Toringbrug—ingang tot Londen
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
UITLANDERS wat nog nooit in Engeland was nie, herken dit. Duisende toeriste besoek dit jaarliks. Londenaars steek dit elke dag oor, moontlik sonder om eers daarna te kyk of aan die oorsprong daarvan te dink. Toringbrug is een van Londen se bekendste landmerke.
Toringbrug word met die nabygeleë Toring van Londen geassosieer en moenie met die naburige Londen-brug verwar word nie. In 1872 het Engeland se Parlement ’n wetsontwerp oorweeg om die oprigting van ’n brug oor die Teems moontlik te maak. Ondanks besware van die Toring se goewerneur het die Parlement besluit om voort te gaan met hierdie idee om nog ’n brug te bou, mits die ontwerp daarvan by die styl van die Toring gepas het. Die hedendaagse Toringbrug het uit hierdie amptelike voorstel voortgespruit.
Gedurende die 18de en 19de eeu het talle brûe die oewers van die Teems verbind, waarvan Old London Bridge die bekendste is. Teen 1750 het daardie brug op wankelrige fondamente gestaan en het dit ’n bottelnek veroorsaak vir die verkeer wat die brug oorgesteek het. Onder die brug het skepe van regoor die wêreld om ’n plek in die besige hawe meegeding. Destyds was die skeepsverkeer so druk dat daar gesê is dat jy kilometers ver kon loop oor die aangrensende dekke van skepe wat in die hawe vasgemeer was.
Op versoek van die Corporation of London het die stadsargitek Horace Jones voorgestel dat ’n ophaalbrug in die Gotiese styl stroomaf van die Londen-brug gebou word. Dit sou skepe op die Teems wat in ’n westelike rigting stroomop na die dokke onderweg was, deurgang gee. Hierdie ontwerp het iets ingesluit wat vir baie mense ’n nuwigheid was.
Kenmerkende ontwerp
Jones het baie gereis, en die klein ophaalbrûe oor kanale in Nederland het hom die idee van ’n baskule- of wipbrug gegee. Die ontwerp waarmee hy en sy span vorendag gekom het, wat gebaseer is op konstruksiemetodes wat destyds in die mode was en gebruik gemaak het van staalrame met klipbekleding, het Toringbrug sy nou herkenbare vorm gegee.
Toringbrug het twee hooftorings wat deur twee hoë loopgange aan mekaar verbind is, 34 meter bo die rydek en ongeveer 42 meter bo die rivier se gemiddelde hoogwatermerk. Die rydekke wat van albei rivieroewers af oor die rivier strek, eindig in ’n baskule, of wipplank. Elk van die brug se enorme dele weeg ongeveer 1 200 ton en beweeg sywaarts weg van mekaar en swaai dan opwaarts tot ’n hoek van 86 grade. Skepe met ’n gewig van tot 10- 000 ton kan veilig onderdeur die brug vaar.
Krag vir die baskules
Hidrouliese krag het die brug se baskules, of teengewigte, gelig, die hysbakke van die rydek na die loopgang geneem en selfs die seintoestelle beheer. Ja, die brug het van waterkrag gebruik gemaak! En daar was meer as genoeg krag—twee keer meer as wat nodig was.
Onder die suidelike oprit na die brug is vier steenkoolketels geïnstalleer, wat stoom gelewer het teen ’n druk van 5 tot 6 kilogram per vierkante sentimeter om twee massiewe pompe aan te dryf. Hulle het weer water teen ’n druk van 60 kilogram per vierkante sentimeter gelewer. Om genoeg krag te hê om die baskules te lig, is die water, wat onder groot druk is, in ses groot opgaartenks gehou. Dit het krag voorsien aan altesaam agt motore wat die baskules beheer het. Wanneer die krag aangeskakel is, het die baskules opwaarts geswaai op stutte wat 50 sentimeter in deursnee was. Dit het slegs ’n minuut geneem om hulle tot hulle maksimum hoogte te lig.
’n Besoek aan die hedendaagse Toringbrug
Vandag is die stoomkrag deur elektrisiteit vervang. Maar soos in vroeër jare, kom padverkeer tot stilstand wanneer Toringbrug oopgemaak word. Voetgangers, toeriste en ander besoekers staan in verwondering oor die werking van die brug.
’n Alarmsein word gegee, versperrings sak en sluit die paaie af, die laaste voertuig gaan oor die brug en die brugkontroleerders gee die teken dat alles veilig is. Geruisloos maak die baskules se vier koppelboute oop en die rydek swaai opwaarts. Dan verskuif die aandag na die rivier. Of dit nou ’n sleepboot, plesierboot of ’n seilskip is, alle oë is op die vaartuig terwyl dit deurvaar. ’n Paar minute later verander die seine. Die baskules swaai weer ondertoe en die padversperrings word gelig. Fietsryers ry vinnig voor stilstaande voertuie verby om die brug eerste oor te steek. Sekondes later is Toringbrug bewegingloos totdat die volgende vaartuig wil deurkom.
Die belangstellende besoeker doen meer as om net hierdie hele ritueel dop te hou. Hy sowel as ander gaan met die hysbak in die noordelike toring op om die besonderhede van die brug se geskiedenis te bewonder, wat sorgvuldig uitgestal word met behulp van ’n animatroniese model in die “Tower Bridge Experience”-tentoonstelling. Die ingenieursprestasies en uitspattige openingseremonie word op kunstenaars se skilderdoeke uitgebeeld, en onduidelike, bruin foto’s en vertoonpanele bring die wonder van Toringbrug aan die lig.
Die hoë loopgange gee ’n besoeker pragtige uitsigte oor Londen se stadsprofiel. Aan die westekant lê die St. Pauluskatedraal, die bankgeboue van die finansiële distrik en in die verte die Poskantoortoring. Aan die oostekant sou ’n mens verwag om die dokke te sien, maar dit is nou ver stroomaf van die moderne metropool geleë. Pleks daarvan sien ’n mens die innoverende bouontwerpe van Docklands, ’n gebied van stedelike vernuwing. Pragtig, opwindend, interessant—ja, dit is alles gepaste beskrywings van die uitsig vanaf hierdie bekende Londense landmerk.
Wanneer jy Londen besoek, kan jy hierdie geskiedkundige struktuur gerus van nader gaan bekyk. Jou besoek sal jou met ’n blywende indruk van ’n merkwaardige ingenieursprestasie laat.
[Prent op bladsy 16]
Een van twee stoompompe wat vroeër die motore aangedryf het
[Erkenning]
Copyright Tower Bridge Exhibition
[Prent op bladsy 16, 17]
Die twee baskules van die brug word binne ’n minuut tot hulle maksimum hoogte gelig
[Erkenning]
©Alan Copson/Agency Jon Arnold Images/age fotostock
[Foto-erkenning op bladsy 15]
© Brian Lawrence/SuperStock