 keer uit die 1 000 skadelik was, as ’n nuttige proses beskou word? Sou jy, as jy ’n huis wou laat bou, ’n bouer huur wat duisende take verbrou het vir elkeen wat hy reg gedoen het? Sou jy saam met ’n motorbestuurder ry as hy duisende verkeerde besluite geneem het vir elke goeie besluit wat hy geneem het terwyl hy bestuur het? Gestel ’n chirurg het tydens ’n operasie duisende verkeerde bewegings vir elke regte beweging uitgevoer. Sou jy wou hê dat hy jou moet opereer?

10 Genetikus Dobzhansky het eenkeer gesê: “Daar kan nouliks verwag word dat ’n ongeluk, ’n lukrake verandering, in enige delikate meganisme dit sal verbeter. As ’n mens ’n stok in die raderwerk van jou horlosie of in jou radio steek, sal dit dit selde beter laat werk.”⁠15 Vra jou dus af: Lyk dit redelik dat al die verbasend ingewikkelde selle, organe, ledemate en prosesse wat in lewende dinge bestaan, opgebou is deur ’n proses wat afbreek?

Bring mutasies iets nuuts voort?

11-13. Bring mutasies ooit iets nuuts voort?

11 Kon mutasies iets nuuts voortbring, selfs al was almal voordelig? Nee, hulle kon nie. ’n Mutasie kan slegs ’n variasie van ’n bestaande eienskap tot gevolg hê. Dit lei tot verskeidenheid, maar nooit tot iets nuuts nie.

12 The World Book Encyclopedia verstrek ’n voorbeeld van wat met ’n nuttige mutasie kan gebeur: “’n Plant in ’n droë gebied kan ’n mutantgeen hê wat hom groter en sterker wortels laat kry. Die plant sal ’n beter kans op oorlewing as die ander lede van sy spesie hê omdat sy wortels meer water kan absorbeer.”⁠16 Maar het enigiets nuuts verskyn? Nee, dit is nog steeds dieselfde plant. Dit het nie tot iets anders geëvolueer nie.

13 Mutasies kan die kleur of tekstuur van ’n persoon se hare verander. Maar die hare sal altyd hare wees. Dit sal nooit in vere verander nie. ’n Mens se hand kan deur mutasies verander word. Dit het dalk abnormale vingers. Daar kan soms selfs ’n hand met ses vingers of met ’n ander misvormdheid wees. Maar dit bly ’n hand. Dit verander nooit in iets anders nie. Niks nuuts kom in aansyn nie, en dit sal nooit gebeur nie.

Die eksperimente met vrugtevlieë

14, 15. Wat het jarelange eksperimente met vrugtevlieë getoon?

14 Min mutasie-eksperimente kan die omvattende eksperimente met die gewone vrugtevlieg, Drosophila melanogaster, ewenaar. Sedert die vroeë jare van hierdie eeu het wetenskaplikes miljoene van hierdie vlieë aan X-strale blootgestel. Dit het die voorkoms van mutasies meer as honderdvoudig laat toeneem.

15 Wat het die eksperimente ná al hierdie dekades getoon? Dobzhansky het een resultaat gemeld: “Die duidelike mutante van Drosophila, waarmee soveel van die klassieke navorsing in die genetika gedoen is, is feitlik sonder uitsondering minderwaardig aan vlieë in die natuurlike staat waar dit kom by lewensvatbaarheid, vrugbaarheid en langlewendheid.”⁠17 Nog ’n gevolg was dat die mutasies nooit iets nuuts voortgebring het nie. Die vrugtevlieë het misvormde vlerke, bene en liggame, asook ander misvormdhede gehad, maar hulle het altyd vrugtevlieë gebly. En wanneer gemuteerde vlieë met mekaar gepaar het, is daar gevind dat normale vrugtevlieë na ’n paar geslagte begin uitbroei het. In die natuurlike staat sou hierdie normale vlieë eindelik die oorlewendes van die swakker mutante gewees het en die vrugtevlieg in die oorspronklike vorm bewaar het.

16. Hoe help die erflikheidskode om organismes te bewaar?

16 Die erflikheidskode, die DNS, het ’n merkwaardige vermoë om genetiese skade aan homself reg te maak. Dit help om die soort organisme waarvoor dit gekodeer is te bewaar. Scientific American vertel hoe “die lewe van elke organisme en sy kontinuïteit van geslag tot geslag” bewaar word “deur ensieme wat gedurig [genetiese skade] herstel”. Die tydskrif sê: “Aansienlike skade aan DNS-molekules in die besonder kan ’n noodreaksie uitlok waartydens groter hoeveelhede van die herstelensieme opgebou word.”⁠18

17. Waarom was Goldschmidt teleurgestel deur mutasie-eksperimente?

17 In die boek Darwin Retried vertel die skrywer gevolglik die volgende oor die vermaarde genetikus, wyle Richard Goldschmidt: “Nadat hy mutasies in vrugtevlieë jare lank waargeneem het, het Goldschmidt in vertwyfeling verval. Hy het gekla dat die veranderinge so hopeloos klein was dat indien ’n duisend mutasies almal in een eksemplaar voorgekom het, daar steeds geen nuwe spesie sou wees nie.”⁠19

Die pepermot

18, 19. Wat is in verband met die pepermot beweer, en waarom?

18 In evolusieliteratuur word Engeland se pepermot dikwels aangehaal as ’n hedendaagse voorbeeld van evolusie wat aan die gang is. The International Wildlife Encyclopedia het gesê: “Dit is die treffendste evolusionêre verandering wat nog ooit deur die mens aanskou is.”⁠20 Nadat Jastrow gesê het dat Darwin gekwel is deur sy onvermoë om die evolusie van selfs een spesie toe te lig, het hy in sy boek Red Giants and White Dwarfs bygevoeg: “Het hy maar geweet dat daar ’n voorbeeld byderhand was wat hom van die bewys sou voorsien wat hy nodig gehad het. Die geval is ’n buitengewoon seldsame.”⁠21 Die geval was natuurlik die pepermot, Biston betularia.

19 Wat het nou eintlik met die pepermot gebeur? Die ligter vorm van hierdie mot was aanvanklik algemener as die donker vorm. Die ligter soort het goed met die ligte boomstamme saamgesmelt en het gevolglik meer beskerming teen voëls geniet. Maar toe, as gevolg van jare se besoedeling uit nywerheidsgebiede, het boomstamme donkerder geword. Nou was die motte se ligter kleur ’n nadeel vir hulle, aangesien voëls hulle makliker kon sien en eet. Die donker variëteit van die pepermot, wat glo ’n mutant is, het gevolglik beter behoue gebly, omdat dit vir voëls moeilik is om hulle teen die roetbedekte bome te sien. Die donker variëteit het gou die oorheersende tipe geword.

20. Hoe het ’n Engelse mediese tydskrif verduidelik dat die pepermot nie evolueer nie?

20 Maar was die pepermot besig om tot ’n ander soort insek te evolueer? Nee, dit was nog steeds presies dieselfde pepermot, bloot met ’n ander kleur. Die Engelse mediese tydskrif On Call het gevolglik die gebruik van hierdie voorbeeld om evolusie te probeer staaf “flagrant” genoem. Dit het gesê: “Dit is ’n uitstekende voorbeeld van vermomming, maar aangesien dit met motte begin en eindig en geen nuwe spesie gevorm word nie, is dit heeltemal ontoepaslik as ’n bewys van evolusie.”⁠22

21. Wat kan gesê word oor kieme se beweerde vermoë om weerstand teen antibiotika op te bou?

21 Die onjuiste bewering dat die pepermot evolueer, is nie uniek nie. Omdat sommige kieme byvoorbeeld teen antibiotika bestand is, word daar aangevoer dat evolusie plaasvind. Maar die taaier kieme behoort steeds tot dieselfde tipe, en evolueer nie tot iets anders nie. En daar word selfs erken dat die verandering dalk nie die gevolg van mutasies is nie, maar toegeskryf kan word aan die feit dat sommige kieme van die begin af immuun was. Toe die ander deur geneesmiddels doodgemaak is, het die wat immuun was, vermeerder en oorheersend geword. Evolution From Space sê: “Ons twyfel egter of daar enigiets meer by hierdie gevalle betrokke is as die seleksie van bestaande gene.”⁠23

22. Beteken die feit dat sommige insekte immuun is teen gifstowwe dat hulle evolueer?

22 Dieselfde proses kan ook daarvoor verantwoordelik wees dat sommige insekte immuun is teen gifstowwe wat teen hulle gebruik word. Die gifstowwe het òf die insekte waarteen dit gebruik is, doodgemaak, òf dit was ondoeltreffend. Die insekte wat doodgegaan het, kon nie weerstand opbou nie, aangesien hulle dood was. Die feit dat ander behoue gebly het, kan beteken dat hulle van die begin af immuun was. Sulke immuniteit is ’n genetiese faktor wat by sommige insekte voorkom en nie by ander nie. Die insekte het in ieder geval van dieselfde soort gebly. Hulle het nie tot iets anders geëvolueer nie.

“Volgens hulle soorte”

23. Watter Genesis-standaard is ook deur mutasies bevestig?

23 Die boodskap wat weer eens deur mutasies bevestig word, is die formule vanGenesis hoofstuk 1: Lewende dinge bring slegs “volgens hulle soorte” voort. Die rede hiervoor is dat die genetiese kode verhoed dat ’n plant of ’n dier te ver van die gemiddelde af beweeg. Daar kan groot verskeidenheid bestaan (soos onder mense, katte of honde gesien kan word), maar nie soveel dat een lewende ding in iets anders kan verander nie. Elke eksperiment wat nog ooit met mutasies uitgevoer is, bewys dit. Nog iets wat daardeur bewys word, is die wet van biogenese, naamlik dat lewe slegs van bestaande lewe af kom, en dat die ouer en sy afstammelinge tot dieselfde “soort” behoort.

24. Hoe het teeleksperimente getoon dat lewende dinge net “volgens hulle soorte” voortbring?

24 Dit word ook deur teeleksperimente bevestig. Wetenskaplikes het probeer om verskeie diere en plante onbepaald deur middel van kruisteelt te verander. Hulle wou sien of hulle mettertyd nuwe lewensvorme kon laat ontwikkel. Met watter gevolg? On Call berig: “Telers vind gewoonlik dat ’n optimum na ’n paar geslagte bereik word waarná verdere verbetering onmoontlik is, en dat daar geen nuwe spesie gevorm is nie . . . Dit wil dus voorkom of teelprosedures evolusie weerlê eerder as steun.”⁠24

25, 26. Wat sê wetenskappublikasies oor die reproduksieperke in lewende dinge?

25 Die tydskrif Science sê iets soortgelyks: “Spesies het inderdaad die vermoë om klein veranderinge in hulle fisiese en ander eienskappe te ondergaan, maar dit is beperk en op die ou end kom dit neer op ’n skommeling om ’n gemiddelde.”⁠25 Wat lewende dinge geërf het, is dus nie die moontlikheid van voortdurende verandering nie, maar eerder (1) stabiliteit en (2) variasieperke.

26 Die boek Molecules to Living Cells sê gevolglik: “Die selle van ’n wortel of van ’n muis se lewer behou deurgaans hulle onderskeie weefsel- en organismekenmerke na tallose voortplantingskringlope.”⁠26 En Symbiosis in Cell Evolution sê: “Alle lewe . . . plant met ongelooflike getrouheid voort.”⁠27 Scientific American sê ook: “Ons tref ’n geweldige verskeidenheid vorme onder lewende dinge aan, maar vorm is merkwaardig konstant binne enige gegewe geslagslyn: varke bly geslag na geslag varke, en eikebome bly eikebome.”⁠28 En ’n wetenskapskrywer het gesê: “Roosbome dra altyd rose, nooit kamelias nie. En bokke bring altyd boklammers voort, nooit skaaplammers nie.” Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat mutasies “nie algemene evolusie—die bestaan van visse, reptiele, voëls en soogdiere—kan verklaar nie”.⁠29

27. Wat het Darwin verkeerd vertolk omtrent vinke in die Galapagos-eilande?

27 Die variasie binne ’n soort verklaar iets wat Darwin se oorspronklike denke oor evolusie beïnvloed het. Toe hy op die Galapagos-eilande was, het hy ’n soort vink waargeneem. Hierdie voëls was dieselfde tipe as hulle stamouers op die Suid-Amerikaanse vasteland, vanwaar hulle klaarblyklik getrek het. Maar daar was eienaardige verskille, soos in die vorm van hulle snawels. Darwin het dit vertolk as evolusie wat aan die gang is. Maar dit was in werklikheid net nog ’n voorbeeld van verskeidenheid binne ’n soort, iets wat deur die genetiese samestelling toegelaat word. Die vinke was steeds vinke. Hulle was nie besig om in iets anders te verander nie, en hulle sou nooit.

28. Hoe kan daar dan gesê word dat wetenskaplike feite ten volle ooreenkom met die Genesis-reël, “volgens hulle soorte”?

28 Die woorde in Genesis kom dus ten volle met wetenskaplike feite ooreen. Wanneer jy sade plant, bring hulle slegs “volgens hulle soorte” voort, en daarom kan jy ’n tuin aanlê met vertroue in die betroubaarheid van daardie wet. Wanneer katte kleintjies kry, is dit altyd katte. Wanneer mense ouers word, is hulle kinders altyd mense. Daar is variasie in kleur, grootte en vorm, maar altyd binne die perke van die soort. Het jý al ooit ’n geval gesien wat anders was? En niemand anders het nie.

Nie ’n grondslag vir evolusie nie

29. Wat het ’n Franse bioloog oor mutasies gesê?

29 Die gevolgtrekking is duidelik. Geen hoeveelheid toevallige genetiese veranderinge kan een soort lewe in ’n ander soort laat verander nie. Franse bioloog Jean Rostand het eenkeer gesê: “Ek kan dit eenvoudig nie glo dat hierdie ‘erflikheidsflaters’, selfs met die samewerking van natuurlike teeltkeuse, selfs met die voordeel van ontsaglike tydperke waartydens evolusie op lewe inwerk, die hele wêreld met sy oorvloed vorme en verfyning, sy verbasende ‘aanpassings’, kon bou nie.”⁠30

30. Watter kommentaar het ’n genetikus oor mutasies gemaak?

30 Genetikus C. H. Waddington het eweneens aangaande die geloof in mutasies gesê: “Dit is in werklikheid die teorie dat as jy met enige veertien reëls samehangende Engels begin en een letter op ’n slag verander terwyl jy slegs die dinge behou wat steeds sin het, jy eindelik een van Shakespeare se sonnette sal hê. . . . dit lyk vir my na gekkelogika, en ek meen dat ons tot beter in staat behoort te wees.”⁠31

31. Wat het ’n wetenskaplike die opvatting genoem dat mutasies die grondstof vir evolusie is?

31 Die waarheid is soos professor John Moore dit gestel het: “Na deeglike ondersoek en ontleding is enige dogmatiese bewering . . . dat geenmutasies die grondstof vir enige evolusieproses is waarby natuurlike teeltkeuse ’n rol speel, die uiting van ’n mite.”⁠32

[Lokteks op bladsy 99]

“Mutasies . . . is die grondslag van evolusie”

[Lokteks op bladsy 100]

Mutasies word vergelyk met “ongelukke” in die genetiese raderwerk. Maar ongelukke is nadelig, nie voordelig nie

[Lokteks op bladsy 101]

“Mutasies is skynbaar ’n destruktiewe eerder as ’n konstruktiewe proses”

[Lokteks op bladsy 105]

‘As duisend mutasies almal in een eksemplaar voorgekom het, sou daar steeds geen nuwe spesie wees nie’

[Lokteks op bladsy 107]

‘Dit is heeltemal ontoepaslik as ’n bewys van evolusie’

[Lokteks op bladsy 107]

Die boodskap wat deur mutasies bevestig word, is: Lewende dinge bring slegs “volgens hulle soorte” voort

[Lokteks op bladsy 108]

“Dit wil . . . voorkom of teelprosedures evolusie weerlê eerder as steun”

[Lokteks op bladsy 109]

“Varke bly geslag na geslag varke, en eikebome bly eikebome”

[Lokteks op bladsy 110]

Mutasies ‘kan nie algemene evolusie verklaar nie’

[Lokteks op bladsy 110]

“Dit lyk vir my na gekkelogika, en ek meen dat ons tot beter in staat behoort te wees”

[Venster/Prent op bladsy 112, 113]

Wat klop met die feite?

Nadat jy die voorgaande hoofstukke gelees het, is dit gepas om te vra: Wat klop met die feite—evolusie of die skepping? Die kolomme hieronder toon die evolusiemodel, die skeppings-model en die feite wat in die werklikheid bestaan

Voorspellings van Voorspellings van Feite wat in die

die evolusiemodel die skeppingsmodel werklikheid bestaan

Lewe het deur Lewe kom slegs van (1) Lewe kom slegs

toevallige bestaande lewe; van bestaande lewe;

chemiese evolusie oorspronklik deur (2) onmoontlik om

(spontane generasie) ’n intelligente ingewikkelde

uit lewelose materie Skepper geskape genetiese kode

ontstaan toevallig te vorm

Wat fossiele sou Wat fossiele sou Fossiele toon:

toon: (1) eenvoudige toon: (1) skielike

lewensvorme wat (1) ingewikkelde verskyning van ’n

geleidelik vorme wat skielik groot verskeidenheid

ontstaan het; in groot ingewikkelde

(2) oorgangsvorme wat verskeidenheid lewensvorme;

aan voriges verwant verskyn; (2) klowe (2) elke nuwe soort

is tussen hoofsoorte; apart van vorige

geen verbindingsvorme soorte; geen

nie verbindingsvorme nie

Nuwe soorte wat Geen nuwe soorte wat Geen nuwe soorte wat

geleidelik ontwikkel; geleidelik verskyn geleidelik verskyn

die begin van nie; geen onvolledige nie, hoewel daar

onvolledige bene en bene of organe nie, baie variëteite is;

organe in verskeie maar alle dele geen onvolledig

oorgangstadiums volledig gevorm gevormde bene of

organe nie

Mutasies: netto Mutasies is skadelik Klein mutasies

resultaat voordelig; vir ingewikkelde skadelik, grotes

lei tot nuwe kenmerke lewe; het niks nuuts dodelik; het nooit

tot gevolg nie iets nuuts tot

gevolg nie

Die beskawing Die beskawing is so Die beskawing

ontstaan geleidelik oud soos die mens; is verskyn saam met

vanuit ’n primitiewe, uit die staanspoor die mens; enige

dierlike begin ingewikkeld grotbewoners was

tydgenote van die

beskawing

Taal het uit Taal is so oud soos Taal is so oud soos

eenvoudige die mens; antieke die mens; antieke

diergeluide tot tale is ingewikkeld tale dikwels

ingewikkelde, en volledig ingewikkelder as

hedendaagse tale vandag s’n

geëvolueer

Die mens het miljoene Die mens het ongeveer Oudste skriftelike

jare gelede verskyn 6 000 jaar gelede verslae dateer

verskyn slegs sowat 5 000

jaar terug

. . . Die logiese gevolgtrekking

Wanneer ons vergelyk wat in die werklikheid bestaan met wat evolusie voorspel het, en met wat die skepping voorspel het, is dit duidelik watter model met die feite klop en watter een met hulle bots, nie waar nie? Die getuienis van die wêreld van lewende dinge om ons heen, en van die fossielverslag van dinge wat lank gelede gelewe het, lei tot dieselfde gevolgtrekking: Lewe is geskape; dit het nie geëvolueer nie.

Nee, lewe het nie in ’n onbekende voorwêreldlike “sop” begin nie. Mense het nie deur middel van aapagtige voorouers hier gekom nie. ’n Oorvloed lewende dinge is eerder as onderskeie familietipes geskape. Elkeen kon in groot verskeidenheid binne sy eie “soort” vermenigvuldig, maar kon nie die grens oorskry wat verskillende soorte skei nie. Daardie grens word deur steriliteit gehandhaaf, soos ons duidelik by lewende dinge kan sien. En die onderskeid tussen soorte word deur elkeen se unieke genetiese raderwerk beskerm.

Daar is egter veel meer wat van ’n Skepper getuig as net die feite wat met die voorspellings van die skeppingsmodel strook. Beskou die verbasende ontwerpe en ingewikkelde dinge wat op die aarde, ja, dwarsdeur die heelal, aangetref word. Dit getuig ook van die bestaan van ’n Opperintelligensie. Net ’n paar van hierdie wonderwerke, van die ontsagwekkende heelal reg tot by die ingewikkelde ontwerpe in die mikroskopiese wêreld, sal nou ons aandag in die volgende paar hoofstukke geniet.

[Prente op bladsy 102]

Gestel ’n bouer het duisende take verbrou vir elkeen wat hy reg gedoen het. Sou jy hom huur?

Gestel ’n bestuurder het duisende verkeerde besluite geneem vir elke goeie besluit wat hy geneem het. Sou jy saam met hom ry?

Gestel ’n chirurg het vir elke regte beweging duisende verkeerde bewegings uitgevoer. Sou jy toelaat dat hy jou opereer?

[Prent op bladsy 103]

Dobzhansky: “As ’n mens ’n stok in . . . jou radio steek, sal dit dit selde beter laat werk”

[Prente op bladsy 104]

Eksperimente met vrugtevlieë het talle misvormde mutante tot gevolg gehad, maar hulle het altyd vrugtevlieë gebly

Gewone vrugtevlieg

Mutantvlieë

[Prente op bladsy 106]

Kleurveranderinge by die pepermot is nie evolusie nie, maar bloot verskeidenheid binne ’n basiese soort

[Prente op bladsy 108]

Die hondfamilie het baie variëteite, maar honde bly altyd honde

[Prente op bladsy 109]

Daar bestaan groot verskeidenheid in die mensegeslag, maar mense bring slegs ‘volgens hulle soort’ voort

[Prente op bladsy 111]

Die vinke wat Darwin op die Galapagos-eilande gesien het, bly altyd vinke; hy het dus verskeidenheid gesien, nie evolusie nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel