Die Bybel se beskouing
Kan jy die dooies help?
“Die Kerk het uit die staanspoor . . . voorbedes ten behoewe van [die dooies] gedoen . . . sodat hulle, wat op dié manier gereinig is, die geluksalige ondervinding kan hê om God te sien.”—“Kategismus van die Katolieke Kerk.”
MENSE van alle rasse is besorg oor die toestand van die dooies. Miskien het die dood van ’n geliefde jou bedroef gemaak of leeg laat voel. Jy wonder dalk of diegene wat gesterf het, voortgaan om ’n bewuste bestaan te voer, of hulle ly of in vrede verkeer en of daar enigiets is wat jy kan doen om hulle te help.
Baie godsdienstige mense glo dat hulle die dooies kan help. Hindoes glo byvoorbeeld dat hulle ewige geluk vir die afgestorwe persoon se siel kan waarborg deur die lyk van ’n geliefde op die oewers van die Gangesrivier te veras en die as oor die water te strooi. In die Ooste verbrand Boeddhiste papierafbeeldings van motors, huise, klere en geld in die oortuiging dat die afgestorwene dan sulke besittings in die hiernamaals sal kan gebruik. In Afrika word drank by die graf uitgegooi, met die gedagte dat hierdie offer die dooie tot voordeel sal strek.
Katolisisme leer dat as iemand sterf sonder om oor die een of ander “doodsonde” berou te toon, hy God se guns verbeur. Hierdie toestand “word ‘hel’ genoem”. Aan die ander kant leer dit dat iemand wat God se guns geniet, kan hoop om “die grootste geluk, die toppunt van geluk” met God in die hemel te geniet, maar nie voordat hy heeltemal gereinig is nie. Reiniging kan vereis dat hy tyd in die vaevuur deurbring om ’n “reinigingsvuur” te verduur as straf vir sondes waarvoor vergifnis moontlik is. Maar terwyl hy in die vaevuur is, kan die persoon deur voorbedes—gebede vir iemand deur die kerk—sowel as misdienste vir hom, gehelp word. Vriende en familielede van die afgestorwene betaal gewoonlik vir sulke dienste.
Dit is natuurlik om alles in jou vermoë te wil doen om enige lyding te verlig wat jou geliefdes dalk ondervind. As dit moontlik was om hulle te help, sou God dan nie duidelik uiteensit hoe ons dit kan doen nie? Kom ons kyk wat die Bybel leer oor hulp aan die dooies.
Die toestand van die dooies
Al die bogenoemde gebruike is gegrond op die opvatting van die onsterflikheid van die siel, dat ’n deel van ’n persoon aanhou lewe nadat sy fisiese liggaam gesterf het. Is dit wat die Bybel leer? Dit sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, en ook het hulle geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis is vergeet. Ook hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds vergaan, en hulle het tot onbepaalde tyd geen deel meer aan enigiets wat onder die son gedoen moet word nie. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie” (Prediker 9:5, 6, 10). Sjeool is bloot die Hebreeuse woord vir die gemeenskaplike graf van die mensdom.
Aangaande die uitwerking wat die dood op ’n mens se bewustheid het, het die geïnspireerde psalmis geskryf: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes.”—Psalm 146:4.
Die Bybel se verklarings is betroubaar en redelik. Wat dink jy? Sou ’n liefdevolle vader sy kinders laat ly as gevolg van sondige neigings wat deel is van hulle geaardheid? (Genesis 8:21). Natuurlik nie. Waarom sou ons hemelse Vader dan enigsins anders optree? Toe party in eertydse Israel die heidense ritueel aangeneem het om hulle kinders as ’n offerande aan valse gode te verbrand, het Jehovah daardie afskuwelike gebruik veroordeel en dit beskryf as ‘iets wat hy nie beveel het nie en wat in sy hart nie opgekom het nie’.—Jeremia 7:31.
Die mens se sonde lei tot die dood, nie foltering in ’n hiernamaals nie. “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, sê die Skrif, en “hy wat gesterf het, is van sy sonde vrygespreek”.—Romeine 5:12; 6:7, 23.
Die dooies ly nie. Dit is eerder asof hulle in ’n diep slaap is, heeltemal onbewus van enigiets—hetsy iets aangenaams of iets onaangenaams. Daar kan dus geen twyfel bestaan nie dat al die pogings wat mense aanwend om die dooies te help, in stryd is met Bybelleringe.
Watter hoop is daar vir die dooies?
Dit beteken nie dat jou afgestorwe dierbares vir ewig in hierdie toestand van onbewustheid gaan bly nie. Inteendeel, hulle het wonderlike vooruitsigte.
Voordat Jesus sy dierbare vriend Lasarus weer lewend gemaak het, het Jesus gesê dat hy hom ‘uit die slaap gaan wakker maak’ (Johannes 11:11). By ’n ander geleentheid het hy verduidelik dat “almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Dié wat opgewek sal word, sal reeds van hulle vorige sondes vrygespreek wees en sal dus nie hoef te ly vir wat hulle gedoen het terwyl hulle voorheen gelewe het nie. Hulle sal die geleentheid hê om te leer hoe om die lewe onder volmaakte toestande te geniet. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog!
As hierdie vooruitsig vir jou aantreklik klink, moet jy nie huiwer om die betroubaarheid van hierdie beloftes te ondersoek nie. Jehovah se Getuies sal jou met graagte hiermee help.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Is die dooies bewus van enigiets?—Psalm 146:4; Prediker 9:5, 6, 10.
◼ Sou God toelaat dat die dooies in ’n brandende hel ly?—Jeremia 7:31.
◼ Is daar hoop vir die dooies?—Johannes 5:28, 29.